Hoe Moet ons dan Lewe?

Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!” (Psalm 8:2)
As dit God se hoogste oogmerk is dat Hy verheerlik moet word, wat moet ons doelwitte, mikpunte en ambisie dan wees? Sekerlik moet dit tog dieselfde as God s’n wees – om Hom te verheerlik? Maar dit is juis hier waar die probleem lê. As Christene is ons meestal verward oor die doel van ons lewe, juis vanweë die magdom boeke en predikers wat elkeen sy eie idee verkondig. Dit lyk asof die oorgrote meerderheid Christene mislei is om te glo dat hulle hoogste oogmerk die verkryging van geluk en ‘n vervulde lewe moet wees. Die Bybel leer egter glad nie dat ons doel persoonlike geluk moet wees nie. Om die waarheid te sê, persoonlike geluk is ‘n doel wat in direk teenstrydig is met God se oogmerk.

As ons doelstellings in die lewe van God s’n verskil, hoe kan ons dan Sy seën in ons lewens verwag? En hoe kan ons van Hom verwag om ons gebede te verhoor as dit direk teenstrydig is met Sy wil? Elke Christen wie se doelstelling die verkryging van persoonlike geluk is, stuur op teleurstelling af want God gaan hom of haar nie help om daardie doel te bereik nie.

Gelowiges met groter geestelike onderskeiding beklemtoon die redding van siele terwyl ander die klem plaas op die opbou van die kerk, die daarstel van ‘n verhouding met God, kennis van die Skrif of om God te ken. Daar is ander weer wat die doen van liefdadigheidswerk of om mekaar lief te hê, as die mees belangrike werke beskryf. Elkeen van hierdie doelwitte is meer prysenswaardig as persoonlike geluk, maar is dit werklik wat God vir ons in gedagte het? Alhoewel elkeen van hierdie doelwitte deur middel van die Skrif geregverdig kan word, val hulle steeds kort van God se oogmerke. Ja, die red van siele (en enige van die ander Bybelse strewes) is belangrik. Maar selfs al is jy baie suksesvol in die najaag van enige, meerdere of selfs almal van hulle, loop jy steeds die hoogste roeping van God in jou lewe mis.

Die hoogste roeping van elke Christen is om God te verheerlik: “Elkeen wat na my Naam genoem is en wat Ek geskape het tot my eer” (Jesaja 43:7).

Baie dink dat hulle God verheerlik deur die sing van lofliedere en in aanbidding. Dit is nie heeltemal waar nie. Lofprysing en aanbidding kan aan God die eer bring, maar dit is dikwels meer mens-gesentreerd as God-gesentreerd. Dit is veral die geval wanneer die standaard van die aanbidding beoordeel word aan hoe dit ons laat voel, of wanneer daar in die liedere meer verwysings is na “ek” en “my”, as verwysings na God. Die uitdrukking van lofprysing is maar ‘n baie klein gedeelte van ons plig om God te vereer. Ongelukkig is dit egter so dat God dikwels baie meer deur ons lewenswyses onteer word, as wat ons lofprysing Hom die eer bring.

Ons kan God vereer deur uitreike na die verlorenes, deur die liefdeloses lief te hê of deur in ‘n verhouding met Hom te staan. Maar jy kan al hierdie dinge doen en nog steeds nie aan God die eer gee wat Hom toekom nie. Dit gebeur wanneer die doen van hierdie dinge ons einddoel raak, of die wyse waarop ons die aandag op onsself vestig.

Ten einde God waarlik die eer te laat toekom, moet elke faset van ons lewe op daardie doel en mikpunt gefokus wees. “Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God” (1 Korintiërs 10:31). Alles wat ons doen, moet gedoen word om God te verheerlik. “Alles” sluit selfs in die mees basiese goed soos eet en drink. As eet en drink ingesluit is, dan is daar niks anders wat uitgesluit is nie. Weereens, ons is geneig om in ons lewens ons eie doelwitte na te streef maar dit is God se wil dat Hy verheerlik moet word, selfs wanneer ons eet.

Die meeste mense dink dat die verheerliking van God beperk is tot die geestelike dinge. Maar Paulus het gesê dat ons die Here ook in ons liggame moet verheerlik. “[J]ulle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik” (1 Korintiërs 6:20). Dit is die rede hoekom ons nodig het om alles wat ons doen, selfs dit wat ons met of in ons liggame doen, tot God se eer te doen – want Hy het ons vrygekoop teen ‘n groot en verskriklike prys.

Ons moet God nie net in elke aspek van ons lewe vereer nie, maar ook in ons dood. “Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe” (Filippense 1:20). Gevolglik is daar geen aspek van ons lewe wat uitgesluit is van die verpligting om alles tot Sy eer te doen nie. En dit is die uitdaging. Die wyse waarop ons met ons families omgaan, hoe ons besigheid doen, in ons ontspanning - in werk en speel moet almal God verheerlik.

Dit gebeur nie net dat baie Christene deur hulle lewens nie aan God die eer bring nie, maar hulle doen Hom dikwels oneer aan. Dit is al erg genoeg wanneer ons Hom nie die eer laat toekom nie, maar dit is ‘n absolute skande wanneer ons lewenswyse Hom oneer aandoen. “Jy wat jou op die wet beroem, doen jy God nie oneer aan deur sy wet te oortree nie? Inderdaad, soos daar geskrywe staan, ‘as gevolg van julle optrede word die Naam van God deur die heidennasies belaster” (Romeine 2:23-24). Om die oorsaak te wees dat God se Naam belaster word en Hy oneer aangedoen word, moet seker een van die ergste sondes wees wat ‘n Christen kan doen. Tog is dit iets wat ‘n duisend keer per dag, elke dag gebeur.

Ons doen God oneer aan deur ons sondige lewenswyses, ‘n gebrek aan inbors, self-gesentreerdheid, ondankbaarheid, luiheid, verdeeldheid, haat, bitterheid en ‘n magdom ander maniere. Hoe seer moet dit nie ons Vader maak nie, dat diegene wat Hy duur gekoop het om Hom te vereer, Hom veel eerder oneer aandoen. Dit is my gebed dat ons net somtyds tot stilstand sal kom om onsself af te vra of die dinge wat ons doen, en die manier wat ons lewe, regtig aan Hom die eer bring en of ons nie dalk besig is om Hom oneer aan te doen nie.

Maar daar is nog meer. Ons het nodig om so te lewe dat selfs ongelowiges Hom sal eer as hulle sien hoe ons lewe! “Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening” (1 Petrus 2:12).

Ek dink daar is baie gelowiges wat dink dat hulle nogal goed gedoen het in diens van die Here, maar wat baie teleurgesteld gaan wees op die Oordeelsdag. Nie omdat hulle nie hard gewerk het om die Here te dien nie, of omdat hulle nie daarin geslaag het om sukses te behaal in die Christelike werk nie, maar omdat hulle arbeid nie die Here verheerlik het nie of omdat hulle lewens, ten spyte van hulle harde werk, die Here oneer aangedoen het.

Hef op julle hoofde, o poorte, ja, verhef julle, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan! Wie is tog die Erekoning? Die HERE, sterk en geweldig, die HERE geweldig in die stryd. Hef op julle hoofde, o poorte, ja, hef op, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan! Wie is dan tog die Erekoning? Die HERE van die leërskare -- Hy is die Erekoning!” (Psalm 24:7-10 OAV)


Anton Bosch
Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.