Huise wat op Sand Gebou is


Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Augustus 2011)


n Huis wat op sand gebou is, is n huis sonder n behoorlike fondament. 

Ongeag sy stewige voorkoms bokant die grond, gaan so n huis omval wanneer dit deur groot storms getref word. Dieselfde beginsel geld vir individue en volke: sonder n vaste geestelike en morele basis stuur hulle af op n ramp wanneer die storms van die lewe hulle tref (vgl. Matt. 7:24-27). Jesus Christus is die enigste ware fondament wat langdurige stabiliteit bied teen die storms wat onophoudelik vanuit n bose wêreld opsteek: “Want niemand kan n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus” (1 Kor. 3:11).

Die onaangename feit omtrent ons huidige situasie is dat, ten spyte van n klein minderheid evangeliese Christene, ons hoofsaaklik in n post-Christelike wêreld leef wat die enigste ware fondament verwerp het. Politici is die argitekte van n volk se ideologiese fondament en hulle, sowel as die kiesers wat hulle ingestem en in gesagsposisies gestel het, moet die verantwoordelikheid dra wanneer dinge ernstig skeef loop. Probleme oral in die wêreld neem vinnig toe en stuur op n ramp af. Ons is reeds in n situasie waar die meeste lande op alle terreine van die openbare lewe – polities, sosiaal, ekonomies, moreel, asook godsdienstig – op die rand van ’n groot ineenstorting staan. Die tekens van n dramatiese val is reeds duidelik sigbaar vir almal.

Aan die hart van dit alles is die verwerping van die Christelike beskawing en al die instellings wat daaruit voortgevloei het. Dit is niks minder nie as n gees van rebellie en wetteloosheid wat die dryfkrag is agter hierdie revolusie teen tradisies en gesagstrukture. Die gesag van regerings word spesifiek deur die opstande uitgedaag, maar ook die gesag van ouers, onderwysers, werkgewers en alle ander leiers in die samelewing.

Die regerings wat regstreeks deur n dreigende ineenstorting op die ekonomiese, morele en ander terreine geraak word, en ook deur die aanhangers van die eskalerende revolusie geteiken word, is duidelik baie verbaas en meen dat hulle die slagoffers van n totaal ongeregverdigde veldtog teen wettige gesagstrukture is. Hulle het egter self die transformasieproses aan die gang gesit wat nou teen sy eie leiers gedraai het. Hulle het antichristelike hervormings ingestel waarvan hulle nie die onvermydelike gevolge bereken het nie.

Leiers vra nou algemeen dieselfde vraag: “Wat het oral in die wêreld in so baie lande verkeerd gegaan in die samelewing, in die ekonomie en in die regering? Dit is goed dat hulle sulke vrae vra, want hulle is die persone wat die voortou in die veldtog vir veranderings geneem het. Laat ons dus eers politici se medepligtigheid in die huidige ineenstorting in oënskou neem voordat ons die aard van die populêre opstand beoordeel wat dreig (en ook daarin slaag) om regerings uit die kussings te lig.

Ons sal eers n oorsig gee oor die kenmerke van n Christelike samelewing, en dan kortliks die invloed daarvan op die wêreld aandui. Daarna sal ons let op die belangrikste implikasies van post-Christelike hervormings in Westerse samelewings, gevolg deur n Bybelse waarskuwing oor die opkoms van antichristelike samelewings oral in die wêreld.

Wat is ’n Christelike samelewing?

O
m ten volle te kan begryp wat die kenmerke van n Christelike samelewing is wat deesdae deur die meeste mense verwerp word, sal ons kortliks op die belangrikste beginsels daarvan moet let:

Die Drie-enige God is die Opperheerser van die heelal. As die Skepper is al sy skepsele aan sy gesag onderworpe. Dit is tot die eer van die Here, en ook in die direkte belang van elke mens, om sy gesag te erken en volgens sy opdragte te leef. God weet hoe absoluut noodsaaklik dit vir ons is om voor sy aangesig te lewe en sy seëninge en beskerming te geniet, maar Hy het nogtans aan ons n vrye wil gegee om self te besluit hoe ons ons lewens wil lei. Indien ons die verkeerde besluite neem, verbeur ons nie net sy seën nie, maar ons maak onsself ook n maklike teiken vir die opponerende koninkryk van die duisternis, wat die geswore vyand van God is. In daardie geval onderwerp mense en volke wat die Here se seëninge kon geniet het, hulleself tot hulle eie skade en skande aan die toorn van God.

Die Seun is God se Gesalfde en Koning. Hy is ons Verlosser, die Hoof van die Christelike kerk, en die toekomstige Koning van die wêreld. Aan Hom is alle mag in die hemel en op aarde gegee. Indien ons Hom verwerp en in konflik met Hom en sy evangelie leef, stel ons onsself bloot aan die toorn van die Lam. Hoewel ons vir n tyd lank met sulke dwaasheid kan wegkom, sal ons uiteindelik deur die volle geweld van die Lam se toorn gekonfronteer word. Indien ons Christus verwerp, dan verwerp ons sommige van die volgende Christelike beginsels:

Persoonlike heiligheid. Christene is geroepe om voorbeeldige lewens te lei deur daagliks daarna te streef om aan God se beeld van heiligheid gelykvormig te word (1 Pet. 1:15). Jesus Christus is ons voorbeeld en ons moet in sy voetspore volg (1 Joh. 2:6).

Christelike huwelik. In sy skeppingswerk het God n man en n vrou geskape en ook die huweliksband tussen hulle ingestel. Hy het nie homoseksuele geskape nie – hulle is die produkte van verdorwe menslike samelewings met verdraaide waardes. Christelike gesinne is die boustene van ordelike, Christelike samelewings, en die primêre groepe waarbinne Christelike waardes in kinders aangekweek moet word.

Christelike onderwys. Wanneer God en sy Woord hoog geag word, moet ons sorgdra dat ons kinders in die vrees van die Here opgevoed word. “Die beginsel van die wysheid is die vrees van die Here, en kennis van die Heilige is verstand” (Spr. 9:10). Openbare skole, sowel as inrigtings vir hoër onderwys, is verlengstukke van die basiese opvoeding wat deur gesinne voorsien word, daarom behoort hulle ook uitdruklik op Christelike beginsels gebaseer te word.

Geregtigheid en deursigtigheid in regering. Nasionale regerings is deur God ingestel (Rom. 13:1-2). Hulle dien n doel om hulle onderdane te lei, te beskerm en te ontwikkel, en ook om wet en orde te handhaaf. Indien hulle die oppergesag van God en die Bybel erken, is hulle daartoe verbind om die geregtigheid van God in hulle beleidsrigtings en optrede te laat geskied deur sonde in al sy verskyningsvorms te weerstaan: “Geregtigheid verhoog n volk, maar die sonde is n skandvlek vir die nasies” (Spr. 14:34). In n regering wat Christelike norme respekteer, kan daar geen ruimte geskep word vir korrupsie, omkopery, onderdrukking, dubbele standaarde of enige ander bose aktiwiteite nie.

n Bybelse regstelsel. Die Bybel vereis geskikte strawwe en dissiplinering vir oortreders (Rom. 13:4). Aangehoudenes moet nie gemartel word nie maar, aan die ander kant, moet tronke nie staatsgesubsidieerde losieshuise word waarin gevangenes baie tuis voel en nie hulle regmatige straf ontvang nie.

Weerhouding van offensiewe oorlogvoering. Christelike samelewings moet vrede met alle ander volke as n belangrike doelstelling nastreef. Regerings het die plig om hulle onderdane te beskerm, maar hulle mag slegs die wapen opneem in die verdediging van hulle land. Hulle het geen Bybelse reg om ander lande aan te val, hulle inwoners te onderwerp en hulle van hul regte en grondgebied te ontneem nie.

n Christelike werksetiek. Dit is n sterk Christelike waarde om hardwerkend te wees – handearbeid ingesluit – om genoeg kos te produseer of geld te verdien om vir jou gesin te kan sorg, en ook genoeg oor te hou om belasting te betaal en ander te help wat in die nood is. Die Bybel sê: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie” (2 Thess. 3:10). Jou afhanklikes moet hulleself voorberei om finansieel selfversorgend te raak. Moenie mense aanmoedig om lui te raak deur hulle finansieel te versorg sonder om n teenprestasie van hulle te verwag nie.

Die selfbeskikkingsreg van volke. God het bepaal dat daar grense tussen volke moet wees, en dat daardie grense gerespekteer moet word (Hand. 17:26). Elke volk het n godgegewe reg om sy eie etniese identiteit te handhaaf, sy eie taal te praat, en volgens sy eie kulturele waardes te leef. Ander volke moet die reg van etniese minderhede beskerm deur hulle nie te onderwerp en te dwing om by ander kulture in te skakel nie. Vrywillige bondgenootskappe kan gevorm word, maar sonder onredelike dwang of assimilasie.

Billike ekonomiese beleidsrigtings. Ekonomiese beleidsrigtings wat aan Bybelse standaarde voldoen, moet nie gekenmerk word deur onredelike praktyke soos die uitbuiting van hulle onderdane deur hoë belastings, swak dienste, en die betaal van buitensporige hoë salarisse aan politici en senior staatsamptenare nie. Staatskuld moet ook nie toegelaat word om weens oorbesteding tot baie hoë vlakke te styg nie.

Die ontmoediging van n sondige lewenstyl. Die eerbiediging van Christelike beginsels verplig regerings met Christelike grondwette om sondige gebruike soos korrupsie, dobbelary, dronkenskap, dwelmverslawing, gewelddadigheid, prostitusie, ens., te ontmoedig en onwettig te verklaar.

Die invloed van Christelike samelewings

H
oewel daar nie so iets soos n samelewing is wat, in elke opsig, volkome Christelik is nie, is daar nogtans wesenlike Christelike hervormings in sekere Europese en ander lande ingestel. Gedurende die groot herlewings van die 18de en 19de eeue, is n duidelike Christelike tradisie in verskeie lande gevestig, en dit het ook in Christelike grondwette neerslag gevind. Die beginsels wat hierbo genoem is, is tot n meerdere of mindere mate deur hierdie samelewings eerbiedig. Sendelinge het van Europese en Britse lande af uitgegaan en samelewings in baie ander lande van die wêreld geëvangeliseer.

In Europa en Engeland is die Bybel in plaaslike tale vertaal, en dit het in verskeie lande tot volwasse geletterdheidsprogramme gelei omdat meer mense die Bybel wou lees. Deur die Christelike geloof is mense verlos van bygeloof en die fatalistiese aanvaarding van bonatuurlike kragte soos towery. Die beginsel van natuurlike oorsaak en gevolg is aanvaar, en dit het aanleiding gegee tot empiriese navorsing in die medisyne, ingenieurswese en verskeie ander dissiplines. Sekondêre en tersiêre onderwys het n bloeitydperk beleef en tot die industriële revolusie aanleiding gegee. Hoewel baie van die professionele mense en wetenskaplikes later feitlik hulle Christelike oortuigings versaak het, het die basiese stimulus vir die ontwikkeling van hierdie wetenskappe nogtans gekom van n kreatiewe ingesteldheid wat die produk van die Christelike geloof was. Verskeie universiteite het ontstaan as n tweede fase ná die aanvanklike vestiging van teologiese seminariums.

Uiteindelik het daar n goed ontwikkelde Westerse beskawing ontstaan wat ook beskryf is as die Christelike beskawing. Snelle ontwikkeling het op verskeie terreine plaasgevind, en hierdie kennis en vaardighede het vinnig na ander dele van die wêreld versprei. Groot rykdom en voorspoed is gegenereer deur groot tegnologiese vooruitgang, en dit het uiteindelik tot n sekulêre lewensbeskouing gelei wat as humanisme beskryf is. Die mens het die bepaler van sy eie lotgevalle geword, en hy het heeltemal voeling verloor met die Christelike oorsprong van die Westerse beskawing.

Lande in ander dele van die wêreld het grootliks gebaat uit dit wat hulle by die Weste geleer het, en ook uit handelsbande wat hulle met hierdie Eerste Wêreldlande gesluit het. Die Christelike boodskap was egter gou vergete. Die Ooste (veral Japan) het aansienlike tegnologiese vordering gemaak nadat hulle deur die Weste in die tegnologiese eeu ingetrek is. Die Arabiese lande het baie ryk geword deur die ruolie wat hulle aan die ontwikkelende wêreld verkoop het.

Die ontkenning van ’n samelewing se Christelike tradisie

O
ns moet nou uit die Bybel die belangrike vraag beantwoord oor wat met n land of samelewing gebeur wat sy vroeëre Christelike beginsels verloën.

Met die verloop van tyd het die Weste tot n groot mate sy Christelike tradisie verloor, en roem nou slegs in hulle prestasies op ander lewensterreine. Hierdie lande, sowel as die meeste van hulle kerke, het geestelik só afvallig geraak dat hulle vir etlike jare al na hulleself as die post-Christelike Europa verwys. 
Hulle het sekulêre of multigodsdienstige grondwette aanvaar, Christelike onderwys afgeskaf, hulle beleid teen antichristelike euwels soos prostitusie, dobbel, homoseksualiteit, ens., herroep. Hulle het selfsugtig en arrogant geraak, en geweier om verder beperk te word deur Bybelse norme wat deur hulle as “uitgediende Christelike beginsels” beskryf word. Hulle het reeds geestelik en moreel verval tot op die punt waar hulle in opstand kom teen die gesag van God en ook teen die Christelike etiek.

Omdat post-Christelike lande in hulle onderwysleerplanne n humanistiese lewensbeskouing in leerders en studente vestig, maak hulle seker dat die geskiedenis van die nasies gaan eindig waar dit begin het, naamlik die bou van n toring van Babel (Gen. 11; Op. 17 en 18). In so n samelewing verhef die mens homself teen God deur sy gesag totaal te verwerp, hy leef in bandelose vryheid en hy vestig n magtige, multinasionale koninkryk op aarde wat net onder die gesag van die verenigde mensdom se eie wette en reëls sal staan.

In n Messiaanse Psalm word die aandag gevestig op die nietige (leë en waardelose) hervormings wat deur eindtydse wêreldleiers ingestel word ten einde die mensdom van God se Bybelse orde te bevry. Westerse regerings is veral onder dié wat deur hierdie Skrifgedeelte aangespreek word, omdat hulle die regerings is wat vroeër Christelike beginsels gehandhaaf het: “Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die Here en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!” (Ps. 2:1-3).

Gedurende die afgelope paar dekades het politieke en ander leiers betrokke geraak by n berekende proses om Christelike beginsels in die samelewing te verwerp en te ontwortel. Dit is gedoen onder die voorwendsel van humanistiese of demokratiese hervormings wat daarop gerig is om totale en onbeperkte vryhede vir alle lede van die samelewing te verseker. Grondwette is drasties verander, en alle verwysings na die opperheerskappy van die Drie-enige God is weggelaat. Hierdie veranderings het noodwendig ook n einde gebring aan Christelike onderwys en die eerbiediging van Christelike beginsels in die samelewing.

Wat hierdie liberale, humanistiese leiers egter nie besef nie, is dat die proses van die bevryding van Christelike norme en standaarde wat deur hulle gedryf word, n teenreaksie kan ontketen deur teen hulle eie gesag te draai. Hulle word dan self as struikelblokke in die proses van die mens se volle bevryding gesien. So n land is soos n sinkende skip sonder ankers: die leiers weet nie hoe om die land van ondergang te red nie, en die opstandige massas weet nog minder wat gedoen moet word. Politieke, sosio-ekonomiese, morele en godsdienstige skipbreuk het in baie lande onafwendbaar geword, soos uit die volgende breë oorsig oor wêreldtoestande blyk:

Die VSA: Wat hulle grondwet betref, is Amerika nou 21 jaar lank in n post-Christelike era sedert die aanvaarding van n sekulêre grondwet in 1990, waarin alle gelowe met mekaar gelykgestel word. Die staat as sodanig verbind homself nie aan een hiervan nie. Sedertdien was die VSA op n stamperige pad, terwyl die morele en godsdienstige fondasie van die samelewing vinnig begin verkrummel het. Lank voor 1990 al is die Bybel uit staatskole in die VSA verban en vanuit hierdie situasie was dit maklik om vinnig deel te word van die amptelike post-Christelike era. Die jeug het gou rebels en onbeheerbaar geraak omdat die vrees van die Here nie meer van n jong ouderdom af in kinders gekweek word nie. Geweld en dwelmmisbruik in skole het toegeneem.
 Die volwasse geslag het ook verval, en klein evangeliese kerke het baie lidmate verloor met die opkoms van groot mega-gemeentes waarin moderne vermaak aangebied word en die mens en sy behoeftes, eerder as God, die sentrale fokuspunt geword het. Multigodsdienstige denke het baie populêr begin raak, en dit verklaar die ontstaan van verdorwe verskynsels soos “Chrislam” – die samevloeiing en uiteindelike eenwording van die Christendom en Islam. Die regering en die samelewing het toenemend materialisties geraak, en die eise van die verbruikersamelewing het nuwe hoogtes bereik. Die Amerikaanse regering het n baie slegte voorbeeld gestel deur ver bokant sy vermoë te leef, en het nou hulle kredietplafon tot meer as 16 triljoen dollar verhoog. Dit het groot onsekerheid in die finansiële markte veroorsaak. 
Beleggersvertroue in n “sinkende skip” neem om begryplike redes skerp af, en as gevolg hiervan staar die land nou n ernstige resessie in die gesig, en dit lei na hoër werkloosheid en verdiepende vrese oor die toekoms.

Europa: In Europa is die situasie feitlik dieselfde. Hele lande word as gevolg van oorbesteding deur bankrotskap bedreig. Selfs n ekonomies sterk land soos Frankryk staan voor die moontlikheid van die afskaling van sy kredietwaardigheid. Die dreigende ekonomiese krisis gaan ook gepaard met die onafwendbare verbrokkeling van die samelewing as gevolg van die verdwyning van sy Christelikgebaseerde morele waardes. Die moderne jeug is swak gemotiveerd om op n ordentlike en verantwoordelike manier op te tree deur hulleself aan hulle studies of werk toe te wy en n sukses van die lewe te maak. n Ander faktor wat die sosiale stabiliteit verswak is n vorm van kultuurskok wat veroorsaak word deur die hoë immigrasie uit ander lande. 
Kulturele identiteit en patriotisme word in hoogs heterogene samelewings ondermyn, en lei daartoe dat die jong geslag baie min respek het vir die tradisies en taal van hulle voorvaders. Hulle gebruik n soort slengtaal wat later die algemene omgangstaal in gemengde samelewings word. Die opstand onder jeugdiges in Brittanje is n komplekse probleem wat teen hierdie agtergrond verstaan moet word. Dit is een van die baie ontstellende gevolge van post-Christelike (of postmoderne) hervormings in die Westerse wêreld.

Die Arabiese wêreld: Die kitsrykdom van die olieproduserende Arabiese state het nie die samelewing in sy geheel bevoordeel nie. In die meeste van hierdie lande is slegs die koninklike families saam met n selektiewe groep ryk mense in beheer van die nasionale bates. Die meerderheid van die bevolking is nie behoorlik opgelei nie, en omtrent die hele Arabiese samelewing klou nog steeds vas aan n Middeleeuse geloof waarin daar geen erkenning aan konstruktiewe Christelike waardes gegee word nie. Hierdie hoofsaaklik onderontwikkelde samelewings het dit geriefliker gevind om eerder duisende buitelandse maatskappye, werkers en professionele lui te kry om hulle moderne ekonomie op te bou en in stand te hou. Hierdie lande word egter nou ernstig geskud deur n populêre opstand teen die klein elite wat al die mag en rykdom beheer. Daar is geen maklike oplossing uit hierdie probleme sonder om die samelewing grondig te hervorm nie. Die Arabiese lande het egter nie die regte geestelike en morele ingesteldheid om n vaste grondslag vir menslike én ekonomiese ontwikkeling te verseker nie. Hiervoor is die volgende nodig: 
rasionele denke gebaseer op die beginsels van natuurlike oorsaak en gevolg, persoonlike aanspreeklikheid teenoor God, morele waardes wat n ordelike samelewing sal verseker, n godsdiens wat ware, goddelike liefde sal meebring, asook die bevryding van bygeloof en fanatisisme. Hulle word verteer deur n “heilige haat” teenoor God se verbondsvolk (Israel) en sy Nuwe Testamentiese volgelinge (die Christene), wat so erg is dat dit baie van hulle dryf om n “heilige oorlog” teen hierdie groepe te voer. Hulle stuur op nog groter probleme af as dié wat hulle nou ervaar. So lank as wat hulle vasberade antichristelik en anti-Joods is, sal hulle nie n ware en standhoudende oplossing vir hulle probleme vind nie.

Die Ooste: Baie van die Oosterse lande het daarin geslaag om n vorm van Westerse kapitalisme met sy vryemarkstelsel in te stel. Dit bevorder n kompeterende samelewing wat sterk ingestel is op navorsing, opleiding, ontwikkeling en professionele uitnemendheid. Maar in die afwesigheid van n Christelike lewensbeskouing en sterk morele waardes, sal al hulle finansiële rykdom en tegniese vaardighede nie daarin kan slaag om die opkoms van n “verlore geslag” in die breë samelewing te verhoed nie – dit is n jong geslag sonder sterk godsdienstige en morele ankers. Hierdie koerslose, ontwrigte jongelinge spartel om in ’n sinlose en gevaarlike wêreld hulle ewewig te vind. Sonder n duidelike doel in die lewe, gee baie van die jeugdiges hulleself oor aan vleeslike genietinge, dwelms en onbeheerde emosies. Indien hierdie verlore geslag nie genader en sinvol ingelyf word by n samelewing met sterk waardes en vaste geloofsopvattings nie, is die toekoms van daardie volk baie donker.

Afrika: In Afrika en ander dele van die Derde Wêreld het die moderne kommunikasiemedia ook die skewe idees en twyfelagtige leefstyl van die postmoderne en post-Christelike wêreld ingedra. Massademonstrasies is vinnig besig om hier n lewenswyse te word, n manier om ontevredenheid te toon teenoor regerings, werkgewers, loonstrukture, opvoedkundige inrigtings, ens. Hierdie demonstrasies word gesien as kitsoplossings vir probleme en vinnige toegang tot meer rykdom, maar die opgesweepte groepe raak egter dikwels gewelddadig en veroorsaak baie skade aan geboue, voertuie en infrastruktuur, terwyl daar soms ook lewens geëis word. Op hierdie manier word n land nie verbeter en versterk nie, maar verswak en stelselmatig afgebreek. 
Swakgekwalifiseerde en swakopgeleide mense sal nooit hulle probleme en frustrasies op hierdie immorele en kru manier kan oplos nie. Hulle berei hierdeur net die weg voor vir staatsgrepe en die herinstelling van diktatorskappe, wat na nog groter uitbuiting van die samelewing sal lei. Die buitewêreld sal nie so n land deur groot beleggings ondersteun nie, en dit sal tot hulle verdere verarming lei. Die meeste waarop mislukte state kan hoop, is hulp in die vorm van armoedeverligting. Soos in alle ander lande, het die Derde Wêreld ook die koers ingeslaan van die verwerping van die Christelike geloof en die Christelike leefwyse, en daardeur beweeg hulle al hoe verder weg van n standhoudende oplossing vir hulle probleme.

Die opkoms van die Antichris se nuwe wêreldorde

D
ie meeste lande van die wêreld neem aan die omverwerping van die Christendom deel, en sodoende posisioneer hulle hulself om die opkomende nuwe wêreldorde van die Antichris te aanvaar. Wanneer hy kom, sal die hele misleide wêreld reeds verval het tot op die punt waar hulle geen vaste morele of geestelike waardes meer het nie, gevolglik sal hulle die Antichris maklik as hulle leier aanvaar en hom selfs ook aanbid. In sy visioen oor die eindtyd het Johannes baie duidelik hierdie scenario gesien: “En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan ... en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer? ... En hy het sy mond oopgemaak om te laster teen God ... en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Op. 13:3-7).

Dit is duidelik dat voor die Antichris geopenbaar, aanvaar, en deur alle mense aanbid kan word, geloof in die ware Christus eers verwerp en uitgewis moet word, en die oorblywende Christene weggeneem moet word (vgl. 2 Thess. 2:6-8). Ons is nou in die finale fase voor die openbaring van die mens van sonde en die instelling van sy antichristelike nuwe wêreldorde. Wat ons rondom ons sien, is die omverwerping van Christelike fondamente in die samelewing. Hierdie revolusie vind oor so n breë front plaas dat die klein minderheid Christene magteloos daarteen is:

“As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen? Die Here is in sy heilige paleis; die troon van die Here is in die hemel; sy oë sien, sy ooglede toets die mensekinders. Die Here toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet. Hy sal op die goddelose vangnette, vuur en swawel laat reën; en n gloeiende wind sal die deel van hulle beker wees” (Ps. 11:3-6).

Die huidige revolusie teen God en sy Gesalfde is n tyd van toetsing vir ons terwyl die goddeloses die pas van hulle post-Christelike hervormings versnel in afwagting op die openbaring van die kosmiese christus van alle gelowe. n Geestelike polarisasie is besig om in alle samelewings voor te kom, waarin die wat vuil is nog vuiler word, maar die heiliges word opgeroep om nog heiliger te word (Op. 22:11). Op n oomblik wanneer niemand dit verwag nie, sal die Here Jesus die teëhouer teen die openbaring van die Antichris van die aarde af verwyder (dit is sy ware kerk wat n tempel van die Heilige Gees is), en dan sal die mens van sonde geopenbaar word en die mensdom mislei soos nog nooit tevore in die geskiedenis nie (2 Thess. 2:6-12).

Die sewe jaar van hierdie valse christus se bewind word ook beskryf as “die dag van die Here” (Jes. 13:9-13). Die goddeloses sal dan deur die Here geoordeel word, paniekbevange na die berge vlug en vir die berge en rotse sê: “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:16-17).

In Psalm 2 word die leiers van die nasies gewaarsku om so n situasie te voorkom: “Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! Dien die Here met vrees, en juig met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!” (Ps. 2:10-12).

Die enigste goeie raad in sulke tye is om die Here Jesus as jou persoonlike Saligmaker aan te neem, om die evangelie aan ander mense te verkondig, en om geestelik waaksaam te wees: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36).
Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.