'Demokratiese Onrus’ in die Arabiese Wêreld

Kan Westerse Demokrasie Hier ‘n Opsie Wees?
Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Maart 2011)
Die wydverspreide onrus in die Arabiese wêreld het ongekende politieke onstabiliteit in Noord-Afrika en die Midde-Ooste veroorsaak, en dreig om die hele streek in ‘n toestand van anargie te laat verval. Hierdie skielike verwikkelings was ‘n groot skok vir mense wat hulleself begin aanpas het by ‘n politieke landskap wat gekenmerk word deur gematigde diktatorskappe, en ook ‘n paar radikales wat wel ‘n rede tot kommer is. Dit het reeds duidelik geword dat ‘n ernstige mate van openbare onrus, ekonomiese ontwrigting en politieke onbestendigheid op die skielike verbreking van bestaande gesagstrukture kan volg. Sulke veranderings is nie evolusionêr nie maar revolusionêr, en kan politieke en ekonomiese wonde veroorsaak wat baie lank sal neem om te genees.
Die belangrikste vrae wat in hierdie reeks artikels beantwoord sal word, is die volgende: Wat is die ware aard van demokrasie? Het hierdie betogings basies ontstaan as gevolg van ontevredenheid met outokratiese regerings, of is hulle doelbewus veroorsaak deur eksterne druk vir demokratiese hervormings in die Midde-Ooste? Wat is die agenda van die hervormers? Wat is die kanse dat daar aan hulle eise toegegee sal word? En verder: Wat sal die gevolge van hierdie opstande en druk vir hervorming wees? Wat die moontlike uitkomste daarvan betref, is daar een of twee ontstellende scenario’s wat uit die bestaande onrus kan voortvloei.
In hierdie eerste artikel sal ons in breë trekke die oorsprong en verdere ontwikkeling van demokrasie as ‘n politieke filosofie in oënskou neem, en veral kyk na die gevolge daarvan wanneer dit op gemeenskappe in Afrika en die Midde-Ooste toegepas word.
Definisies
As vertrekpunt sal ons kortliks die politieke en staatkundige begrippe definieer wat vir hierdie artikel ter sake is:
Stamme of kapteinskappe is op die beginsel van senioriteit gebaseer. Dit beteken dat sommige van die familiegroepe of sibbes in die stam, asook die individue van hierdie groepe, ‘n hoër of laer status as ander het. Die hele samelewing vorm ‘n hiërargiese struktuur waarin die kaptein die mees senior posisie beklee. Erflike kapteins is genealogies die senior lede van hulle families. Die administrasie van die stam word behartig deur ampsdraers wat op grond van hulle sosio-politieke status aangestel word. Die beginsel van respek vir gesag word hierdeur gevestig. Ten spyte daarvan dat lede van die stam geen keuse in die verkiesing van hulle leier het nie, laat hierdie stelsel van beheer tóg ‘n mate van openbare deelname toe deur die aanstellings van raadgewers, asook gesprekke wat op stamvergaderings toegelaat word. Sommige leiers tree meer outokraties op, terwyl ander meer waarde heg aan die opinies van hulle raadgewers en volwasse stamlede. Op hierdie manier kan die spanning wat uit ontevredenheid voortspruit, verlig word. In sekere tradisionele samelewings funksioneer ‘n aantal verwante stamme polities saam onder die heerskappy van ‘n opperhoof of koning.
‘n Koninkryk of monargie. Koninkryke wat onder die beheer staan van ‘n koning of koningin wat die senior lid is van ‘n koninklike dinastie in ‘n bepaalde samelewing, staat of ryksgebied, het in ‘n stadium wydverspreid in die wêreld voorgekom. In sommige gevalle is ‘n koning ‘n outoritêre leier, of tiran, wat absolute gesag oor sy onderdane uitoefen. In ander gevalle laat konings politieke deelname deur magsdeling en die devolusie van gesentraliseerde gesag toe. Dit kan gedoen word deur die instellings van adviesrade, volksvergaderings, parlemente, en selfs kabinetsministers wie se pligte in ‘n grondwet beskryf word. Demokratiese veranderings kan selfs plaasvind tot op ‘n punt waar die monarg van alle wetgewende en uitvoerende magte gestroop word, en hy dan niks meer is nie as ‘n nominale leier sonder enige gesag (soos bv. in die geval van Brittanje). Dit staan as ‘n konstitusionele monargie bekend, waarin die magte van die koning deur ‘n grondwet bepaal word. Hoewel die monargie dan kan voortbestaan, is die effektiewe beheer van die land in die hande van ‘n verkose parlement.
‘n Diktator of tiran is ‘n absolute heerser met onbeperkte gesag. Hy kan sy mag deur geweld verkry (gewoonlik deur ‘n militêre staatsgreep) of deur oorerwing in ‘n koninklike familie. Hy is daartoe geneig om ‘n totalitêre styl van regering te volg, waardeur hy die lewens van sy onderdane in omtrent alle opsigte bepaal.
‘n Diktatorskap of outoritêre regering word of deur een persoon beheer, of deur ‘n relatief klein groepie mense wat hulle onderdane nie alleen van hulle vryheid beroof nie, maar hulle ook ekonomies uitbuit en arm hou. ‘n Diktatorskap onder die beheer van ‘n klein, bevoorregte groep adellikes word ook as ‘n aristokrasie beskryf. Hulle kan hulle posisie op grond van hulle afkoms, rykdom, geleerdheid, sosiale stand of militêre mag verkry, of deur ‘n kombinasie van hierdie faktore.
Demokrasie is ‘n stelsel van regering deur die hele samelewing, gewoonlik deur verkose verteenwoordigers. Demokrasieë is sensitief vir persoonlike menseregte, vryheid van assosiasie, vryheid van godsdiens en vryheid van uitdrukking, en is gevolglik op die ideaal van ‘n klaslose en verdraagsame samelewing ingestel. ‘n Vryemarkstelsel en ‘n veelparty parlementêre stelsel wat op algemene stemreg gebaseer is, is tipies van moderne demokrasieë. Die woord “demokrasie” is afgelei van die Griekse woord demokratia (demos=volk en kratos=mag) en beteken dus “die mag van die volk” (Eng. people power).
Die oorsprong van demokrasie
In die Wikipedia artikel, The History of Democracy, word onder meer die volgende gesê:
“Dit word algemeen aanvaar dat die begrippe demokrasie en konstitusie in ‘n spesifieke plek en tyd ontstaan het, naamlik antieke Athene in 508 v.C. ... Sokrates was die eerste persoon wat hom hieroor uitgelaat het. Sy student, Plato, het verder uitgebrei oor die aard van die verhouding tussen die individu en die gemeenskap. Aristoteles het die werk van sy leermeester, Plato, voortgesit en die grondslag vir ‘n politieke filosofie gelê... Hy het die verskillende stelsels van gesag in die Griekse stad-state geanaliseer en hulle in drie kategorieë geplaas, afhangende van hoeveel mense by die regering betrokke was: baie mense (demokratiese staatsvorm); ‘n klein groepie (oligargie of aristokrasie); of net ‘n enkele persoon (tirannie of, in vandag se terme, ‘n outokrasie of ‘n monargie). Aristoteles het die onderliggende beginsels van demokrasie só in sy boek oor politiek verduidelik: ‘Vryheid is ‘n fundamentele beginsel in ‘n demokratiese konstitusie... Een van die gevolge van vryheid is om te regeer en self ook regeer te word. Die populêre beginsel van geregtigheid is om gelykheid op getalle te baseer en nie op mense se relatiewe waarde nie. Wanneer hierdie beginsel van geregtigheid eerbiedig word, is die massa altyd soewerein, daarom moet die besluit van die meerderheid finaal wees en as die uitdrukking van geregtigheid beskou word... In demokrasieë is die arm mense magtiger as die rykes omdat hulle in die meerderheid is, en wat ook al deur die meerderheid besluit word, is soewerein’.”
Hierdie vorm van demokrasie is egter deur die Hellenistiese en Romeinse Ryke onderdruk, en net tot sake van plaaslike belang beperk. Dit het eers weer in die 18de eeu herleef en sedertdien ‘n toenemende rol in baie dele van die wêreld gespeel.
Die historiese afname in demokrasie is nie net deur eksterne magte veroorsaak nie, maar dit is ook op praktiese gronde bevraagteken. Dit is onder meer beskryf as “’n stelsel van regering waarin die laer klas, die gepeupel (as ‘n kollektiewe tiran) of die arm mense, die mag in hulle hande het... Dit was eers baie eeue later dat die Atheense demokrasie weer ernstig opgeneem is deur politieke denkers. Gedurende die laaste twee dekades het geleerdes die Atheense stelsel opnuut bestudeer as ‘n model vir die bemagtiging van landsburgers, en as ‘n postmoderne voorbeeld vir gemeenskappe én organisasies” (Hansen, M.H., 1992: “The Tradition of the Athenian Democracy AD 1750-1990”. Greece & Rome 39 (1): 14-30).
‘n Fundamentele swakheid van die demokratiese stelsel blyk uit bogenoemde aanhaling, veral in multi-etniese samelewings waar daar nie ‘n sterk samehorigheidsgevoel en onderlinge respek is nie, en ook in onderontwikkelde samelewings waar die vlakke van onderwys en professionele kundigheid laag is. ‘n Demokrasie kan in sulke gevalle inderdaad volgens Hansen “’n stelsel van regering [word] waarin die laer klas, die gepeupel (as ‘n kollektiewe tiran) of die arm mense, die mag in hulle hande het.” Dit is ‘n ontnugterende feit.
‘n Ander toepassing van demokrasie wat vir denkende mense ontstellend is, is Hansen se verwysing daarna as ‘n handige instrument om postmoderne hervormings in die samelewing te bevorder. Sulke hervormings lei dikwels na wanordelikheid, onderbeklemtoning van morele beginsels, en swak regering.
Postmodernisme
Postmodernisme is ‘n term wat redelik onlangs geskep is om die verreikende veranderings uit te druk wat sedert die laaste deel van die 20ste eeu begin intree het. Hierdie begrip het wye en dikwels uiteenlopende toepassings op die politieke terrein, maar ook in die filosofie, godsdiens en letterkunde. Dit word as ‘n bevrydende beweging gesien om van die totalitêre strukture en ideologieë af weg te breek wat gedurende die moderne era gevestig is. Afhangende van watter moderne instellings gedekonstrueer en verwerp word, kan postmodernisme in verskillende situasies ervaar word as post-koloniaal, post-apartheid, post-kommunisties, post-kapitalisties, en selfs ook post-Christelik. Die idee van ‘n nuwe, postmoderne orde wat die ou orde moet vervang, is redelik vaag omskrewe en kan maklik in ‘n samelewing of staat tot wanorde en chaos lei indien dit nie behoorlik beheer word nie.
Postmoderne hervormings in Afrika, en spesifiek post-koloniale hervormings, lei dikwels tot diep teleurstellings en vernietigende sosio-ekonomiese en politieke gevolge. ‘n Groot aantal voormalige kolonies in Afrika het in die tweede helfte van die 20ste eeu politieke onafhanklikheid verkry, en daardeur die postmoderne stadium van hulle ontwikkeling betree. Vir die meeste van hulle was dit egter geen utopia nie. ‘n Swart akademikus van die Harvard Universiteit in Amerika het die volgende in ‘n lesing oor regerings in Wes-Afrika gesê:
“Die post-koloniale Afrikastaat is al in verskillende hoedanighede beskryf as korrup, persoonsgebonde, kleptokraties en selektief begunstigend. Verskeie Afrikastate word regeer deur ‘n sterk man wat despoties en korrup is en oormatige afhanklikheid van die staat skep. Leiers reken nie op die vrywillige onderdanigheid van hulle volgelinge nie. In plaas daarvan koop hulle invloedryke individue se guns, of maak van hulle mag gebruik om landsburgers tot onderdanigheid te dwing. Politieke opposisie word nie geduld of aangemoedig nie, en militêre staatsgrepe, eerder as verkiesings, is die manier waarop gesag van een persoon na ‘n ander verwissel. Afhanklikheid van die staat geskied ten koste van die privaatsektor. Die meeste Afrikastate het die weg van die sentralisering van mag gevolg en die burokrasie sterk uitgebrei. Hierdeur het hulle die meeste groepe in die samelewing van deelname aan openbare sake uitgesluit. Die chaotiese aard van politieke omstandighede het daartoe gelei dat die meeste burgerlikes vertroue in die stelsel verloor het, hulleself van die regering gedistansieer het en nou die staat as hulle vyand beskou” (Zine Magubane, Harvard Univ., “Colonisation and the state society struggle in West Africa”, aangehaal deur Malan, J.S., in Cultural Anthropology: an African Perspective. Univ. van Limpopo, 1998:87).
Toestand waaronder demokrasie kan slaag
Die geskiedenis van demokrasie toon duidelik dat hierdie ideologie en politieke sisteem slegs geskik is vir redelik goed ontwikkelde samelewings. Sedert die vroeë 18de eeu het die Westerse wêreld (die sogenaamde Eerste Wêreld) ‘n fase binnegegaan van aansienlike kulturele, ekonomiese, opvoedkundige en godsdienstige ontwikkeling, sowel as groot vooruitgang op mediese gebied. Die godsdienstige herlewings van die 18de en 19de eeue het gelei na wye belangstelling in geletterdheidsprogramme onder mense wat graag self die Bybel wou lees. Dit was tot die voordeel van onderwys in die algemeen, en het na navorsing op verskeie ander terreine gelei. Die aantal skole, kolleges en universiteite in Europa het eksponensieel toegeneem. Industriële en tegnologiese ontwikkeling het ook aansienlik uitgebrei, met die gevolg dat werksgeleenthede vir ‘n groot aantal mense geskep is.
‘n Wydlopende renaissance van hierdie aard lewer natuurlike leiers op al die verskillende terreine van die openbare lewe op. Dit vereis ‘n devolusie van gesentraliseerde mag sodat die nuut gevestigde belangegroepe volgens hulle eie beginsels en groepsdinamika kan funksioneer, en hiervoor moet regeringsintervensie tot ‘n minimum beperk word.
Hervormings van hierdie aard is die rasionaal vir demokratisering: onderwys, veral op die tersiêre vlak, moet toegelaat word om onafhanklik te funksioneer sonder om gedwing te word om ‘n propaganda-instrument vir die staat te word; die kerk moet toegelaat word om sy roeping sonder staatsinmenging te vervul; op ekonomiese gebied moet ‘n vryemarkstelsel toegelaat word om te ontwikkel; en op juridiese terrein moet vrye regspraak die ideaal wees.
In ‘n ontwikkelde situasie soos hierdie moet leierskapsposisies verdien word op die betrokke terrein waar ‘n persoon sy bydrae tot ontwikkeling lewer. Leiers word nie gebore nie, hulle word gevorm, en hierdie beginsel is in botsing met die tradisie van erflike leierskap in ‘n koninklike familie. ‘n Koninklike dinastie moet verkieslik deur ‘n veelparty-demokrasie vervang word, wat aan die mees bekwame mense die geleentheid bied om tot regeringsposisies verkies te word. ‘n Kompromie tussen die twee stelsels is ook moontlik, naamlik ‘n konstitusionele monargie, en dit word deur verskeie nasies of volke verkies.
Wat gebeur indien demokratiese verkiesings op onderontwikkelde gemeenskappe afgedwing word waar daar nie uitgebreide kulturele diversiteit is wat vir die ontwikkeling van natuurlike leierskap nodig is nie? In die afwesigheid van sulke toestande word sogenaamde ‘bevrydingsbewegings’ gevorm met die oog daarop om die mag in ‘n land of voormalige kolonie oor te neem. Hulle sterkte is nie in opvoeding of die professionele kundigheid van hulle lede geleë nie, maar in hulle getalle of in die militêre mag wat hulle kan monster. ‘n Gewelddadige bevrydingstryd, militêre staatsgrepe, asook intimiderende massa-aksies of openbare demonstrasies, is sommige van die metodes wat hulle gebruik om hulle saak te bevorder.
Hierdie mense is dikwels baie swak opgelei, werkloos of slegs op toetreevlakke werksaam, en beskou hulleself op verskeie terreine as benadeel deur die staat. Hulle mag ook ‘n etniese meerderheid verteenwoordig, en as gevolg van hulle getalsterkte die vraag oor politieke bevoegdheid vermy. Die positiewe internasionale klimaat ten gunste van meerderheidsregering word dan deur hulle uitgebuit om demokratiese verkiesings in hulle land te hou.
Wanneer hulle in hul doel slaag en die nuwe regerende party word, vaar hulle feitlik sonder uitsondering swakker as die vorige onderdrukkende regime. Afgesien van die skaarste aan bekwame politieke leiers en amptenare in hulle geledere, vind hulle dit ook onmoontlik om hulle verkiesingsbeloftes uit te voer. In die meeste gevalle belowe hulle werk, huise en goeie salarisse aan al hulle ondersteuners. Omdat dit onmoontlik is om aan hierdie verwagtings te voldoen, besef die nuwe leiers gou dat hulle op ‘n plofbare kruitvat sit. Hulle oorweeg dan verskeie opsies, bv. kompromieë met opponente, outokratiese regering, dwang deur middel van die weermag en polisie, asook ander metodes van intimidasie of omkopery.
Onseker politieke leiers raak ook korrup en probeer om hulleself maksimaal te verryk terwyl hulle die geleentheid het. Hulle verander die regering in ‘n kleptokrasie waarin die diefstal van geld en staatseiendom aan die orde van die dag is op alle vlakke van die regering. Dit ondermyn vertroue in die regering en is die teelaarde vir demonstrasies, stakings, gewelddadige optredes, en selfs burgeroorloë. Uit vrees vir vergelding klou hulle aan gesag vas en pleeg selfs onbeskaamde verkiesingsbedrog net om langer aan die bewind te bly.
Die prys vir ongeregverdigde demokratisering
Met die oog op die basiese voorwaardes waaraan voldoen moet word om ‘n demokratiese stelsel behoorlik te laat werk, is dit uiters dwaas om dié stelsel op onderontwikkelde gemeenskappe toe te pas. Dit kan vergelyk word met ‘n situasie waarin ‘n Graad 6 leerling geneem en onmiddellik na die posisie van hoof van ‘n sekondêre skool bevorder word. Dit kan eenvoudig nie werk nie.
Die VSA het hierdie benadering al in verskeie lande gevolg en klaaglik misluk. Hulle intensiefste en duurste eksperiment tot op datum was in Irak. ‘n Diktatorskap in Irak is vervang deur ‘n demokratiese regering wat totaal onbevoeg is om die onderontwikkeldheid, gebrek aan kennis en vaardighede, sektariese geweld en ernstige godsdienstige verskille tussen die Soenniete en Sjiïete te oorkom. Inteendeel is die bloedvergieting, onsekerheid en menslike lyding in die post-Saddam era baie erger as voor die tyd. Die korrupsie en swak prestasie van die huidige regering is seker tekens van verdere agteruitgang en moontlike ineenstorting.
Die Amerikaners het gou van hulle mislukte poging in die voormalige Suid-Viëtnam vergeet, toe hulle hulself tot oorwinnaars verklaar en hulle gewapende magte uit die land onttrek het. Hulle het hierdie benadering in Irak herhaal, maar dié keer was die koste astronomies en het byna tot die vernietiging van die Amerikaanse ekonomie gelei. Steeds gaan hulle egter voort om dieselfde oplossing vir politieke probleme oral aan te bied – demokratiseer of sterf! Dit was ‘n naïewe droom van hulle om te verwag dat hulle Irak spoedig as ‘n uitnemende voorbeeld van demokratiese hervormings aan alle Arabiese state sou kon voorhou.
Ten spyte van hierdie mislukkings het hulle obsessie met demokrasie as die enigste werkbare oplossing nog nie afgeneem nie – soos nou weer in Egipte bewys is. In plaas daarvan om die gematigde diktatuur van Hosni Moebarak te probeer red deur hom betyds te beïnvloed het om  mag te deel en die gesag aan ‘n meer aanvaarbare opvolger in sy party te oorhandig, het die VSA gewag totdat die opposisie teen sy bewind ‘n plofbare vlak bereik het. Toe eers versoek hulle hom om dadelik af te tree, en daardeur het hulle die brug na ‘n meer werkbare oplossing in die Egiptiese politiek verbrand. Wie sal nou die volgende farao wees?
Die VSA het openlik die kant gekies van die betogers in Egipte, waaronder ook die baie ondersteuners van die Moslem Broederskap. Sal hulle Amerikaanse belange in die Midde-Ooste beskerm indien hulle die regering oorneem, en sal hulle die vorige bewind se vredesverdrag met Israel eerbiedig? Hierdie is ‘n gevaarlike dobbelspel.
Dit is sekerlik nie ‘n maklike taak vir ander lande om buitelandse beleid vir die Midde-Ooste te bepaal nie, en veral nie vir lande soos Libië nie. Met die voordeel van wysheid agterna, besef ons nou dat Gaddafi lankal deur die Arabiese Bond, die VSA, die VN en ander belanghebbendes teëgestaan en tot ander insigte gebring moes word. Om hom vir meer as 40 jaar lank aan bewind te laat bly, was die resep vir ‘n ramp. Die openlike ondersteuning vir die revolusionêre dade van die betogers, lei na aandadigheid aan die ekonomiese vernietiging van ‘n belangrike olieproduserende staat. Duisende mense uit verskeie lande het hulle werk verloor, en dit sal Libië baie lank neem om te herstel.
Wanneer daar besluit moet word wie die blaam vir die gebeure in Libië, Egipte en ander lande moet kry, moet die Arabiese Bond as die belangrikste liggaam uitgesonder word. Daar is egter ook die belangrike aandeel van die elektroniese media, en veral die Aljazeera TV netwerk in Qatar met sy Engelse en Arabiese uitsendings, wat in berekening gebring moet word. Hulle is so sterk aan demokratiese hervormings verbind dat hulle nooit na die betogers in Egipte en Libië as anti-regerings betogers verwys het nie, maar as pro-demokratiese betogers. Die opstandelinge se dade is ongekwalifiseerd goedgekeur en geprys as ‘n eerbare poging om hulle vryheid en basiese menseregte te bevorder. Die onafwendbare anargie is nie veroordeel nie, en daar word ook nie ander politieke oplossings voorgehou as net die Amerikaanse model vir demokratisering nie.
Opstandiges in baie ander lande het sekerlik kennis geneem van die sukses wat die rebelle in die Midde-Ooste bereik het, en ook van die oorweldigende steun wat die internasionale gemeenskap aan hulle gewelddadige metodes vir politieke verandering gegee het. Die kanse is baie goed dat hierdie selfde metodes en openbare druk vir verandering spoedig na verskeie ander lande van die wêreld sal versprei.
Die eise van Islam
‘n Bespreking van demokrasie in die Arabiese wêreld sal nie volledig wees sonder om die standpunte van Moslem geestelikes in ag te neem nie – beide die gematigdes en die radikales. Die toewyding van die Arabiese state aan die Islamse geloof is onwrikbaar, hoewel nie almal van hulle fundamentele hervormings voorstaan soos dié in Iran nie. Die meeste van hulle het nietemin hoë agting vir hulle koninklike families wat na bewering afstammelinge van die profeet Mohammed is. Die regerende emirs en konings, tesame met die geestelikes, word as die beskermhere van die Moslem samelewing gesien.
Die hiërargiese struktuur van hulle samelewings is slegs geskik vir monargieë en aristokrasieë – nie vir demokratiese regeringstelsels nie. Die Islamitiese Shariah wet word volgens verskillende grade van strengheid eerbiedig. Dié geestelikes wat op die volle en absolute onderwerping aan Shariah aandring, het altyd ‘n wêreldwye doelstelling vir die implementering daarvan in alle lande. Volgens hulle is Islam ‘n wêreldgodsdiens en hulle eis dat alle mense hulle daaraan sal onderwerp. Hulle is by ‘n wêreldwye jihad betrokke om hulle saak te bevorder, en spreek dikwels dreigemente uit teen lande en regerings wat dit waag om teen Islam te veg.
WorldNetDaily van 28 Feb. 2011 het ‘n artikel gepubliseer onder die opskrif: Global Jihad – Obama to face Sharia Court? Anjem Choudary, stigter en voormalige hoof van twee Islamitiese groepe wat in Brittanje verbied is ingevolge hulle anti-terrorisme wetgewing, beplan ‘n protesoptog in Washington. Hy wil ‘n beroep doen op Amerikaanse Moslems om teen hulle land in opstand te kom en die Shariah wet daar in te stel. In ‘n onderhoud met die joernalis Aaron Klein het Choudary beweer dat Obama ‘n oorlog teen Islam voer:
“Obama het belowe om alle Moslems in Guantanamobaai vry te laat. Hulle kwyn nog steeds daar weg, hoewel hy weet dat hulle heeltemal onskuldig is. Hierbenewens het hy die aantal Amerikaanse soldate in Afghanistan vermeerder, wat hom net so oorlogsugtig as sy voorganger maak. En in die derde plek, wat die belangrikste is: Moslems wil nie demokrasie en vryheid hê nie. Demokrasie en vryheid is ‘n vervloeking (anathema) vir Islam en Shariah.” Choudary sê hy sal ‘n beroep op Obama en alle Amerikaners doen “om Islam nie net as ‘n godsdiens te aanvaar nie, maar as ‘n lewenswyse.”
Choudary se stelling dat demokrasie en vrede vir Islam ‘n vervloeking is, is ‘n redelik algemene siening onder die moderne Islamitiese elite. Dit geld egter nie vir die arm mense en die opkomende middelklas nie, omdat hulle nie die weelderige lewenswyse van die koninklike gesinne en ryk aristokrate geniet nie. Hulle wil die verdwyning van die tradisionele hiërargie sien deur middel van demokratiese hervormings in die samelewing, sodat alle mense ‘n gelyke deel van die voorregte en rykdom van die staat kan geniet. Andersins bly hulle egter toegewyd aan Islam as ‘n godsdiens.
Hierdie ideologiese krisis is ‘n interne probleem wat Islamitiese samelewings onderling moet oplos. Die rykdom wat verkry word deur olie-uitvoere, asook die daaropvolgende ekonomiese ontwikkeling en die invloed van moderne kommunikasie, bied aan mense ‘n lewenstyl wat verskil van dit waaraan hulle gewoond was. Dit is vir hulle om te besluit hoeveel van hulle ou tradisies hulle wil bewaar. Dit is natuurlik altyd moeilik vir die bevoorregte klas om aan die eise van die minderbevoorregte meerderheid te voldoen, en dit is waarom hulle nie daaraan toegee sonder om met alle mag weerstand te bied nie.
Gevolgtrekkings
Die olieproduserende Arabiese state het té vinnig té ryk geword sonder om regtig daarvoor te werk. Hulle finansiële voorspoed is ver verby die vlak van hulle samelewings se sosiale, opvoedkundige, ekonomiese en politieke ontwikkeling. Hulle het ook op die gebied van sport agtergebly. Omdat hulle nie in die moderne wêreld kompeterend is nie, het hulle dit geriefliker geag om duisende buitelandse maatskappye, werkers en professionele lui in te voer om Arabiese stede te bou en te onderhou, en ook fasiliteite en dienste daar te stel wat met die beste in die wêreld kompeteer – en dit selfs oortref.
Dit is net hier waar die Arabiese lande se probleme begin het. In plaas daarvan om die stadige en moeilike pad van ontwikkeling en die opleiding van hulle eie mense te volg, sodat hulle ook in die rykdom van hulle land kon deel en dit self bestuur, is hierdie geweldige rykdom deur ‘n klein elitegroep Arabiese leiers vir hulleself toegeëien. Hulle bestee die geld met die hulp van buitelandse kundiges om hulleself en hulle stede na die voorpunt van die tegnologiese eeu te verplaas. Op hierdie manier hoop hulle om die rykes van die wêreld te lok om in hulle lande te belê en self ook daar te kom woon. Die klante van hulle reuse inkoopsentrums is ook hoofsaaklik buitelanders. Indien politieke opstande, godsdienstige demonstrasies en anargie hierdie buitelanders sou wegdryf, sal sommige van die Arabiese lande die eienaars van die grootste en duurste spookstede in die wêreld wees.
‘n Aristokrasie het in hierdie lande ontwikkel, waarin die koninklike gesinne saam met ‘n geselekteerde groep ryk Arabiere die beheer oor hulle lande se ekonomiese bates verkry het. Die meerderheid van die bevolking is nie goed genoeg en intensief genoeg opgelei nie, en dit lei na ‘n groot onderontwikkelde sektor van die samelewing waaruit daar nie natuurlike leiers van formaat kan kom nie.
Wanneer demokratiese hervormings op sulke samelewings toegepas word, verskuif die mag gewoonlik na godsdienstige drukgroepe, vakbonde, of gewelddadige bevrydingsbewegings. Onder sulke omstandighede sal dit nie die mees kundige mense in die samelewing wees wat die regering oorneem nie, maar die magtigste en mees invloedryke groepe. Hulle mag en invloed is bloot gebaseer op hulle getalle, hulle revolusionêre inisiatief of hulle godsdienstige affiliasie. Godsdienstig-geïnspireerde radikalisme is baie algemeen in die Arabiese wêreld. Dit is moeilik, indien nie onmoontlik nie, om sulke groepe in konstruktiewe politieke partye te omskep.
Daar is nie ‘n maklike oplossing vir die huidige onrus in die Midde-Ooste nie. Om bloot ‘n stembriefie in ‘n stemlokaal in te vul ten einde ‘n basiese mensereg uit te oefen, sal nie eers naastenby hierdie komplekse probleem oplos nie.
_______________________________________________
E-Demokrasie en Saoedi Arabië
Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Maart 2011)
Die wêreldwye najaging van demokrasie het ‘n nuwe fase betree met die grootskaalse gebruik van die elektroniese media – veral die TV, internet en selfone. Hierdie middele laat uitgebreide openbare deelname toe aan sake van algemene belang, veral ook politieke en sosio-ekonomiese sake. Die elektroniese media verhaas die verspreiding van inligting, foto’s, klankopnames en videomateriaal in die hele wêreld, ook in beperkte gebiede. Op hierdie manier word baie meer openbare steun vir ‘n bepaalde saak verkry, en die intensiewe gebruik van sulke hulpmiddels het selfs die potensiaal om internasionale bewegings aan die gang te sit en groter momentum te laat kry.
Wanneer die organisering van deelnemende demokratiese bewegings intensief gedryf word deur die gebruik van elektroniese media, kan só ‘n beweging beskryf word as ‘n “e-demokrasie”. Hierdie term verwys na die gebruik van inligtingstegnologie en kommunikasietegnologie in die uitvoering van die doelstellings van politieke en regeringsinstellings. Uit die aard van die saak kan hierdie kommunikasiekanale ook gebruik word om inligting onder afvalliges en strydende partye uit te ruil ten einde hulleself vir een of ander demokratiese saak te beywer.
In vandag se geïntegreerde wêreld het politieke en ander aktiwiteite in een deel van die wêreld dikwels gevolge ver buite die gebied waar dit plaasvind, en hieruit kan uitgebreide internasionale reaksie volg op gebeure in een of ander land. Dit is weer bewys in die geval van die onrus en opstande in verskeie Arabiese lande. E-demokrasie maak dit moontlik om internasionale ondersteuning vir feitlik enige saak te verkry.
Twitter maak kort, tydige boodskappe oor e-demokrasie bekend (www.twitter.com/edemocracy). Dit is ‘n ryk bron van gereeeldopgedateerde inligting oor ‘n wye reeks onderwerpe. Hulle bied ook ‘n wêreldwye e-demokrasie gespreksforum aan.
Globalisasie
Dit is baie duidelik dat inligtingstegnologie ‘n groot potensiaal vir die globalisasie van, onder meer, die prosesse van demokratisering en vereniging het. Die Wêreld E-demokrasie Forum (www.edemocracy-forum.com/) sê die volgende op hulle webtuiste:
“Die revolusie in Egipte het weer eens bewys dat die internet die wêreld kan verander. Ná die verkiesing van Barack Obama en die val van Ben Ali in Tunisië, het die val van Hosni Moebarak in Egipte verskeie nuwe insigte opgelewer. Ten eerste is dit nie langer moontlik om ‘n land van die res van die wêreld af te sny nie. In die verlede kon dit gedoen word deur die grense te sluit, die telekommunikasiestelsel af te skakel en dan in die geheim met onderdrukking voort te gaan. Nog nie een regering het egter na die volledige blokkering van die internet oorgegaan nie. Beperkings is wel ingestel in Burma, Iran, Nepal en selfs in Sjina, maar die internet is nog nooit vir meer as agt dae afgesluit nie. Ten spyte van die afsluiting van die internet, het kommunikasie voortgegaan danksy die rol van multinasionale maatskappye soos Google, asook Twitter met hulle ‘speak-to-tweet’ diens. Hierdie diens laat vir enigeen skakeling toe met internasionale nommers deur hulle stemboodskappe as ‘tweets’ uit te stuur. Die rol van Facebook om die regering se sensuur in Tunisië te omseil, het ook op die groot rol gedui wat die internet in hierdie gebeure kan speel.”
Op die webblad van e-demokrasie is daar ook verwysings na verskeie ander toepassings van die internet en selfone, veral in verband met die uitbring van e-stemme:
“2011 sal ‘n belangrike stap in die verdere ontwikkeling van elektroniese verkiesings oplewer. Drie Europese lande sal direk deur hierdie metode van stem geraak word. Die Estlanders sal vir die tweede opeenvolgende keer van e-stemme in ‘n algemene verkiesing gebruik maak, en in Switserland sal daar voortgegaan word om te debatteer of hulle e-stemme in sekere van hulle kantons sal toets gedurende hulle algemene verkiesing. Noorweë sal ook in September gedurende hulle munisipale verkiesings e-stemming op die proef stel... Volgens ‘n opname wat gepubliseer is deur die Pew Research Center’s Internet & American Life Project, het meer as ‘n kwart van Amerikaanse volwassenes hulle selfone gebruik om inligting oor die 2010 midtermyn verkiesingsveldtog te verkry, en ook daaraan deel te neem. Van daardie selfooneienaars gebruik 71% hulle fone om teksboodskappe te ontvang, en 39% gebruik dit om toegang tot die internet te verkry.”
E-demokrasie sal politieke prosesse en kommunikasie in die wêreld ingrypend verander.
Die stryd om Saoedi-Arabië
E-demokrasie speel ‘n betekenisvolle rol in die organisering en verspreiding van revolusies in die Midde-Ooste. Die Seattle Times van 27 Feb. 2011 berig soos volg:
“’n Groep van 119 Saoedi akademici en aktiviste het ‘n oproep gedoen vir die vervanging van die land se huidige regering deur ‘n konstitusionele monargie wat die erflike magte van die koninklike gesin drasties aan bande sal lê. Hierdeur het hulle die gees van onrus toegelaat om na die wêreld se grootste olieprodusent te versprei. Op Twitter en Facebook het aktiviste vir demonstrasies op 11 en 20 Maart gevra om hervormings te eis. Hierdeur het hulle ook, soos aktiviste elders, gevra vir ‘n Dag van Woede (Day of Rage).”
Die verbeterde kommunikasienetwerke wat deur e-demokrasie verleen word, sal ‘n belangrike rol speel in die komende konfrontasie wat nou oor Saoedi-Arabië opdoem. Die Saoediese joernalis, Mai Jamanai, het die volgende gesê in ‘n artikel, Why a king’s ransom is not enough for Saudi Arabia’s protesters, wat op 27 Feb. 2011 gepos is na The Guardian se webblad (www.guardian.co.uk):
“Geen koninkryk is ‘n eiland nie, veral wanneer dit omring word deur ‘n see van revolusies. Koning Abdoellah van Saoedi-Arabië, wat met die gewone selfvoldaanheid van sy monargie kyk na die aanslag op Libië se sterkman, Muammar Gaddafi, dink hy kan die proteste afkoop deur die belofte van geskenke.
Natuurlik is die skaal van die omkoopgeskenk wat die koning aan sy land se vervreemde jeug gemaak het – 22 miljard Britse pond – iets wat net ‘n olieryk monarg kan doen. Die Saoedi koning praat soos ‘n vader met die jong geslag – dit is per slot van sake net hierdie koninklike familie wat sy naam aan sy volk gee – en hy verwag van hulle om die naam al-Saoed te gehoorsaam net soos hulle met hul eie pa sou doen... Nêrens word daar aan mense sulke groot geskenke aangebied om nie die boot te laat kantel nie.
Regdeur die Arabiese ontwaking wat in Tunisië begin het, het die 86-jarige monarg en verskeie van sy bejaarde broers in die koninklike familie na die opstande in die Arabiese wêreld gekyk, oortuig daarvan dat die tradisionele pilare van hulle politieke beheer hulle sal deursien: oliereserwes, Amerikaanse beskerming en hulle beheer oor heilige plekke.
Abdoellah se koninkryk word egter omring deur revolusionêre golwe wat teen hulle vesting slaan: Jemen in die suide, Bahrein in die ooste, Egipte, Tunisië en Libië in die weste. Selfs die gematigde koninkryk van Jordanië word deur ‘n gees vir verandering geteister. Saoedi-Arabië se koninklikes is ongetwyfeld erg geskud deur hierdie onrus en voel bedreig deur die vinnig opeenvolgende revolusies wat ‘n einde aan hulle ‘broers’ in Kaïro en Tunisië gebring het. Hoe is dit moontlik, vra hulle, vir ‘n paar honderd martelare [shahids] om in net twee of drie weke hulle mede-outokrate so vinnig tot ‘n val te bring?
Die Saoedi koninklikes wil hierdie eise vir politieke verandering teëstaan én afkoop. Die probleem is egter dat hulle nie verstaan wat hulle mense eis nie. Die internet, Facebook, Youtube en Twitter is vreemdelinge vir manne wat grootgeword het in ‘n tyd toe ‘n telefoon ‘n nuwigheid was. Die feit dat 70% van die koninkryk se bevolking jonger as 30 jaar is, kompliseer die probleem. Dit is nie verbasend nie dat hulle die eise vir menswaardigheid en ‘n werklike stem in die regering, verwar met lastige oproepe wat deur omkoopgeskenke, brood en sirkusse stilgemaak kan word.
Die koning en sy broers het dit nie oorweeg om enige betekenisvolle politieke toegewings te maak, soos wat baie mense gehoop het nie. Hulle wil die skepping van ‘n konstitusionele monargie hê, parlementêre verkiesings, die vrylating van omtrent 8 000 politieke gevangenes wat sonder vervolging of verteenwoordiging aangehou word, die einde van koninklike korrupsie, hervorming in die regstelsel, die vermindering van voordele aan 22 duisend lede van die huis van Saoed, en ook die beperking van die invloed van geestelikes.
In plaas hiervan bied hulle omkoopgeskenke aan die rusteloses en moeilikheidmakers aan: ‘n 15% verhoging vir staatsamptenare, finansiële hulp aan studente, werkloses en sportklubs. ‘Laat hulle sokker speel’, is klaarblyklik die koninklike leuse! Geldelike hulp is egter nie ‘n plaasvervanger vir werklike hervormings nie.
Die eise wat nou deur die land se jeug gemaak word, is van ‘n heel ander aard. Die Saoediese jeug stel op hulle webtuistes en op Faceboek baie duidelike eise vir werklike burgerregte, en ook om met waardigheid deur die regering behandel te word. Baie van hulle het 11 Maart tot ‘n dag vir ‘revolusie’ verklaar. Indien die beplande openbare protesoptrede wel plaasvind, sal dit ‘n teken van uiterste minagting wees omdat alle politieke demonstrasies in Saoedi-Arabië onwettig is en die betrokkenes aan lyfstraf en tronkstraf blootstel. In 1979 het die koninkryk se grondmagte en lugmag op Sjiïtiese betogers in die ooste van die land losgebrand, dosyne doodgeskiet en honderde gewond.
Weiering is grondliggend aan die Saoedi heersers se denkwyse. Die koninklikes dink hulle het ‘n spesiale status in die Arabiese wêreld en dat geen revolusie hulle kan aantas nie. Indien iemand sou probeer, sal hulle die uitspraak van prins Naif volg: ‘Wat ons deur die swaard verower het, sal ons deur die swaard behou.’
Die verskillende tegnologieë van globalisasie het ‘n sterk impak op Saoedi-Arabië. Wanneer mense op hierdie manier ontwaak het, word die beskouing dat ekonomiese ontwikkeling vanself politieke stabiliteit verseker, deur die gebeure in Tunisië, Kaïro, Bahrein en veral Libië, as ‘n leuen ontmasker. Daar is geen outomatiese stabiliserende faktor in die ekonomie óf die sosiale omkopery waarby koning Abdoellah nou betrokke is nie.
Indien hulle die troon wil beskerm, sal die Saoedi koninklikes ‘n proses van politieke evolusie aan die gang moet sit wat gelykstaande is aan die land se toevallige ekonomiese modernisasie. Die onrus wat pas begin het, kan nog ontwikkel in die rigting van ‘n konstitusionele monargie. Dit is nou die tyd vir koning Abdoellah om daadwerklik op te tree en nie omkoopgeskenke aan te bied nie.” (Einde van Mai se artikel).
E-reaksies
Op die webtuiste van The Guardian is reaksies op Mai se artikel gevra. ‘n Bespreking van hierdie aard gee aan ‘n mens ‘n redelik verteenwoordigende beeld oor hoe ander mense oor hierdie belangrike saak voel. Dit is hierdie soort e-gesprek wat wye en selfs wêreldwye deelname aan ‘n bepaalde saak of veldtog in die hand werk. Nie net in Saoedi-Arabië nie, maar ook uit verskeie ander lande, raak mense by die konflik betrokke en oefen druk uit vir wat hulle as ‘n eerbare uitslag beskou. Op hierdie manier word kragte in beweging gebring wat die meeste leiers nie reg kan hanteer tydens hulle oorlewingstryd nie.
Die volgende is ‘n seleksie van die reaksies op hierdie artikel, en dit kom van sowel binne as buite Saoedi-Arabië:
Ibneadam: “Die Saoedi koning en sy familie mag dalk in staat wees om ‘n bietjie tyd te koop om die revolusie van die volk tydelik af te weer, maar hulle kan nie verstaan nie, of weier doelbewus om te verstaan, dat daar verskillende redes vir revolusies in verskillende lande is. In sommige lande mag dit oor geld en werkgeleenthede gaan, maar in alle gevalle gaan dit oor vryheid – vryheid van despotiese heersers, vryheid van afkoms, vryheid om hulleself uit te druk, vryheid van onderdrukkende wette. Baie van die griewe mag niks met godsdiens te doen hê nie, maar met kultuur. Hoe gouer die Saoedi heersers dit besef, hoe beter sal dit vir die regerende familie én die onderdane wees. Wat elkeen ten diepste vra, eis, voor veg en selfs bereid is om voor te sterf, is basiese menseregte.”
SalehAlamer: “…wanneer jy ‘n absolute monargiese koninklike gesin het, is respek vir meerderes belangriker as respek vir die volk. Niks sal hierdie hooggeplaastes oortuig om van hulle mag af te sien en aan ‘n verkose parlement oor te dra nie. Daar is dus geen oplossing in sig nie, behalwe net hulle verwydering. Die aantal Saoedi’s wat ten gunste van hulle absolute verwydering is, neem elke dag toe terwyl politieke hervormings vertraag word. Ek speel ook met hierdie idee, maar wat my en baie Saoedi’s laat huiwer, is vrees vir die onbekende!”
GiordanoBruno: “Ek hoop dat omkoopgeskenke en ‘laat hulle sokker speel’ in Saoedi-Arabië sal misluk. Saoedi-Arabië met sy ondersteuning vir godsdienstige reaksionêres en outokrate in die Arabiese wêreld moet ondergaan. Die gerespekteerde Palestynse joernalis, Abdel Bari Atwan, het in die Glasgow Sunday Herald voorspel dat Saoedi-Arabië die volgende ná Libië kan wees. Dit sal interessant wees om te sien hoedat Westerse leiers in Brittanje en die VSA stomgeslaan sal wees, anders as hulle grootdoenerige houding teenoor Libië, wanneer die Saoedi’s wapens gebruik wat in Amerika en Brittanje vervaardig is om die opstande te onderdruk. Sal hulle sanksies teen Saoedi-Arabië instel? Sal hulle die bates van die Saoedi koninklike gesin bevries? Ek dink nie so nie!”
MoMustafaMD: “...Die koning se omkoopgeld sal werk, en die jeug sal deur die geld tevrede gestel word. Dit is nie reg nie, maar dit is die waarheid. Die krag en oorredingsvermoë van die Saoedi monargie is nie net in hulle rykdom geleë nie, maar in hulle politieke stabiliteit, alliansies en ferm greep op hulle mense.”
Mangadan: “Dit sal wonderlik wees om te sien dat die Huis van Saoed platval, maar wees versigtig waarvoor jy wens. Die geopolitieke betekenis van ‘n volgende regime wat dalk onvriendelik teenoor Amerikaanse belange is, sal groot wees. Weens die moontlikheid van die skielike ineenstorting van die petrodollar, is dit moeilik om te sien wat die Amerikaners anders kan doen as om in te val en by die konflik betrokke te raak. Hulle het stil-stil die afgelope twee weke die teenwoordigheid van hulle vloot in die gebied opgebou. Dit maak my baie bang.”
Tonyone: “Dit wat in die Midde-Ooste gebeur, kan netsowel ook in die res van die wêreld gebeur. Politici moet hiervan kennis neem, want die mense het meer krag as hulle...”
Bikhair: “Ek dink ons moet die situasie in Saoedi-Arabië versigtig hanteer. Dit is nie Egipte nie, dit is nie Tunisië nie, en dit is beslis ook nie Iran nie. Hierdie is ‘n ander soort monster met ‘n klomp skuldige Moslems wat bereid is om die onverdedigbare te verdedig wanneer dit by die koninkryk van Saoedi-Arabië kom.”
Finisterre: “Dit mag dalk heeltemal onsinnig wees, maar hierdie opstande is ‘n klein liggie in ’n baie donker tonnel. Ek het nooit gedink ons sal mense sien wat in genoegsame getalle saamkom om te protesteer en regerings wat onaantasbaar voorgekom het, omver te werp nie. Saoedi-Arabië is een van die ergstes – ‘n moderne, ware verhaal van afgryse vir sy vroulike inwoners. Hoe wonderlik sal dit nie wees om te sien hoe sy heersers onttroon word nie. Mai, woon jy in Saoedi-Arabië terwyl jy hierdie dinge skryf? Sal jy self ook aan die betogings deelneem, met die oog op wat dit alles behels?”
Taku2: “Mai! Ek dink nie daar is tyd vir die Saoedi regerende elite om die toestand te los om self verder te ontwikkel nie. Hulle moet doelgerigte en verreikende verandering beplan en instel. Dit sal vreeslik wees indien die Saoedi regerende elite hulleself sal mislei om te dink dat die revolusionêre gees of dwarrelwind hulle samelewing ongeskonde sal laat bly. Libië het bietjie tyd gehad, maar nie baie nie, maar het niks geleer uit dit wat in Egipte en ander lande gebeur het nie. Toe hulle deur die onvermydelike gekonfronteer is, het die regering op ‘n onwyse manier geweld gebruik, waardeur hulle tot dusver net hulle val uitgestel het. Dit sal ‘n uitstaande voorbeeld wees indien Saoedi, wat so ‘n tradisionele en konserwatiewe samelewing is, met ‘n model vir verandering na vore kom wat sal voldoen aan die verwagtings van die konserwatiewes sowel as die volk se begeerte na meer vryhede en demokrasie. Indien hulle hierin sou slaag, sal die Saoedi heersers hulle land die vernietiging spaar wat in baie ander Arabiese lande plaasgevind het, waar hulle besig is om van die ou, onproduktiewe en verstokte orde ontslae te raak. Indien Saoedi-Arabië daarin sou slaag om vreedsame veranderings in te stel, sal hulle ook die wêreldekonomie en sosio-politieke bestel waarin ons leef, die skade spaar wat sal plaasvind indien revolusionêre veranderings in ‘n sleutelland soos Saoedi-Arabië plaasvind.”
VancouverTheory: “Die huis van Saoed het ‘n plan vir verkiesings in hulle agtersak. Hulle het hierdie ding vir ‘n tyd lank sien kom, en dit sal interessant wees om te sien hoe hulle dit hanteer. Ek dink nie die regering sal die internet blokkeer nie, omdat privaatheid in jou huis ‘n erkende leerstelling van hulle weergawe van Islam is.”
Insightful: “Die feit is dat baie van die Arabiese wêreld kleptokrasieë het (steelregerings) wat hulleself op verskillende maniere verbloem – van pseudo-demokraties af soos in Egipte tot ‘n paar weke gelede, na totaal outoritêre regerings soos in Libië en Sirië, tot ‘n Middeleeuse monargie soos in Saoedi-Arabië. Hierdie heersers het gedurende die afgelope 70 jaar of so hulle bevolkings probeer oortuig dat al hulle probleme deur die Weste, die VSA en Israel geskep word – hulle armoede, hulle totale gebrek aan ontwikkeling, hulle uiters swak opvoedkundige prestasies, en nog meer. Hulle het altyd na hierdie vyande verwys wanneer daar enige frustrasie onder hulle mense was, want in die oë van hulle ongeleerde volgelinge word hulle dan vrygespreek van die werklike rede vir die volk se desperate situasie, naamlik die leierskap se misbruik en onregmatige toeëiening van hulle land se rykdom.”
Knowles2: “Gegewe die probleme wat die huidige revolusionêres ervaar om kolonel Gaddafi uit te skop, gee ek hulle nie veel van ‘n kans teen Saoedi-Arabië nie... Die Saoedi veiligheidsmagte het meer as genoeg tyd om hulleself te organiseer en al die leiers van die protesmarse uit te haal. Ek vermoed dat Gaddafi die laaste diktator sal wees wat in die huidige rondte van Midde-Oosterse revolusies sal val.”
Jones1: “Indien die koning moet gaan, sal daar ‘n fundamentele Islamitiese regering kom, en dit sal van Saoedi-Arabië ‘n skuilplek vir terroriste maak. Dit is beter om saam te leef met die duiwel wat jy ken, maar hy moet die kultuur moderniseer sodat dit vir die 21ste eeu geskik is.”
Peart: “Laat ons die feit aanvaar dat voordelige diktatorskappe iets van die verlede is. Die anachronistiese Saoedi monargie gly teen ‘n vetgesmeerde paal af. Hulle lot is verseël.”
Spaghettimonster: “Daar sal geen proteste in Saoedi-Arabië wees nie. Solank as wat die Amerikaners elke vat ruolie in die hande kan kry, met Engeland kort op hulle hakke, sal hulle elke protesteerder onderdruk. Indien Saoedi-Arabië se ekonomie sou knak, kan die olieprys na meer as $300 per vat styg. Wanneer die olie weg is, sal daar ‘n interessante situasie ontstaan.”
Feite oor Saoedi-Arabië
Die volgende is ‘n paar basiese feite oor Saoedi-Arabië wat die moeite werd mag wees om in ag te neem wanneer ons ‘n opinie oor hierdie land vorm. Die oorsprong van die artikel is die webtuiste van die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake (www.state.gov/r/pa/ei/bgn/3584.htm), asook die Wikipedia artikel, Saudi Arabia:
Bevolkingsgetal (Julie 2010 skatting): 28.7 miljoen (23.1 miljoen Saoedi’s, 5.6 miljoen buitelanders).
Die koninkryk van Saoedi-Arabië is in 1932 gestig deur Abdul-Aziz bin Saud, wat soms net as Ibn Saud bekend was. Die veroweringstogte wat uiteindelik tot die stigting van die staat gelei het, het reeds in 1902 begin toe hy Riad ingeneem het, die voorvaderlike tuiste van sy familie, die Al Saud. Saoedi-Arabië se regering neem die vorm aan van ‘n absolute Islamitiese monargie. Daar word ook soms van die koninkryk gepraat as “Die Land van die Twee Heilige Moskees”, verwysend na Mekka en Medina, die twee heiligste plekke in Islam.
Ná die dood van koning Fahd op 1 Augustus 2005, het Abdoellah die troon as koning bestyg. Hy is beide koning en eerste minister. Daar is geen wetgewende liggaam nie, en die koning regeer deur koninklike dekrete. Die Koran is die konstitusie van die land, wat volgens die Sharia wette van Islam regeer word. Daar is geen politieke partye of nasionale verkiesings nie. Die koning se gesag word slegs deur die Sharia wet beperk, asook deur ander Saoedi tradisies wat hy verplig is om te eerbiedig.
Saoedi konings het geleidelik ‘n sentrale regering ontwikkel. Sedert 1953 was daar ‘n Raad van Ministers wat deur die koning aangestel word. Hulle adviseer aangaande die formulering van nasionale beleid en bestuur ook die aktiwiteite van die groeiende burokrasie. Hierdie raad bestaan uit die eerste minister (die koning), die eerste en tweede adjunk eerste ministers, twintig ministers, twee ministers van buitelandse sake, asook ‘n klein aantal adviseurs en hoofde van onafhanklike organisasies.
Menseregtegroepe soos Amnesty International en Human Rights Watch het verskeie kere al kommer uitgespreek oor die stand van menseregte in Saoedi-Arabië, as gevolg van die rigiede toepassing van Sharia wette.
Olie is in die 1930s deur ‘n Amerikaanse geoloog in Saoedi-Arabië ontdek, hoewel die grootskaalse ontginning daarvan eers ná die Tweede Wêreldoorlog begin het. Olierykdom het vir vinnige ekonomiese groei gesorg, wat in alle erns in die 1960s begin en skouspelagtig in die 1970s toegeneem het. Dit het die hele koninkryk van gedaante laat verander.
Die Saoedi oliereserwes is die grootste in die wêreld, en Saoedi-Arabië is die wêreld se grootste olieprodusent en uitvoerder. Olie sorg vir meer as 90% van die land se uitvoere en amper 75% van die regering se inkomste. Bekende oliereserwes is 263 miljard vate, wat omtrent ‘n kwart van die wêreld se totale oliereserwes is.
As gevolg van ‘n skerp styging in petroleuminkomste ná die Arabies-Israelse oorlog van 1973, het Saoedi-Arabië een van die vinnigste groeiende ekonomieë in die wêreld geword. Hulle het ‘n baie groot handelsoorskot met ander lande gehad, invoere het drasties toegeneem en genoeg geld was beskikbaar vir ontwikkeling, verdediging, en hulp aan ander Arabiese en Islamitiese lande.
Die wanverhouding tussen die professionele kundigheid van Saoedi gegradueerdes en die aanvraag in die arbeidsmark op alle vlakke, bly steeds die grootste probleem vir die diversifikasie van ekonomiese ontwikkeling. Sowat 4.6 miljoen nie-Saoedi’s word in die landsekonomie in diens geneem.
Gevolgtrekkings
Alle dele van die wêreld word toenemend aan die magte van globalisasie onderwerp. Die nasies is nie net ekonomies interafhanklik nie, maar hulle moet ook, as ‘n saak van dringendheid, ‘n gemeenskaplike plan vir oorlewing uitwerk met die oog op verskeie bedreigings vir volhoubare ekonomiese groei en vreedsame naasbestaan. Ons leef op ‘n digbevolkte planeet wat grootliks gebuk gaan onder die las van die oorbenutting van natuurlike hulpbronne, die ongelyke verspreiding van rykdom en voedsel, ‘n sterk styging in verbruikersvraag, asook die onbeheerde besoedeling van die atmosfeer, die oseane en varswaterbronne.
Donker wolke van dreigende revolusies en oorloë verswak ons hoop op die samevoeging van die nasies in ‘n harmonieuse internasionale gemeenskap. Daar is bloot net te veel ideologiese en godsdienstige radikales, magshonger diktators en krygsmanne (war-lords), seerowers op die oop see, moordenaars en rowers, immorele aktiviste met geen sin vir ordentlikheid nie, gevoellose vernietigers van skaars hulpbronne, asook skatryk mense wat só ‘n obsessie met die opbou van rykdom het dat hulle by enige korrupte praktyke betrokke sal raak, bv. omkopery, valse beleggingskemas, die hoogs onetiese uitbuiting van duisende mense in die arm werkersklas, en selfs die verarming van hele volke deur korrupte staatshoofde.
Die dae van toesmeer en die doen van dinge in die donker is egter verby. Daar is in ons tyd net te veel metodes vir waarneming beskikbaar – veral in die elektroniese veld. Ons het nie meer spioene nodig om in vyandige lande in te sluip en amptenare om te koop om inligting oor beleidsrigtings en strategieë te kry nie. Daar is baie ander maniere om te vas te stel wat mense doen. Ons het ook die tegnologie om inligting vinnig, selfs binne ‘n paar minute, na miljoene mense rondom die wêreld te stuur.
In die moderne samelewing hou mense toenemend hulle leiers aanspreeklik vir hulle beleidsrigtings en dade. Wanneer daar ‘n dooiepunt in normale kommunikasie ontstaan, word daar verskeie metodes deur die bevolking oorweeg om hulle ontevredenheid te kenne te gee. Sommige van hierdie metodes mag baie gewelddadig en ontwrigtend wees, en kan ’n land groot skade berokken. Dit is jammer dat so baie leiers wettige eise ignoreer, en eerder van harde, outokratiese metodes gebruik maak om die onrus te onderdruk, selfs al lei dit na ‘n revolusie of ‘n burgeroorlog.
Sekere leiers is bloot nie waardig om leiers genoem te word nie. Na baie jare waarin hulle ‘n koning of onstuitbare despoot was, het sommige van hulle só onsensitief vir die behoeftes van hulle mense geword, só onleerbaar in hulle eie ‘wysheid’, ontoeganklik in hulle hoë posisies, en onveranderlik in hulle styl van regering, dat hulle blindelings die weg na selfvernietiging bewandel en soms ‘n hele volk saam met hulle aftrek.
In die weke en maande wat kom, sal meer Arabiese leiers aan ‘n toets onderwerp word. Hopelik sal die oorblywendes uit die foute van hulle eweknieë in minder gelukkige lande leer, en die beweging na anargie suksesvol probeer stuit. ‘n Werkbare oplossing kan steeds gevind word deur diegene in magsposisies, maar dan moet hulle dit op ‘n eerlike en deursigtige manier nastreef.
_______________________________________________
Die Bybelse Scenario vir die Eindtyd
Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Maart 2011)
Die Bybel bevat baie inligting oor die eindtyd, en veral oor toestande in die Midde-Ooste. Die herstel van Israel in hulle godgegewe land is ‘n belangrike tema in die Bybel. Die vyandigheid wat hulle hier van hulle buurnasies sal ervaar (spesifiek die Arabiese volke), word breedvoerig in die Bybel beskryf. Dit word selfs daarop gewys dat Israel in ‘n stadium deur ‘n wêreldmag omsingel en beleër sal word. Volgens die Bybel is Israel en Jerusalem nie slegs die fokuspunt vir Christus se eindtydse wêreldregering nie, maar voor daardie tyd ook vir dié van die Antichris, wat deur al die nasies nagevolg en aanbid sal word (Op. 13:3-4,7). Groot oorloë word vir hierdie tyd voorspel, asook geweldige natuurrampe (Matt. 24:6-7). Ernstige godsdienstige misleiding en ‘n venynige haatveldtog teen Jode en Christene sal voorkom en veral sterk in die Midde-Ooste manifesteer (Matt. 24:4-5, 23-27; Sag. 12:2-3).
In die lig van hierdie scenario moet ons nie voeling met die Bybel verloor nie – ook nie met die verloop van godsdienstige, politieke en militêre toestande in die Midde-Ooste nie. Al die aspekte van hierdie belangrike saak moet noukeurig ondersoek word as ons dit reg wil vertolk en ook seker wil maak dat ons lojaliteite altyd reg bepaal word. Die wêreld se toekoms is in historiese tye in die Midde-Ooste bepaal, en in die eindtyd sal dit in nog meerdere mate die geval wees. Die Bybel verwys na die volgende belangrike gebeurtenisse in dié gebied:
Israel se herstel
God het die land Israel in ‘n plegtige verbond aan Israel se stamvaders, Abraham, Isak en Jakob en hulle nageslag gegee as ‘n ewige woonplek (Gen. 13:14-15; 26:3; 28:13). Voordat die volk Israel die land in besit geneem het, is dit Kanaän genoem (Gen. 17:7-8), maar daarna Israel – nie Palestina nie. Dikwels word daar net na die streke of provinsies van Israel verwys, nl. Judéa, Samaría en Galiléa.
Wanneer Israel in die eindtyd in hulle godgegewe land herstel word, kom hulle spesifiek terug na Israel, ongeag wat vreemde besetters ook al die land mag noem. Die Here sê: “Ek sal julle bymekaarmaak uit die volke en julle versamel uit die lande waarin julle verstrooi is, en Ek sal aan julle die land Israel gee” (Eseg. 11:17; vgl. Eseg. 20:42).
Israel se lang tye van verstrooiing uit die land as gevolg van geestelike afvalligheid, het nooit die ewige verbond tussen God en hulle ongedaan gemaak nie. Al is hulle ontrou, God bly getrou (Lev. 26:44-45). Die Here bring Israel in die eindtyd na hulle land terug, sodat hulle hier gelouter en ‘n oorblyfsel van hulle geestelik herstel kan word (Eseg. 22:18-22; Jer. 30:7; Sag. 13:1,8-9; Rom. 11:25-28). Hulle sal beslis nog ten volle as God se volk herstel word:
“Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring. Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig. Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste... En julle sal woon in die land wat Ek aan jul vaders gegee het; en julle sal vir My ‘n volk en Ek sal vir julle ‘n God wees” (Eseg. 36:24-28).
Wanneer Israel ná die donker dae van die groot verdrukking tydens die koms van die Messias almal gered word (Sag. 12:10-12; Jer. 31:31-34), sal hulle hoog aangeskrewe wees en geëer word deur al die nasies van die wêreld (Sag. 8:23; Jes. 60:11-15).
Jerusalem die episentrum
Die woord “episentrum” beteken “middelpunt”. Die Messiaanse Jood, Joel Rosenberg, gebruik hierdie begrip in sy boek Epicenter om aan te toon dat Israel die middelpunt van die aarde is, dat Jerusalem die middelpunt van Israel is, en dat die Tempelberg wat deel van die berg Sion is, die middelpunt van Jerusalem is. Jerusalem is ‘n absolute fokuspunt vir die hele wêreld: Hier het Christus die losprys vir die sonde van die hele wêreld betaal, van hierdie stad af het Hy na die hemel toe opgevaar, hier is die Heilige Gees uitgestort en die Christelike kerk gevestig, van hier af is die boodskap van verlossing na die hele wêreld uitgedra, na hierdie stad toe gaan Jesus Christus terugkom, sy vrederyk vestig en dan die hele wêreld van die herstelde troon van Dawid af regeer.
In die komende bedeling sal Jerusalem verhef word tot ‘n lof op aarde (Jes. 62:6-7). Al die nasies sal optrek na “die stad van die groot Koning” (Ps. 48:3) om die Here te eer en te raadpleeg, en hulle sal almal in vrede leef sonder om hoegenaamd enige oorloë te voer (Jes. 2:2-4; Jer. 3:17; Sag. 8:20-22).
Die stryd om Jerusalem
Dit is vanselfsprekend dat, in die lig van Jerusalem se belangrike historiese en profetiese betekenis, die alternatiewe koninkryk van die duisternis ook op hierdie stad en land in die middelpunt van die aarde beslag sal probeer lê. Hulle sal die land aan ‘n volk van hulle eie keuse toeken, hulle eie ‘Christus’ as verlosser aan die wêreld bied, en ook ‘n wêreldregering aan die mensdom bied wat sal poog om die vyandige en godsdienstig verdeelde nasies te verenig.
Dit verklaar die groot vyandigheid waarmee Israel sedert hulle herstel in 1948 begroet is. Tydens hulle lang afwesigheid het die koninkryk van die duisternis genoeg tyd gehad om ‘n alternatiewe monoteïstiese godsdiens in die Midde-Ooste te vestig waarin ‘n valse god in die plek van die Bybel se Drie-enige God aanbid word, die land se naam van Israel na Palestina  te verander, ‘n aantal rondtrekkende Arabiere te versamel en tot ‘n Palestynse volk te verklaar, en ook op die Tempelberg beslag te lê en drie moskees tot die eer van hulle god en sy profeet daar te bou.
Die groot invloed wat Israel se Arabiese en Islamitiese vyande in die Midde-Ooste en die hele wêreld geniet, is hoofsaaklik aan hulle olierykdom te danke. Die wêreld kan nie eers ‘n maand lank sonder die volgehoue lewering van hierdie “swart goud” klaarkom nie, daarom sal hulle alles doen om die oliebaronne gelukkig te hou. Hulle is selfs besig om aan Islam se eis te voldoen om die land Israel – en die stad Jerusalem – tussen die Jode en Palestyne te verdeel.
Amerika sing voor in die koor met sy tweestaatoplossing. Hierdie idee word nou deur die hele wêreld aanvaar, en groot druk word op Israel toegepas om uitvoering daaraan te gee. Indien hulle dit nie spoedig doen nie, is daar planne in plek om Palestina in September 2011 met die volle steun van die internasionale gemeenskap eensydig onafhanklik te verklaar.
Dit is hierdie ongeregverdigde haatveldtog teen Israel wat daartoe gaan lei dat die Here in die eindtyd alle nasies sal toelaat om teen Jerusalem op te trek, sodat Hy daar met hulle in die gerig kan tree (Sag. 12:2-3; 14:2-3; Joël 3:2).
‘n Uitwissingsoorlog teen Israel
Israel se Arabiese bure (die gematigdes én radikales) vorm ‘n verenigde front teen Israel en is op die totale vernietiging van die Joodse staat ingestel. Verskeie van die oorloë wat sedert 1948 in die Midde-Ooste gevoer is, was tussen Israel en sy Arabiese bure. Dié nasies het nog nie hulle sinistere doel bereik nie, want die Here het Israel in sy oorlewingstryd gehelp. Dit het hierdie vyande net nog meer fanaties gemaak, en hulle haat vir die Jode sal voortgaan tot op die stadium dat hulle sal saamsweer om Israel van die aardbodem af te verdelg:
“o God, hou U nie stil nie, swyg nie en rus nie, o God! Want kyk, u vyande maak rumoer, en u haters steek die hoof op. Teen u volk smee hulle listig ‘n plan en hou onder mekaar raad teen u verborgenes. Hulle sê: Kom, laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie. Want hulle het van harte saam raad gehou; teen U sluit hulle ‘n verbond: die tente van Edom en die Ismaeliete, Moab en die Hagareners, Gebal en Ammon, en Amalek, Filistéa saam met die inwoners van Tirus. Ook het Assur by hulle aangesluit; hulle is ‘n arm vir die kinders van Lot” (Ps. 83:2-9).
In hierdie gedeelte word die antieke volke genoem waaruit die moderne Arabiese volke afgestam het. Die noordelike Arabiere, waaronder ook Mohammed en sy volgelinge, stam van Ismael af en beskou hulleself as Ismaeliete. Volgens hulle vererf die beloftes aan Abraham deur sy oudste seun, Ismael, na Mohammed en sy opvolgers. Die suidelike Arabiere (Egipte en naburige volke) beweer dat hulle van Kagtan afstam, wat waarskynlik op Joktan dui (Gen. 10:25-30). Al die Arabiere, soos die Jode, stam van Sem af en is dus Semitiese volke. Dit is dus teenstrydig om te beweer dat die Arabiere anti-Semities is wanneer hulle die Jode haat, omdat hulle self Semiete is. Hierdie term is voor die Tweede Wêreldoorlog deur Hitler geskep toe die Jode as die belangrikste verteenwoordiger van die Semitiese volke beskou is.
Grootskaalse Arabirisering het in die 7de en 8ste eeue plaasgevind tydens die veroweringstogte van Islamitiese Arabiere. Taalkundige en kulturele assimilasie het plaasgevind, met die gevolg dat baie mense van ander volke hulleself daarna ook as Arabiere beskou het. Daar is tans sowat 286 miljoen Arabiere in die Midde-Ooste en Noord-Afrika en nog 14 miljoen wat verstrooid in ander lande van die wêreld woon – saam is hulle 300 miljoen. Die Arabiese Bond wat in 1946 gestig is, beskou ‘n Arabier as ‘n persoon wat in ‘n Arabiese land woon, of wie se taal Arabies is, en wat met die aspirasies van die Arabiessprekendes identifiseer. Baie van die afstammelinge van Nimrod in die huidige Sirië (die antieke Assiriërs) beskou hulleself ook as Arabiere. Die psalmis sê Assur het by die ander Arabiese groepe aangesluit (Ps. 83:9).
Israel word deur ‘n reuse oormag Moslemgesinde Arabiere in die Midde-Ooste omring. Baie van hulle soek Israel se ondergang en beplan om ‘n oorhoofse Moslemstaat in die grondgebied van Israel te vestig met Jerusalem as hoofstad. Sjeik Riyad Salah, die hoof van die Islamitiese Beweging in Israel, verkondig aktief die beginsels van ‘n Islamitiese revolusie: “Ons is voor die poorte van ‘n Islamitiese revolusie,” sê hy aan die Arabiere van Israel. “Die wêreldwye magte van boosheid sal in ‘n Islamitiese revolusie uitgeskakel en deur ‘n Islamitiese wêreldstaat vervang word, met Jerusalem as hoofstad.” Voordat dit kan gebeur, moet daar van Israel ontslae geraak en die Palestyne in hulle plek gestel word. Jodehaat is ‘n wesenlike deel van Islam se wêreldbeskouing en word van jongs af by hulle kinders ingeskerp.
Die Russies/Arabiese inval in Israel
Volgens Esegiël 38 en 39 gaan verskeie Arabiese lande, saam met ander Moslemlande onder die aanvoering van Rusland, ‘n geweldige aanslag op Israel loods om hierdie land tot ‘n val te bring en van die wêreldkaart af uit te wis. Gog in die land Magog (dit is die land ten noorde van die Kaukasusgebergte, m.a.w. die moderne Rusland) sal Israel aanval saam met Persië (Iran), Togarma (Turkye), Kus (Ethiopië), Put (Libië), en Gomer (Duitsland of dalk een of ander Oos-Europese volk). Ander lande sal ook by hulle aansluit om ‘n baie groot mag te vorm.
Israel se vyande beplan om Rusland se betrokkenheid vir hierdie groot oorlog te verkry. Vir Rusland is daar die voordeel van belange in die Midde-Oosterse olievelde. Hulle sou ook die moontlikheid wou voorkom dat Sjina die Arabiere militêr help indien Rusland self sou weier om dit te doen. Hoewel teësinnig, sal Rusland volgens die Bybel instem om aan ‘n uitwissingsoorlog teen die Joodse staat deel te neem (Eseg. 38:4).
Die oorlog van Esegiël 38 en 39 kom onwrikbaar nader. Die Here gaan Homself op ‘n besondere manier deur die voorkoming van hierdie oorlog openbaar (Eseg. 38:16). Die skielike en bonatuurlike verdelging van die invalsmagte deur vuur word duidelik genoem (Eseg. 39:4-6). Daar sal ook ‘n baie groot aardbewing in Israel wees (Eseg. 38:19).
Rusland, Israel én al die nasies sal God op grond van hierdie duidelike, bonatuurlike ingryping erken. Dit sal ‘n groot verandering in denke meebring, want die meeste volke van die wêreld, ook Israel, het tot ‘n groot mate in ongeloof, materialisme en humanisme verval en as gevolg daarvan die Drie-enige God en sy Woord verwerp, geïgnoreer of gedegradeer. Omtrent almal van hulle het die Christendom met die heidense gelowe gelykgestel. Op ‘n tipies postmoderne manier beskou hulle die godsdienstige aansprake en morele riglyne van die Bybel as oudmodies, irrelevant en uitgedien.
Met die bonatuurlike vernietiging van Israel se vyande sal die nasies erken dat die God van Israel en die Bybel die ware God is wat gevrees en gedien moet word. Hierdeur sal die ideologieë van ateïsme, agnostisisme en sekularisme nietig verklaar word. Daar sal egter so min kennis van God wees dat hulle die verkeerde persoon, die Antichris, as Christus en gesant van God sal aanvaar. Hy sal die nasies se ontsag vir bonatuurlike tekens uitbuit en saam met die valse profeet vir ‘n skouspel van tekens en wonderwerke sorg (2 Thess. 2:9-10; Op. 13:12-14). Die mensdom sal dit in verbystering aanvaar.
Die Antichris en valse profeet se tekens en wonderwerke sal só verbysterend wees, en die Antichris se aanspraak dat hy van koning Dawid afstam en namens alle gelowe na die aarde gestuur is, so oortuigend klink, dat selfs Israel mislei sal word om hom as hulle beloofde Messias aan te neem (Joh. 5:43). Hy sal krediet opeis vir die skielike beëindiging van die dreigende oorlog in Israel, en dit sal oornag van hom ‘n vredevors en onbetwiste wêreldleier maak. Die nie-Joodse nasies sal saam met Israel ‘n sewe-jaar lange verbond met hom sluit en hom as hulle leier erken. Hulle sal verwonderd agter hom aangaan (Op. 13:3-4) en groot eer aan hom betoon omdat hy die mensdom uit ‘n dreigende wêreldoorlog gered, ‘n besliste ekonomiese ineenstorting voorkom, en die sukkelende wêreldekonomie herstel en weer op dreef gekry het.
Elektroniese hulpmiddels vir ‘n diktatuur
Die Antichris sal ruim van elektroniese hulpmiddels gebruik maak om sy wêreldregering te bedryf. Hy sal onder meer ‘n rekenaarbeheerde, kontantlose monetêre stelsel instel, waarin niemand sonder ‘n nommer sal kan koop of verkoop nie (Op. 13:16-18). Die tegnologie is reeds ontwikkel om aan elke ekonomies aktiewe persoon ‘n klein silikonskyfie met ‘n mikroprosesseerdertjie daarin te voorsien. Dit sal in ‘n glaskapsule gesit en onder ‘n persoon se vel ingespuit word – op sy hand of sy voorkop.
Elkeen sal ‘n unieke identiteitsnommer hê wat op ‘n wêreldwye rekenaarnetwerk geregistreer sal wees en ook sy bankrekening elektronies sal debiteer wanneer aankope gedoen word. Die oomblik wanneer die persoon sy hand of voorkop naby ‘n skandeerder hou, sal al sy besonderhede bekend wees en sy rekening dadelik gedebiteer word. Terselfdertyd sal sy presiese bewegings ook bekend wees en niemand sal veel vryheid geniet nie.
Die nommer waarvan Openbaring 13:16-18 praat, word spesifiek “die nommer van die dier” (die Antichris) genoem. Om dit te kan kry, sal ‘n persoon eers ‘n eed van getrouheid aan hierdie heerser moet aflê. Dit sal die erkenning van sy wêreldregering behels, asook die bereidwilligheid om hom as wêreldmessias te aanbid. Dit sal eers in die middel van sy sewe- jaar lange regering op almal afgedwing word. Mense wat aan hierdie voorwaardes voldoen net om ‘n nommer te kry, sal in werklikheid hulle siele aan die duiwel verkoop omdat hulle ook verplig sal wees om die Antichris en sy beeld te aanbid. Die oordele van God is reeds oor sulke mense uitgespreek (Op. 14:9-11).
Die toekomstige e-regering van die Antichris sal mense van alle basiese vryhede beroof: vryheid van geloof, vryheid van politieke lojaliteit en ook ekonomiese vryheid. Selfs hulle bewegings sal bekend wees – nie net na aanleiding van inligting oor die plekke waar hulle e-betalings maak nie, maar ook deur satellietgekoppelde opsporingstelsels wat deur selfone werk. Die e-boodskappe wat aan ander mense gestuur word, sal ook op rekord gehou word, daarom sal dit baie moeilik wees om ‘n propagandaveldtog teen die komende nuwe wêreldorde en sy leiers te voer. Hulle bewind sal dus nie deur ‘n volksopstand omver gewerp kan word nie.
Groot rykdom
Die groot welvaart wat veral in die ryk oliestate opgebou word, word nie tot die voordeel van die gewone landsburgers aangewend nie. Mammon (die duiwel) is die geldgod, en almal wat met hom vriende maak, sal in sy ewige tente deur hom ontvang word (Luk. 16:9,13). Jakobus skryf ook oor die gevaar van die opbou van groot rykdom, veral in die eindtyd:
“Kom nou, julle rykes, ween en huil oor die ellendes wat oor julle kom. Julle rykdom is bedorwe, en julle klere is deur die motte verniel. Julle goud en silwer is verroes, en hulle roes sal tot ‘n getuienis teen julle wees en sal soos ‘n vuur julle vlees verteer. Julle het skatte vergader in die laaste dae. Kyk, die loon van die arbeiders wat julle lande afgeoes het, wat deur julle agtergehou is, roep uit; en die geroep van die maaiers het gekom tot in die ore van die Here van die leërskare. Julle het op die aarde ‘n weelderige en losbandige lewe gelei; julle het jul harte vet gevoer soos op ’n slagdag” (Jak. 5:1-5).
Dit is die groot probleem wat die Arabiese volke ook met die ryk miljardêrs in hulle lande het. Hulle buit hulle eie mense skaamteloos uit, maar vir hulleself versamel hulle skatte wat hulle gesinne nie eers in ’n hele leeftyd sal kan bestee nie, al koop hulle ook alles wat hulle oë sien. Hierdie ryk elite se kinders is so bedorwe dat hulle nie hard wil studeer om goeie kwalifikasies te verwerf nie, daarom word buitelanders gehuur om die werk in hulle land te doen. Voeg nog by hierdie rykdom Islam se sterk verbintenis tot magsuitbreiding, asook hulle godsdienstige haat vir Jode en Christene, en jy het ’n probleem van ’n wêreldwye omvang.
Koning Dawid was deur ryk heidene omring en hy het sy lot in onder andere Psalm 17 by die Here bekla. Hierdie psalm het beslis ook ’n profetiese toepassing op eindtydse Israel. Omring deur ryk Moslemlande wat hulle ondergang soek, kan Israel niks anders doen nie as om ook tot die Here te roep oor die gewelddadige optrede van die gevoellose en ryk heidene:
“Hulle het hul gevoel afgesluit; met hul mond spreek hulle hoogmoedig. Nou het hulle ons in ons gang omsingel; hulle rig hul oë daarop om ons op die grond uit te strek. Hy is soos ‘n leeu wat begerig is om te verskeur, en soos ‘n jong leeu wat in skuilplekke klaar lê. Staan op, Here, gaan hom tegemoet, werp hom neer; red my van die goddelose met u swaard; met u hand van die manne, o Here, van die manne wie se deel in die lewe uit die wêreld is en wie se buik U vul met u verborge skat; wie se seuns daarvan nog sat is, wat weer hul oorskot aan hulle kinders laat agterbly. Maar ek sal u aangesig in geregtigheid aanskou; ek sal versadig word met u beeld as ek wakker word” (Ps. 17:10-15).
Die verborge skatte wat Israel se vyande het, kan in ons tyd niks anders wees nie as die olierykdomme wat lank onder die grond verborge gebly het. Hulle het so baie daarvan dat hulle sat is van al die geld en alles vir hulle kinders nalaat. Proff. Walvoord & Zuck (Bible Knowledge Commentary, bl. 804) sê die volgende in hulle inleiding oor Psalm 17:
“In hierdie psalm was Dawid bewus van sy eie geregtigheid terwyl hy omring was deur vyande wie se deel net in hierdie lewe was. Hy het gebid om van die bose wêreld bewaar te word wat hom onderdruk terwyl hy na die wonderlike toekoms in die Here se teenwoordigheid uitgesien het. Hierdie psalm is in verskeie opsigte soortgelyk aan Psalm 16, maar daar is ‘n belangrike verskil. In Psalm 16 was Dawid bewus van gevaar in die agtergrond, maar sy geloof het hom bemoedig om nie te vrees nie. In Psalm 17 het die gevaar hom egter van alle kante af ingesluit, daarom het hy dringend hulp van die Here af nodig gehad.”
Verlossing vir Israel
Moderne Israel is in groot benoudheid, omring deur talryke vyande, terwyl baie van sy voormalige vriende soos Amerika besig is om hom in die steek te laat en met sy vyande te heul. As gevolg van Israel se geestelike blindheid, sal daar nie nou al totale verlossing vir hulle kom nie. Eers sal daar die tyd van benoudheid vir Jakob wees (Jer. 30:7) wat die verdrukking van sewe jaar sal wees. Daaruit sal ‘n oorblyfsel gered word wanneer die Messias kom, maar eers nadat hulle baie swaar gely het (Sag. 13:8-9).
Wanneer die Here Jesus direk ná die donker dae van die groot verdrukking met sy wederkoms sy voete op die Olyfberg sit (Sag. 14:4-5), sal die oorblyfsel van Israel opsien na Hom vir wie hulle deurboor het, en bitterlik oor Hom ween (Sag. 12:10). Paulus sê: “Die Verlosser sal uit Sion kom en die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:26). Dan sal Israel ten volle met God versoen wees deur die Messias: “Hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie” (Jer. 31:34).
Die Messias sal van die herstelde troon van Dawid af regeer (Hand. 15:16-17) en Jerusalem sal verhef word tot ‘n lof op aarde (Jes. 62:6-7). Die duiwel sal gebind wees (Op. 20:1-3) en daar sal oral op aarde vrede heers: “In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die naam van die Here in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie” (Jer. 3:17).
Israel sal dan hulle roeping vervul waarvoor hulle as volk tydens die eerste koms van die Messias onwaardig was. Die Here Jesus het voor sy hemelvaart vir hulle gesê dat hulle Hom tydens sy wederkoms sal aanvaar: “Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39). Dan sal hulle vir die hele wêreld tot seën wees (Rom. 11:11-12). Jesaja sê: “In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet, Israel sal bloei en uitbot, sodat hulle die wêreld vol vrugte sal maak” (Jes. 27:6).
Verlossing vir die nasies
Op die dag van Christus se wederkoms sal daar nie net ‘n oorblyfsel van Israel gered word nie, maar ook ‘n oorblyfsel van die nasies. Ongelukkig sal die meeste van die ongeredde mense dan reeds dood wees, omdat die voorafgaande sewe jaar beskryf word as “’n groot verdrukking soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” (Matt. 24:21-22; vgl. Jes. 13:9-13). Wanneer die oorlewendes Christus sien kom, sal hulle rouklaag oor hulle sonde en Hom as Verlosser aanneem:
“En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemel sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matt. 24:29-30).
Johannes sê dat ‘n wêreldmag onder die leiding van die Antichris en valse profeet sal saamtrek om teen Christus en sy hemelse leër te veg op die dag van sy wederkoms. Hierdie konfrontasie sal na die verdelging van die antichristelike magte lei (Op. 19:19-21). Die Here sal die nasies oordeel wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg (Sag. 14:2-5,12-13). Diegene onder hulle wat dit oorleef, sal gered word en daarna elke jaar optrek na Jerusalem om die Here te dien (Sag. 14:16). Die vyandigheid van die verlede sal gestaak word.
’n Toekomstige seën word uitgespreek oor sommige van Israel se vyande wat nou nog sy ondergang soek, veral Sirië en Egipte. Diegene onder hulle wat die groot verdrukking oorleef, sal almal die Here Jesus as Verlosser aanneem en Hom van harte dien. Daar sal dus nie meer ‘n Islamitiese geloof wees nie: “In dié dag, spreek die Here van die leërskare, sal Ek die name van die afgode uit die land uitroei, sodat aan hulle nie meer gedink sal word nie” (Sag. 13:2). Daar sal oral, in alle lande, Christelike hervormings wees, maar die sterkste getuienis vir die Messias sal van die Midde-Ooste af uitgaan:
“In dié dag sal daar ‘n grootpad wees van Egipte na Assirië en Assiriërs sal in Egipte kom en Egiptenaars in Assirië; en Egipte sal saam met Assirië die Here dien. En in dié dag sal Israel die derde wees naas [saam met] Egipte en Assirië, ‘n seën in die midde van die aarde, omdat die Here van die leërskare hom geseën het met die woorde: Geseënd is my volk Egipte en my maaksel Assirië en my erfdeel Israel!” (Jes. 19:23-25).
In Jerusalem, in die middelpunt (episentrum) van die aarde, sal die Messias se troon van geregtigheid opgerig wees. Al die nasies sal na Jerusalem optrek om die Here te aanbid en deur Hom onderrig te word, en hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie (Jes. 2:2-4).
Verlossing van die bruid van Christus
Die wonderlike boodskap aan ware Christene onder alle nasies is dat hulle nie vir die donker dae van God se oordele oor ‘n sondige wêreld tydens die verdrukking bestem is nie. Soos wat Christene in die eerste eeu die beleëring en vernietiging van Jerusalem deur die Romeinse magte vrygespring het omdat dit ‘n oordeel van God weens Israel se ongeloof was (Luk. 19:41-44; 21:20-24), sal hulle die eindtydse oordele wat oor die hele wêreld gaan kom, ook vryspring: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36). Dié ontvlugting is die wegraping, soos in Johannes 14:2-3 beloof en in 1 Thessalonicense 4:16-17 verduidelik is.
Die belofte in Lukas 21:36 dat ons “al hierdie dinge wat kom [sal] ontvlug”, is tog baie duidelik in die verband waarin dit gegee is. Dit is deel van Christus se profetiese rede, wat handel oor sowel eerste geslag as laaste geslag oordele in die Christelike bedeling. In die eerste geslag ná Christus se kruisiging was daar ‘n letterlike, fisiese uitredding vir Christene uit God se oordele wat oor Jerusalem en die ongelowige Joodse volk gekom het. In die laaste geslag voor Christus se wederkoms sal daar net so ‘n letterlike, fisiese uitredding van Christene wees voor die verdrukking en oordeel oor ‘n sondige en God-verwerpende wêreld.
Die woord “ontvlug” (Gr. ekfugo; Eng. escape) beteken net een ding: om buite die terrein van goddelike oordele in ‘n plek van veiligheid gestel te word, in hierdie geval in die teenwoordigheid van die Seun van die mens. ‘n Fisiese ontvlugting is ook presies wat gedurende die uitstorting van goddelike oordele in die tyd van Noag en Lot gebeur het. Daar is ongelukkig teoloë en Bybelvertalers, asook almal wat deur hulle mislei is, wat nie in hierdie duidelike belofte wil glo nie. Dit is die rede waarom “ontvlug” in sekere van die nuwe vertalings van die Bybel uitvertaal is, soos bv. in die Nuwe Afrikaanse Vertaling en die Good News for Modern Man. In hierdie geval is dit beslis nie goeie nuus dat ware gelowiges deur die tyd van oordele en verdrukking sal gaan nie. Wat het van die “salige hoop” van die verskyning van Christus vir sy heiliges geword? (vgl. Tit. 2:13).
Dit sal ‘n groot getuienis vir Israel, hulle Moslem vyande én al die nasies en gelowe van die wêreld wees dat net die ware Christene skielik verdwyn het. Wanneer hulle ondersoek instel deur die Bybel en goeie Christelike boeke of webtuistes, asook teruggevalle maar ingeligte Christene wat agtergebly het te raadpleeg, sal hulle gou agterkom dat die hemelse Bruidegom sy bruid kom haal het. Hulle sal ook sien dat die Antichris te midde van groot geestelike misleiding geopenbaar is, hoewel aanvanklik as ‘n sogenaamde vredevors, en dat die oordele van die Here oor die aarde uitgegiet word (vgl. Op. 6:15-17).
Die oordele sal al hoe erger word namate daar dieper in die sewe-jaar lange verdrukking gevorder word. Naby aan die einde van hierdie tyd sal dit op sy ergste wees, maar dan sal mense weet dat Christus se openbare verskyning aan die einde van Daniël se 70ste jaarweek – ‘n sewe-jaar tydperk vanaf die openbaring van die Antichris – spoedig sal plaasvind, soos in Daniël 9:24-27 en 12:1-13 verduidelik. Die Antichris se diktatuur sal dan op sy ergste wees. Die Here Jesus het in sy profetiese rede gesê:
“En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer die see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ‘n wolk, met groot krag en heerlikheid” (Luk. 21:25-27). Daarna kom Christus terug saam met al sy heiliges wat Hy vroeër kom haal het (Sag. 14:5; Kol. 3:4) en dan breek sy duisendjarige vrederyk aan (Op. 19:11-16; 20:6).
Die wêreld is in beroering en die tyd vir die geheime koms van die Messias is op hande. Sy koms tydens die wegraping sal soos ‘n “strik” wees vir almal op aarde (Luk. 21:35). Hoewel daar verskeie tekens van die tye is, soos bv. die herstel van Israel en Jerusalem, ‘n opkomende nuwe wêreldorde en gerugte van oorloë in baie plekke, sal die meeste mense nie Christus se wederkoms verwag nie. Die hemelse Bruidegom se koms in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, sal hulle soos ‘n strik oorval en dié wat nie gereed was nie, sal hulleself skielik in die uur van duisternis midde-in die verdrukking bevind. Selfs die wyse maagde sal in daardie tyd aan die slaap wees en dus nie meer ‘n aktuele wederkomsverwagting hê nie. Die meeste van hulle sal ook nie op die tekens van die tye ag slaan nie (Luk. 12:54-56).
Dit is om redes soos hierdie dat ons in wêreldgebeure moet belangstel en sorg dat ons olie in ons lampe het, m.a.w. dat ons deur die Heilige Gees vervul is en onder sy leiding leef (vgl. Ef. 5:18; Gal. 5:16). Ons moet verby die vrees vir ‘n nuwe oorlog, die skerp styging in die brandstofprys, revolusies, opstande, wetteloosheid en aardbewings kyk, en besef dat ons in ‘n tyd soos hierdie geestelik waaksaam moet wees. Baie Christene se liefde verkoel wanneer die sonde en ongeregtigheid toeneem (Matt. 24:12), en hulle sal in ‘n baie laat stadium paniekerig begin rondskarrel om hulle vervalle geestelike lewe in orde te kry (Matt. 25:6-9). Geseënd is elkeen wat voorbereid sal wees.

Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.