Genade-water

Die storie speel af in ‘n landelike gebied waar ‘n gesin op ‘n plaas woon. Die hele gebied loop erg deur onder ‘n uitmergelende droogte. Sake word vererger deur ‘n hittegolf wat hom in die gebied kom staan-maak het, wat lewe in die gebied amper ondraaglik maak. Op die lande staan die gesaaides inmekaar gedraai van die hitte, die melkbeeste strompel moeg-moeg oor die dorre grasveld heen. Melkproduksie het feitelik tot stilstand gekom en die suipings is byna opgedroog. Die bietjie wild wat nog op die plaas voorkom kry ook bitter swaar en skuil bedags onder bome om van die ergste hitte weg te kom.

By die plaasopstal het ‘n Klein seuntjie ‘n buitekraan oopgedraai om homself met die koel water uit die tuinslang af te koel. Toe sy pa dit sien, is hy ligweg berispe en is daar aan hom verduidelik dat die watervoorraad op die plaas feitelik gedaan is en dat hulle onder geen omstandighede water mag mors nie. As dit nie nou binnekort reën nie, is dit verby met hulle, die diere én die gesaaides.

‘n Dag of wat later staan die ma in die kombuis, besig om skottelgoed te was. Sweetdruppeltjies pêrel op haar Bo-lip en kort-kort moet sy die sweet wat langs haar slape koers kry, afvee. Sy tuur deur die venster en in die verte sien sy haar Klein seuntjie aan die rand van ‘n digte bos, waar hy in die bos in trapsuutjie. ‘n Frons keep tussen haar oë. Voor sy nog verder daaroor kan wonder, kom die seuntjie uit die bos gedraf, huppelend op pad huis toe. Sy sien hom om die hoek van die huis verdwyn en sy gaan weer rustig aan met haar skottelgoedjies. Nie lank nie of sy sien hom weer in die verte oppad bos toe. Hy stap stadig en versigtig in die rigting van die bos, met sy handjies vreemd bakhand voor hom uitgehou.

 
Sy kan die kind se eienaardige optrede nie verstaan nie. Sy maak haar voorskoot Los en glip by die agterdeur uit – oppad bos toe. Toe sy by die rand van die digte bos bome kom, hoor sy haar seuntjie tussen die bome aankom en sy kruip stilweg agter ‘n paar bome weg. Hy draf by haar verby – weer oppad huistoe. Sy kan sien sy gesiggie is rooi gebrand en sy voorkop Nat van die sweet. Tog, uit sy oë straal ‘n vreemde gloed van genoegdoening. Sy bly in die bos skuil om te sien of hy gaan terugkom. Sy wil graag vasstel waarmee hy so intens doenig is. ‘n Rukkie later kom hy skuifelend met bakhandjies in die bos in, sy oë gefokus op sy hande. Hy merk haar nie op die. Hy verdwyn tussen die ruie bome deur. Dadelik volg sy hom gebukkend, versigtig om nie haar teenwoordigheid te verklap nie.

 
‘n Paar tree verder kom sy tot stilstand. Wat sy sien slaan haar stom. Sy kan haar hart hoor hammerslag in haar borskas en in haar ore ‘n suising. Sy kan nie glo wat sy sien nie. In ‘n natuurlike opening in die bos, staan ‘n reuse blouwildebeesbul kop-omlaag en ‘n entjie verder kring ‘n paar wildebeeskoeie, koppe na binne. Haar seun skuifel steeds bakhand, sonder enige vrees nader aan die kring koeie wat ‘n natuurlike pad vir hom oopmaak.

 
Sy wil gil van angs – hierdie diere het die vermoeë om hom in ‘n oogwink te vermorsel – veral die bul. Tog is dit asof ‘n stem haar weerhou om te gil. Haar lyf is lam, haar keel droog. Sy sien hoe die koeie effens padgee om die kring oop te maak. In die middel van die kring sien sy ‘n jong wildebeeskalfie wat op die grond lê. Die versengende hitte het sy tol geëis en die kalfie lê verswak op die grond. Sy sien haar seuntjie naderloop en uit sy bakhandjies laat hy die laaste oorblywende druppels water in die kalfie se bek drup. Die bul en koeie laat hom begaan. Dan besef sy meteens dat hy die hele tyd probeer om met sy handjies water aan te dra vir die uitgeputte kalfie. Sy sien hoe hy opstaan en met mening weer die pad huistoe vat. Sy staan op vanwaar sy hom uit haar skuiling dopgehou het toe hy slegs ‘n paar tree voor haar is.

 
Hy skrik hom boeglam toe hy haar sien. Die eerste gedagte waaraan hy op daardie oomblik dink is sy pa se strenge vermaning dat hulle onder geen omstandighede water mag vermors nie. Nog voor hy kan verduidelik neem sy ma hom aan die hand en sê “Kom ek help”. Net dit. Terug by die huis haal sy ‘n klein emmertjie uit, tap dit vol water en kies saam met haar seun die pad bos toe. Toe sy by die plek kom vanwaar sy hom ‘n rukkie vantevore uit haar skuilplek dopgehou het, gaan sy staan. Sy gee vir hom die emmertjie water en beduie vir hom woordeloos om na die kalfie te gaan. Hierdie is amper ‘n heilige oomblik vir haar. Hier bly sy uit, dis SY oomblik hierdie. Wéér maak die koeie die kring oop en sien sy hom kniel by die kalfie wat homself stadig oplig en op sy wankelrige bene kom. Die kalfie begin suip.

 
Sy voel lou-warm trane in haar oë opwel en onbeskaamd langs haar wang afloop. Voor haar sien sy die mooiste daad van liefde en genade ontvou. Dis liefde en genade in aksie – ‘n eerste genade.

 
Dis asof tyd gaan stilstaan het. Hoe lank sy so gestaan en kyk het na die toneel wat voor haar afspeel, weet sy nie. Dit kon ‘n paar minute wees of dit kon ‘n ewigheid wees. Sy word tot die werlikheid teruggeroep met ‘n klomp dinge wat ter gelyketyd gebeur. Haar eerste gewaarwording is dat die son agter wolke in verdwyn. Waar dit vandaan kom, kan sy nie begryp nie. Terselfde tyd staan haar seuntjie vanuit sy knielhouding af op en draai om na haar. Sy gesiggie is die ene vreugde wanneer hy die leë emmertjie optel en stadig na haar toe stap. Dan hoor sy die dreuning van die weer en die blare begin ritsel as die wind deur die blare begin speel.

 
Trane van dankbaarheid vloei vryelik oor haar wange. Sy neem haar seuntjie se hand in hare en draai woordeloos om, oppad terug huistoe. Voor hulle die huis haal, plons vet druppels water uit die hemel neer – ‘n tweede genade. Dis so asof die Vader sy seën wil uitstort omdat ‘n klein seuntjie kom stilstaan het by nood.

 
Om my en jou beweeg daar daagliks sovéél mense wat dors het - dors het vir ‘n bietjie begrip, aandag en ontferming. Mense wat seer in hulle ronddra. As ons tog net partykeer met ‘n tikkie meer deernis die dag tegemoed wil gaan, om soms net by ‘n kollega, ‘n vriend of vriendin, selfs jou huweliksmaat of kind kan gaan stilstaan en luister wat hulle regtig vir jou sê (nog beter – dit wat hulle nie sê nie). Dis dán wanneer ons genadewater begin uitdeel. Ons kan nie altyd in die behoeftes van ander voorsien nie, maar ons kan met ‘n bietjie tyd wat ons kan afknyp, ‘n oor wat hoor en ‘n paar sagte woorde, ‘n groot verskil daar buite maak. Mag ons voetspore hierdie week getuig van stilstaanplekke by dié wat ons paaie mee kruis. Mag dit getuig van deernis, liefde en begrip.

 
Ralph Waldo Emmerson het eenkeer gesê: “Die grootste geskenk wat jy kan gee, is ‘n stukkie van jouself”. Kom ons maak hierdie week ‘n gee-week. Dit kos niks nie.
Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.