Volhard in die Geloof

Hoe moet ons onsself verweer teen die leuens en drogredes wat oor die Christelike geloof verkondig word? Ons moet die dwalendes “weerlê, bestraf en vermaan in alle lankmoedigheid en lering” (2 Tim. 4:2), en sodoende ons roeping vervul om “kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Judas 1:3). Die onvrugbare werke van die duisternis moet bestraf word (Ef. 5:11).
Hierdie aktiwiteite is egter almal sekondêr van aard, omdat dit ons primêre roeping is om in God se ewige waarhede gewortel, bevestig en opgebou te word. Die Here Jesus en die Bybelse leer oor Hom is die waarheid (Joh. 14:6; 17:17). Die Heilige Gees sal ons in dié groot en ewige waarhede lei as ons dit glo en biddend bestudeer (Joh. 16:13).

Christene moet vol wees van die kennis van die Here (Kol. 1:9-10) omdat alle skatte van wysheid en kennis in Hom verborge is (Kol. 2:3). Ken jy die Here goed deur sy Woord wat van Hom getuig? (Joh. 5:39). Sy Gees wil jou lei, en Hy deursoek alle dinge, ook die dieptes van God (1 Kor. 2:10).

Wanneer ons volkome in die Here geanker is en deur sy Gees geleer word, kan valse profete ons nie mislei nie omdat ons ‘n vaste verwysingsraamwerk vir die waarheid het (1 Tim. 6:3-5; 1 Joh. 2:27). In die lig daarvan sal elke dwaling geopenbaar word en dit sal ons in staat stel om alles wat met die Bybelse leer van Christus in botsing is, te verwerp (2 Joh. 1:9-10).

Dit is ‘n lewenslange taak om in die kennis en genade van die Here te groei (2 Pet. 3:18). Christene moet meer en meer aan die beeld van Jesus Christus gelykvormig word (Rom. 8:29) sodat ons “vervul mag word met die kennis van sy wil in alle kennis en geestelike insig, sodat ons waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en ons in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei” (Kol. 1:9-10).

In die proses ontwikkel ons “geestesvermoëns deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei. Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan” (Heb. 5:14–6:1). Is jy besig om na volmaaktheid op te groei? Hoewel ons as mense wat met swakhede bevange is, nooit in hierdie bedeling volmaak sal word nie, beteken dit nie dat ons nie hierdie ideaal moet nastreef nie.

Paulus het homself daaraan verbind om in die kennis en beeld van Christus te groei deur aan homself te sterf en in die proses gelykvormig aan die Here Jesus te word:

“Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het... om in Hom gevind te word... met die geregtigheid wat uit God is deur die geloof; sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word... nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp” (Fil. 3:8-12).

Vir Timótheus het hy gesê: “Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het” (1 Tim. 6:12).

Daar is ‘n stryd om te stry – teen die wêreld, teen die vlees, teen sonde, teen Satan en al die teëstanders van die Christelike geloof– maar daar is ook oorwinning te verkry in die Naam van Hom wat alle mag in die hemel en op aarde het (Matt. 28:18). Dit is egter net wanneer ons só met die kruis van Christus identifiseer dat ons vir die wêreld sal sterf (Gal. 6:14), dat die Here Jesus meer sal word in ons lewe en dat ons kragtig sal word in die Here en in die krag van sy sterkte (Ef. 6:10).

In só ‘n proses van verhoogde geestelike toewyding en groei sal ons in ‘n toenemende mate die Here se heiligheid en volmaaktheid deelagtig word (1 Pet. 1:15-16; Matt. 5:48). Dit alleen sal ons harte en lewens rein bewaar en ook aan ons “verligte oë van die verstand” gee sodat ons die hoop van ons Christelike roeping goed sal verstaan en ook ten volle sal begryp watter valse leerstellings in stryd daarmee is (Ef. 1:18).

Die gebrek aan groei en volharding

Wat gebeur as ons nie voortdurend in die allerheiligste geloof opgebou word nie? (Judas 1:20). Dan verroes ons kennis van die waarheid, ons veragter in die genade, ons krag tot weerbaarheid neem af, ons word makliker tot moedeloosheid gedryf en ons motivering om die Here onder moeilike omstandighede te dien, verminder ook.

Dit is net hier waar dwalings begin insluip, want sulke mense het hulle geestelike kennis en insig tot ‘n groot mate verloor. Hulle soek dan kunsmatige sekuriteit om hulleself in hulle vervalle toestand te regverdig. Sommige hou aan die wet vas, ander aan die uitverkiesingsleer, aan die doopverbond, of aan die misleidende idee dat hulle nie verlore kan gaan as hulle eenmaal gered was nie – al het hulle ook in sonde en wêreldgesindheid verval.

Mense wat teruggeval het, verloor hulle geestelike onderskeidingsvermoë. Die Galásiërs het uit ‘n geestelike in ‘n vleeslike toestand teruggeval (Gal. 3:3) en as gevolg daarvan in ‘n wettiese vormgodsdiens beland. Paulus was verbaas oor hulle vinnige verval: “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe, terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai” (Gal. 1:6-7).

Die Korintiërs het ook in ‘n vleeslike toestand verval (1 Kor. 3:1-3) en as gevolg daarvan glad nie die vermoë gehad om valse leringe te onderskei nie. Paulus sê dat Satan hulle sinne bedorwe en vervreemd van die opregtheid teenoor Christus gemaak het, en voeg by: “As iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Kor. 11:3-4).

Hulle naïwiteit en gebrek aan insig en kennis was ‘n direkte gevolg van hulle vleeslikheid – hulle het nie meer op die leiding van die Heilige Gees staatgemaak nie. Menslike kennis en wysheid alleen is nie genoeg om ons van geestelike dwalings te vrywaar nie. Die mees geleerde teoloë is soms die ergste mislei omdat die wysheid van God in hulle lewens ontbreek. Hulle leerstellings en prediking mag volgens die oordeel van mense indrukwekkend wees, maar dit is in oorredende woorde van menslike wysheid en nie in die betoning van Gees en krag nie (1 Kor. 2:4).

Salomo was een van die mees wyse mense op aarde, en hy het spesifiek ook vir veel goddelike wysheid in die beoefening van sy regspraak gebid: “Gee aan u kneg ‘n opmerksame hart om reg te spreek oor u volk, om tussen goed en kwaad te onderskei” (1 Kon. 3:9). Die Here het dit ook in ‘n ruim mate aan hom gegee (1 Kon. 3:10-12).

Met die verloop van tyd het Salomo egter meer op die vlees (sy eie insig en ervaring) as op die Gees vertrou en sodoende sy geestelike krag en onderskeidingsvermoë verloor. Uiteindelik het hy só ver van die Here afgedwaal dat hy die afgode van ander nasies aanbid en Israel in ‘n oorlog én geestelike verval gedompel het (1 Kon. 11:4-10,14).

In Nuwe Testamentiese tye is daar beslis ook die moontlikheid dat gelowiges van die Here af kan wegdwaal en selfs hulle geloof kan verloor. Paulus sê vir Timótheus dat hy aan die geloof en ‘n goeie gewete moet vashou, en voeg by: “Sommige het dit van hulle afgestoot en aan die geloof skipbreuk gely, onder wie daar is Himeneus en Alexander” (1 Tim. 1:19-20).

In sy tweede brief waarsku Paulus weer vir Timótheus teen hierdie afvalliges: “Die onheilige, onsinnige praatjies moet jy vermy; want hulle sal al verder voortgaan in goddeloosheid, en hulle woord sal voortwoeker soos ‘n kanker, onder wie daar is Himeneus en Filétus wat van die waarheid afgedwaal het... en hulle keer die geloof van sommige om” (2 Tim. 2:16-18).

Onder die Hebreërs was daar ook van die voormalige “broeders” wat bose en ongelowige harte gekry het omdat hulle van die lewende God afvallig geraak het (Heb. 3:12). Ons het die opdrag om in Christus te bly (Joh. 15:4). Jesus sê: “As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog” (Joh. 15:6).

Hou vas aan die geloof

Ons moet in die geloof volhard en gedurig in kennis en genade toeneem, dan sal ons nie weens ‘n gebrek aan voldoende lig oor ons pad op dwaalweë beland en van die Here afvallig raak nie. “Want ons het deelgenote van Christus geword as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Heb. 3:14). As ons dit doen, sal ons hoop op die ewige lewe nie verflou nie en ons status as die tempel van God nooit verander nie: “Ons is sy huis as ons net die vrymoedigheid en roem van die hoop tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Heb. 3:6). Ons moet dit wat ons in Christus het, vashou en nie van ons af wegstoot soos wat sommige al gedoen het nie.

Baie Christene volhard ongelukkig nie op die pad van die Here nie. As gevolg van hulle gebrek aan geestelike insig word hulle deur valse profete mislei (Matt. 24:4,11,24) en doen ook hartlik mee aan baie van die sondige gewoontes van die wêreld. Die noodwendige gevolg hiervan is dat hulle in hul liefde teenoor die Here Jesus verkoel (Matt. 24:12-13), in die misleidende selftevredenheid van Laodicéa verval (Op. 3:17) en as gevolg daarvan ook hulle wederkomsverwagting verloor (Matt. 24:48-51). Dit is ‘n baie gevaarlike situasie om in te verkeer.


Geskryf deur Prof. Johan Malan van www.bibleguidance.com 
Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.