Ons kan nie onder die Wet én die Genade wees nie!

Prof. Johan Malan, Middelburg (September 2008)

Daar is ‘n baie gevaarlike geestelike beweging onder Christene in verskeie wêrelddele aan die gang, om in sekere opsigte na die Ou Testamentiese wet terug te keer. Hulle doen dit onder die misleidende veronderstelling dat uiterlike wetsnakoming tot die genade van Christus kan toevoeg en dus van hulle beter Christene sal maak. Die teenoorgestelde situasie is eerder waar, omdat hierdie gebruik mense se saligheid in die gedrang kan bring.

‘n Objektiewe studie van die wet in die Nuwe Testament (NT), sonder om selektief net sekere gedeeltes aan te haal wat jou siening ondersteun, toon duidelik aan dat ons in die tyd ná Jesus se kruisiging, opstanding en die uitstorting van die Heilige Gees, nie meer onder die wet is nie:
·       “Die sonde sal oor julle nie heers nie, want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade” (Rom. 6:14). Ons word nie deur die wet van sonde oortuig nie, maar deur die Heilige Gees wat die genade van Christus aan ons bedien en sý beeld in ons lewens uitwerk. Alles wat met die natuur van Christus in botsing is, is sonde. Die NT lig ons breedvoerig in oor die werke van die vlees (sonde) en die vrug van die Gees wat God se geregtigheid verteenwoordig (vgl. Gal. 5:16-22).
·       “Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo” (Rom. 10:4). Die genadewerk van die Here Jesus, asook die voorbeeld van sy volmaakte lewe (1 Joh. 2:6; 1 Pet. 2:21), roep ons op en stel ons ook in staat om hoër hoogtes in ons geestelike lewe te bereik. Om die Here Jesus in die geloof te volg, lei na ‘n meer verhewe vlak van heiligmaking as wat die wet kon doen. Met die oog hierop het Paulus gesê dat sy geregtigheid nie uit die wet is nie, maar deur geloof in Jesus Christus (Fil. 3:9).
·       “As daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterf” (Gal. 2:21). Die wet maak die hele wêreld voor God doemwaardig (Rom. 3:19), omdat niemand dit kan nakom nie en geen mens dus daardeur gered kan word nie. Die wet bring net aan ons die kennis van sonde, maar kan ons nie red nie. Ons kan slegs deur die aanvaarding van Christus se soendood gered word en onsself daarna oorgee om deur sy Gees in die hele waarheid gelei te word.
·       “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval” (Gal. 54). Enige Christen wat die genadewerk van die Here Jesus deur wetsnakoming probeer aanvul – al is dit net ‘n wettiese sabbatsonderhouding – sê in werklikheid daardeur dat Christus nie vir hom genoeg is nie en doen daardeur afbreuk aan die kruisevangelie. Ons kan nie tegelyk onder die wet én die genade wees nie!
Die verwysing na wetsonderhouding in Mattheus 5:17-19 was ‘n geldige uitspraak vir daardie tyd, omdat Jesus se versoeningswerk toe nog nie gedoen was nie, en die Heilige Gees ook nog nie uitgestort was om mense van sonde te oortuig nie. Die wet vervul die funksie as ‘n tugmeester na Christus toe omdat net Hý kan red (Gal. 3:24). Die relevansie van die wet as ‘n tugmeester bestaan nog steeds, maar ons kan dit in die tyd ná Christus slegs op ongeredde sondaars van toepassing maak: “... die wet is nie gegee vir die regverdige nie, maar vir die wettelose en tugtelose mense, goddelose en sondaars, onheiliges en ongewydes” (1 Tim. 1:9).
Proff. Walvoord & Zuck (The Bible Knowledge Commentary, bl. 732), sê die volgende oor hierdie teks: “The law is designed to show people their sinfulness. Thus the law is not for one who had already recognized his sin and turned to Christ. That person is no longer under the law but should now walk in the Spirit (Gal. 5:13-26). The law is intended for those who remain unconvinced of their sin.”
“Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester [die wet] nie” (Gal. 3:25). Die enigste wet waaronder ons is, is Christus se Nuwe Testamentiese wet van die liefde: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê” (Joh. 13:34). As ons God en ons naaste liefhet, het ons die hele wet vervul (Matt. 22:37-40; Rom. 13:8-10). Dit sluit ook die bepaling oor die Sabbat in, want in Christus betree ons die rus van die Here. Daar is geen probleem daarmee om 'n rusdag in die week te bepaal (Sondag), en sodoende ‘n baie ou Christelike tradisie te handhaaf en te eerbiedig nie, maar daar is geen wetlike bepalings daaroor in die Bybel nie.
Die liefde van God is deur die Heilige Gees in ons harte uitgestort (Rom. 5:5) en stel ons in staat om geestelik op 'n hoër vlak as die wet te leef. Daar is dus hoegenaamd geen sprake daarvan dat die vryheid van die wet wat ons in Christus het (Gal. 5:1), na ‘n losbandige lewe kan lei nie. Ons het ‘n duidelike opdrag tot heiligmaking, en ook ‘n hoë roeping van God in Christus Jesus. ‘n Terugkeer na die wet sal ons in geen opsig help om ‘n hoër vlak van heiligheid te bereik nie.
Waarom wil so baie mense na die swak en armoedige beginsels van die wet terugkeer deur weer dae, maande, tye en jare waar te neem? (Gal. 4:9-10). Hierdie gebruike verwys na sabbatte, nuwe mane, sabbatsjare en ander OT feeste. Dit is ondenkbaar dat gelowiges groter aanvaarding deur God soek deur na die skaduwees van die wet terug te keer nadat hulle die volle vervulling van God se genadewerk deur Jesus Christus in die NT ontvang het. Is Christus, die Heilige Gees, en God se liefde nie vir hulle genoeg nie? Wil hulle dit deur die wet aanvul en sodoende afbreuk aan die genade doen? Laat dit ver van ons af wees om in hierdie dwaling te verval.

Hebreeuse wortels of Christelike wortels?

Die Hebreeuse Wortels-beweging (Eng. Hebrew Roots Movement) is een van verskeie bewegings wat hulle beywer om die wortels van ons geloof in Israel se taal, kultuur en godsdienstige gebruike na te speur. Hulle gebruik die beeld van die olyfboom in Romeine 11 as Bybelse regverdiging vir hulle beweging. Die olyfboom word as Israel gesien, en die inenting van die wilde olyftakke as die redding van nie-Jode wat dan deel van ‘n “geestelike Israel” word. Christene uit die nie-Joodse wêreld moet dan geestelik gestig en gevoed word deur die sap wat uit die stam en wortels van die olyfboom (Israel) aan hulle gebied word.
In die proses ontwikkel baie van dié gelowiges ‘n sterk Joodse oriëntasie, noem hulleself geestelike Jode of Israeliete, en begin daarna om Joodse feeste en sabbatte te onderhou. Hulle toon ook ‘n voorliefde om Hebreeuse name en terme te gebruik – veral die Hebreeuse name van God en van Christus. Uiteindelik reduseer hulle hulself tot weinig meer as ‘n Christelike sekte van Judaïsme, wat tegelyk onder die wet én die genade probeer leef.
Gelowiges wat meen dat hulle in die volk Israel geënt is, sê daardeur dat hulle in ‘n volk ingeënt is wat die afgelope byna 2000 jaar in verstrooiing was weens die verwerping van die Messias as gevolg van ongeloof en onkunde oor Messiaanse profesieë in die OT. Noudat hierdie volk (steeds in ongeloof) in hulle land herstel word, en feeste (insluitende sabbatte) vier waarin Jesus steeds verloën word, doen baie Christene met hulle mee!
Die Hebreeuse Wortels-beweging mislei hulleself deur die stelling dat die hele olyfboom op Israel dui. In werklikheid dui net die takke van die boom op Israel, en dit is juis hierdie takke wat weens ongeloof afgekap is. Ons is nie in die afgekapte takke van die boom ingeënt nie, maar in die stam. Die stam en die wortels van die olyfboom dui geestelik op die Messias. Hy word as die “saad van Abraham” beskryf, wat die biologiese stamvader van Israel is:
“En die Skrif wat vooruit gesien het dat God die heidene uit die geloof sou regverdig, het vooraf aan Abraham die evangelie verkondig met die woorde: In jou sal al die volke geseën word. Sodat die wat uit die geloof is, geseën word saam met die gelowige Abraham ... Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word ... sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang ... Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus” (Gal. 3:8-16).
Die geestelike seën wat ons verkry, is nie uit die Joodse volk nie, maar uit die saad van Abraham, naamlik Christus. Hy is “die wortel en die geslag van Dawid” (Op. 22:16), m.a.w. die oorsprong en Koning van Israel wat ook gekom het om die lig en redding van die hele wêreld te wees (Hand. 13:47). ‘n Soortgelyke beeldspraak van die stam en wortel wat op Jesus dui, met die gelowiges as die takke wat vrugte moet dra, word in Johannes 15 aangetref: “Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug” (Joh. 15:5). Die lote word skoongemaak sodat hulle meer vrug kan dra. Heiligmaking moet nagestreef word, asook ‘n onafgebroke verhouding met die Here Jesus: “Bly in My, soos Ek in julle” (Joh. 15:4). Ons moet dus nie meer Joods, meer Ou Testamenties of meer wetties raak nie, maar meer Christelik, meer Nuwe Testamenties, en meer Geesvervuld.
Die Ou Testament is wél belangrik om ons geestelik te stig en oor die ontplooiing van God se raadsplan met die mense ingelig te word. Dit bevat ook talle profesieë oor die eerste én tweede koms van die Messias, asook dit wat ná die wederkoms van Christus gaan gebeur – veral gedurende die duisendjarige vrederyk wanneer die geredde Israel tydens die geopenbaarde koninkryk van die Messias in hulle land sal woon en vir die hele wêreld ‘n seën sal wees. Die NT is die vervulling van OT beloftes – dit is die substansie van OT “skaduwees” (Kol. 2:16-17). Dit sou dwaas wees om na die skaduwees van die wet en die profete terug te keer nadat ons die heerlike vervulling daarvan in die Here Jesus, asook in die uitstorting van die Heilige Gees, verkry het. Dit is nie ons taak om soos Israel te probeer word nie, maar om geestelik verblinde Israeli’s aan die Messias voor te stel! Gebruik OT profesieë om hulle te oortuig dat Jesus van Nasaret inderdaad die Messias en Verlosser van die wêreld is.

Hebreeuse name

‘n Inherente deel van die Judaïsering van die Christendom is die gebruik van Hebreeuse name vir God en die Here Jesus. Dit staan as die Sacred Name-beweging bekend wat grootliks op onkunde en valse aannames gebaseer is. Sommige van hulle gaan selfs so ver as om te beweer dat die Griekse name vir God – waarvan ook die name in ander tale afgelei is – almal op afgode dui. Daar word bv. beweer dat Jesus van Je-Zeus afgelei is, wat Seun van Zeusbeteken (‘n bekende afgod in die Griekse mitologie). Om duidelikheid oor hierdie omstrede saak te kry, sal ons die gebruik van verskillende tale in Bybelse tye moet ondersoek.
Tydens die Assiriese en latere Babiloniese ballingskap van Israel, en ook daarna, het die meeste Jode verleer om Hebreeus te praat. Hulle het Aramees en Grieks aangeleer en as omgangstale gebruik. Aramees was ‘n omgangstaal wat in die hele Midde-Ooste deur baie volke gepraat is. Dit was ‘n mengsel tussen Siries en Hebreeus. “Aram” is die Bybelse naam vir Sirië. In die tyd van Jesus was Aramees ook die omgangstaal in Israel. Jesus en sy dissipels het ‘n Galilese dialek van Aramees gepraat. Die kennis van Hebreeus was beperk tot geleerde Jode, bv. die rabbi’s en skrifgeleerdes.
Daar is na Jesus Christus in Aramees as Eashoa Msheekha verwys, in Hebreeus as Yashua (of YeshuaHa Mashiach, en in Grieks as Iesous Christos (Iesous met die ongeaspireerde “i” word as Yesous uitgespreek). Al die boeke van die Nuwe Testament is oorspronklik deur die inspirasie van die Heilige Gees in Grieks ingegee (vgl. 2 Tim. 3:16; 2 Pet. 1:21), en daarin word na God as Theos, Here as Kurios, en Jesus Christus as Iesous Christos verwys. Dit is lasterlik om te beweer dat dit name van afgode uit ‘n nie-Joodse kultuur is. Die Griekse name vir God (Theos enKurios) was toe al vir meer as twee eeue lank gevestig en ook in Israel algemeen in gebruik. Dit was nooit omstrede nie.
Die naamwoorde God of gode kan egter as generiese terme ook na afgode verwys, afhangende van die konteks waarin dit gebruik word. So bv. word die duiwel as die god (theos) van hierdie wêreld beskryf (2 Kor. 4:4). Dieselfde reël geld ook in Hebreeus, waar Elohim na sowel God as afgode kan verwys. In Exodus 20:2-3 staan daar: “Ek is die Here (Yahweh) jou God (Elohim) ... jy mag geen ander gode (elohim) voor my aangesig hê nie.” Beide die Griekse en Hebreeuse eiename én naamwoorde is oorspronklik deur die Heilige Gees gebruik toe Hy die Bybelskrywers geïnspireer het, en dit is foutief om te beweer dat die Griekse name swak vertalings van die Hebreeuse name is.
In die tyd van Jesus was Aramees die algemene omgangstaal in Israel. Die stelling in Handelinge 21:40 dat Paulus die volk in Hebreeus toegespreek het, behoort meer korrek vertaal te word as “in ‘n Hebreeuse dialek” – in hierdie geval Aramees. Die Amplified Bible asook die Modern King James Version sê: “... he spoke to them in the Hebrew dialect.” Die NIV vertaal dit só: “...he said to them in Aramaic”. In hulle Bible Knowledge Commentary (bl. 417) sê proff. Walvoord & Zuck: “When Paul was granted permission to speak to the mob, he addressed them in Aramaic, the common language of Palestinian Jews, used throughout the Middle East at that time.” Baie van hulle was ook Grieks magtig.

Septuagint

Die Septuagint is ‘n Griekse vertaling van die Ou Testament, wat in die 3de eeu voor Christus vir gebruik deur Griekssprekende Jode in Alexandrië, Egipte, opgestel is. Dit is baie algemeen deur Hellenistiese Jode gebruik, wat oral in die Griekse ryk verspreid geraak en gaandeweg verleer het om Hebreeus te praat. Hierdie geskrif het ook aan nie-Jode insae in Israel se geskiedenis, kultuur en godsdienstige ontwikkeling gegee. Septuaginta is die Latyns vir 70 en verwys na 70 Joodse geleerdes wat die vertaling gedoen het, daarom word dit ook as LXX afgekort. Sommige bronne beweer dat daar 72 vertalers was – ses uit elk van die 12 stamme van Israel.
In aansluiting hierby is alle boeke van die Nuwe Testament aanvanklik in Grieks geskryf. Dit is waarom ons op verskeie plekke die woorde vind: “… as dit vertaal word …” (kyk Matt. 1:23; Mark. 5:41; 15:22; 15:34; Joh. 1:39; 1:42; Hand. 4:36; 9:36). Dit dui op sekere Aramese en Hebreeuse woorde wat in Grieks vertaal is. Die skrywers het meesal uit die Septuagint aangehaal en met enkele uitsonderings uit die Hebreeus en Aramees. Daar is ruim bewyse in die evangelies dat aanhalings uit die Septuagint gedoen is, en nie uit die Hebreeuse teks van die OT nie.
Hebreeuse teks toon geen vokale aan nie en is eers baie later gevokaliseer. Dit is onder andere waarom die sg. “Bybelkodes” nie kan werk nie. Aramese woorde word ook in die NT gevind, soos Fariseër en Abba. Skrywers het uit die Griekse Septuagint aangehaal, want dit was die voertaal tydens die skryf van die NT.
Daar is algemene konsensus onder kenners van die oorspronklike tale dat skrywers van die NT hoofsaaklik uit die Septuagint aangehaal het. Die OT gedeeltes waaruit Romeine 3:13-18 en Hebreërs 1:6 aanhaal, verskyn nie eers in die Hebreeuse tekste nie, maar het alleenlik in die Septuagint behoue gebly. Proff. Walvoord & Zuck (ibid. bl. 782) sê onder andere die volgende oor Heb. 1:6: “The reference is to the Second Advent when the kingly prerogatives of the Son will be recognized with open angelic worship (cf. Ps. 97:7 where the LXX rendering ‘angels’ correctly renders the text).”
In die lig van hierdie feite is dit onmoontlik dat die Godsnaam net in Hebreeus gebruik behoort te word. Niemand weet in elk geval presies hoe die Godsnaam in Hebreeus uitgespreek word nie. Die Tetragram (vierletterwoord, YHWH), kan in gevokaliseerde vorm op baie verskillende maniere uitgespreek word, o.a. Yahweh, Yehowah en Yahuweh. Daar is ook nie eenstemmigheid oor hoe Jesus se Naam in Hebreeus uitgespreek word nie – Yeshua, Yahshua of Yahushua.

Gevolgtrekking

Ons staan teologies op veilige grond wanneer ons die name God, Here en Jesus Christus gebruik, wat op die Griekse vorms daarvan gebaseer is. Die Hebraïsering van name en godsdienstige terme lei meesal ook na ‘n teologiese oriëntasie waarin aspekte van die Ou Testamentiese wet en verbonde met Israel, ten koste van die algenoegsaamheid van Jesus Christus se genadewerk in die NT beklemtoon word. Wanneer die kerk of enige ander groep gelowiges hulleself as Israel sien, word daar teologiese ruimte vir dwalings van hierdie aard geskep.
Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.