God se Gebooie in die Nuwe Testament

Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Maart 2011)

Die Nuwe Testamentiese (NT) gebooie van God word afgelei van die aard van sy goddelike liefde wat aan ons geopenbaar is deur die koms en soendood van sy Seun, Jesus Christus. Die gebooie wat op die Christelike lewe betrekking het, is op ‘n baie hoër vlak as die Ou Testamentiese (OT) wet, omdat dit die eerbiediging van die beginsels van goddelike liefde vereis, eerder as die wettiese navolging van sekere gedragspatrone. Ongelukkig het nie alle Christene werklik hierdie oorgang na die nuwe bedeling gemaak nie en verstaan dus nie volkome dat ons nie onder die wet is nie, maar onder die genade, en dat “Christus die einde is van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo” (Rom. 6:14; 10:4). Hierdie onkunde het uiters nadelige gevolge in die lewens van dié gelowiges wat die wet en genade met mekaar probeer vermeng.

Daar is ‘n groeiende beweging onder oningeligte Christene om na die Ou Testamentiese wet terug te keer, omdat dit volgens hulle die belangrikste samevatting van God se opdragte aan alle mense van alle tye is. Hulle sien nie die dispensasie van die wet as ‘n voorbereidende fase wat na die openbaring van God se Seun as die Verlosser van sondaars gelei het nie, maar hou steeds aan die wet vas as die finale uitspraak oor God se morele norme vir almal. Hulle gaan selfs verder as die eise van die morele wet en eerbiedig ook seremoniële wette soos die OT sabbat en Joodse feeste, ten spyte daarvan dat hierdie feeste almal in Christus vervul is en dus in die huidige bedeling uitgedien geraak het (Kol. 2:16-17; Gal. 4:9-11).
Alle verwysings na die gebooie van God in die Nuwe Testament vloei slegs uit een basiese gebod voort, en dit is om ‘n hart te hê wat met goddelike liefde gevul is: “Die doel van die gebod is liefde uit ‘n rein hart en ‘n goeie gewete en ‘n ongeveinsde geloof, waarvan sommige afgedwaal en hulle afgewend het na onsinnige praatjies; hulle wil leraars van die wet wees, alhoewel hulle wat hulle sê, of die dinge wat hulle beslis beweer, nie verstaan nie” (1 Tim. 1:5-7).
Aangesien agape-liefde nie van menslike oorsprong is nie maar een van die vrugte van die Heilige Gees is (Gal. 5:22), word ‘n hart wat met God se liefde vervul is, met ‘n Geesvervulde lewe geassosieer. Hierdie seën kan slegs verkry word deur geloof in die volbragte werk van Christus aan die kruis. Só ‘n lewe kan beskryf word as “Christus [in] julle, die hoop van die heerlikheid” (Kol. 1:27). Hy is die verpersoonliking van God se liefde vir ons.
As ons in die liefde van Christus gewortel en gegrond is, sal ons sy wonderlike liefde wat die kennis oortref, ten volle ken, sodat ons vervul kan word tot al die volheid van God (Ef. 3:17-19). Só ‘n persoon sal nooit na die elementêre beginsels en skaduagtige gebruike van die OT wet terugkeer nie, omdat hy wat waarlik liefhet, die wet vervul het (Rom. 13:8-10). Hy word voor die uitdaging gestel om aan die meer verhewe eise van God se liefde uitvoering te gee, soos bv. om in Christus se voetspore te volg, vervulling met sy Heilige Gees, volkome heiligheid, voortdurende gebed, die evangelisering van die wêreld, die prediking van die Woord by elke geleentheid, die teëstaan van die verdorwe wêreld se korrupte beginsels, en betrokkenheid by geestelike oorlogvoering waarin ons die volle wapenrusting van God moet aantrek en elke gedagte gevange moet neem tot gehoorsaamheid aan Christus. Die OT wet kom nie eers naby daaraan om sulke Christelike deugde te beveel of te bevorder nie.
Ons word nie deur die OT wet van sonde oortuig nie, maar deur die Heilige Gees wat ons Leidsman en Leermeester is. Die standaard waarteen ons gemeet word, is nie die wet nie maar die sondelose lewe van Christus. Die maniere waarop ons uitvoering aan sy wet van die liefde gee, bepaal die aard van ons geestelike lewe. In werklikheid kom ons net die enkele wet van die liefde na, hoewel dit baie verskillende toepassings het. Jesus het aan sy dissipels gesê: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê” (Joh. 13:34). ‘n Veranderde hart is nodig om aan hierdie uitdaging uitvoering te gee, en dit is presies wat die Heilige Gees vir elkeen van ons wil doen (Rom. 5:5).
Alhoewel daar veelvuldige verpligtinge uit hierdie gebod voortvloei, bly dit slegs een goddelike wet van die liefde wat ons houdings en optrede op ‘n verskeidenheid maniere bepaal. Ons moet in al die verskillende situasies van ons daaglikse lewe uitdrukking aan hierdie wet gee en dit ook teen die vertolkings van valse leraars verdedig. Johannes sê: “Dit is die liefde, dat ons wandel volgens sy gebooie. Dit is die gebod soos julle van die begin af gehoor het dat julle daarin moet wandel” (2 Joh. v.6). Walvoord & Zuck (Bible Knowledge Commentary, bl. 907) sê: “Die beweging van die meervoudige ‘gebooie’ na die enkelvoudige ‘gebod’ is vir hierdie skrywer iets natuurliks (vgl. 1 Joh. 3:22-23). Ons kan aan die baie besonderhede van God se wil as ‘n enkele verpligting dink.”
Dié mense wat verkeerdelik OT wette op die NT evangelieboodskap van toepassing maak, baseer hulle argumente op Johannes se veelvuldige verwysings na die gebooie van God wat deur almal van ons onderhou moet word. Hulle hou aan om OT wette te lees en te eerbiedig, en verenig dit dan met die NT evangelieboodskap. Volgens hulle het die Messias nie gekom om die wet te vervul en af te sluit nie, maar om dit voort te sit en net vir die vergifnis van wetsoortredings voorsiening te maak. Hulle sê dat gelowiges nog steeds volgens die bepalings van die Tora moet leef indien hulle heiligheid wil nastreef en God wil behaag.
Dit is egter ‘n totale wanvoorstelling van Johannes se boodskap. In sy Evangelie sowel as in sy Sendbriewe identifiseer Johannes die gebooie van Jesus Christus as die opdragte wat Hy en sy apostels aan ons gegee het: “En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. Hy wat sê: Ek ken Hom – en sy gebooie nie bewaar nie – is ‘n leuenaar en in hom is die waarheid nie. Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het. Broeders, dit is geen nuwe gebod wat ek aan julle skryf nie, maar ‘n ou gebod wat julle van die begin af gehad het. Die ou gebod is die woord wat julle van die begin af gehoor het” (1 Joh. 2:3-7).
Walvoord & Zuck (ibid., bl. 889) sê: “Verse 3-6 lui die onderwerp van gehoorsaamheid in, hoewel dit ook implisiet in 1:5-10 is. Johannes se aandrang op gehoorsaamheid aan God se gebooie as ‘n toets vir ‘n persoon se toewyding aan en kennis van Hom, lei natuurlik na die volgende vraag: Watter wette het Johannes in gedagte gehad? Die antwoord word in hierdie gedeelte gegee. Johannes het nie na ‘n nuwe wet verwys waarvan die mense nog nooit gehoor het nie. Inteendeel, die wet waarvan hy gepraat het, was ‘n oue wat hulle reeds van die begin af gehad het (vgl. 2 Joh. v.5). Daar is geen twyfel nie dat Johannes hier spesifiek gedink het aan die opdrag dat hulle mekaar moet liefhê (vgl. 1 Joh. 2:9-11). ... Hierdie opdrag het hulle reeds reg aan die begin van hulle lewe as Christene gekry.”
Gehoorsaamheid aan God se Woord (sy opdragte of gebooie) lei na ‘n ryk en volle ervaring van God se liefde: “Elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is” (2:5). ‘n Christen ken reeds God se reddende liefde, maar hierdie liefde word volmaak in hom wanneer hy God ten volle ken en ook sy gebooie bewaar. Dit is egter nie ‘n oproep om die OT Tora te onderhou nie, maar ‘n oproep om in Christus te bly en te wandel soos Hy gewandel het (2:6; vgl. die wynstok-lote-verhouding van Joh. 15:1-8).
Christus is die volmaakte voorbeeld van OT Tora-onderhouding, maar sy lewe en werke vertoon verder nog ‘n oorvloed van genade en goddelike liefde wat onbekend in OT tye was. Ons het ‘n hoë roeping van God in Christus Jesus (Fil. 3:14) wat selfs nie eers die priesters in die OT geniet het nie. Die wet was hulle tugmeester na die Messias (Gal. 3:24-25), maar ons het reeds die Messias ontvang en deel in die rykdom van sy genade deur sy volbragte werk aan die kruis, die inwoning van sy Heilige Gees, asook al die beloftes van God in die NT wat in Jesus se naam ja en amen is. (2 Kor. 1:20). Ons het die belofte van die Messias ontvang, asook ‘n lewe van volheid in Hom, en dit was nie vir die OT gelowiges beskore nie – hulle moes nog daarvoor wag (Heb. 11:39).
Die NT gebooie wat aan ons gegee is, is op niks meer en niks minder nie ingestel as volkome gehoorsaamheid aan Christus. Dit gee aan ons vrymoedigheid teenoor God in ons gebedslewe, in die bou van ons verhouding met Christus en in ons daaglikse wandel deur die Gees: “Geliefdes, as ons hart ons nie veroordeel nie, dan het ons vrymoedigheid teenoor God; en wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom. En dit is sy gebod, dat ons in die Naam van sy Seun, Jesus Christus, moet glo en mekaar liefhê soos Hy ons ‘n gebod gegee het. En hy wat sy gebooie bewaar, bly in Hom, en Hy in hom. En hieraan weet ons dat Hy in ons bly: aan die Gees wat Hy ons gegee het” (1 Joh. 3:21-24).
Hierdie Skrifgedeelte bevat ‘n sleutelstelling oor God se NT gebod van liefde, en dit kan geensins opgeneem word as ‘n verwysing na die onderhouding van die Tora nie: “En dit is sy gebod, dat ons in die Naam van sy Seun, Jesus Christus, moet glo en mekaar liefhê.” Dit is die grondslag van ‘n Christelike lewe van liefdevolle diens aan God deur sy Seun, Jesus Christus, vir die betoning van liefde teenoor medegelowiges, en om na die ongeredde wêreld uit te reik met die evangelie van hoop en liefde. Walvoord & Zuck (ibid., bl. 897-898) lewer die volgende kommentaar op 1 Johannes 3:21-24:
“As gevolg van aktiewe deelname aan die waarheid deur liefdeswerke, kan Christene hulle twyfelende harte gerusstel en vrymoedigheid in hulle gebedslewe verkry. Hulle gebede sal beantwoord word omdat hulle as gelowiges God se wil doen (hulle hou sy gebooie en doen wat vir Hom welgevallig is). Dit veronderstel natuurlik dat hulle gebedsversoeke in ooreenstemming met God se wil sal wees (5:14-15). Die skrywer sê dat ‘n gelowige en effektiewe gebedslewe op gehoorsaamheid aan God se gebooie gebaseer is. Hierdie gebooie word opgesom as ‘n enkele gebod van geloof en liefde. Die stelling dat ons in die naam van God se Seun moet glo, is hierdie sendbrief se eerste regstreekse verwysing na geloof. ...  1 Johannes 3:23 is die hoogtepunt van die paragraaf wat in vers 18 begin. Wanneer ‘n Christen aktief by liefdeswerke betrokke raak en ook vrymoedigheid voor God in sy gebedslewe verkry, dan gee hy uitvoering aan dit wat die Here ons beveel: om in die naam van Christus ‘n lewe van geloof te lei wat deur liefde onderskraag word. Omdat liefde en geloof in hierdie sin saam funksioneer, word hierdie soort lewe gesien as gehoorsaamheid aan ‘n enkele gebod. ... Twee nuwe temas kom in vers 24 voor. Die eerste tema is die sendbrief se eerste verwysing na God, of Christus, wat in elke gehoorsame gelowige woon. ... Die tweede nuwe gedagte is die sendbrief se eerste van ses duidelike verwysings na die Heilige Gees. Die manier waarop ‘n gelowige kan vasstel dat God in hom woon, is deur die werking van God se Gees in sy lewe. Johannes wys dan daarop dat God se Gees die Gees van geloof en liefde is – dit is die twee aspekte van die tweeledige gebod wat in 3:23 gegee is.”

Die geregtigheid van Christus

Daar is geen ander manier waarop ons die geregtigheid van Christus deelagtig word nie, as om weergebore te raak en daarna die vlak van ons gehoorsaamheid aan Hom te verhoog deur onsself ten volle oor te gee om met sy Gees vervul te word (vgl. Gal. 5:16-17). Menslike pogings van wetsgehoorsaamheid, sowel as humanistiese pogings om welwillendheid en hoë morele waardes aan te kweek, kan nooit die goddelike natuur van Christus in ons vestig nie. Ons kan slegs die Verlosser vertrou om ons deur sy Heilige Gees te wederbaar. Wanneer ons ware geregtigheid in ‘n persoon se lewe sien, dan weet ons dat hy uit God gebore is: “As julle weet dat Hy [Christus] regverdig is, dan weet julle dat elkeen wat die geregtigheid doen, uit Hom gebore is” (1 Joh. 2:29).
Enige poging om afbreuk te doen aan die groot belangrikheid van die goddelike natuur van die nuwe lewe in Christus wat NT gelowiges deur die geloof verkry, is ‘n aanval op die algenoegsaamheid van die evangelie van verlossing. Diegene wat hulle redding deur OT wetsonderhouding probeer aanvul, vernietig hulle geloof: “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval” (Gal. 5:4).

Moderne Judaïseerders

Baie van die moderne Judaïseerders regverdig hulle saak deur te sê dat hulle nie hulle redding op die wet baseer nie, omdat hulle ten volle op die versoening vertrou wat die Messias aan hulle bied. Hulle is nogtans daarvan oortuig dat die wet ‘n belangrike rol speel in hulle lewe van toewyding ná bekering. Hulle baseer verkeerdelik hulle argument op stellings soos dié in Matthéüs 5, wat voor die kruisiging van Christus gemaak is toe die bedeling van die wet nog gegeld het. Jesus het gesê: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul” (Matt. 5:17). Die woord “vervul” (pleroo in Grieks) beteken volgens die Strong’s  Konkordansie: “om ‘n tydperk of taak af te handel; om te verval; om af te sluit; om te voltooi.” Hierdie bedeling is afgesluit.
In die tydperk ná die kruisiging van Christus en die uitstorting van die Heilige Gees, is OT wetsonderhouding glad nie op NT gelowiges van toepassing gemaak nie. Die eerste sinode van die vroeë kerk het ‘n duidelike standpunt oor hierdie saak ingeneem deur te verklaar dat gelowiges nie onder die wet van Moses was nie (Hand. 15:1-29). Ons moet nie ‘n verhouding met die OT wet opbou nie, maar met Jesus Christus wat die wet volkome vervul het. Alle morele beginsels van die OT wet is ten volle deur Christus nagekom, terwyl daar ook nog ‘n groot aantal nuwe waardes, deugde en opdragte bygekom het. Dit is alles by die gebod oor goddelike liefde ingesluit – om God met ons hele hart lief te hê en ons naaste soos onsself. Indien ons streng aan die beginsels van goddelike liefde getrou bly, het ons nie wette nodig om ons gedrag te reël nie.
Paulus het vir gelowiges in Rome gesê: “Die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade” (Rom. 6:14). Ons word nie na groter heiligheid gelei deur die OT wet nie, maar deur die Heilige Gees (Joh. 16:8-13; Gal. 5:16). Hy stort die liefde van God in ons harte uit (Rom. 5:5) en leer ons om volgens die NT gebod van die liefde te leef. Hy verheerlik Christus en herinner ons aan al sy beloftes en gebooie (Joh. 16:14-15).

‘n Lewe van Christelike vryheid

Ons word nie gebind deur enige onderwerping aan die Mosaïese Wet nie, maar in plaas daarvan ervaar ons die wonderlike vryheid om Christus onder die tere maar duidelike leiding van die Heilige Gees te volg. Ons moet onsself daaraan toewy om die Woord te bestudeer en noukeurig die edel beginsels daarvan op ons lewens toe te pas. Gee jouself ten volle aan die beheer van die Heilige Gees oor en vertrou Hom om aan jou verligte oë van die verstand te gee om die hoogte, diepte, wydte en lengte van Christus se liefde ten volle te verstaan. Stel jouself daarop in om aan Hom gelykvormig te word, sodat mense vir Christus in jou kan sien woon. Neem alle besluite en bepaal alle prioriteite en waardes in die lig van sy goddelike natuur, asook die belangrikheid van sy sending na ‘n ongeredde wêreld.
Waak altyd teen enige neiging om ‘n uiterlike gedaante van godsaligheid te ontwikkel waarin die krag van die Heilige Gees totaal afwesig is. Mense wat hulle lewens op hierdie manier lei, is dikwels daartoe geneig om Nuwe Testamentiese leerstellings na ‘n stel wettiese reëls te reduseer wat van geen nut is om iemand meer Christusgelykvormig te maak nie. Sommige van hulle is geestelik blinde slawe van kerklike leerstellings wat dalk niks meer as die gebooie van mense is nie (vgl. Mark. 7:7). Hoe kan hulle daarop aanspraak maak dat hulle deur die Heilige Gees gelei word?
Paulus moedig ons aan om vas te staan in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en om toe te sien dat ons nie weer onder die juk van diensbaarheid aan sonde, die Mosaïese Wet, of die leerstellings van mense kom nie (Gal. 5:1). Walvoord & Zuck (ibid., bl. 604-611) maak onder andere die volgende baie toepaslike opmerkings oor Galásiërs 5 en 6:
“Nadat Paulus sy gesag as apostel verdedig het, asook die leerstelling van regverdigmaking deur geloof, het hy voortgegaan om die lewe van Christelike vryheid te verdedig. Sou die apostel se leer lei na wetteloosheid onder die Galásiërs, of na godvresendheid? Die Christelike lewe word beskryf as ‘n lewe sonder die wet, ‘n lewe sonder losbandigheid, ‘n lewe volgens die Gees en ‘n lewe van diensbaarheid.
“Galásiërs 5:1 som hoofstuk 4 op, waar die tema slawerny en vryheid is. Dit is ook ‘n inleiding vir hoofstuk 5. Paulus het verklaar dat Christus die groot Bevryder is wat mense van hulle slawerny bevry. Die apostels het die Galásiërs versoek om vas te staan in daardie vryheid. Nadat hulle van slawerny aan ‘n heidense geloof verlos is, het hulle gevaar geloop om in slawerny aan die Mosaïese Wet verstrik te raak. ... Paulus het beklemtoon dat ‘n godvresende lewe nie onder die reëls van die wet gelei word nie, maar dat dit ‘n lewe is wat deur die Heilige Gees gelei word. ...
“Paulus het die Galásiërs daaraan herinner dat benewens die goddelike oordeel oor die sondige natuur, daar ook ‘n goddelike instaatstelling in die Persoon van die Heilige Gees is. Hy het die gelowige deur wedergeboorte nuut gemaak, daarom word elke gelowige ook aangespoor om deur die Gees te wandel (‘As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel’ – 5:25). Ons Christelike lewe moet stap vir stap by die Gees se leiding en instaatstelling aangepas word, anders sal gelowiges ‘soekers van eie eer [word] wat mekaar uittart en mekaar beny’ (5:26). Die laasgenoemde kenmerke is tipies van ‘n lewe in die vlees, en verwys dalk na die redes vir die verdeeldheid onder kerke in Galásië, wat as gevolg van die dwaling van Judaïsering ontstaan het.
“’n Gelowige is vry van die wet van Moses en het ‘n vryheid deur die Gees, maar hy moet nogtans die wet van Christus vervul, en dit kan slegs deur die krag van die Gees gedoen word. Só ‘n lewe is ingestel op selfopofferende diens aan Christene wat sondig, Christene wat swaar laste dra, en ook aan alle ander mense. ...
“Paulus se roeping as apostel, asook die boodskap wat hy verkondig het, is deur die Judaïseerders bevraagteken. Hy het vir die beëindiging van al hierdie probleme gevra, en as finale bewys aan sy kritici, verwys na die littekens van die Here Jesus aan sy liggaam (6:17). Sulke merke was die tekens van eienaarskap, want dit het ooreengekom met die brandmerke op slawe en beeste. Die littekens op Paulus se liggaam is veroorsaak deur die vervolging wat hy ter wille van Christus verduur het. Dit het daarop gedui dat hy ‘n slaaf van Christus was en nie iemand wat die guns van ander mense gesoek het nie.”

Die ware aard van goddelike liefde

Die agape-liefde van God is oneindig meer as ‘n uiterlike stel reëls of wette wat sekere vorms van gedrag voorskryf en ander verbied. Dit is ‘n goddelike lewensbeginsel wat deur die Heilige Gees in gelowiges se harte gevestig word. Hierdie liefde word gekenmerk deur heiligheid, waarheid, onselfsugtigheid, vergewensgesindheid, meegevoel teenoor almal wat in nood is, en ‘n vaste verbintenis om God as die bron van ware liefde te eer. Dit is ‘n diep geestelike motivering om die regte dinge te doen. Die goddelike lig van die Here se teenwoordigheid skyn hierdeur op almal wat daarin wandel, en help ons om in alle lewensomstandighede die regte besluite onder die leiding van die Heilige Gees te neem.
Die liefde van God is so suiwer dat dit geen kompromie kan maak met enige denkpatroon of aksie wat daarvan verskil nie. Dit is totaal in botsing met die verdraaide menslike liefde wat feitlik alle vorms van boosheid verdra ter wille van eenheid en goeie verhoudings, en selfs kompromieë tref wat tot sy eie ondergang lei. God is egter nie ‘n kompromiemaker nie en dit is die rede waarom Hy sy dwalende kinders tugtig sodat hulle sy heiligheid deelagtig kan word (Heb. 12:5-10).
Die agape-liefde van God is die grootste bate wat enige persoon in die lewe kan hê: “Al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie. ... Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nimmermeer” (1 Kor. 13:2-8).
Uit die kenmerke van goddelike liefde blyk die hoë morele en geestelike waardes daarvan. Wanneer God se liefde in jou hart uitgestort is, word jou houdings en gedrag deur hierdie verhewe beginsels bepaal. Die Heilige Gees sal jou veel eerder dring om uitvoering te gee aan die eise van goddelike liefde, as om jou aan die OT wet te herinner. Jy sal ‘n innerlike aanvoeling en oortuiging hê van wat reg en verkeerd is. ‘n Geesvervulde Christen is dus allermins ‘n bandelose persoon wat tot ordeloosheid en wetteloosheid geneig is. Christus se wet van die liefde is hierdie persoon se norm en ideaal, en hy moet voortgaan om kreatiewe maniere te vind om dit uit te leef. Wanneer Christus se liefde jou dring om die evangelie met ander mense te deel, moet jy onder die omstandighede waarin jy verkeer, die beste metodes vind om uitvoering daaraan te gee.
Onthou egter dat al die eienskappe van Christus se wet van die liefde, asook die morele en geestelike verpligtinge waartoe dit lei, in die Bybel uiteengesit is. Moet dus nooit jou eie oortuigings aan mense verkondig sonder om dit baie duidelik aan Skrifuitsprake te koppel nie. Ons opdrag is om die Woord te verkondig, tydig en ontydig (2 Tim. 4:2). Dit is net die Woord van God wat die wêreld kan oortuig. Daar is vandag té veel persoonlike opinies in omloop wat van gebrekkige Skrifkennis getuig. Die woorde wat die Here Jesus tot ons spreek, is Gees en lewe (Joh. 6:63). Dit is die suiwerste weergawe van sy liefde vir ons én vir die wêreld.

Gevolgtrekkings

Daar is duidelik ’n nuwe definisie van God se wet in die NT. In terme van “die wet van die liefde” (wat ook “die wet van Christus” genoem word – 1 Kor. 9:21; Gal. 6:2), is dit onwys om ‘n preek met die lees van die wet van Moses te begin, of om bekeringstraktaatjies uit die perspektief van die OT wet te skryf. Wettiese kritici betwis hierdie siening egter só: “Maar is dit nie waar dat God se morele wet (bv. die afkeur van diefstal, leuens, moord, die ontering van God, ens.) onveranderlik is en net sowel op die Nuwe as die Ou Testamentiese tydperke betrekking het, en ook daarna nie?”
Hierdie stelling is net in ‘n beperkte sin waar. In die NT word sondige dade nie as die verbreking van die Tora se bepalings gedefinieer nie, maar as die korrupte werke van die vlees wat in opposisie teen die heilige natuur van Christus is, en gevolglik ook teen die eise van sy goddelike liefde. Wanneer ons hierdie probleem wil oplos, help dit nie om onsself net weer in pas met die wet te bring nie – ons moet ons gebroke of vertroebelde verhouding met Christus herstel.
Ons moet duidelik verstaan dat die verdorwe natuur van alle mense slegs deur ‘n geestelike wedergeboorte verander kan word, want net dit skep vir ons die voorreg om ons met die nuwe natuur van Christus te beklee en sodoende nuwe mense te word. Wanneer ons sondig, tree ons nie volgens die Gees (die nuwe mens in Christus) op nie, maar volgens die vlees (die ou, sondige mens). Die regstelling van hierdie probleem vereis nie ‘n herstelde verhouding met die OT wet nie, maar met Christus. Dit moet weer ons normale lewenswyse word om volgens sy wet van die liefde te dink en op te tree.
Paulus gee die volgende raad aan Christene wat sondig: “Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond. Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper... En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is. En laat die vrede van God... in julle harte heers, en wees dankbaar. Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar...” (Kol. 3:8-16; vgl. Ef. 4:22-24).
As ons Christus se wet van die liefde in al sy implikasies verkondig, sal die beklemtoning van die OT wet irrelevant wees, “want hy wat ‘n ander liefhet, het die wet vervul” (Rom. 13:8). Wanneer uitsprake soos dié in Romeine 13:8-10 aan mense voorgehou word, sal hulle begryp dat daar ná die wet ‘n nuwe bedeling gekom het, tesame met ‘n baie meer doeltreffende manier om God se heiligheid deelagtig te word. Dit is die grondliggende rede waarom die Heilige Gees die vroeë kerk in Handelinge 15 gelei het om in hulle prediking onder die nie-Joodse volke nie met die wet te begin nie, maar met geloof in Jesus Christus.

Verdere leesstof

Daar is ‘n aantal verbandhoudende artikels op die outeur se webtuiste, asook ‘n boek, wat as verdere bronne oor hierdie onderwerp geraadpleeg kan word. Dit is van die grootste belang om absolute duidelikheid oor die verskil tussen die wet en genade te verkry.
Die volgende artikel beklemtoon die uitstaande aspekte van die Nuwe Testamentiese boodskap van genade: Die Grootheid van God se Liefde en Genade.
Baie mense keer na die Ou Testamentiese sabbatsonderhouding terug sonder om die volle implikasie van hulle verkeerde besluit in ag te neem: Die Joodse Sabbat en die Christelike Sondag.
Die Sewendedag-Adventiste onderhou die Ou Testamentiese sabbat en huldig ook verskeie ander dwalings: Teologie van die Sewendedag-Adventiste.
Die Hebreeuse Wortels Beweging dwaal omdat hulle beweer dat Christene volgens ’n simbool in Romeine 11 in die volk Israel ingeënt is: Ons kan nie Onder die Wet én die Genade Wees nie!
’n Oorsig oor die verskillende dispensasies wys ook op die fout van die vermenging van wet en genade: Die Dispensasies van God – Is Jou Perspektief Reg?
Die volgende boek verduidelik ten volle die belangrike verskille tussen die wet en genade: Die Ou Testamentiese Wet en die Nuwe Testamentiese Genade.
Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.