Toegerekende Geregtigheid Sonder Bekering?

Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Mei 2011)

’n Gevaarlike gebruik in die meeste Christelike kerke, selfs ook onder dié wat ‘n evangeliese belydenis huldig, is die verlaging van geestelike standaarde sodat hulle die eis van ‘n heelhartige bekering kan vermy. Geloof in Christus word op só ‘n manier verkondig dat die geregtigheid van God aan alle gelowiges toegereken word sonder om van hulle ‘n wederkerige reaksie van bekering uit alle bekende sondes te verwag. In terme van hierdie foutiewe begrip van regverdigmaking moet sondes bely maar nie noodwendig laat staan word nie.

Op sy webtuiste www.gracethrufaith.com aanvaar Jack Kelley openlik die omstrede leer van regverdigmaking deur toegerekende geregtigheid sonder ‘n duidelike verpligting op sondaars om hulle van hul sondes te bekeer. Volgens hom word die heilige natuur van Christus aan ons toegereken, en dit is die enigste natuur wat God sien wanneer Hy na ons kyk. Solank as wat ons ons vertroue in Christus stel om ons te red, word die sondes wat ons steeds doen nie teen ons gehou nie, omdat die Here Jesus gesterf het om al ons sonde van die verlede, hede en toekoms te vergewe. In sy artikel “Left behind for bad behavior?” sê Jack Kelley:

“As gevolg van ons geloof in die algenoegsaamheid van die kruis, is dit vir God moontlik om ons nie te sien soos wat ons is nie, maar soos wat ons sal wees wanneer ons vervolmaak word tydens die wegraping. Die sonde wat ons steeds doen, word beskou asof dit nie meer ons is wat dit doen nie, maar die sondige natuur wat tydelik nog in ons woon. Paulus sê: ‘Om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie. Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. Maar as ek doen wat ek nie wil nie, dan doen ek dit nie meer nie, maar die sonde wat in my woon’ (Rom. 7:18-20).”

Tot watter betreurenswaardige en lae geestelike standaard het ons nie gedaal nie as ons die beskrywing in Romeine 7:13-24 as ‘n weergawe van die normale Christelike lewe beskou! Paulus verwys hier terug na die tyd toe hy deur die wet ontwaak het en deur die wet bewus was van die sonde wat hom toe ten volle beheer het. Hy was nog nie deur Christus gered nie, en in daardie tyd dus nog ‘n gewoontesondaar: “Ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens; maar ek sien ‘n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is. Ek, ellendige mens!” (Rom. 7:22-24).

Is dit ‘n redelike beskrywing van Paulus se lewe? Was hy ná sy bekering ‘n persoon wat homself verbly het in die wet (nie in die kruis van Christus nie), en ook ‘n verdorwe en volhardende slaaf van sonde? Die tydsvorm van die werkwoorde in hierdie gedeelte dui op voortdurende aksies en ‘n ononderbroke toestand. Paulus sê: “Want die goeie wat ek wil, doen ek [aanhoudend] nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek [aanhoudend]” (Rom. 7:19). Dit is ‘n herhaling van wat hy reeds gesê het: “Want wat ek wil, dit doen ek [aanhoudend] nie, maar wat ek haat, dit doen ek [aanhoudend]” (Rom. 7:15). In die laaste paar verse van die hoofstuk bied hy die oplossing aan vir hierdie ernstige probleem van bewus te wees van jou sonde deur die verligting van die wet, terwyl jy steeds ‘n hulpelose slaaf van jou ou, sondige natuur is: “Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!” (Rom. 7:24-25). Die wet kon hom nie red nie, maar was vir hom ‘n tugmeester na Christus toe (Gal. 3:24-25).

Na ons bekering moet ons voortdurend identifiseer met die dood en opstanding van Jesus Christus: “So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dood lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God. Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade” (Rom. 6:11-14).

Dit beteken nie dat ons ‘n toestand van sondelose volmaaktheid sal bereik nie, maar ons moet ten minste daarna streef. Paulus sê: “Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp” (Fil. 3:12). Op die pad van vervolmaking moet ons na geestelike volwassenheid opgroei, “tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering” (Ef. 4:13-14).

Indien ons só wil opgroei, moet daar by ons ‘n daadwerklike verbintenis wees tot die uitvoering van die opdrag tot heiligmaking. Ons ontvang hierdie seën slegs indien ons onsself aktief daarvoor beywer: “Laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Kor. 7:1). Besoedeling van die vlees verwys na sondes op morele gebied, terwyl geestelike besoedeling na valse leerstellings verwys waarvoor ons onsself oopgestel het. In die proses van heiligmaking lei die Heilige Gees ons na dieper waarhede van die Woord van God (Joh. 16:13). Indien ons onsself nie heelhartig aan die opdrag tot heiligmaking wy nie, dan weerstaan of verwerp ons in werklikheid die Heilige Gees: “Dit is die wil van God, julle heiligmaking... Hy wat dit verwerp, verwerp nie ‘n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het” (1 Thess. 4:3,8).

Ons kan nie doelbewus in sekere sondes voortleef nie, omdat dit na ‘n gebroke verhouding met die Here lei. Volhardende sonde kan mense beslis uit die hemel hou. As ons in die versoening leef (of onder die bloed, soos sommige verkies om dit te noem), moet alle sonde waarvan die Heilige Gees ons oortuig, dadelik bely en laat staan word (Spr. 28:13; 1 Joh. 1:9). Hierdie sondes word gedoen as gevolg van die swakhede van ons menslike liggaam en natuur (vgl. Rom. 6:19).

Swakheid is nie sonde nie, maar ‘n menslike kenmerk wat wel tot sonde kan lei (vgl. Heb. 5:2; 7:28). Ons het ‘n menslike liggaam wat weens sy sintuie blootgestel is aan versoekings van die wêreld, die duiwel en die begeerlikheid van sonde. Ons is ook met ander swakhede bevange, bv. beperkte kennis en liggaamskragte, asook negatiewe emosies wat soms beheer oor ons verkry. Omdat Jesus ‘n menslike liggaam soos dié van ons gehad het, kon Hy self ook versoek word, maar het nooit daaraan toegegee nie. Hy het egter volle begrip vir ons probleem en is altyd daar om ons swakhede te hulp te snel, krag vir uitkoms en oorwinning te gee, en ook te vergewe indien ons gesondig het:

“Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Heb. 4:15-16). “Deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word” (Heb. 2:18).

Indien ons egter die genadetroon vermy waar ons van alle ongeregtigheid vergewe en gereinig kan word, en eerder moedswillig en aanhoudend in sonde leef, raak ons by ‘n lewenstyl betrokke wat op geestelike rebellie teen God neerkom. Sulke “gelowiges” word gewoontesondaars wat nie langer daarop aanspraak kan maak dat hulle die beskerming van die versoening geniet nie. Hulle wandel nie deur die Gees nie (vgl. Gal. 5:16) maar bly onder die heerskappy van die vlees met sy sondige begeertes. “As julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe” (Rom. 8:13).

Afvalliges wat weer aan die vlees vrye teuels gee en op die bose pad van die sonde volhard, sal in ‘n stadium hulle geloof en saligheid verloor (vgl. Joh. 15:6; Heb. 3:12-13). Dit is egter nie hoe Jack Kelley dit sien nie. Volgens hom geniet elke gelowige die ewige sekerheid van verlossing, ongeag van hoe hy of sy lewe. Hy sê: “Hoewel ons ten sterkste aangemoedig word om te lewe op ‘n manier wat goed is in die oë van die Here, word ons nêrens in die Nuwe Testament meegedeel dat ons gedrag ons saligheid kan beïnvloed of ons deelname aan die wegraping in gevaar kan stel nie. Hoewel ons teoreties kan doen net wat ons wil, is sekere vorms van gedrag bloot net nie goed nie” (Left behind for bad behavior?).

In ‘n ander artikel op Kelley se webtuiste bevestig hy hierdie siening: “Ons word regverdig verklaar op grond van ons geloof – net so regverdig as wat God is. Dit kan gedoen word omdat Jesus aan die kruis elke sonde van ons lewe uit die verlede, hede én toekoms op Homself geneem en die straf daarvoor betaal het (Kol. 2:13-15). God beskou ons nie meer as ongeregtig nie, en daar is geen sonde wat ons kan doen wat ons in ‘n sodanige toestand kan laat beland nie, omdat Jesus reeds versoening vir al die sondes van ons lewe gedoen het” (OSAS en 1 Kor. 6:9-10; OSAS=Once Saved, Always Saved).

Hierdie versekering, wat baie gerusstellend is vir alle teruggevallenes en moedswillige sondaars in die kerk, word ook aan “gelowige homoseksuele en lesbiërs” gegee.


Die posisie van ‘gay gelowiges’

Die volgende vraag en antwoord oor die posisie van gay gelowiges verskyn ook op Jack Kelley se webblad:

“Vraag: U reaksie op die vrou wie se suster gay maar gelowig is, het my tot nadenke gestem... Ek het altyd gedink dat 1 Korinthiërs 6:9-10 duidelik sê dat diegene wat sulke dinge doen, nie die koninkryk van God sal beërf nie. Dit het my laat wonder hoe iemand wat homoseksueel leef en wat van die sondigheid daarvan bewus is, soos sy blyk te wees, maar haar nie daarvan bekeer nie, steeds ingesluit sal wees by die wegraping van die kerk? Beteken ‘bekering’ nie dat ‘n mens letterlik van jou sonde moet wegdraai om ‘n nuwe lewe te lei nie? ... Dit is vir my baie moeilik om u reaksie met hierdie vrou se vraag te versoen... Hou asb. in gedagte dat ek nie die mening toegedaan is dat homoseksuele sonde groter of erger as enige ander sonde is nie. Ek glo vas dat nie een van ons volmaak is nie, en dat dit net deur Christus se bloed en genade is dat ons gered word, maar ek glo ook dat ek ‘n verantwoordelikheid het om met vrees en bewing my verlossing uit te leef. Ek weet dat dit in redding nie oor werke gaan nie, maar behoort ons lewens nie so gelei te word dat dit meer lyk soos Christus as die res van wêreld waarin ons leef nie? Kan u asb. meer duidelikheid hieroor gee.

“Antwoord: Vergewe my by voorbaat omdat ek nie so diplomaties in my antwoord gaan wees as wat u was toe u die vraag gestel het nie. Ek het al verskeie vrae hieroor ontvang, en ek wil seker maak dat ek reg verstaan word deur u en al die ander wat al hieroor gevra het.

“In 1 Korinthiërs 6:9-10 is die sleutelstelling: ‘Die onregverdiges [sal] die koninkryk van God nie beërwe nie.’ Paulus het dit opgevolg met ‘n beperkte lys van gedragspatrone wat kenmerkend van ongeregtigheid is. Die probleem is dat baie van die regverdiges soms ook hierdie gedrag openbaar. U hoef net ‘n gedeelte van die Bergpredikasie te lees om dit raak te sien. Hoe kan dit wees? Dit is omdat ons geregtigheid deur die geloof aan ons toegereken word, ten spyte van ons gedrag. In die oë van God is die oue mens reeds weg en het die nuwe mens gekom (2 Kor. 5:17). Die aanvaarding van die Here Jesus se dood as die betaling vir ons sonde, maak ons net so regverdig as wat God is (2 Kor. 5:21). Ons is nie meer deel van die onregverdiges wat nie die koninkryk sal beërf nie.

“Die skryfster sê haar suster is weergebore en erken self dat haar gedrag sondig is. Sy is dus berouvol (repentant), en om berou te hê en tot bekering te kom, beteken net dat jy van standpunt moet verander. Dit beteken nie dat jy sal ophou om sonde te doen nie. Indien dit die geval was, sou die Bybel se vermaning dat ons tot bekering moet kom en gered word, nie sin maak nie, omdat ons nie gered hoef te word as ons kan ophou om sonde te doen nie. Selfs Paulus het bely dat hy nie kon ophou om sonde te doen nie, maar hy was dankbaar dat, wanneer hy gesondig het, die Here dit gesien het as iets wat nie uit homself kom nie, maar uit die sondige natuur wat nog steeds in hom gelewe het (Rom. 7:20).

“Regdeur die Nuwe Testament word ons gemaan om te lewe op ‘n manier wat vir God behaaglik is, om daardeur dankbaarheid vir ons redding te betoon; maar ons word nêrens met die verlies van ons redding gedreig as ons dit nie doen nie. Hierdie vrou leef nie ‘n oorwinnende lewe op aarde nie, en sal sekere seëninge verbeur as gevolg daarvan, maar haar plek as ‘n geredde persoon in die ewigheid is nie een daarvan nie...

“Indien die skryfster se suster weergebore is, dan is haar plek in die koninkryk gewaarborg (Ef. 1:13-14), daarom sal sy tydens die wegraping saamgaan. Wanneer sy in die hemel aankom, sal sy ‘n volmaakte, nuwe liggaam hê en al haar sondes sal deel van ‘n donker en verre verlede wees, net soos joune en myne. Tot dan is die enigste verskil tussen ons dat haar sondes meer sigbaar vir ons is as wat ons s’n vir haar is.” (Einde van aanhaling uit www.gracethrufaith.com).

Reaksie

Jack Kelley en alle eendersdenkendes moet daaraan herinner word dat die belofte van ‘n opstandingsliggaam en ‘n lewe van sondeloosheid in die hemel, geen verskoning is om tydens ons huidige bestaan in moedswillige sondes te lewe nie. Die Here Jesus het nie net na die aarde gekom om die prys vir ons sonde te betaal nie, maar ook om sy volgelinge “van hulle sondes te verlos” (Matt. 1:21). Hy is “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Joh. 1:29). Hoe kan ons ‘n lewe van moedswillige en aanhoudende sonde lei, en steeds meen dat ons van ons sondes verlos is? Hoe kan sulke gelowiges ooit bely dat hulle die vlees met sy begeerlikhede gekruisig het?

Geestelike veragtering is ‘n baie werklike en tragiese moontlikheid in die lewens van diegene wat vir sonde plek maak en dan verslaafde dronkaards, hoereerders, egbrekers, homoseksuele, diewe of rowers word (1 Kor. 6:9-11). Paulus deel lidmate van die gemeente in Korinte op ‘n duidelike en ondubbelsinnige wyse mee dat indien hulle volhardend in sulke sondes leef, hulle die koninkryk van die hemel nie sal sien nie. Hoe kan hulle daarop aanspraak maak dat hulle gewas, geheilig en van hulle sondes verlos is indien hulle steeds daarin lewe? Sulke mense mislei hulleself en beoefen ‘n dooie geloof sonder werke (Jak. 2:26).

Vir Jack Kelley is dit egter in orde om permanent homoseksueel te leef indien jy net die getuienis het dat jy Christus as jou Verlosser aangeneem het. Volgens hom sal God nooit weer jou sondige dade in ag neem nie, omdat Hy in jou net die volmaakte lewe van sy Seun sal sien wat aan jou toegereken is. Dit is nie wat die Bybel sê nie. Paulus het die teruggevalle Joodse Christene gewaarsku dat volhardende sonde uiteindelik hulle geloof sou vernietig en aan hulle bose harte sou gee. Hulle was aanvanklik “broeders in Christus” maar het geëindig as verharde sondaars wat van God afvallig geraak het:

“Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. Maar vermaan mekaar elke dag solank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie” (Heb. 3:12-13). Sulke mense is nie oorwinnaars nie omdat hulle nie tot die einde toe op die weg van heiligmaking volhard het nie: “Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Heb. 3:14).

Ons is op ‘n smal pad wat nie ruimte bied vir kompromiemakery en sondige lewenstyle wat deur ‘n uiterlike gedaante van godsaligheid bedek word nie. Menslike swakhede en persoonlike vryhede kan nie as verskonings aangebied word vir ‘n gebrek aan heiligmaking en ware toewyding aan die Here Jesus nie – ook nie ‘n vorm van toegerekende geregtigheid wat geen morele eise aan jou stel nie. “Jaag die... heiligmaking na, waarsonder niemand die Here sal sien nie” (Heb. 12:14).

Paulus sê dat ons op die dag van die wegraping onberispelik moet wees na gees, siel én liggaam (1 Thess. 5:23). Die Here neem dus nie net ons geestelike toewyding aan Hom in ag nie, maar ook ons sielkundige ingesteldheid en liggaamlike gedrag. Ons moet ‘n lewe lei van voortdurende aflê en beklee:

“Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is, waardeur die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom, waarin julle ook vroeër gewandel het toe julle daarin geleef het. Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond. Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper” (Kol. 3:5-10; vgl. 1 Pet. 2:1-2; Jak. 1:21-22; Ef. 4:31-32).

Sondes moet bely en laat staan word soos wat ons daarvan bewus raak, en in die plek daarvan moet ons met die heilige natuur van Christus beklee word. Die Kolossense word in bogenoemde gedeelte daaraan herinner dat hulle vroeër in sekere sondes gewandel het, en dat dit van hulle ongehoorsame mense gemaak het wat onder die toorn van God verkeer het. Hulle was egter daarvan verlos, maar word gemaan om voort te gaan en alle ander sondes waarvan hulle bewus word, te bely en af te lê. Daar is geen opdrag om sonde net te bely, soos wat Kelley sê, en dan vry te wees om dit aan te hou doen nie. Ons moet die sirkel nouer trek en ook verkeerde gesindhede, leuens, woede en vuil taal aflê, omdat dit in botsing met Christus se heilige natuur is.

Dit is net wanneer ons ‘n volle oorgawe gedoen het dat die ou natuur met sy sondige neigings oorgegee word om gekruisig te word, en ons dan met die Heilige Gees en die natuur van Christus vervul sal word. Daarna moet ons hele lewenswyse van die leiding van die Heilige Gees getuig: “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Gal. 5:16). Die Gees sal ons voortdurend van sonde oortuig, en ook van die geregtigheid van Christus. Indien ons ‘n sekere sonde as onvergeeflik of onoorkombaar beskou, dan onderskat ons die genadewerk van Christus en maak van onsself slawe van die betrokke sonde. Hoe sal die wêreld ons dan as verlostes beskou? Die Here sal dit nog minder doen. Kom na Hom toe met jou sonde, want Hy is magtig om te verlos.

Neem ons ‘n duidelike standpunt in teen alle vorms van sonde, soos wat die Here ook doen? God haat sonde, daarom het Hy nog altyd baie duidelik gewys dat sy toorn oor sondaars rus. Hierdie eienskap van God geld sedert prehistoriese tye toe Hy Satan en sy gevolg van rebelse engele uit die hemel gewerp het. Die menslike geskiedenis lewer ook oorvloedige bewys hiervan. Dink maar aan Adam en Eva se uitwerping uit die Tuin van Eden ná die sondeval, Israel se verdrywing uit die Beloofde Land weens volhardende goddeloosheid, en Christus se verwerping van die eindtydse kerk (Laodicéa) omdat hulle uiterste materialisme en selfregverdiging na geestelike bankrotskap en ‘n dooie vormgodsdiens lei (Op. 3:15-17). Die eindtydse kerk is ook die slagoffers van duiwelsgeïnspireerde dwalings, en dit het veroorsaak dat hulle geestelik totaal van die waarheid af weggeval het (1 Tim. 4:1). Gelukkig is daar nog relatief klein evangeliese gemeentes wat nie van die waarheid afvallig geword het nie (Op. 3:8), maar hulle is min en ver uitmekaar.

Die uiterlike gedrag van mense is ‘n weerspieëling van hulle innerlike geestelike toestand. Wanneer iemand tot bekering gekom en op grond van sy geloof in die Drie-enige God salig gemaak is, moet dit ook in sy gedrag waarneembaar wees, want hy moet vrugte dra wat by die bekering pas. Wat gebeur indien só ‘n persoon na sy sondige lewenspatroon van voor sy bekering terugkeer? Kan hy op ewige sekerheid aanspraak maak as hy nie meer as ‘n heilige wandel nie, en weer saam met die sondaars begin eet en drink? (vgl. Matt. 24:48-51).

“Maar as die regverdige afwyk van sy geregtigheid en onreg doen en handel volgens al die gruwels wat die goddelose doen – sal hy lewe? Aan al sy geregtighede wat hy gedoen het, sal nie gedink word nie; om sy troubreuk wat hy begaan het, en om sy sonde wat hy gedoen het, om hulle ontwil sal hy sterwe” (Eseg. 18:24).

Dieselfde God wat in die tyd van Eségiël ‘n heilige gedragspatroon van gelowiges verwag het, verwag dit nog steeds in Nuwe Testamentiese tye. Dit is ‘n basiese beginsel van God se koninkryk dat ons nie moet sondig nie. Indien ons wel sondig, is dit ‘n ernstige fout wat dadelik reggestel moet word: “Ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. En Hy is ‘n versoening vir ons sondes” (1 Joh. 2:1-2). Die duiwel kla ons voor God se troon aan wanneer ons sondig (Op. 12:10), en maak aanspraak op beheer oor ons indien ons slawe van sonde word. Indien ons getrou bly aan die oortuigings van die Heilige Gees en dadelik ons sonde bely en laat staan, word die aanklagte van die duiwel nietig verklaar en verwerp. Indien ons egter die Heilige Gees se oortuigings weerstaan of ignoreer en onsself teen ons beterwete aan sondige gedrag oorgee, is ons beslis besig om terug te val en nie onder die versoening te leef nie.

Die Here gee aan ons deur sy Gees die krag om meer as oorwinnaars te kan wees. Hy kyk of ons oorwinnend leef en nie voortdurend voor versoekings en sonde swig nie. Die groot Oorwinnaar belowe aan ons: “Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele” (Op. 3:5). Die afvalliges wat van die waarheid van God se woord afgewyk het, se name sal egter uit die boek van die lewe uitgewis word, al was dit in ‘n stadium daarin opgeteken (Op. 22:19).

Geloof en gedrag behoort in harmonie met mekaar te wees. My lewe getuig van dit waaraan ek glo. Indien ‘n persoon ‘n wankelende geloof het, of dalk ‘n vormgodsdienstige is wat die Here net met sy mond bely (Matt. 15:8), sal hy nie die krag van die Heilige Gees in sy lewe hê nie en as gevolg daarvan gedurig voor versoekings en sonde swig. Sulke mense dink omdat hulle geloof hulle salig maak, kan hulle sommer net op ‘n fatalistiese wyse aanvaar dat “ons   almal maar sondaars is” en net moet bid dat die Here ons aanhoudende sondes sal vergewe. Dit is totale kapitulasie voor die mag van sonde, asook ‘n uitdrukking van ongeloof teenoor die Here Jesus as Verlosser. Sulke mense sal verlore gaan, al het hulle die Here se naam bely, hulleself as Christene beskou, en selfs ook vir ander gepreek. Vir die Here is sondige gedrag die bewys van ‘n sondige hart, daarom is dit onmoontlik om verkeerd te lewe en steeds in die regte verhouding met die Here te wees:

“Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind. Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie! So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte. ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken. Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is” (Matt. 7:13-21).

Wat is die wil van die Here? Dat jy in jou hele lewenswandel heilig moet wees (1 Pet. 1:15-16). Paulus sê: “Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery... Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking. Daarom, Hy wat dit verwerp, verwerp nie ‘n mens nie, maar God wat ook sy heilige Gees aan ons gegee het” (1 Thess. 4:3,7,8).

Proff. Walvoord & Zuck (The Bible Knowledge Commentary, bl. 701-703) sê onder meer die volgende oor die opdrag tot heiligmaking in 1 Thessalonicense 4:1-12:

“Die eerste beginsel wat daarop ingestel is om groter heiligheid voort te bring, is die onthouding van seksuele immoraliteit (hoerery). Paulus doen ‘n beroep op sy lesers om dit te vermy en deur die krag van die Heilige Gees dissipline en selfbeheersing te beoefen. Christene moet hulleself weerhou van elke vorm van seksuele gebruike wat buite die Here se wil is, naamlik owerspel, voorhuwelikse en buitehuwelikse seks, homoseksualiteit en ander vorms van seksperversie. Die woord “porneia” wat hier as “hoerery” vertaal word, is ‘n breë begrip en sluit al hierdie gebruike in. Die Thessalonicense het in ‘n heidense omgewing gewoon waarin seksuele bandeloosheid nie net beoefen is nie, maar selfs aangemoedig is... Twee of meer persone wat seks buite God se wil beoefen, stel hulleself aan God se toorn bloot: ‘God sal hoereerders en egbrekers oordeel’ (Heb. 13:4). Hoerery is sonde en God sal alle sonde straf (Rom. 6:23)...
“Die tweede beginsel ten opsigte van heiligmaking is broederliefde. Dit is ‘n gesindheid wat aangekweek moet word... Christene leer gou dat daar ‘n werklike verwantskap tussen gelowiges is, en dat hulle teenoor medechristene in ‘n verhouding staan wat anders is as die verhoudings wat hulle met nie-Christene het... Die bewys dat hulle die les van broederliefde geleer het, was die opregte en onselfsugtige manier waarop hulle in die behoeftes van Christene in ander dele van Macedonië voorsien het...

“Die derde beginsel wat met heiligheid in verband staan, is die bereidwilligheid om met jou eie hande te werk en sodoende nie ‘n las vir andere te wees nie. Paulus het self die voorbeeld gestel deur met sy eie hande te werk toe hy in Thessalonika was (1 Thess. 2:9). Hierdie vers (1 Thess. 4:11) verhef handewerk tot ‘n eerbare aktiwiteit. Die Grieke het op hande-arbeid neergesien en dit sover moontlik aan slawe oorgelaat om te doen. Om ‘n werk te hê is egter ‘n seën en Christene moet nooit hande-arbeid verag of geringskat nie. ‘n Man wat bereid is om met sy hande te werk, demonstreer daardeur sy liefde vir die broeders deur in sy eie sowel as ander se behoeftes te voorsien” (einde van aanhaling).

Daar is ook verskeie ander toepassings van heiligheid wat almal sigbaar gedemonstreer word deur Christelike gedrag. In sy breedste sin kan heiligheid na aanleiding van die volgende kenmerke gedefinieer word:

·       Vervulling met die Heilige Gees, wat sal blyk uit die feit dat só ‘n persoon ‘n goeie getuienis in die samelewing het omdat hy persoonlike heiligheid uitleef en vol van goddelike wysheid is (Hand. 6:3). Hy sal dus nie arrogant wees nie, en ook geen vegter of vuilgewinsoeker nie (1 Tim. 3:1-7; 1 Pet. 5:2-3). Hy sal wandel deur die Gees, en op grond daarvan ‘n oorwinnende, skoon lewe lei (Gal. 5:16).

·       Só ‘n persoon sal geen gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis hê nie, en dit sluit spesifiek ook die gebruik van alkoholiese drank in (Ef. 5:11,18; 1 Tim. 3:3). Ons liggame is ‘n tempel van die Heilige Gees en mag nie deur sondes en sondige gewoontes geskend word nie (1 Kor. 3:16-17).

·       Dié persoon sal vol wees van die liefde van God wat deur die Heilige Gees in sy hart uitgestort sal word (Rom. 5:5). Liefde vir die wêreld en liefde vir sonde is in stryd hiermee en sal nie oor hom heers nie (vgl. 1 Joh. 2:15-17). Diegene wat weer agter ander liefdes aangaan, veragter in die genade en leef nie meer heilig nie (Op. 2:4-5).

·       ‘n Heilige persoon is nederig en diensbaar (Luk. 9:23; Mark. 10:44-45). Hy sal roem in die kruis van Christus en altyd die eer vir dit wat bereik word, aan die Here gee (Gal. 6:14). Hy sal nie hoogmoedig en grootdoenerig wees nie.

·       Ware heiligheid gaan gepaard met die vervulling met die Heilige Gees, wat aan ‘n persoon krag en vrymoedigheid sal gee om die evangelie in ‘n vyandige wêreld te verkondig. Hy sal ‘n liefde vir evangelisasie hê en dit sover as moontlik aanmoedig en ondersteun.

·       Heiligheid gaan met oorwinning oor sonde en al Satan se aanslae gepaard. ‘n Persoon wat vol van die Heilige Gees is, sal kragtig in die Here wees, sodat hy weerstand teen boosheid kan bied en teen al die liste van die duiwel staande kan bly (Ef. 6:10-11).

·       Heiligheid gaan met ‘n lewe van gebed en ‘n vaste geloofsvertroue gepaard (Jak. 1:6; 5:16). ‘n Ware heilige praat meer met God oor siele as wat hy met siele oor God praat, daarom rus die salwing van die Heilige Gees op hom en word sy arbeid geseën.

·       Heiligheid lei altyd na ‘n groot belangstelling in die vervulling van Bybelse profesieë (Joh. 16:13; 1 Thess. 5:20). Ware heiliges waak en bid sodat hulle waardig kan wees om die komende verdrukking te ontvlug (Luk. 21:36). Hulle berei ook voor om onberispelik in heiligheid te wees wanneer hulle voor die hemelse Bruidegom verskyn (Ef. 5:25-27; 1 Thess. 3:13; 5:23-24; Op 19:7-8).

Ons moet seker maak dat die lig van die Here Jesus se heiligheid en reddende genade deur die boodskap van ons lewe helder in ‘n donker wêreld sal skyn. Hoe sal ons die wêreld van verhewe goddelike waarhede kan oortuig as ons in die vlees wandel en net soos die wêreld lyk, praat, en baie van hulle verdorwe waardes met hulle deel? Vleeslike Christene is geen bate vir die kerk van Christus nie, maar eerder ‘n groot verleentheid (1 Kor. 3:1-3; Gal. 5:17). Dit is hoegenaamd nie geregverdig om die valse hoop van ewige sekerheid aan sulke mense te gee nadat hulle ‘n halfhartige en twyfelagtige oorgawe aan die Here gemaak het nie. Daar moet eerder ‘n ernstige oproep tot selfondersoek, hertoewyding en heiligmaking aan hulle gerig word (2 Kor. 13:5).
Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.