Geestelike Verval en die Opdrag tot Volharding

Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Augustus 2011)


Wat die verskynsel van terugval tot op die punt van verval uit die genade betref, moet daar onthou word dat elke mens ‘n vrye wil het en dat gelowiges dit ook onder die beïnvloeding van geestelike misleiding tot hulle eie nadeel kán gebruik – tot só ‘n mate dat hulle geestelik heeltemal kan verval. Die Heilige Gees intimideer ons nooit om dinge teen ons wil te doen nie. Hy lei en oortuig ons sodat ons ons eie wil in ooreenstemming met die Here se wil sal bring en dienooreenkomstig lewe. As ons dit doen en sorg dat ons altyd in die regte verhouding met die Here bly deur onder die versoening te leef (vgl. 1 Joh. 2:1-2), sal ons nooit geestelik verval nie.

Vleeslike Christene wat nie met die Heilige Gees vervul is nie, het nog nie hulle ou natuur oorgelewer om gekruisig te word nie, gevolglik is hulle wil nie geheilig en ten volle op die dinge van die Here ingestel nie (vgl. 1 Kor. 3:1-3; Gal. 5:17). Hulle het net beperkte insig in Bybelse leerstellings en is kandidate vir geestelike veragtering. Daar moet eers ‘n geestelike verdieping in hulle lewe plaasvind sodat hulle verdere aspekte van die Here se wil kan leer ken en ook die nodige motivering en krag sal hê on dit te doen.

As ons nie op die pad van die Here volhard nie en moedswillig in sonde begin leef, dan bedroef en weerstaan ons die Heilige Gees. As kinders van die Here begin ons dan om van Hom af weg te dwaal. Indien ons op die pad van moedswillige sonde volhard, kan ons beslis die Heilige Gees heeltemal in ons lewe uitblus (Eng. quench – 1 Thess. 5:19). Selfs die heilige engele in die hemel wat die Here van harte en sonder ophou gedien het, het onder die beïnvloeding van Lucifer teen God in opstand gekom en uiteindelik as uitworpelinge in die koninkryk van die duisternis beland (2 Pet. 2:4). In die lig van hulle dwase besluit word ons in 2 Petrus 2 gewaarsku om nie as kinders van die Here ons rug op Hom te draai en weer die pad van sonde en rebellie teen Hom te bewandel nie.

Die volgende reguit vrae kan aan mense gevra word wat nie in die vervalleer glo, soos in die Bybel uiteengesit is nie:

1.    Glo u nie dat die Gees van die Here van Saul gewyk het (1 Sam. 16:14) en dat Hy sodoende sy goedertierenheid aan hom onttrek het nie (2 Sam. 7:15)? Saul het die Here se opdragte aanhoudend geminag en homself as ‘n voormalige gesalfde van die Here na ‘n heks gewend en uiteindelik selfmoord gepleeg.

2.    Glo u nie Dawid het besef dat daar ‘n besliste moontlikheid was dat die Here sy Gees aan hom kon onttrek nadat hy moord en owerspel gepleeg het nie? In die lig van hierdie moontlikheid het hy egter van harte sy sonde bely en die Here gesmeek om nie van hom te wyk nie: “Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie” (Ps. 51:13). Hy het sy gebroke verhouding met die Here reggestel en Hom weer met ‘n rein hart gedien.

3.    Glo u nie dat die Here ook in die Nuwe Testament die kandelaar met die olie en lig van sy Heilige Gees van afvallige gelowiges, en selfs ook van dwalende gemeentes, kan onttrek as hulle nie meer aan Christus getrou bly nie? Aan een van die afvallige gemeentes sê Hy: “Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Op. 2:4-5). Hier is duidelik sprake van mense wat die pad van die Here verlaat het, en dat die Here as gevolg daarvan die lig van sy Heilige Gees van hulle verwyder het. In die geval van Éfese is die lidmate deur valse leerstellings op dwaalweë gelei (Hand. 20:29-30).

4.    Glo u nie dat regverdiges die toorn van die Here op hulle hals kan haal indien hulle weer die pad van sonde sou inslaan nie? “As die regverdige hom van sy geregtigheid afkeer en onreg doen, en Ek ‘n struikelblok voor hom gooi, dan sal hy sterwe; omdat jy hom nie gewaarsku het nie, sal hy deur sy sonde sterwe, en aan sy geregtigheid wat hy beoefen het, sal nie gedink word nie; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis” (Eseg. 3:20). Daar is ongelukkig gelowiges wat hulle van die Here en sy Woord afkeer en na die ou weë van sonde terugkeer.

5.    Glo u nie dat die Here aan ons ‘n bediening onder geestelik afvalliges opdra, en dat hulle verlore kan gaan indien ons hulle nie na die kudde teruglei nie? In Lukas 15 word die hele hoofstuk hieraan gewy, deur middel van die gelykenisse van die afgedwaalde skaap, die verlore penning en die verlore seun. Die verlore seun was in sy afgedwaalde toestand geestelik dood en verlore (Luk. 15:32). Hy het egter na sy vader teruggekeer en geestelik herleef – hy “was dood en het weer lewendig geword” (Luk. 15:24). Dit beteken hy het ‘n tweede keer tot die lewe gekom. ‘n Afvallige wat geestelik gesterf het, kan dus weer ‘n keer lewend gemaak word. Daar is baie mense wat “die regte pad verlaat en verdwaal het” (2 Pet. 2:15), en dan teen hul beterwete hulle lewe in die wêreld verkwis. As hulle nie na die Here terugkeer nie, sal hulle in hul sonde sterf.

6.    Glo u nie dat sonde weer heerskappy oor gelowges kan kry indien hulle dit nie weerstaan nie? “Want waar ‘n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ‘n slaaf geword” (2 Pet. 2:19). Christene wat hulleself weer deur sonde laat oorheers, word daarna nog erger slawe van die sonde as wat hulle vroeër was: “Want as hulle, nadat hulle deur die kennis van die Here en Saligmaker, Jesus Christus, die besmettinge van die wêreld ontvlug het, hulle tog weer deur hierdie dinge laat verstrik en oorwin word, dan het vir hulle die laaste erger geword as die eerste. Want dit sou vir hulle beter wees as hulle die weg van die geregtigheid nie geken het nie, as dat hulle, nadat hulle dit leer ken het, hulle afkeer van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is” (2 Pet. 2:20-21).

7.    Glo u nie dat ‘n loot wat reeds in die wynstok ingeënt is, maar later weens sy eie afvalligheid nie meer in Christus bly nie, geestelik sal verdroog en selfs in die vuur kan beland nie? (Joh. 15:4-6). Indien u dit nie glo nie, dan moet u verduidelik waarom die Here Jesus aan sy dissipels gesê het: “Bly in My” en ook die tragiese gevolge daarvan uitgespel het indien ons nie in Hom bly nie: “As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle... gooi dit in die vuur” (Joh. 15:6).

8.    Glo u nie dat al die Here se beloftes voorwaardelik is nie? Wat is die voorwaarde van Johannes 10:28 se belofte dat niemand ons uit die Here Jesus se hand kan ruk nie? Dit staan duidelik in die vorige vers: “My skape luister na my stem... en hulle volg My” (Joh. 10:27). Dit dui op voortdurende aksies: ons moet aanhou om na Hom te luister en Hom te volg, want slegs dan is daar vir ons ewige sekerheid. Wat gebeur as gelowiges in hul geestelike toewyding begin lou en afvallig raak? Jesus sê: “Omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug” (Op. 3:16).

9.    Glo u nie dat die erfenis van gelowiges wat in die hemel bewaar en selfs verseël is, verbeurd verklaar kan word indien hulle kontrakbreuk pleeg en die Heilige Gees uitblus nie? Hoe kan hulle hul geestelike waarborge behou indien hulle die Gees van genade smaad en die bloed van Christus minag deur te leef asof dit waardeloos is en geen doel meer dien nie? (vgl. Heb. 10:29). Wat het van Demas geword nadat hy opgehou het om saam met Paulus evangelisasiewerk te doen, en weer na ‘n lewe van wêreldse plesier teruggekeer het? (2 Tim. 4:10). Was hy steeds op pad hemel toe?

10.  Glo u nie dat leerstellige verval sulke afmetings kan aanneem dat dit selfs die verlossingsleer kan aantas en daardeur ‘n persoon se saligheid in die gedrang kan bring nie? Wat gebeur met dié Christene wat weer na die wet terugkeer? “Julle wat geregverdig will wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval” (Gal. 5:4). In hierdie teks is twee begrippe wat so duidelik met die vervalleer in verband staan, dat niemand dit kan ontken nie – gelowiges kán “van Christus losgemaak word” en “van die genade verval”.

11.  Glo u nie dat daar benewens ‘n wettiese geloof ook ander leerstellige dwalings is wat tot geloofsverval aanleiding kan gee nie? “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die gloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1). ‘n Mens moet duidelik eers ín die geloof wees voordat jy daarvan afvallig kan word. Die Engelse uitdrukking in hierdie teks is: “departing from the faith...” Sulke mense versaak die ware geloof heeltemal en word deur leuens van die duiwel op sleeptou geneem.

12.  Glo u nie dat gelowiges wat die Here se Woord verdraai en kragteloos maak deur óf iets daarby te voeg óf iets daarvan weg te neem, hulle saligheid as gevolg daarvan kan verbeur nie? Waarom sê die Here dan dat Hy sulke persone se name uit die boek van die lewe sal wegneem, al het hulle in ‘n stadium daar gestaan? (Op. 22:18-19; Spr. 30:6). Aan die oorwinnaars wat nie uitgesak en van die Here se Woord afgewyk het nie, sê Hy: “Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie” (Op. 3:5). Waarom is hierdie belofte gegee indien mense se name nie uit die boek van die lewe uitgewis kan word nie? Die oorwinnaars sal geprys word omdat hulle nie onder die afvalliges was nie: “Jy het my Woord bewaar en my Naam nie verloën nie” (Op. 3:8).

13.  Glo u nie dat daar selfs ook baie predikante en teoloë is wat in ‘n stadium daarvan getuig het dat hulle deur die Here Jesus “gekoop” is met sy bloed, maar Hom daarna verloën het deur bv. sy godheid, maagdelike geboorte, die betekenis van sy kruisdood of sy opstanding uit die dood ontken het nie? (vgl. 2 Pet. 2:1-2).

14.  Glo u nie dat moedswillige an aanhoudende sondes aan ‘n voormalige gelowige ‘n bose en ongelowige hart kan gee nie? “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie” (Heb. 3:12). Hier is nog ‘n duidelik bewys van die vervalleer, want ‘n broeder kan deur sy dwase optrede van die Here afvallig word en ‘n bose en ongelowige hart kry. Weens sy volhardende sonde word hy weer ‘n sondaar wat deur boosheid en ongeloof gekenmerk word.

15.  Glo u nie dat volharding van die heiliges nodig is om op die pad van die Here te bly nie? “Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Heb. 3:14). Ons moet “die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou” (Heb. 10:23). Paulus sê aan die Kolossense dat hulle heilig en sonder gebrek voor die Here kan verskyn, “as julle ten minste gegrond en vas bly in die geloof en julle nie laat afbring van die hoop van die evangelie nie” (Kol. 1:22-23).

Hoe moet ons die goeie stryd van die geloof stry en tot die einde toe staande bly? Bly in die Here Jesus, wees onwankelbaar in jou geloof, weerstaan alle aanslae en misleiding van die Bose, wees meer as ‘n oorwinnaar in Christus, neem toe in heiligheid en dra vrugte wat by die bekering pas. As jy dit aanhou doen, sal jy jouself nooit op die pad van afvalliges bevind nie. Indien jy egter kompromie met ‘n bose wêreld maak, nalaat om die vlees met sy sondige hartstogte te kruisig, verkoel in jou liefde, omkyk nadat jy jou hand aan die ploeg geslaan het, die waarheid van die Bybel bevraagteken en twyfelagtige leerstellings aanvaar sonder om dit deeglik aan ‘n Skriftoets te onderwerp, dan gaan jy agteruit in jou geestelike lewe en laat die duiwel toe om jou geloof stelselmatig te ondermyn en af te breek.

Deur die opdrag van die volharding van die heiliges vra die Here van almal van ons volhoubare vasberadenheid en doelgerigtheid in ons geloofslewe. Hy voorsien geloof en oorwinningskrag in ‘n oorvloedige mate aan elkeen wat Hom hiervoor vertrou, daarom is dit hoegenaamd nie nodig om geestelik terug te val nie. Indien ons egter onverskillig raak en ons stiltetye en wandel met die Here afskeep of staak, dan maak ons die deur vir die vyand se dwalings oop, gee aan die vlees, die wêreld en sonde weer ‘n houvas op ons lewe, en sal uiteindelik die prys vir ons afvalligheid moet betaal – dit is ‘n gebroke verhouding met die Here en totale kragteloosheid in die stryd teen die Bose.
Sulke mense lewer hulleself aan geestelike neerlaag en oorheersing deur die sonde uit, soos wat die verlore seun ook gedoen het.

Dit moet by elkeen ‘n saak van erns wees om ‘n situasie soos dié te voorkom. Laat daar nie van ons gesê word soos van afvallige Israel nie: “Hulle het die Here verlaat, die Heilige van Israel verag, hulle het agtertoe weggedraai” (Jes. 1:4). Paulus sê dat as die regverdige uit die geloof sal lewe, “en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie” (Heb. 10:38). Daar moet by ons egter “geen onttrekking tot verderf [wees] nie, maar geloof tot behoud van die lewe” (Heb. 10:39).
Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.