Bybel nie as God se Geïnspireerde Woord Aanvaar nie

Artikel oorsprong - www.bibleguide.co.za

Opsomming: ‘n Toenemende aantal teoloë beskou die Bybel nie meer as die foutlose en letterlik geïnspireerde Woord van God nie.

Die sterk humanistiese inslag in die meeste moderne Bybelvertalings kan toegeskryf word aan die feit dat ‘n groot aantal teoloë nie meer die Bybel as die geïnspireerde Woord van God aanvaar nie. Dit is waarom hulle dit nou vertaal en vertolk net soos wat hulle wil. Die nuwe Afrikaanse vertaling is ‘n produk van hierdie benadering.

Een van die mees onlangse venynige op tradisionele skrifbeskouinge kom van prof. I.J.J. (Sakkie) Spangenberg van die Universiteit van Suid-Afrika se Departement Ou Testament. Op 3 September 1996 het hy op die kongres van die Ou Testamentiese Werkgemeenskap by die Universiteit van Stellenbosch ‘n referaat met die titel Die NG Kerk, die boek Jona en religieuse pluralisme gelewer. Hierin het hy die stelling gemaak dat lidmate van die NG Kerk steeds aan net een siening van die Bybel blootgestel word, naamlik dat dit God se onfeilbare Woord is. As die kerk nie vir ander sienings oor die Bybel ruimte maak nie, sal dit volgens hom al hoe meer irrelevant raak.

Prof. Spangenberg het verduidelik dat die volgende drie belangrike paradigmaveranderinge in die geskiedenis van die Bybelwetenskappe plaasgevind het:

  • Aanvanklik is die Bybel as Die Woord van God beskou, en is die historiese, letterlike verklaringsmetode gevolg. Dié siening is deur die kerkhervormers bevestig. Dit berus op die aanvaarding van die feit dat die Bybel God se Woord is wat onder die leiding van die Heilige Gees deur individuele gelowiges geskryf is. God het Homself deur sy Woord aan ons geopenbaar.

  • Daarna is die Bybel as God se Woord in mensetaal gesien, en dit het aan die einde van die 19de eeu tot die histories-kritiese verklaringsmetode (die ‘hoër kritiek’) gelei. In terme van hierdie siening bestaan die Bybel uit ‘n versameling Nabye-Oosterse godsdienstige geskrifte wat deur beperkte, feilbare mense geskryf is, en wat dikwels hersien en uitgebrei is. Hulle geskrifte bevat geloofsinsigte en geloofsgetuienisse uit daardie tyd.

  • Tans word die Bybel as Woorde oor God bestempel en word die literêre verklaringsmetode beoefen. Dit het in die middel-sewentigerjare sy beslag gekry. In die moderne literatuurwetenskap het die klem van die outeur na die teks en uiteindelik na die leser verskuif. Narratologiese en retoriese analises word van Bybelgedeeltes gedoen, asook dekonstruksie en ander literêre metodes van analise. Die Bybel kan nou vryelik as ‘n samestelling van mites en verhaaltjies beskou word waarvan morele toepassings gemaak en sedelesse afgelei kan word. Dit is vir verskeie vertolkings oop.


Prof. Spangenberg stel die NG Kerk in sy referaat voor die uitdaging om:

(1) dele van die Bybel as mites (of stories) te beskou, en

(2) ook die geskrifte van ander godsdienste te lees ten einde sin in die lewe te kry. Hy stel dit só:

“Die NG Kerk Kerk staan aan die begin van die 21ste eeu voor twee groot uitdagings: Die eerste een het te doen met die kerk se siening oor die Bybel, en die tweede een met sy siening van ander godsdienste. Hierdie twee uitdagings hang ten nouste saam. Is die kerk bereid om sy siening van die Bybel te herformuleer en selfs te erken dat Jona ‘n verhaal is, of gaan hy ‘n onverdraagsame houding teenoor diegene inneem wat ‘n ander siening van die Bybel voorstaan? Is hy bereid om te erken dat die Christelike godsdiens nie alleen op openbaring aanspraak kan maak nie, en dat ander godsdienste mense kan help om sin in die lewe te ervaar?

“Na my mening kan ons dit nie ontken nie dat lidmate nog steeds aan slegs een siening van die Bybel blootgestel word, naamlik dat die Bybel God se onfeilbare Woord is. Lidmate hang nog grootliks die siening aan dat die Bybel ‘n boek is wat op enige plek oopgeslaan kan word om God te kan hoor praat. Standpunte en uitsprake word nog dikwels gemotiveer deur die frase: ‘Die Bybel sê…’ – so asof God direk deur middel van Bybeltekste antwoorde aan ons kan verskaf vir die probleme en vrae waarmee ons worstel.

“In die nuwe Suid-Afrika sal die kerk lidmate moet help om te besef dat die Bybel uit religieuse literatuur bestaan en dat hierdie literatuur nie op ‘n ander manier tot stand gekom het as enige ander (godsdienstige) literatuur nie. Die kerk sal die lidmate moet inlig dat ons hier met godsdienstige interpretasies te doen het (verhale, stories en riglyne)…

“As die kerk weier om erns te maak met die paradigmaveranderinge, is die skrif na my mening aan die muur: die kerk gaan ‘n vreemde verskynsel in die samelewing word. Voorts sal lidmate nie toegerus wees om in ‘n samelewing te oorleef waarin hulle daagliks met die aanhangers van ander godsdienste skouers skuur nie…

“Robert Cook maak in sy artikel oor moderne pluralisme ‘n belangrike opmerking wat die NG Kerk ter harte kan neem: ‘Ons moet die feit aanvaar dat teologie progressief ontwikkelend is, en ons moet op ontdekkings in ander dissiplines ag slaan. Verder moet ons vir insigte uit die ander godsdienste oop wees. C. Pinnock vra tereg: Waarom kyk ons so hoopvol na Plato en verwag niks van Boeddha nie? Ek dink ons betree nou ‘n tydperk in die geskiedenis wanneer die ander godsdienste inbreuk op die teologie gaan maak, soos wat die filosofie dit nog altyd gedoen het’.”

Die beskouinge van prof. Spangenberg vind aansluiting by dié van verskeie ander teoloë, en verteenwoordig ‘n redelik algemene tendens. ‘n Fundamentele Christelike predikant, ds. D.E. Malan van Newcastle, het prof. Sakkie onder meer soos volg in Beeld van 11 Sept. 1996 geantwoord:

“Prof. Sakkie Spangenberg se siening dat die Bybel mense se nadenke oor God se Woord is, verbaas my nie. Ek het onlangs aan die Universiteit van Pretoria by die NG Kerk se fakulteit ‘n nagraadse kursus in die Nuwe Testament bygewoon, en van die dosente verneem dat die Nuwe Testament ‘n bepaalde Christelike tradisie van ‘n sekere tyd in die geskiedenis reflekteer. Ons mag nie daardie tradisie as absolute waarheid aan mense voorhou nie, maar die Bybel vir ons tyd herinterpreteer en laat voortleef.

“Prof. Spangenberg staan dus nie alleen in sy verwerping van die gesag van die Bybel nie. Die oorgrote meerderheid teoloë, ook in die fakulteite van Pretoria en Stellenbosch, stem in ‘n mindere of meerdere mate met hom saam. Ons is dus reeds in ‘n totale doodloopstraat wat die kerke se siening oor die gesag van die Bybel betref… Dit is net ‘n kwessie van tyd voor die Bybel in die NG Kerk op gelyke vlak met die Koran geplaas gaan word. In hierdie stadium weet die meeste predikante dat hulle inkomste in die gedrang is as hulle die professore se idees van die kansels af begin propageer, gevolglik is die meeste lidmate nog in die duister oor dié sake.”

Ds. Malan, wat as student saam met Sakkie Spangenberg Grieks gestudeer het, het ook met hom persoonlik gekorrespondeer, en onder meer die volgende geskryf:

“Daar is nog geweldig baie vrae wat ek oor die nuwe paradigma het. As die Bybel dan op dieselfde manier as ander godsdienstige literatuur ontstaan het, is daar nog hoegenaamd plek om van ‘n Bybel te praat? Is die Bybel nog anders, en indien wel, wat maak hom anders? As ons die Bybel se eie aansprake oor goddelike oorsprong en inspirasie ontken, wat help dit dan om nog enige waarheid aan die Bybel te heg? Watse nut het dit vir jou om teoloog te wees? Waarom is jy ‘n hoogleraar in Ou Testament en nie in Homerus of Plato nie? Is dit jou roeping om vir mense te sê dat die Bybel nie meer vir hulle ‘n anker van die siel kan wees nie?

“Ontken jy die voorsegginge wat deur die mond van die profete in die Ou Testament uitgespreek is en letterlik in die Nuwe Testament vervul is en nog vervul sal word? Is dit dan nie ‘n bewys van goddelike inspirasie en gesag nie?… As ek jou reg verstaan, dan wil jy die gesag oor en interpretasie van die Bybel aan die filosowe van die nuwe wêreldorde oorgee.”

Te midde van die hewige aanvalle op die Bybel is daar ‘n klein groepie evangeliese teoloë (meesal in die buiteland) wat hulleself van hierdie humanistiese aanvalle distansieer:

Die goddelike inspirasie, gesag en foutloosheid van die Bybel

Die verdediging van die foutloosheid, onfeilbaarheid, goddelike inspirasie en gesag van die Skrif moet in die lig van die verskerpte aanslag van die menigte felle teenstanders van ‘n fundamentele skrifbeskouing onverpoosd voortgesit word. In hierdie oorsig val die soeklig op aspekte van die goddelike karakter van die Bybel, asook op die verwoestende gevolge van die verwerping van hierdie uitgangspunte deur ‘n groter wordende aantal liberale teoloë.

‘n Vooraanstaande evangeliese teoloog in Amerika, dr. Harold Lindsell (1979:13-14), sê dat afwykende sieninge oor die foutloosheid van die Bybel tot grootskaalse afvalligheid in die moderne kerk aanleiding gegee het. Soos wat christologiese teenstrydigheid die vroeë kerk in beroering gehad het, en regverdiging deur geloof alleen aan die hart van die kerkhervorming gelê het, is die betroubaarheid van die Bybel as die Woord van God vandag die middelpunt van ‘n hewige teologiese stryd.

In sy bekende boek, The Battle for the Bible, sê dr. Lindsell (1976:17-19) dat die Bybel die enigste betroubare bron van die Christelike geloof is. Daar is volgens hom drie moontlike benaderings tot die Bybel:

  1. Die Bybel is tot in sy kleinste besonderheid volkome betroubaar en foutloos. Slegs godsdienstige waarhede word daardeur aan ons geopenbaar.
  2. Die Bybel is nie betroubaar nie. Indien hierdie stelling korrek is, dan berus die Christendom op ‘n valse fondament. Slegs ‘n dwaas en ‘n misleide persoon sal ‘n geloof aanhang waarvan die openbaringsbron onbetroubaar en vals is.
  3. Die Bybel bevat waarheid én foute. ‘n Gedeelte daarvan is dus betroubaar, en die res is vals en teenstrydig.


Dr. Lindsell (1976:19-20) bevestig die feit dat die oorheersende skrifbeskouing deur die eeue heen op die absolute foutloosheid, goddelike oorsprong en gesag van die Bybel gebaseer was. Enige foute wat daarin mag wees, was nie doelbewus nie en kon bv. by transkribering ingesluip het. Die kerkhervormers het ook die standpunt gehuldig dat mense net die instrumente was waardeur God sy woord aan ons geopenbaar het (Packer, 1979:7).

Die Bybel bevestig self sy outentieke karakter:

“Die hele Skrif is deur God ingegee” (2 Tim. 3:16).

“...geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Pet. 1:21).

“Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie” (Luk. 21:33).

Oor die goddelike inspirasie en gesag van die Bybel sê Erickson, (1983: 199, 241-244) die volgende:

Goddelike inspirasie: Deur die inspirasie van die Skrif word die bonatuurlike invloed van die Heilige Gees op die skrywers van die Bybel bedoel. As gevolg hiervan is hulle geskrifte ‘n betroubare rekord van die openbaring wat hulle deur die Heilige Gees gehad het. Wat hulle geskryf het, is dus die Woord van God.

Gesag van die Bybel: Die Bybel, as die uitdrukking van God se wil vir ons lewens, het die opperreg om te definieer wat ons moet glo en hoe ons ons lewens moet lei. God het ons geskape, en die hoogste gesag in die heelal is in Hom gesetel.

Dit is dus duidelik dat die goddelike inspirasie en foutloosheid van die Bybel aan die grondslag van die gesag daarvan lê. Om hierdie rede sê Dr. Lindsell (1979:15) dat elke evangeliese Christen in die foutloosheid van die Bybel móét glo. Hierdeur gee hy te kenne dat hy in die goddelike oorsprong én gesag daarvan in sy lewe glo. Om hierdie argument na die vlak van die praktiese teologie deur te trek, wil ons na aanleiding van Montgomery Boice (1979:9-12) drie belangrike implikasies van die Bybel se foutloosheid aantoon:

Gesag

Christene het gesag nodig. Waarom glo ons wat ons glo? Waarom is ons bv. nie Moslems of Boeddhiste nie? Dit is omdat ons glo dat die ware God Homself deur Jesus Christus en sy Woord aan ons geopenbaar het. Ons beskou die Bybel as gesaghebbend omdat God die hoogste gesag beklee. God is die waarheid en praat net die waarheid, daarom is sy Seun die waarheid, sy Gees is die Gees van die waarheid en sy Woord is die waarheid. Net dié waarheid kan jou van godsdienstige dwalinge en leuens bevry.

Diegene wat die waarheid van die Bybel ondermyn, sê dikwels dat net sekere dele van die Bybel waar is. Dit is die dele waarin God gepraat het, in teenstelling met ander dele waar net mense gepraat het. Hierdeur word die skrifgesag grootliks afgetakel omdat sekere dele daarvan nie as gesaghebbend beskou word nie. Wat die saak nog erger maak, is dat sulke persone gewoonlik nie eers aan ons kan aantoon watter dele betroubaar en watter onbetroubaar is nie.

Prediking

Daar is in ons tyd nie baie predikers wat werklik die Woord uitlê nie. Die meeste preke is flou, oppervlakkig en mens-gesentreerd. Die meeste Christene is van die gebrekkige Woord-verkondiging bewus, maar spreek hulleself nie sterk daarteen uit nie.

Baie predikers praat in die algemeen oor die Bybel en sê dat hulle daarin glo, maar verkondig nie werklik konkrete Bybelse waarhede nie. Wat is die rede hiervoor? Of die predikante en die kweekskoolprofessore wat hulle opgelei het, dit wil erken of nie, glo die meeste van vandag se predikers nie regtig meer dat die Here deur die Bybel gepraat het nie. Selfs al glo hulle dat sekere dele van die Bybel God se Woord bevat, gee hulle nogtans te kenne dat die ander dele mitologie of onbetroubare menslike verhale is. Die Bybel is vir hulle dus nie in sy geheel betroubaar nie, daarom is hulle nie altyd seker daarvan nie en kan dit ook nie met gesag verkondig nie. Hierdie ambivalente houding kom duidelik in die onoortuigende prediking en kompromiemakery van ons tyd na vore.

Die geestelike welsyn van die kerk

Die kerk is nie geestelik gesond nie omdat dit nie heilig is nie. Dit kan net heilig word as God se Woord deur die krag van die Heilige Gees verkondig, geglo en uitgeleef word:

“Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard” (Heb. 4:12).

“Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim. 3:16-17).

Wat gebeur wanneer die kerk nie meer seker is of God deur die Bybel gepraat het nie? Dit verwaarloos dié dele van die Bybel wat mense die meeste moet hoor. Dit is ‘n groot gevaar, want mense vermy gewoonlik enigiets wat hulle veroordeel en van hulle verwag om dinge te verander wat hulle nie regtig wil verander nie. Daar word van dié sake af weggeskram deur te sê dat die Bybel foutief of oudmodies is.

Dit is as gevolg van dié houding dat ons soms mense hoor sê: “Ja, ek weet dat die Bybel homoseksualisme ‘n sonde noem, maar ons het vandag verby daardie stadium beweeg. Paulus was verkeerd. Wat nou belangrik is, is dat ons almal mekaar moet liefhê.”

Op hierdie wyse word die hervormende stem van God in die kerk uitgedoof en aan menslike opinies en vrysinnige eksegetiese gebruike ondergeskik gestel.

Wanneer die Woord van God nie meer in sy volheid aanvaar en verkondig word nie, word die gesag daarvan ook nie eerbiedig nie. Relativistiese kontekstualisering word dan beoefen, waarin allegorisering, vergeesteliking en herinterpretasie volgens eie denke ‘n groot rol speel. Geestelike duisternis, ‘n gebrek aan onderskeidingsvermoë, en uiteindelike kompromie met ander gelowe is die gevolg hiervan.

Bronne

Erickson, M.J. 1983: Christian Theology. Baker Bookhouse.
Lindsell, Harold 1976: The Battle for the Bible. Zondervan.
Lindsell, Harold 1979: The Bible in the Balance. Zondervan.
Montgomery Boice, J. 1979: Does inerrancy matter? Tyndale House.
Packer, J.I. 1979: Foreword in: Does inerrancy matter? deur J. Montgomery Boice
Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.