Nie nou ‘n koninkryk nie

Prof. Johan Malan, Mosselbaai (April 2011)

Dit is van die allergrootste belang dat Christene op ‘n toekomstige koninkryk ingestel sal wees, en nie op ‘n koninkryk nou, gedurende die kerkbedeling nie. Een van die baie ernstige vorms van geestelike misleiding waaraan die Christelike kerk wêreldwyd blootgestel word, spruit voort uit verkeerdvertolkte beloftes en opdragte dat ons hier en nou ‘n sigbare koninkryk moet vestig. ‘n Ingesteldheid van hierdie aard is die teelaarde vir geestelike misleiding, omdat dit aan die alternatiewe koninkryk van Satan die geleentheid bied om aan gelowiges “iets anders” voor te hou as wat die Bybel vir die huidige dispensasie aan ons bied: ‘n ander soort geloof,’n ander lewenswyse, ‘n ander status, ‘n ander wêreld en uiteindelik ‘n ander Christus en ‘n ander koninkryk.


Koninkryk-nou teologie, wat ook koninkryksteologie of heerskappyteologie genoem word, berus op ‘n groot aantal valse uitgangspunte. Dit wyk in verskeie opsigte van die suiwer leer van die Bybel af. Die volgende 20 kenmerke van ons huidige posisie in die wêreld weerlê ‘n koninkryksingesteldheid vir dié bedeling:

1. ‘n Wêreld wat in die mag van die Bose lê


Ons leef in ‘n wêreld wat in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19). Ons moenie hieruit aflei dat God magteloos is en nie die oppergesag in die heelal het nie. Hy het besluit om aan elke mens ‘n vrye wil te gee (Jos. 24:15; Matt. 23:37; Op. 22:17). Dit beteken dat niemand op aarde gepredestineer of geprogrammeer is om op ‘n bepaalde manier te leef en te sterf nie. Ons kan ons vrye wil gebruik om die Here lief te hê en te dien (2 Kor. 5:20), of ons kan dit gebruik om in sonde te leef en sodoende van onsself volgelinge van Satan se koninkryk te maak. Die groot meerderheid van die mense neem verkeerde besluite oor hulle geestelike lojaliteit, daarom leef ons in ‘n oorwegend bose wêreld.

Met die oog op hierdie toestand het die Here Jesus verwys na die duiwel as “die owerste van hierdie wêreld” (Joh. 14:30). Hy is wel deur Christus oorwin en buitentoe gedryf (Joh. 12:31; 16:11), maar hierdie verlossing geld net vir diegene wat Jesus as Verlosser aangeneem het, en dit is ‘n klein minderheid (Matt. 7:14; Luk. 13:24). Wat die meerderheid betref, is die duiwel “die god van hierdie wêreld [wat] die sinne van mense verblind” sodat hulle nie die evangelie moet aanneem nie (2 Kor. 4:4). Hy is “die owerste van die mag van die lug” wat beheer oor die ongereddes het (Ef. 2:2). Hoewel hy deur die Here Jesus oorwin is, behou hy steeds sy houvas op die bose wêreld waarin hy rondloop soos ‘n brullende leeu (1 Pet. 5:8).

Hierdie geestelike dominansie is so hewig dat Paulus verwys na die groot stryd wat ons het om staande te bly teen ‘n verdorwe en vervalle wêreld wat in Satan se mag is: “Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Ef. 6:11-12). Bose wêreldheerskappy is ‘n voldonge feit, en ons kan die ontstellende bewyse daarvan oral rondom ons sien. Die hele geskiedenis van die mensdom sedert die sondeval getuig van Satan se groot invloed en inspraak in dit wat hulle doen.

Ware Christene is beslis nie deel van Satan se bose koninkryk nie, want ons is “uitgered uit die teenwoordige bose wêreld” (Gal. 1:4). Hoewel ons nie deel van hierdie koninkryk is nie, is ons terdeë in konflik daarmee, en dit is waarom ons ‘n geestelike wapenrusting nodig het. Johannes sê: “Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê” (1 Joh. 5:19). Ons moet besef dat ons nie deel van hierdie korrupte koninkryk is nie, dat ons daaruit verlos is en nie aan die invloede daarvan hoef toe te gee nie.

Proff. Walvoord & Zuck (Bible Knowledge Commentary, bl. 903) sê oor bogenoemde teks: “Johannes wou deur sy opsommende stellings die lesers se bewussyn versterk dat hulle nie deel van die sataniesbeheerde wêreldstelsel is nie, en dus basies vry is van die mag daarvan. Hulle hoef nie te luister na die idees van die antichriste nie (3:7-8), en ook nie aan wêreldse begeerlikhede toe te gee nie.” Ons moet as vrygespreekte mense leef.

Wat die meerderheid sondaars betref, moet dit onder hulle aandag gebring word dat sonde ‘n vorm van rebellie teen God is. Die Here sal sy opperheerskappy oor hulle afdwing deur hulle te oordeel oor hulle eie sonde én ook omdat hulle van die wêreld ‘n sondige plek gemaak het waarin dit vir Christene moeilik is om te oorleef: “En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos” (Joh. 3:19). Hulle het God se opdrag dat alle mense hulle moet bekeer geminag, daarom gaan hulle geoordeel word – nie omdat hulle nie uitverkies is nie (Hand. 17:30-31).

Uit al hierdie stellings is dit duidelik dat ons nie nou, wat die wêreld in sy geheel betref, in ‘n Christelike koninkryk woon nie. Ons het ook nie die mandaat, opdrag of vermoë om hierdie duistere koninkryk te verbreek en in die plek daarvan ‘n Christelike koninkryk op aarde te vestig nie. Slegs indiwidue kan nou gered word, nie volke nie, en dan moet hulle geleer word om die goeie stryd van die geloof te stry sodat hulle teen ‘n bose wêreld staande kan bly.

Volgens die Bybel gaan die goddelose wêreld met die verloop van tyd al hoe slegter en boser word terwyl dit op die groot verdrukking afstuur (Matt. 24:21). Eers aan die einde van die verdrukking wanneer Christus as Koning terugkeer, sal die Antichris en valse profeet verdelg en die duiwel in ‘n put gebind word (Op. 19:19–20:3). Tot dan sal ons vreemdelinge en bywoners in ‘n bose wêreld wees (1 Pet. 2:11). Koninkryksteoloë moet opnuut van hierdie basiese feite kennis neem en ophou om hulle volgelinge deur ‘n koninkryksvisie te mislei.

2. ‘n Kruis en nie ‘n kroon nie


Gedurende die kerkbedeling word daar ‘n kruis aan ons beloof en nie ‘n kroon nie. Ons is nie nou konings wat oor ons erfdeel regeer nie, maar dissipels vir die gekruisigde Christus wat in ‘n hewige stryd teen ‘n bose koninkryk gewikkel is. Ons is volgelinge van die lydende Christus wat steeds deur die meeste mense verwerp word, en Hy bied aan ons net ‘n kruis wanneer ons Hom in hierdie donker wêreld wil volg: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg” (Luk. 9:23; vgl. 1 Kor. 2:2; Gal. 6:14).

Daar is dus geen sprake daarvan dat ons nou ‘n kroon dra en met koninkryksmagte beklee word nie. Ons moet eers in hierdie bedeling saam met Christus ly indien ons ná sy wederkoms saam met Hom in sy koninkryk verheerlik wil word (Rom. 8:17; vgl. Fil. 1:29). “As ons verdra, sal ons met Hom regeer” (2 Tim. 2:12). Die verdra-gedeelte is nou, en die belofte oor regeringsposisies in Christus se vrederyk sal eers ná sy wederkoms vervul word. Dit is nou die tyd om met die kruis te identifiseer, aan die Here vas te hou en op die regte pad te volhard, selfs onder die moeilikste omstandighede:

“Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ‘n ysterstaf... net soos Ek dit ook van my Vader ontvang het” (Op. 2:25-27). Die oorwinnings wat ons nou moet behaal, is nie politieke of militêre oorwinnings nie, maar oorwinnings vir die kruis. Dit gebeur wanneer mense uit die duisternis van sonde oorkom tot die wonderbare lig van God se verborge koninkryk (1 Pet. 2:9). Hulle sal dan geestelike weerbaarheid moet aanleer om staande te bly totdat die Here ons kom haal.

3. Dissipels en diensknegte


Ons huidige status is dié van dissipels en diensknegte – nie konings en heersers oor ons erfdeel nie: “En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet almal se dienskneg wees. Want die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie” (Mark. 10:44-45). Ons moet aan die beeld van die nederige Dienskneg gelykvormig word, wat sy lewe vir redding van ‘n verloregaande wêreld afgelê het. Ons moenie outokraties optree en na gesagsposisies streef nie, want dit is nie die roeping van ‘n dienskneg nie.

Dit is net mense wat baie lief vir hulleself is wat groot mag en invloed oor ander mense wil hê, hoë aansien wil geniet en baie geld wil maak. Hulle sal alles doen om ‘n hoë posisie in ‘n koninkryk te beklee eerder as wat hulle arbeiders, diensknegte of slawe in ‘n geestelik vyandige wêreld wil wees. Hulle verbeur egter die krag van die Heilige Gees en tree geheel en al in die vlees op wanneer hulle hulself verhef, want “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade” (Jak. 4:6).

Dit is nie nou die tyd om te regeer nie, maar om te dien. ‘n Goeie herder is nie een wat ‘n heerser oor mense is nie, maar een wat in nederigheid en heilige lewenswandel ‘n voorbeeld vir die kudde is (1 Pet. 5:3). Gesag en onderdanigheid is wel ter sprake (1 Pet. 5:5), maar nie arrogante selfverheffing, ontoeganklikheid vir minderes en onredelike dwingelandy nie. Dit is nie die gesindheid van Christus nie.

4. Die sout en lig van die wêreld


Ons basiese roeping is om die sout van ‘n bedorwe aarde en die lig van ‘n donker wêreld te wees (Matt. 5:13-14). Omdat ons onsself in ‘n vyandige wêreld bevind, moet ons ‘n duidelike standpunt teen die ongeregtigheid en misleiding rondom ons inneem. Paulus sê: “Hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer” (Ef. 5:11). Ons moet glad nie aan die sonde en bose praktyke van die wêreld meedoen nie, maar “kinders van God [wees] sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie [ons] skyn soos ligte in die wêreld” (Fil. 2:15).

Ons is in die wêreld, maar nie van die wêreld nie. In werklikheid leef ons in twee wêrelde: geestelik is ons in die onsigbare koninkryk van God waarin geregtigheid en vrede heers, en fisies in die sigbare koninkryk van Satan wat gekenmerk word deur sonde, wanorde en gemene dade. Ons moet ons pad suiwer hou te midde van al die ongeregtigheid rondom ons.

In hierdie bedeling groei die koring en onkruid saam in dieselfde land, maar wanneer oestyd aanbreek, sal die onkruid in die vuur gegooi en die koring in die hemelse skure versamel word. In God se koninkryk sal hierdie element van boosheid in die samelewing soos wat ons nou ervaar, nie daar wees nie.

5. Verdrukking en vervolging


Weens die aard van die bedeling waarin ons nou is, moet ons noodwendig verdrukking en vervolging verwag. Die koninkryk van die duisternis met sy meerderheidsteun, is glad nie beïndruk met ons waardes, geloofsoortuigings, standpunte en lewenswyse nie, daarom sal die wêreld ons verwerp en vervolg: “As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie... daarom haat die wêreld julle... In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin” (Joh. 15:19; 16:33).

Die Here Jesus het wel die wêreld en sy bose magte oorwin, en daardie oorwinning is tot elke gelowige se beskikking, maar dit word nie in hierdie bedeling op die ongeredde wêreld afgedwing nie. Elkeen het nog die geleentheid om die maat van sy ongeregtigheid vol te maak, want die tyd van rekenskap en oordeel sal eers aanbreek wanneer Christus weer kom. Intussen gaan die vervolging, belediging en verwerping van ware Christene voort, en moet ons deur vele verdrukkinge in die koninkryk ingaan (Hand. 14:22).

In sekere samelewings is die verwerping en vervolging erger as in andere. Dit is egter oral aanwesig, selfs in lande wat geloofsvryheid het. Indien ‘n ware Christen sou weier om bv. by geheime organisasies aan te sluit, omkoopgeskenke te betaal of te ontvang, korrupsie van enige aard te pleeg, saam met kollegas en vriende te drink, na vuil grappe te luister en aan afbrekende gesprekke deel te neem, sal hy gou agterkom dat hy nie deel van hierdie wêreld en sy sisteme en praktyke is nie. Daar is vir elke gelowige ‘n kosteberekening om te doen.

6. Christus se koninkryk is nie van hierdie wêreld nie


Christus se koninkryk is nie van hierdie wêreld nie en sal eers by sy wederkoms geopenbaar word. Ons het geen opdrag om sy koninkryk uiterlik en fisies in die wêreld te vestig voordat Hy kom nie. Geen transformasiebeweging of kompromie met “gematigde” politieke leiers sal die huidige wêreld in ‘n Christelike koninkryk kan omskep nie. Christus se koninkryk is wesenlik anders as dié van die wêreld en samewerking tussen die twee is heeltemal onmoontlik.

Ons opdrag is om mense geestelik te bearbei sodat hulle uit die duisternis van Satan se koninkryk na die lig van Christus se koninkryk oorkom. Dit sal van hulle vreemdelinge in die goddelose wêreld maak, en saam moet alle Christene hierdie vreemdelingskap aanvaar terwyl hulle na Christus se wederkoms en die openbaring van sy koninkryk uitsien: “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus” (Fil. 3:20). Eers wanneer Hy as die Koning van die konings kom, sal Hy die heerskappy op sy skouers neem (Op. 11:15; 19:11-16).

7. Geen heerskappy-opdrag oor mense nie


Die heerskappy-opdrag aan Adam word dikwels deur koninkryk-nou teoloë aangehaal as regverdiging vir hulle siening dat die mens bestem is om heerskappy oor die aarde te voer. Die opdrag lui: “...onderwerp [die aarde] en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip” (Gen. 1:28). Dié teoloë verduidelik verder dat hierdie reg deur die sondeval in Satan se hande geval het, maar dat ons deur die kruisdood van Jesus (die laaste Adam) weer hierdie posisie van heerskappy terugkry. Ons moet dus nou, volgens hulle, die geloof en vrymoedigheid aan die dag lê om die wêreld oor te neem en daaroor te heers.

Die mandaat van Genesis 1:26-28 sluit egter nie beheer oor alle mense in nie – dit onderwerp net die natuurlike wêreld aan die gesag van die mens. Die ekologiese rampe wat die wêreld vandag bedreig, bv. die besoedeling van die atmosfeer en waterbronne, ontbosting en aardverwarming, is die regstreekse gevolge van die mens se growwe misbruik van sy heerskappymandaat. Die heerskappy oor die fisiese wêreld wat aan Adam en sy nageslagte gegee is, is nie met die sondeval beëindig nie en hoef dus nie deur Christus aan hulle teruggegee te word nie.

Die beheer oor menslike samelewings is deur God aan hulle konings of leiers gegee: “Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is” (Rom. 13:1). Indien hierdie leiers goddeloos is, sal hulle onderdane ‘n goddelose regering hê. Indien die leier egter godvresend is, kan die teenoorgestelde waar wees. Die nasies van die wêreld het egter, behalwe vir kort tussenposes van goeie regering, almal in goddeloosheid verval.

Die Here het nie die beheer van die wêreld aan die kerk oorgegee nie. Die koninkryk-nou mandaat wat kerke vir hulleself opeis, is totaal onbybels. Dit sal kompromie en ‘n Christusafvallige ekumeniese beweging in die hand werk, waardeur net die Antichris en sy ryk bevoordeel sal word.

8. Mammon se materialistiese koninkryk


Ons bevind ons in ‘n wêreld wat tot ‘n groot mate onder die beheer is van die duiwel in sy hoedanigheid as Mammon, die geldgod. As Christene moet ons volgens die beginsels van God se onsigbare koninkryk leef, en nie volgens die beginsels en waardes van Mammon se materialistiese koninkryk nie: “Julle kan nie God én Mammon dien nie!” (Matt. 6:24). Paulus sê dat mense vir wie die najaag van rykdom ‘n hoë prioriteit is, op ‘n verkeerde pad beland wat na ondergang en verderf lei (1 Tim. 6:9-10).

Rykdom is soos dorings en distels in ‘n mens se lewe, en dit verhoed die saad van die Woord om te groei, selfs al kom so ‘n persoon ook onder die geklank van die suiwer evangelie. As hy nie bereid is om met sy materialistiese lewenspatroon te breek nie, sal hy nie geestelik kan ontwaak en groei nie: “By wie in die dorings gesaai is – dit is hy wat die woord hoor, maar die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar (Matt. 13:22).

‘n Sekulêre, materialistiese leefwyse is totaal strydig met ware Christenskap. Ons kan nie God se koninkryk tydens hierdie bedeling sigbaar laat kom voordat Mammon se koninkryk vernietig is nie, en dit sal eers by die wederkoms van Christus gebeur.

9. Ons is nie nou konings en priesters nie


In Openbaring 5 sê die verheerlikte kerk in die hemel dat die Here Jesus van ons konings en priesters gemaak het. Die ouderlinge sal Christus op die troon toesing: “U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Op.5:9-10; vgl. 1:6). Hierdie is ‘n duidelike verwysing na twee ampte (koning en priester) wat die ouderlinge toe nog nie gehad het nie en eers in die vrederyk op aarde sal beklee (“...ons sal as konings op die aarde heers). Hulle was in daardie stadium nog nie konings nie. Daar word ook in Openbaring 20:6 na die toekomstige vervulling van hierdie ampte verwys, en dit sal eers ná die opstanding van die regverdiges wees: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding... hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.”

Dit is dispensasioneel heeltemal verkeerd om gedurende die kerkbedeling na Christene as konings en priesters te verwys. In hierdie tyd word ons, afhangende van ons sosiale posisie of die ampte wat ons beklee, beskryf as gelowiges, dissipels, diensknegte, gesinshoofde, ouderlinge, diakens, herders of leraars. Daar is nie sterk sprake van ‘n hiërargiese rangorde in die kerk van Christus nie, en gesagsposisies is slegs ingestel ter wille van die goeie orde in die gemeente. Die herders en ouderlinge moet nie heersers wees nie, maar voorbeelde vir die kudde. Elkeen wat eerste wil wees, moet almal se dienskneg wees. Besluite moet verkieslik deur konsensus geneem word waarby die hele gemeente betrek word, sonder om eensydige gesag van bo af af te dwing. Sterk leierskap is net ten opsigte van die onordelikes nodig.

“Priester” (Heb. kohen) beteken “iemand wat diens doen” en verwys na die Ou Testamentiese priesters wat onder die wet sekere take moes verrig, onder andere om namens die volk offers in die tabernakel of tempel te bring. Gewone lede van die volk kon nie sonder die bemiddeling van ‘n priester toegang kry tot die heiligdomme van God nie. Hierdie amp word nêrens deur Paulus ten opsigte van die funksionering van Nuwe Testamentiese gemeentes genoem nie. Hy verduidelik net in die brief aan die Hebreërs hoedat die priesterlike diens deur Christus afgeskaf en deur iets beter vervang is.

Deur die Here Jesus se eenmalige offer aan die kruis het Hy die tempeldiens met sy herhalende offers heeltemal afgeskaf en weggedoen met die Levitiese priesterdom. Hy het volgens ‘n heel ander orde Hoëpriester geword en deur die geskeurde voorhangsel die weg vir alle gelowiges geopen om self, sonder die bemiddeling van ‘n priester, tot God se heiligdom [die genadetroon] toe te tree (Heb. 10:19-22; 7:11-28). Ons het geen priesters in die Nuwe Testament nodig wat namens ons tot die Here hoef te nader nie – ook nie spesiaal geordende leraars met ‘n hoër status en eksklusiewe regte en funksies nie. Elke gelowige het die voorreg om self vir Christus as Hoëpriester te raadpleeg, te volg en te dien.

Die verwysing na ‘n priesterlike amp in die geopenbaarde koninkryk van God, dui bloot daarop dat ons nie net politieke en administratiewe funksies as konings in Christus se koninkryk sal hê nie, maar ook geestelike funksies. Dit sal egter glad nie ‘n terugkeer na die wet of die voortsetting van die Levitiese priesterskap wees nie. Petrus sê dat die geredde Israel ‘n “koninklike priesterdom” en ‘n heilige volk sal wees om die lof van die Messias te verkondig – die Lam wat vir ons geslag is (1 Pet. 2:9). Dit is presies wat gelowiges uit die nasies ook sal doen. Spesiale pligte om Christus se genadewerk te bedien, sal aan ons opgedra word.

Dit is egter toekomstig – ons is nie nou al ‘n koninklike priesterdom nie; net getuies, diensknegte en dissipels van Christus wat mekaar met sy veelvuldige genadegawes moet dien (1 Pet. 4:10). Daar is ‘n duidelike chronologiese vervulling van Christus se ampte as Profeet, Priester en Koning. Tydens sy eerste koms was Hy ‘n Profeet en Dienskneg van God wat die waarhede van die Woord kom verkondig en ook die prys vir die bekragtiging van God se verlossingsplan betaal het. Tydens sy kruisdood het Hy die Hoëpriesterlike amp vervul om namens alle mense ‘n eenmalige offer vir ons sonde te bring. Daarna leef Hy altyd om as Hoëpriester by God se troon vir ons in te tree (Heb. 7:25-26). Tydens sy wederkoms sal Hy as Koning van die konings kom en van die herstelde troon van Dawid af uit Jerusalem regeer.

Daar is baie kerke wat by die koninkryksteologie betrokke is, omdat hulle daarin vir hulleself ‘n meer verhewe status sien. Gemeentes soos dié in Moreletapark, Pretoria, bied selfs “Daniël seminare” aan om mans van hulle roeping bewus te maak om as konings in die samelewing op te tree. Vir die dames is daar die “Ester seminare” waarin hulle geleer word om hulle status as koninginne waardig te wees. Die fooie vir hierdie seminare is nogal hoog, en daarna is dit net die organiseerders wat soos konings en koninginne leef. Hulle is ‘n bietjie té haastig met hulle koninklike rolle. Ons moet eers ly as ons later “saam met Christus” wil regeer (Rom. 8:17).

10. Misleiding deur tekens, wonders en buite-Bybelse profesieë


‘n Ingesteldheid op tekens en wonders is ‘n teelaarde vir koninkryksmisleiding. Diegene wat op ‘n uiterlike koninkryk tydens die kerkbedeling ingestel is, is ook daarop ingestel dat hierdie koninkryk sy mag deur verskeie bonatuurlike tekens en wonders moet demonstreer. Daar moet volgens hulle magtige profete en apostels wees wat belangrike openbarings van God af ontvang, namens Hom met die wêreld praat, en wat ook die mag het om siekes gesond te maak, dooies op te wek, mense te laat val in die Gees, en baie ander dramatiese tekens te doen.

Die Here Jesus sê egter: “’n Slegte en owerspelige geslag soek na ‘n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van Jona” (Matt. 16:4). Die teken van Jona was dat hy drie dae en nagte in die vis was, en ook dat ‘n hele heidense stad hulle op grond van prediking bekeer het. Hierdie teken is in Jesus se dood vervul toe Hy drie dae in die graf was en op die derde dag opgestaan het (Matt. 12:40). Daarna het duisende mense hulle bekeer toe hulle die evangelie van die soendood en opstanding van Christus gehoor het. Agnostiese Jode wat dit nie wou aanvaar nie, het gehoor hoedat groot getalle heidene (soos vroeër in Ninevé) hulleself met berou tot God bekeer. Ons moet ons geloof in die groot teken van die Here Jesus se dood en opstanding stel – nie in ander tekens en wonders nie.

Tekens en wonders speel ‘n baie klein rol in die kerkbedeling, omdat die Here wil hê dat ons deur geloof in Christus moet leef, en nie op grond van uiterlike tekens nie. Enige beklemtoning hiervan gaan gewoonlik met misleiding gepaard, en die duiwel gaan dit juis gebruik om die weg na die aanvaarding van die Antichris en die valse profeet te baan: “Daar sal valse christusse en valse profete opstaan en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei” (Matt. 24:24). Die Antichris en valse profeet sal hierin uitmunt (2 Thess. 2:8-12; Op. 13:11-15).

Wat profesieë betref, moet ons daarteen waak om nie deur spesiaal “gesalfde” maar selfaangestelde profete en profetesse mislei te word nie. Die Bybel is ons riglyn en nie buite-Bybelse profesieë nie. Die profetiese openbarings wat die Here aan die kerk gegee het, is met die skryf van die boek Openbaring afgesluit. Indien iemand dit durf waag om nog verdere profesieë hierby te voeg, sal God oor hom die plae byvoeg wat in sy Woord beskryf is (Op. 22:18).

Mense wat in ons tyd ‘n profetiese bediening het, moet slegs Bybelse profesieë aanhaal en verduidelik – nie openbarings deur drome, visioene, vreemde tale en ander buite-Bybelse bronne nie. Die profesie van Joël dat die jongmense sal profeteer en die ou mense drome sal droom, is net ten opsigte van Israel uitgespreek (Joël 2:28-32).

Die situasie wat Joël beskryf, en wat in Handeling 2:16-21 aangehaal is, verwys duidelik na die verdrukking wanneer Israel en die nasies hulle in die verskriklike dag van die Here se oordele sal bevind. Dan sal daar groot tekens in die son, maan en sterre wees. Israel sal dan as volk nog ongered wees en vir oorlewing na ‘n plek in die woestyn moet vlug. God sal dan bonatuurlik met hulle kommunikeer om hulle op die spoedige koms van die Messias voor te berei. In daardie tyd sal daar ‘n nuwe uitstorting van die Heilige Gees oor Israel wees (Sag. 12:10).

Op Pinksterdag was nog nie een van die boeke van die Nuwe Testament geskryf nie, daarom het bonatuurlike openbarings toe nog plaasgevind. Eers nadat die hele Bybel geskryf is, het God begin om hoofsaaklik tot ons te spreek deur sy Woord, wat Gees en lewe is (Joh. 6:63). Drome en visioene het toe nie meer ‘n rol gespeel nie, en talespreek en tale-uitleg is deur Skriflesing en Skrifuitleg vervang. Moet dus nie ter wille van dramatiese koninkryksmanifestasies die Bybel eenkant toe skuif en die valse openbarings van selfaangestelde profete en profetesse begin najaag nie.

11. Die bedeling van genade


Christus se genade plaas ons in konflik met ‘n verdorwe wêreld en leer ons om sy wederkoms te verkondig en dus ‘n toekomstige koninkryk te verwag: “Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus” (Tit. 2:11-13).

Uit hierdie gedeelte is dit duidelik dat goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede in stryd is met die genade van Christus. Wanneer ons uit genade gered en van hierdie begeerlikhede verlos is, moet ons sorg dat ons nie weer daardeur besoedel word nie. Ons leef ‘n lewe wat in opposisie is teen die “teenwoordige bose wêreld” (Gal. 1:4). Ons bevind ons dus nie in ‘n Christelike koninkryk waarby ons hartlik kan inskakel nie, maar wel in ‘n verdorwe wêreld.


Ons moet leer om teen al die goddeloosheid te oorwin, en in die proses kyk ons vorentoe na die wederkoms van die Here Jesus. Hy sal die heerlikheid van God se koninkryk op aarde openbaar, die antichristelike magte verdelg, die duiwel laat bind en ‘n regering van geregtigheid instel. Dan eers sal die nasies nie meer wandel na die boosheid van hul verharde harte nie (Jer. 3:17).

Die bedeling van genade en die bedeling van die koninkryk verskil wesenlik van mekaar. Ons is in stryd met ‘n bose wêreld. Paulus sê aan die Efésiërs: “En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikheid van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander” (Ef. 2:1-3).

Hoewel ons nie meer deel van die verdorwe wêreld is nie, is ons nog steeds fisies in die wêreld, en moet sorg dra dat ons nie deur wêreldse begeerlikhede teruggelok word na ons vorige lewenswandel nie. Ons is hoegenaamd nie nou konings wat oor die goddelose wêreld regeer nie, maar vreemdelinge en lede van ‘n ander koninkryk wat nie van hierdie bose wêreld is nie. Ons wag op die openbaring van Christus se koninkryk.

12. Genade en wet mag nie vermeng word nie


Die huidige bedeling van genade word nie net van die komende bedeling van die koninkryk van Christus op aarde onderskei nie, maar ook van die voorafgaande bedeling van die wet in Israel. Daar moet geen twyfel hieroor wees nie, “want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade” (Rom. 6:14). Ons redding is meegebring deur die Here Jesus se genadewerk aan die kruis, daarom “is Christus die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo” (Rom. 10:4). As ons dit nie ten volle wil aanvaar nie en verkies om ons redding ook op die wet te baseer, is ons verlore: “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval” (Gal. 5:4).

Baie mense wil egter nog steeds onder die wet leef. Hulle besef nie dat die wet net vir Israel gegee is en dat dit vir hulle ‘n tugmeester na Christus was nie (Gal. 3:24-25). Wanneer hulle met die Messias versoen is, is die rol van die tugmeester uitgedien omdat die wet in Christus vervul is. Aan die nie-Joodse nasies is van die begin af net Christus verkondig, en die Heilige Gees het mense van sonde en geregtigheid oortuig – nie die wet nie. In Handelinge 15 is onder die leiding van die Heilige Gees ‘n besluit geneem dat die Christelike gemeentes nie onder die wet van Moses is nie. Dit geld nog steeds.

Die kerk is nie Israel nie, nie eers in ‘n geestelike sin nie, want hierdie siening lei ook na ‘n vermenging van wet en genade. Die geestelike Israel verwys na geredde Jode (Rom. 9:6; Gal. 6:16). Ons is lede van die onsigbare liggaam van Christus. Daar is slegs ‘n geestelike band tussen ware Christene, nie ‘n strukturele band nie. Ons is nie lede van ‘n bepaalde volk nie, ons kan nie op ‘n godgegewe grondgebied aanspraak maak nie, en ons is ook nie lede van ‘n fisies aanduibare koninkryk nie. Ons is wel lede van plaaslike gemeentes, sodat ons die Here saam beter kan dien. Die klem val hier egter nie op geboue en denominasies nie, want ons moet “soos lewende stene opgebou word tot ‘n geestelike huis” (1 Pet. 2:5).

Daar moet gewaak word teen rigiede kerklike strukture met geïnstitusionaliseerde gesagsposisies en menslik-bepaalde reëls en dogmas (die gebooie van mense), want dit veroorsaak dikwels dat Christus nie meer die Hoof van die gemeente is nie, en dat Christene nie deur die Heilige Gees gelei word nie. Magtige kerkstrukture (die leer van die Nikolaïete – Op. 2:6) gaan graag bondgenootskappe en vriendskappe met die verdorwe wêreld aan, en dit ondermyn die beginsels van Christus se koninkryk. Die kerk is nie beskore om in hierdie bedeling ‘n magsposisie te verkry nie.

Die ware kerk van Christus is in stryd met die wêreld en moenie homself in die plek van Israel stel, in terme van sekere wette begin funksioneer en magtige uiterlike strukture skep nie. Ons is net aan Christus se geestelike wet van die liefde gebonde (Joh. 13:34-35).

13. Geloof is nie ‘n onpersoonlike krag nie


Geloof is nie ‘n bonatuurlike krag wat ons na willekeur tot ons eie voordeel kan manipuleer nie. Volgens die koninkryk-nou teologie van die Word of Faith beweging het Christene op grond van hulle geloof skeppingskrag in hulle woorde (Vir meer besonderhede lees Occult Invasion deur Dave Hunt, of Tongues, Prosperity, & Godhood, deur Cathy Burns).

Kenneth Copeland sê dat geloof ‘n krag is, net soos elektrisiteit. Volgens Charles Capps het God geloof gebruik in alles wat Hy geskape het, daarom kan Christene dit ook so gebruik om dinge te laat gebeur. Omdat God in ons woon, sê Copeland, het ons dieselfde vermoëns as wat Hy het. Die wyse waarop geloof in werking gestel word, is deur bloot net woorde uit te spreek. Ons moet geloof in ons woorde hê: “Just name it and claim it.” Kenneth Hagin sê dat goddelike geloof deur die woorde van ons mond vrygestel word. Daar is skeppingskrag in God se woorde, en daarom ook in ons woorde – ons moet dit net glo.

Hagin voer hierdie dwaling nog verder deur sy bewering dat aangesien alle mense geestelike wesens is, almal van hulle, ongeag of hulle Christene of heidene is, geloofskrag kan vrystel as hulle net glo in dit wat hulle sê. Dit word “positive confession” (positiewe belydenis) genoem. Hagin sê: “You get what you say.” In sy boek, Having Faith in Your Faith (1980, bl. 4-5), sê Hagin: “Dit het my gepla toe ek ongeredde mense gesien het wat resultate verkry terwyl baie van die lidmate in my gemeente niks bereik nie. Dit word toe vir my duidelik wat die sondaars doen – hulle stel God se wet van geloof in werking.”

Copeland sê: “Die geheim om die begeertes van jou hart te verkry, is om te sorg dat die woorde van jou mond ooreenstem met dit wat jy wil hê.” Robert Tilton beweer dat alles wat jy sê, met jou sal gebeur. Hagin skryf: “Ek het nooit in my lewe gebid dat enige van my kinders gered moes word nie, nie ‘n enkele gebed nie. Ek het nooit gebid dat een van hulle met die Gees vervul moes word nie. Hulle is iets in die dertig vandag, en ek glo nie ek het in al hierdie jare meer as ses keer vir beide van hulle gebid nie. Waarom? Omdat jy kan kry wat jy sê, en ek het dit reeds gesê!” (K. Hagin: How to write your own ticket with God, 1985).

Die dwaling van hierdie valse evangelie is baie duidelik. Vir mense wat hierdeur mislei is, is geloof nie geloof in die Here Jesus om volgens sy wil en beloftes dinge vir ons te doen nie. Geloof is vir hulle ‘n onpersoonlike magiese krag wat deur enige mens op aarde, ook deur heidene, gebruik kan word om al die begeertes van hulle harte te vervul. Hulle wil niks van ‘n moeilike stryd in ‘n bose wêreld weet nie (Joh. 16:33, 1 Pet. 4:12, 1 Joh. 5:19) – ook nie van al die aanslae wat Paulus in sy bediening beleef het nie (2 Kor. 1:8-11 en 11:23-29). Dit, sê hulle, kan alles maklik oorwin word as jou geloof net sterk genoeg is.

Die valse geloof in ‘n onpersoonlike bonatuurlike krag, wat na bewering deur God as ‘n geskenk aan alle mense gegee is, word as die dryfkrag gebruik om ‘n menslike koninkryk op aarde te bou – ‘n moderne toring van Babel. Al hoe meer valse profete sal na vore tree om groot tekens en wonders te doen. Dit sal die weg berei vir die Antichris en valse profeet wat die mees verbysterende tekens sal doen.

14. Die kruisevangelie, die dood en opstanding


Die Word of Faith beweging glo nie dat Christus se verlossingswerk aan die kruis gedoen is nie, maar dat dit eers in die doderyk of die hel finaal bereik is. Op hierdie manier verloën hulle die wesenlike fondament van die Christelike geloof, verkondig ‘n “ander Jesus” (2 Kor. 11:4) en bou vir hulle ‘n aardse koninkryk op saam met hom. In hierdie koninkryk leef hulle in die grootste rykdom, voorspoed en weelde en berei in werklikheid die pad voor vir die grootste valse Christus van alle tye, naamlik die Antichris.

Verskeie van die mees populêre predikers in die wêreld is by hierdie valse Jesus en sy boodskap van rykdom betrokke. Hulle beweer dat Christus nie aan die kruis vir ons sonde gesterf het nie, maar dat hy ná sy dood geestelik in die hel gesterf het. Daar moes Hy glo in die plek van die gevalle mens vir Satan as sy stiefpa aanneem en drie dae lank deur demone vervolg en bespot word. Toe eers is die prys betaal en het die Vader Hom uit die dood opgewek. Die feit dat Joyce Meyer en Bennie Hinn deel van hierdie valse beweging is, maar internasionaal sterk nagevolg word, is ‘n rede tot groot kommer. Neem die volgende waarskuwings oor Joyce Meyer ernstig op en neem standpunt teen dié soort valse leraars in:

In ‘n artikel, What's the Truth About Joyce Meyer and the Word-Faith Movement? sê dr. J. Carrigan van On Thruth Ministries: “I am very concerned about Joyce Meyer and her doctrine because she is wholly aligned with the Word-Faith Movement which is a seriously flawed doctrinal system based on the heretical teachings of Kenneth Hagin and Kenneth Copeland. Hagin and Copeland, together with other supporters of this religious movement, teach that God is SUBJECT to the power of FAITH and is OBLIGATED to grant every request made in FAITH. They also teach that God and Man are the same kind of being, which elevates the nature of man and undermines the nature of God. I am compelled to recommend strongly that all biblical Christians distance themselves from the ministry of Joyce Meyer, her television program, her books, and her conferences because of her association with the devastating errors of the Word-Faith Movement.”

Op sy webblad www.letusreason.org het Mike Oppenheimer ‘n artikel oor Joyce Meyer geplaas waarin hy onder meer sê: “Meyer may not be completely engulfed in Word Faith teaching but she is yoked with Word Faith teachers and her writings and teachings have certainly been influenced by their theology.  Her ministry is now a multimillion-dollar organization with 500 employees and offices in Europe and South Africa... She says, I don't want to spend my whole life talking about the promised land without ever getting there. I want to live in it. (This means accumulating wealth and living the good life now.)... Jesus said, ‘It is finished.’ And He meant the Old Covenant. The job He had to do was just getting started. He really did the job the three days and nights that He was in hell. That’s where the job was done. He was pronounced guilty on the cross but He paid the price in hell. (From the Cross to the Throne; Joyce Meyer audio tape.) This teaching has been popularized  from Hagin, Copeland, Fred Price, Charles Capps, etc. In her book, The Most Important Decision You Will Ever Make, Joyce writes, During that time He entered hell, where you and I deserved to go (legally) because of our sin. Jesus paid on the cross and in hell. Jesus took your place in hell. ...no plan was too extreme... God rose up from His throne and said to demon powers tormenting the sinless Son of God, ‘Let Him go.’ Then the resurrection power of Almighty God went through hell and filled Jesus. ...He was resurrected from the dead – the first born-again man. (p. 35- 36.) This is clearly Word Faith false theology. Jesus did not need to be born again – He’s God! Only sinners need to be born again.”

Hierdie dwaling oor wat Jesus gedoen het toe Hy na bewering “ter helle” neergedaal het, loop wyer as wat die meeste mense besef, omdat dit in verskeie ander vorms deur baie kerke verkondig word. Wat die bestemming van verlore sondaars betref, tref die Bybel onderskeid tussen die doderyk en die poel van vuur. Die doderyk (hades in Grieks en sheol in Hebreeus) is die plek waar die geeste van al die ongereddes heen gaan wanneer hulle sterf. Hier wag hulle die eindoordeel af, wanneer hulle met die tweede opstanding liggame sal kry en dan voor die groot wit troon tot die ewige poel van vuur verdoem sal word. In hades weet hulle reeds wat op hulle wag en verduur in ‘n geestelike sin pyn by die gedagte aan die ewige vlamme waarvoor hulle bestem is. Hulle is in groot benoudheid tussen al die ander verdoemdes wat ook in sonde gesterf het.

Afgesien van hades is daar ook tartarus, wat ‘n bewaarplek vir gevalle engele is (2 Pet. 2:4; Judas v.6). Hulle is in ‘n donker, onderaardse kerker in kettings van duisternis gebind totdat die eindoordeel aanbreek en hulle hel toe sal gaan. ‘n Derde plek waarna die Bybel verwys, is “die put van die afgrond” (OAV), wat deur die King James-vertaling as die “bodemlose put” beskryf word. Dit is die tuiste van demone (Op. 9:1,2,11; 11:7; 17:8; 20:1-3).

Hierbenewens was daar voor die kruisiging van Christus nog ‘n vierde plek in die onderwêreld, en dit was die paradys. Die siele (bestaande uit die siel en gees) van die regverdiges het hierheen gegaan, en daar was ‘n groot kloof tussen die paradys en die doderyk (Luk. 16:26). Toe Jesus gesterf het, het Hy na die paradys afgedaal en nie na die doderyk (hades) of die hel (gehenna) nie. Hy het vir die berouvolle rower aan die kruis gesê: “Vandag sal jy saam met My in die Paradys wees” (Luk. 23:43).

Die woord “hel” verwys nie na die doderyk nie, maar na die poel van vuur. Dit is van die Griekse woord gehenna afgelei, wat aan die brandende ashope buite Jerusalem ontleen is, waar die rook voortdurend opgestyg het. Daar is soms ook lyke hier verbrand. Markus 9:43 noem die hel ‘n onuitbluslike vuur. Dit is die eindbestemming van alle sondaars. Tydens die eindoordeel sal tartarus en hades leeggemaak en al hulle inwoners in die hel gegooi word: “En die dood en die doderyk (hades) is in die poel van vuur gewerp” (Op. 20:14). Tans is daar nog niemand in die hel nie – die Antichris en die valse profeet sal die eerste inwoners van dié plek wees (Op. 19:20); ‘n duisend jaar later sal die duiwel volg (Op. 20:10), en dan die gevalle engele en al die verlorenes van alle tye (Op. 20:13-15).

In verskeie Bybels, o.a. die King James Version, word daar verkeerdelik na hades en tartarus as die hel verwys (vgl. Luk. 16:23; 2 Pet. 2:4; Op. 20:13 in die KJV). Dit het tot die foutiewe siening gelei dat Jesus ná sy kruisdood “ter helle” neergedaal het. Hy het egter na “die onderste dele van die aarde” neergedaal (Ef. 4:9) waar Hy twee sendings gehad het. Die belangrikste hiervan was om Homself aan die regverdiges in die paradys te vertoon, waar al die gelowiges tot in daardie stadium was (Luk. 23:43). Hy is die Lam van God wat deur sy eenmalige offer aan die kruis al die skaduagtige offers wat vir die Ou Testamentiese gelowiges gebring is, vervul het. Niemand kan sonder die offer van die Seun van God hemel toe gaan nie, want die bloed van bokke en stiere kan niemand red nie (Heb. 10:1,4). Dié gelowiges moes op die belofte van die Messias wag (Heb. 11:39-40). Hy het al hierdie geeste saam met Hom hemel toe geneem (Ef. 4:8-10), waar die paradys sedertdien as deel van die hemel beskryf word (2 Kor. 12:2-4; Op. 2:7). Dit is waar al die regverdiges nou is.

Tweedens het Jesus ook met die geeste in die gevangenis gepraat (1 Pet. 3:19-20) om hulle oordeel te bevestig, asook met gevalle engele in tartarus, ‘n onderaardse kerker wat baie met hades ooreenstem (2 Pet. 2:4).

‘n Onbybelse siening wat deur baie mense gehuldig word, is dat Ou Testamentiese gelowiges in die paradys nog tot ‘n groot mate onder die beheer van Satan was, en dat Jesus hulle van hierdie oorheersing moes bevry en hemel toe neem. Dit is totaal verkeerd en sluit by die Word of Faith dwaling aan dat Hy sy verlossingswerk in die doderyk moes gaan doen.

Finis Dake (Dake’s Annotated Reference Bible) het ook ‘n groot rol gespeel om die misleidende idee te vestig dat Jesus die gestorwe regverdiges in die paradys uit die mag van Satan moes gaan bevry. Hy het breedvoerig hieroor uitgewei in: Dake, F., 1955: The truth about Hell: Tartarus, Paradise, Sheol-Hades, the bottomless pit, Gehenna – the lake of fire. Hierin sê hy onder meer: “(49) The Paradise compartment of Sheol: A place other than the grave for the righteous who, until Christ came, were captives of the devil against their will (Heb. 2:14-15). ... (56) Christ, while in Sheol/Hades, liberated the righteous captives of Satan taking them to heaven with Him when He ascended on high (Eph. 4:8-10; Heb. 2:14-15). ... (57) Paradise is now empty of all the righteous souls.”

Satan kon egter geen beheer oor die regverdiges hê nie, want niemand kon van hades af na die paradys oorkom nie (Luk. 16:26). Dake pas die gedagte van bevryding in Hebreërs 2:14-15 verkeerdelik op die bevryding van gelowiges in die doderyk of paradys toe. Hierdie teks dui op lewendige mense se bevryding uit satansmag. Die stelling dat Satan, wat mag het oor die dood, “tot niet gemaak” is (Gr. katagese), kan ook beteken dat hy “magteloos” gemaak is om Christene deur die gedagte aan die dood te intimideer of bang te maak. Vir ons het die dood sy angel verloor (1 Kor. 15:55).

Ou Testamentiese gelowiges was beslis nie ná hulle dood in ‘n plek waar Satan oor hulle mag gehad het nie. Christus het slegs daardie gelowiges se redding bekragtig sodat Ou en Nuwe Testamentiese gelowiges daarna aan een liggaam kan behoort en saam verheerlik sal word (Matt. 8:11; Heb. 11:39-40).

Die uiteenlopende sienings oor waar afgestorwenes in Ou Testamentiese tye heengegaan het, spruit voort uit die feit dat die begrip “paradys” ten opsigte van die regverdiges se bestemming, nie daardie tyd bekend was nie. Daar is net in ‘n generiese sin na die doderyk (sheol) as die “graf” verwys, m.a.w. die plek van die dooies, ongeag of hulle regverdig of onregverdig was. Dit is die rede waarom kommentators tereg verwys het na die twee kompartemente van die doderyk wat onderskeidelik die bestemming van die regverdiges en onregverdiges was. Bybelvertalers (veral in Engels) was sekerlik van hierdie onderskeid bewus, maar by gebrek aan paslike terminologie het hulle, afhangende van die konteks waarin die woord gebruik is, soms na sheol as “grave” verwys en soms as “hell” (vgl. Gen. 37:35, 1 Sam. 2:6, Ps. 6:5, 9:17, 16:10, 86:13; Pred. 9:10 in die KJV). In Afrikaans is deurgaans net die woord “doderyk” vir sheol gebruik.

Die Nuwe Testamentiese verwysing na die “paradys” of “die boesem van Abraham” (Luk. 16:22, 23:43) as die plek waar die siele van gelowiges voor Christus se kruisiging en hemelvaart was, maak dit onnodig om verder van twee kompartemente van die doderyk te praat. Een saak waaroor daar absolute duidelikheid moet wees, is dat daar nooit (ook nie in Ou Testamentiese tye) sprake daarvan was dat Satan beheer oor die gestorwe regverdiges gehad het nie, want dan sou Christus in die doderyk verlossingswerk uit satansmag moes gedoen het. Dit het Hy egter reeds aan die kruis gedoen, daarom kon die wagtende regverdiges uit die Ou Testament saam met Hom hemel toe gaan. Hulle voorwaardelike redding is bekragtig deurdat die offers wat vir hulle sonde gebring is, in Christus vervul is.

Christus het opgevaar hemel toe, en dit is waarheen Paulus ook verlang het om te gaan (Fil. 1:23). Wanneer die wegraping plaasvind, sal die Here Jesus almal wat in Hom ontslaap het, saam met Hom uit die hemel bring sodat hulle liggaamlik uit hul grafte op aarde kan opstaan en hier hulle verheerlikte liggame kry (1 Thess. 4:14-17). Daarna sal die lewende gelowiges se liggame met onsterflikheid beklee word en al die gelowiges met verheerlikte liggame saam met Jesus hemel toe gaan waar hulle eers voor sy regterstoel sal verskyn, en dan die woning sal kry wat Hy in die hemel vir hulle berei het.

Verlore siele gaan na hades (die doderyk) en ná die eindoordeel sal hulle in die ewige poel van vuur (die hel) gegooi word. Geredde mense gaan na die hemel. Hulle woning sal in die nuwe Jerusalem wees wat later op die nuwe aarde sal neerdaal. Hemel en aarde sal dan bymekaar kom. Niemand kan uit die doderyk of tartarus kom as hulle eers daar is nie, want hulle is onherroeplik op pad na die brandende poel van vuur in die hel. Hulle lot is verseël, hulle weet dit en daarom ervaar hulle groot sielswroeging in die plek van die verdoemdes waar hulle ten alle tye by hulle volle bewussyn is.

Dit is uit hierdie bespreking duidelik dat die ontslape heiliges ook deel sal hê aan die openbaring van God se koninkryk op aarde. Die Here Jesus het kommentaar gelewer omtrent die geloof van ‘n Romeinse hoofman en gesê: “Baie sal kom van die ooste en weste en saam met Abraham en Isak en Jakob aansit in die koninkryk van die hemele” (Matt. 8:11). Gelowiges uit alle dele van die wêreld sal hieraan deel hê, en dit sluit die gelowiges van die Ou Testament in. Dit is dus onmoontlik dat die koninkryk van die hemel voor die opstanding van die regverdiges geopenbaar kan word.

Die kerk van Christus moet voortgaan om mense te nooi om in te kom sodat die huis van die Here vol kan word (Luk. 14:23). Ons taak is nie om die Here se koninkryk te openbaar nie, maar om mense uit alle volke te nooi om in te kom. Die Here Jesus sal self sy koninkryk openbaar wanneer Hy kom en ook al die heiliges van alle tye saam met Hom bring (Sag. 14:5; Kol. 3:4). Wanneer ons in die vrederyk saam met Christus regeer, sal die verlore siele nog in die doderyk wees om die eindoordeel af te wag: “En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie” (Op. 20:5). Dan eers sal hulle tydens die tweede opstanding opgewek, veroordeel, en in die poel van vuur gewerp word (Op. 20:7-15).

15. Die doel van geestelike oorlogvoering


Die Bybel stel dit duidelik dat ons by ‘n geestelike stryd teen die koninkryk van Satan betrokke is (Ef. 6:10-12). Hy verlei mense deur bose gedagtes, die begeertes van hulle gevalle natuur, en ook deur die invloed van die verdorwe wêreld. Die Here het aan ons geestelike wapens gegee om teen hierdie aanslae, versoekings en sondige neigings weerstand te kan bied (2 Kor. 10:3-5). Hierdie wapens is geloof in die Here Jesus (1 Joh. 5:4-5), die Woord (Ef. 6:17; Heb. 4:12), gebed (Jak. 5:16), die bloed van die Lam (Ef. 1:7), en die woord van ons getuienis (Op. 12:11). Elke individuele gelowige voer in sy daaglikse lewe hierdie geestelike stryd.

Benewens die stryd teen die Bose waartoe die Bybel ons oproep, is daar ook onbybelse metodes van geestelike oorlogvoering waarteen ons moet waak. Dit word strategiese geestelike oorlogvoering genoem, en is daarop gerig om vestings van Satan bokant dorpe, stede of selfs hele lande te verbreek en die duiwel te verdryf. Hierdie vestings word aan sg. gebiedsdemone verbind. Spesifieke gemeenskapsondes word aan dié vestings gekoppel, bv. vreemde gelowe, towery, voorvaderaanbidding of misdaad. Daar word geglo dat wanneer hierdie bose vestings deur gebed neergewerp en hulle mag verbreek is, die geestelike verblinding oor mense sal verdwyn en ‘n groot Christelike herlewing sal uitbreek waarin omtrent alle mense in die betrokke gebied tot bekering sal kom. Die hele samelewing sal dan ‘n Christelike transformasie ondergaan, bygeloof en armoede sal skielik verdwyn en tronke uiteindelik leegloop.

Die vaders van die transformasie-beweging is George Otis van die Sentinel-groep in Amerika, asook Peter Wagner van die World Prayer Center in Colorado Springs. Peter Wagner het ‘n paar jaar gelede ‘n gebedsgroep na Turkye geneem om die vestings van Islam daar neer te werp en het daarna die land vry van onderdrukkende demoniese invloede verklaar. Sedertdien het die geestelike toestand en die houvas van Islam geensins in dié land verander nie en die verwagte herlewing en Christelike transformasie het nooit plaasgevind nie. Soortgelyke aksies is ook al sonder sukses in Suid-Afrika en verskeie ander lande in die wêreld onderneem, en daardeur is net valse verwagtings geskep.

As ‘n eerste stap word geestelike kartering gedoen waarin die tipiese sondes van die gemeenskap opgeskryf word. Hierdie sondes word as bose vestings beskou wat in die geloof afgebreek moet word sodat die gemeenskap van onderdrukkende demoniese invloede bevry kan word.

Strategiese geestelike oorlogvoering is een van verskeie vorms van die koninkryksteologie. Hierdie mense neem beloftes wat op die geopenbaarde koninkryk van Christus ná sy wederkoms betrekking het (m.a.w. op die duisendjarige vrederyk), en pas dit dan verkeerdelik op die kerkdispensasie toe. Sommige van hierdie beloftes is dat die duiwel gebind sal wees sodat hy die nasies nie kan verlei nie (Op. 20:2-3), sonde, misdaad en oorlogvoering sal verdwyn (Jer. 3:17; Jes. 2:4), die aarde sal vol wees van die kennis van die Here (Jes. 11:9), hele stede en lande sal die Here dien (Sag. 8:20-21; Jes. 19:23-25), en Christene sal saam met die Here Jesus as konings op aarde regeer (Op. 5:9-10; 20:6).

Vooraanstaande kerkvaders soos Augustinus en Calvyn het die verkeerde siening gehuldig dat die koninkryksbedeling wanneer die duiwel gebind sal wees, nie ná die wederkoms van Jesus eers sal aanbreek nie, maar op die tydperk tussen sy eerste en tweede koms betrekking het, m.a.w. op die kerkbedeling. Volgens hulle is die duiwel nóú gebind en wil die Here die wêreld deur middel van sy kerk oorneem en regeer. Ons moet net vir hierdie visie opgewek word en begin om die duiwel van die planeet aarde af te verdryf sodat ons ‘n Christelike wêreld tot stand kan bring. Vir hierdie doel sal die Here profete en apostels opwek wat die Christendom sal verenig en groot tekens en wonders sal doen om daardeur hulle bonatuurlike krag te vertoon.

As gevolg van hulle onbybelse sienings oor geestelike oorlogvoering het verskeie van hierdie beweging se leiers in ekstreme charismatiese denke en gebruike vasgevang geraak. Hulle herlewingsvisie is op ‘n dramatiese vertoon van buite-Bybelse openbarings en tekens gebaseer, en het as gevolg hiervan heeltemal in ‘n ervaringsteologie ontaard. Dit is ook uitgesproke ekumenies, omdat die einddoel daarvan is om verenigde stadskerke tot stand te bring. Peter Wagner verwys selfs na die post-denominasionele kerk van die 21ste eeu, waarin alle denominasies sal saamvloei. Hy praat ook van die “apostoliese herlewing” waarin die verenigde kerk deur apostels en profete regeer sal word. Ter wille van eenheid moet daar gereeld massabyeenkomste in stadions gehou word, sodat Christene kan hande vat en van hulle teologiese verskille vergeet. Selfs Rooms-Katolieke is by hierdie byeenkomste welkom en niemand se geloof word betwyfel nie. Die hele beweging is dus op kompromie gebou, ter wille van die visie dat die verenigde kerk van Christus nóú die wêreld moet oorneem en regeer.

Die feit is egter dat ons in hierdie bedeling vreemdelinge en bywoners is in ‘n wêreld wat in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19). Ons sal nie in hierdie bedeling die wêreld oorneem en regeer nie, maar inteendeel deur die wêreld gehaat en vervolg word (Joh. 15:19). Geestelike oorlogvoering het ‘n persoonlike toepassing deurdat die Here individue van sonde en versoekings verlos en hulle toerus om staande te bly in die stryd. Hulle sal nie die wêreld oorneem nie, maar skyn soos ligte te midde van ‘n krom en verdraaide geslag (Fil. 2:15). Ons is nie konings en heersers nie, maar soldate vir die kruis. Terwyl ons heiliger word, sal die wêreld al hoe boser word (Op. 22:11).

16. Transformasiebyeenkomste vir ‘n koninkryk


Die transformasiebeweging is ‘n gekoördineerde poging deur ekumeniesgesinde kerke en Christelike groepe om hulleself te verenig, invloed in die samelewing te verkry, geestelike opposisie te verbreek en koninkrykstoestande op aarde te skep. Hulle maak van massabyeenkomste gebruik om hulle doel te probeer bereik.

Soos hierbo verduidelik, word strategiese geestelike oorlogvoering deur dié mense beoefen om hele lande, en uiteindelik die hele wêreld, van bose magte te bevry. Terselfdertyd gaan hulle voort om hulle vir ‘n wêreldwye herlewing te beywer – ook deur middel van massabyeenkomste, veral die Global Day of Prayer. Dit is egter opvallend dat die klem in hulle byeenkomste nie soseer op persoonlike heiligheid en ‘n meer intieme verhouding met God val nie, maar op verbeterde menseverhoudings. Dit lyk of hulle eenheid-ten-alle-koste wil skep, want alle ongelykhede en probleme moet uit die samelewing verwyder word. Almal moet gelukkig, gesond, geletterd en goed versorg wees, en misdaad en wanverhoudings moet heeltemal verdwyn.

Kerke word verenig om hierdie doel te bereik, maar alliansies word ook met die sakesektor en regerings gesluit om ‘n totale transformasie in die samelewing teweeg te bring. Dit vind noue aansluiting by Rick Warren se Global Peace Plan. Die jongste poging om ‘n groot deurbraak in Suid-Afrika én die hele Afrika te bewerkstellig, word onder die vaandel van Fire Trails gedoen. In hierdie beweging het hulle ter wille van nuwe profetiese openbarings heeltemal van die Bybel af wegbeweeg en maak net staat op die buite-Bybelse profesieë van verskeie selfaangestelde profete en profetesse (kyk www.firetrails.co.za).

Daar word geglo dat, wanneer die transformeerders se doel bereik is, die koninkryk van God op aarde sal neerdaal en alle gemeenskappe en lande in harmonie en vrede sal saamleef. Grootskaalse ontwikkeling sal plaasvind, almal sal werk hê, oorloë en misdaad sal ophou en die tronke leegloop. Dit is as gevolg van verwagtings van hierdie aard dat die transformasiebeweging glad nie die Bybelse scenario vir die eindtyd aanvaar of verkondig nie. Volgens die Bybel sal daar in die laaste dae geestelike afvalligheid in die hele wêreld voorkom, asook politieke onbestendigheid, anargie, oorloë en gerugte van oorloë, hongersnode, pessiektes en natuurrampe, wat alles gaandeweg erger sal raak en sal lei na die grootste verdrukking in die menslike geskiedenis (Matt. 24:21).

Omdat die transformasiebeweging nie ‘n situasie van dié aard verwag nie, glo hulle ook nie in die wegraping van ware gelowiges voor die verdrukking nie. Hulle wil niks daarvan weet dat daar ‘n Antichris en valse profeet op die toneel sal verskyn wat die hele wêreld sal mislei en onderdruk nie, en hulle glo ook nie dat die duiwel eers tydens Christus se wederkoms van sy magsposisie op aarde gestroop en in ‘n put gebind sal word nie – hulle wil dit sommer nou al  met die hulp van die Here doen en self die wêreld van alle boosheid bevry. Enige iets minder as dit word deur hulle as ongeloof, swak geloof of visieloosheid beskou.

Ten spyte van intensiewe pogings die afgelope vyftien jaar, kom die transformasiebeweging nêrens op dreef nie en is daar geen aanduidings van enige vestings wat hulle verbreek het nie. Valse gelowe, misdaad, dwelmmisbruik en armoede het eerder toegeneem. Die beweging slaag duidelik nie daarin om God se koninkryk sigbaar te openbaar nie. Hulle gaan egter met hulle pogings voort en wag net vir die groot deurbraak. Omdat hulle egter heeltemal uit pas met die Bybel se program vir eindtydse gebeure is, is transformasie ‘n menslik-gedrewe proses wat tot mislukking gedoem is. Baie lede van die beweging mag dalk edel doelstellings van sosiale opheffing hê met alles wat hulle ter wille van ‘n beter lewe beplan, maar hulle word deur die koninkryksagenda van hulle leiers voorgeskryf wat om te doen – nie deur die Bybel nie.

17. Nie nou Christenvolke nie


Verenigde Christenvolke wat saam die Here dien, is glad nie ‘n belofte vir die kerkbedeling nie, en sal eers in die vrederyk ‘n werklikheid word. Christelike idealiste wat graag só ‘n toestand op aarde wil skep, is heeltemal uit pas met die profetiese woord. Hulle begaan drie baie ernstige foute: Eerstens beoefen hulle vervangingsteologie deur die kerk in die plek van Israel te stel en dan Israel se Messiaanse beloftes op die kerk toe te pas. Tweedens vermeng hulle Bybelse dispensasies met mekaar deur beloftes wat vir die millennium ná Christus se wederkoms bedoel is, na die kerkbedeling te verskuif. Derdens verklaar hulle eindtydse profesieë oor natuurrampe, geestelike verval en misleiding histories (preteristies) deur te beweer dat dit lank gelede reeds vervul is. Wat hulle betref, stuur ons nie aan die einde van die kerkbedeling op ‘n donker tyd van goddelike oordele af nie.

Een van die beloftes aan Israel wat soms deur koninkryksteoloë op die kerk toegepas word, is die volgende: “So sê die Here van die leërskare: Nog sal volke aankom en die inwoners van baie stede. En die inwoners van die een stad sal gaan na die ander en sê: Kom, laat ons heengaan om die aangesig van die Here om genade te smeek en die Here van die leërskare te soek. Ek wil ook gaan! So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die Here van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die Here om genade te smeek. So sê die Here van die leërskare: In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ‘n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sag. 8:20-23).

Koninkrykgesindes lees duidelik nie hierdie profesie in sy regte verband nie, want hiervolgens sal die volke na Jerusalem optrek om die aangesig (fisiese teenwoordigheid) van die Here daar te soek, en hulle sal ook ‘n baie goeie verhouding handhaaf met die geredde Israel wat in die besonder deur die Here geseën sal word (Sag. 8:23; Jes. 60:10-12). Ons is baie ver van hierdie situasie af, want Christus het nog nie na Jerusalem teruggekeer om ‘n toestand soos dié te kan skep nie. Dit sal duidelik net in die vrederyk bestaan, want dan sal die duiwel gebind wees en nie meer die bose hartstogte van die nasies kan aanblaas nie (Op. 20:1-3). Hulle sal dan eers in vrede kan saamleef en geen oorloë meer voer nie (Jer. 3:17; Jes. 2:1-4). In daardie tyd sal daar net een godsdiens op die hele aarde beoefen word, en dit is die Christelike godsdiens: “Die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Jes. 11:9; Sag. 13:2). Almal sal net die Drie-enige God dien en die Here Jesus gereeld in Jerusalem gaan aanbid (Jes. 2:3; Hand. 15:16-17).

Daar kan hoegenaamd nie nou so ‘n situasie bestaan of geskep word nie, want ons leef in die multigodsdienstige tye van die nasies. In hierdie bedeling verwerp die meeste mense die God van Israel, sy Seun én sy Woord: “Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die Here en teen sy Gesalfde [Christus] en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp! ... Dan sal Hy hulle aanspreek in sy toorn en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik: Ek tog het my Koning gesalf oor Sion my heilige berg... U sal hulle verpletter met ‘n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ‘n erdepot” (Ps. 2:2-9). Die Messias sal van die berg Sion af uit Jerusalem regeer.

Aan die einde van hierdie bedeling sal Israel geweldig gehaat word deur die nasies, daarom sal die Here die nasies teen Jerusalem laat optrek om hier met hulle in gerig te tree omdat hulle die volk Israel, die God van Israel, die Messias van Israel. en ook die Woord van God verwerp het (Sag. 12:2-3; 14:2-3; Joël 3:1-2).

Dit is absoluut ondenkbaar hoe diegene wat gedurende die kerkbedeling ‘n koninkryk wil instel, hierdie belangrike feite oor die einde van die kerkdispensasie kan miskyk. Die dienaars van die Here word nie in hierdie tyd as volke beskryf nie, maar as ‘n klein minderheidsgroep dissipels van Christus onder alle nasies.

18. Nie ‘n groot herlewing nie, maar wydverspreide afvalligheid


Die kerkbedeling eindig nie in ‘n groot herlewing waaruit ‘n wêreldwye Christelike koninkryk gebore sal word nie, maar in ‘n tyd van groot afvalligheid waaruit die Antichris en sy valse wêreldgodsdiens gebore sal word: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess. 2:3-4).

Gedurende hierdie tyd van groot afvalligheid, sal baie Christene verkoel in hulle liefde en deur die stroom van misleiding en wêreldgesindheid meegesleur word: “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Matt. 24:12; vgl. Op. 2:4-5). Baie kerke sal só materialisties en selfvoldaan word, dat hulle nie eers sal besef dat hulle geestelik gesproke ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is, en dat die Here Jesus Homself lankal uit hulle midde onttrek het nie (Op. 3:16-17).

Mense sal vol van hulleself en hulle eie wysheid wees, roekeloos en verwaand leef, maar nogtans voorgee dat hulle Christene is (2 Tim. 3:1-5). Die vormgodsdienstiges sal egter nie die gesonde leer van die Bybel verdra nie en sal evangeliese Christene wat dit verkondig, verwerp en vervolg (2 Tim. 4:2-5). Hierdie naamchristene wil graag hulle gevestigde aardse belange beskerm, en hulle sal dit doen deur ‘n magtige Christelike koninkryk te probeer skep. Die geestelike standaard hiervan is so laag dat enigeen welkom is om aan te sluit.

Wanneer sal hierdie misleides en afvalliges se oë oopgaan? Volgens die Bybel sal enkeles wel soos brandhout uit die vuur geruk word, maar die groot meerderheid sal eers wakker skrik wanneer hulle tydens die wegraping agterbly en dan gou sal agterkom dat die Antichris groot politieke, godsdienstige en ekonomiese beheer oor die wêreld verkry het. Dan sal hulle sien aan watter bose regering hulle deur hulle kompromie en eenheidsinisiatiewe help bou het.

In daardie stadium, en ook dwarsdeur die verdrukking, sal daar ‘n groot siftingsproses plaasvind. Die meerderheid mense sal die Antichris aanvaar, navolg en aanbid (Op. 13:3-4), maar daar sal ook ‘n groot groep wees wat hom sal verwerp en vir Jesus as Verlosser en Messias sal aanneem. In Israel sal daar vroeg in die verdrukking 144 000 spesiale getuies vir die ware Messias gered word (Op. 7:1-8), en daarna, gedurende die sewe jaar, sal daar miljoene mense uit alle nasies en volke gered word (Op. 7:9-17).

Dit is nie nou die tyd om ter wille van ‘n groot, mensgemaakte herlewing hande te vat met miljoene andersdenkendes, leerstellige verskille oor die hoof te sien en geestelike standaarde te verlaag net om groot getalle mense vir ‘n koninkryk te mobiliseer nie. Dit is nou die tyd om te sorg dat jy nie mislei word nie (Matt. 24:4-5), geestelik te waak en te bid dat jy vir die koms van die hemelse Bruidegom waardig sal wees (Luk. 21:36), en met nuwe ywer uit te gaan op die paaie om die wat nog buite is, in te bring (Luk. 14:23).

19. Wederkomsprediking is die sleutel


Wederkomsprediking, veral ook met die oog op die toekomstige openbaring van Christus se koninkryk, moet ons groot doel wees. Trouens, dit behoort ‘n belangrike kenmerk van elke evangeliese gemeente te wees. Ons wil almal hê Christus se koninkryk moet op aarde gevestig word sodat al die sonde en ongeregtigheid van die huidige bedeling kan ophou. Dit sal egter nie gebeur voordat die Here Jesus as Koning van die konings kom nie, daarom kan ekumeniese gelowiges maar ophou met hulle pogings om hierdie koninkryk voor Christus se koms te probeer instel. Sulke pogings sal eerder die valse Christus bevoordeel omdat dit sal help om sy alternatiewe koninkryk te vestig deur ‘n positiewe denkklimaat van globalisme en godsdienseenheid daarvoor te skep.

Wanneer ons die wederkoms verkondig, dan skep dit ook ‘n verlange dat die Here ons uit die slegterwordende wêreld sal uitred. Ons moenie enige illusies hê oor die groot afval in geestelike en morele standaarde in die eindtyd nie. Dit vind reeds plaas en is besig om te vererger. Dit is net logies dat iemand soos die Antichris binnekort beheer oor die wêreld sal kry. Dit is ook volgens die Bybel logies om te verwag dat sy bewindstermyn met goddelike oordele gepaard sal gaan. Verder maak dit volgens die Bybel net soveel sin om te verwag dat die Here die ware gelowiges voor die tyd van oordele sal uitred, soos wat Hy ook in die tyd van Noag en Lot gedoen het.

Hierdie ontruiming uit die rampgebied van goddelike oordele is die salige hoop van alle ware Christene (Tit. 2:13). Predikers wat nie hierdie hoop verkondig nie, skep geen positiewe toekomsverwagting by hulle gemeentelede nie. Hulle bevorder ook nie die proses van heiligmaking in gelowiges se lewe nie, want oningeligte mense het geen besef van die voorbereidings wat getref moet word om waardig en heilig voor die hemelse Bruidegom te kan verskyn nie. Indien hierdie hoop egter by hulle ingeskerp word, sal dit die gewenste resultate oplewer, want hy wat die hoop op Christus se wederkoms het, “reinig homself soos Hy rein is” (1 Joh. 3:3).

20. Israel en Jerusalem in God se koninkryk


Een van die sterkste bewyse dat ons nie nou in die periode van God se geopenbaarde koninkryk op aarde leef nie, is die feit dat ons ons steeds in die tye van die heidense nasies bevind. In die Ou Testament was Israel God se uitverkore volk met wie Hy ‘n ewige verbond gesluit het (Gen. 13:14-15; 26:3; 28:13). Israel was God se verteenwoordiger op aarde en dit het nie net godsdienstige nie, maar ook politieke implikasies met betrekking tot ‘n koninkryk, ‘n hoofstad en ‘n grondgebied gehad. Jerusalem het ‘n sentrale rol gespeel en is deur God genoem: “Die stad wat Ek vir My verkies het om my Naam daar te vestig” (1 Kon. 11:36). God se Naam is aan Jerusalem verbonde en dit is die rede waarom hierdie stad nooit verdwyn uit Israel se profetiese toekoms nie.

Wanneer Israel getrou aan God was, was hulle onoorwinlik en onaantasbaar deur die heidense nasies. God is in die wêreld geken tot dié mate waartoe Hy Homself in en deur Israel geopenbaar het. Selfs tydsberekening is volgens Israel se kalender gedoen en in terme van die regeringstermyne van Israel se konings uitgedruk.

Weens Israel se geestelike afvalligheid, was hulle egter meesal swak getuies vir die Here en het ‘n wankelrige koninkryk gehad. Vir die grootste tydperk van hulle verblyf in die land Israel het hulle die seën, nabyheid en beskerming van die Here verbeur. Deur hulle eie toedoen het hulle die vloek, eerder as die seën van die Here, verkry (Deut. 11:13-32; 28:1-68). Hulle afvalligheid het uiteindelik tot die verwoesting van Jerusalem en die Babiloniese ballingskap van Juda en Benjamin gelei (die noordelike tien stamme van Israel was toe reeds in ballingskap). Jerusalem is in 586 v.C. verwoes toe Judéa ‘n provinsie van Babel geword het (2 Kon. 25:1-21).

Israel se koninkryk, wat die sigbare manifestasie van God se koninkryk op aarde was, is vir ‘n lang tyd beëindig. Direk hierna het die tye van die nie-Joodse nasies begin, en is die verloop van die verdere geskiedenis binne die raamwerk van heidense konings se bewindstermyne beskryf. Die herstel van Israel ná die Babiloniese ballingskap was net gedeeltelik en Jerusalem was vir baie eeue lank nie meer die hoofstad van ‘n onafhanklike en vrye Joodse staat nie – tot in 1980! Ná die Babiloniese oorheersing was hulle ondergeskik aan die Medo-Persiese, Griekse en Romeinse Ryke. Die tempel het ook weer in onbruik geraak en God het opgehou om profete na Israel te stuur. Ná Maleági was daar vir meer as 400 jaar lank nie weer ‘n profeet van die Here in Israel nie, totdat Johannes die Doper gekom het en saam met hom die Messias, Jesus.

Israel het nie net die profete van God verwerp nie, maar ook hulle Messias-Koning, Jesus, en daardeur die herstel van hulle koninkryk vir ‘n baie lang tyd vertraag. Jesus het vir hulle gesê: “Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:37-39). In die tussentyd sou Jerusalem verwoes, net gedeeltelik herbou en hoofsaaklik deur nie-Jode bewoon word: “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24).

Dit is ‘n vaste Bybelse feit dat Israel en Jerusalem eers ten volle (fisies, polities én geestelik) herstel moet word voordat ons ‘n openbaring van God se koninkryk op aarde sal sien. Die Here het sy Naam vir altyd aan Jerusalem verbind. Die toekomstige heerlikheid van Israel sal onvergelyklik wees omdat hulle ‘n ten volle Messiaanse volk sal wees onder die regstreekse leiding van die Messias.

Dit is dus nie verbasend nie dat die Here Jesus wat in Jerusalem die losprys vir ons sonde betaal en die vroeë kerk onder die leiding van die Heilige Gees hier gevestig het, met sy wederkoms spesifiek na Jerusalem terugkeer, Israel ten volle sal herstel en dan die hele wêreld van die troon van Dawid af uit Jerusalem sal regeer (Sag. 14:4-5; Hand. 15:16-17). Hierdie kristalhelder feite moet eerbiedig word deur almal wat ‘n hoë agting vir die vervulling van Bybelse profesieë het.

Wanneer die Koning van die konings gekom het, sal Hy Israel eers geestelik volkome herstel (Sag. 12:10–13:1; Eseg. 36:24-28), en dan die vervalle troon van Dawid in Jerusalem oprig (Jer. 3:17; 31:38). Jerusalem sal daarna nie meer deur die nasies vertrap word nie, maar die nasies sal na Jerusalem optrek om die Here te eer en deur Hom onderrig te word (Jes. 2:2-4). Hulle sal ook elke jaar ‘n afvaardiging na Jerusalem stuur om die loofhuttefees daar te vier, wat die groot fees van die Messias se koninkryk sal wees (Sag. 14:16). Jerusalem sal “die stad van die groot Koning” op die berg Sion wees (Ps. 48:2-3).

Israel sal sy doel as God se volk bereik en as gevolg daarvan hoog aangeskrewe wees en ook geëer word deur al die nasies van die wêreld (Sag. 8:23). Internasionale steun sal spontaan vir die heropbou van Israel ná die verdrukking aangebied word (Jes. 60:10-15). Israel sal geestelik ‘n seën vir die hele wêreld wees en almal sal hulle guns soek (Rom. 11:11-12). Israel sal die wêreld evangeliseer gedurende hierdie toekomstige Messiaanse bedeling wanneer die kerkdispensasie verby sal wees en die Messias gekom het (Jes. 27:6).

Die kerk van Christus leef in die tye van die heidense nasies waarin Jerusalem vertrap word en elkeen sy eie pad loop. Die verduisterde harte van die groot meerderheid mense gee aan Satan ‘n groot houvas oor die wêreld. Dit is die rede waarom die kerk sy opdrag in ‘n vyandige wêreld moet uitvoer, en glad nie geroep word om ‘n koninkryk op te rig wat die Here eers deur sy wederkoms en die volle herstel van Israel gaan doen nie. Hoe kan die kerk hierdie belangrike feit miskyk? Is dit dalk te wyte aan die vervangingsteologie, op grond waarvan die kerk homself as Israel beskou en dalk Rome vir Jerusalem aansien?

Israel en Jerusalem is tans in ‘n herstelproses, maar nog nie in ‘n finale stadium van herstel  nie. Uit God se oogpunt sal hulle eers ten volle herstel wees wanneer die Messias gekom en die hele Israel gered is: “Die Verlosser sal uit Sion kom en die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:26). Die huidige fisiese en staatkundige herstel van Israel is vir ons ‘n aanduiding dat die tye van die nasies vinnig besig is om uit te loop.

Wanneer die wegraping plaasvind, sal die kerkbedeling verby wees en die 70ste jaarweek van Israel ‘n aanvang neem (1 Thess. 4:16-17; Dan. 9:26-27). Hierdie sewe jaar sal ‘n transisionele tydperk wees waarin Israel se kalender weer in werking sal tree, hoewel die heidense kalender ook nog in gebruik sal wees. Wanneer Israel en Jerusalem egter met die koms van die Messias volledig herstel word, sal ‘n totaal nuwe bedeling in God se raadsplan vir die mensdom aanbreek – dit sal die bedeling van God se geopenbaarde koninkryk op aarde wees.

Slot


Gedurende die kerkbedeling leef ons geestelik gesproke in ‘n donker en vyandige wêreld. Die Here Jesus stuur ons soos skape onder die wolwe in (Matt. 10:16), daarom moet ons beslis ook teëstand en verwerping verwag. Ons moet ‘n onwrikbare geloof in die reddende genade van die Here Jesus hê, maar nie ‘n onrealistiese verwagting koester dat groot massas mense positief op die evangelie sal reageer nie. Die gelykenis van die saaier wys daarop dat net ‘n deel van die saad in goeie grond sal val (Matt. 13:3-23). Die harte van baie mense het stomp geword: hulle hoor, maar verstaan nie regtig wat hulle hoor nie (Matt. 13:14-15; 2 Kor. 4:4). Baie sal probeer om deur die nou poort in te gaan, maar min sal daarin slaag (Luk. 13:24).

Ons moet ook besef dat ons werk van evangelisasie nie in hierdie bedeling op die openbaring van ‘n Christelike koninkryk sal uitloop nie, want aan die einde daarvan breek die tyd van God se oordele oor die ongelowiges aan. Die Here Jesus het self gesê: “Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie” (Joh. 9:4). Wanneer die nag van God se oordele aanbreek, sal genadetyd vir baie sondaars verby wees. Dan sal hulle vir hulle rebellie aanspreeklik gehou word.

Ons moet dus nie verwag dat die verkondiging van die evangelie in hierdie bedeling na ‘n Christelike koninkryk en vrede op aarde sal lei nie. Daar sal eerder groter verdeeldheid tussen lig en duisternis kom, en ook vyandigheid vanaf vormgodsdienstiges teenoor evangeliese Christene wat vreesloos die beginsels verkondig van die koninkryk van die lig – ‘n koninkryk wat nie van hierdie wêreld is nie. Dit is die rede waarom die Here Jesus gesê het: “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard” (Matt. 10:34). Christenskap bring selfs verdeeldheid in gesinne (Matt. 10:35) – hoeveel te meer nie in die samelewing daarbuite nie. Simeon het oor Jesus gesê: “Kyk, hierdie kind is bestemd tot ‘n val en ‘n opstanding van baie in Israel en tot ‘n teken wat weerspreek sal word” (Luk. 2:34).

Hoe hét die Naam van die Here Jesus nie verdeeldheid in die wêreld gebring nie! Dit is nie net die ateïste, agnostici en aanhangers van vreemde gelowe wat teen Hom te velde trek nie, maar ook afvallige Christelike teoloë wat weier om sy maagdelike geboorte, godheid, die betekenis van sy kruisdood, asook die werklikheid van sy opstanding, hemelvaart en wederkoms te aanvaar. Wat sê Christus hieroor? “Salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie” (Luk. 7:23).

Die verdeeldheid oor Jesus Christus, asook die haatveldog teen Hom, sal voortduur totdat Hy sy bruidsgemeente kom haal het, maar kort daarna sal dit tot nóg hoër hoogtes opvlam. Aanvanklik sal daar tydens die bewind van die Antichris ‘n groot mate van godsdienstige eenheid op aarde aanbreek omdat die ware Christene weg sal wees. Die “hele wêreld” sal dan verwonderd agter die Antichris aangaan en hom ook as hulle gemeenskaplike “Christus” en “Verlosser” aanbid (Op. 13:3-4,8). Wanneer daar egter weer groot getalle mense gered word deur die ware Christus as hulle Verlosser aan te neem (Op. 7:1-17), sal diepgaande vyandigheid intree en gelowiges van daardie tyd sal in groot getalle tereggestel word omdat hulle sal weier om die Antichris te aanbid (Op. 6:9-11).

Wanneer Christus met sy heiliges terugkeer, sal dit die einde van die koninkryk van die duisternis se bose heerskappy oor die aarde wees (Op. 19:19–20:3). Die koninkryk van die hemel sal op luisterryke wyse geopenbaar word en die name van al die afgode uitgeroei word (Sag. 13:2). Eers dan sal “die aarde vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Jes. 11:9). Alle mense sal die Here dien, maar veral die geredde oorblyfsel in Israel: “Hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie” (Jer. 31:34).

Wat ‘n wonderlike toekoms om na uit te sien! Ons het alle rede om standvastig en onbeweeglik in die diens van die Here te bly, al moet ons deur vele verdrukkinge in sy koninkryk ingaan. Ons moet vasstaan in die Here, volhard totdat Hy kom en vasbeslote wees om geen kompromie met die gees van eindtydse afvalligheid te maak nie. Ons moet die Here se opdragte stiptelik uitvoer om uiteindelik as goeie en getroue diensknegte bestempel te kan word, en moet sorg dat ons met vrymoedigheid rekenskap van ons lewens voor die regterstoel van Christus sal kan gee. Dan alleen sal Hy ons oor veel in sy koninkryk kan aanstel (Matt. 25:23).

Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.