Die Genesis-vloed - Deel 2


Was die Vloed regtig wêreldwyd?

Daar is baie Christene wat sê dat die sondvloed in Noag se tyd slegs ‘n plaaslike vloed was. Dis omdat hulle glo dat ons wêreld miljoene jare oud is. Met daardie siening verteenwoordig die fossiele in die rotslae die geleidelike verskyning van nuwe vorme van lewe oor onbepaalbare tydperke.

Maar wetenskaplikes het nie altyd fossiele in daardie lig gesien nie. Geologiese baanbrekers, soos Nicholas Steno, het die fossiele wat in modder- en grondafsaksels in water begrawe was, met Noag se Vloed verbind.

Idees is nes families; hulle is verwant. Die idee van evolusie beteken dat die ‘fossielsamestelling’ geleidelik oor miljoene jare byeengebring is en dit beteken dat daar geen geologiese bewyse vir Noag se Vloed is nie. Dus, Christene wat in evolusie en/of in miljoene ‘geologiese jare’ glo, moet aandring op ‘n plaaslike vloed.

Evolusie (of selfs net ‘miljoene jare’) beteken ook dat die fossiele, wat pyn, dood, bloedvergieting en lyding verteenwoordig, gevorm is voordat Adam en Eva gesondig het. So, wat het God dan bedoel toe Hy sy voltooide skepping beskryf het as ‘baie goed’? Evolusie beteken dat dood en lyding nie die gevolg van sonde is nie. Dit maak die betekenis van die dood en opstanding van Christus tot niet.

Maar die Bybel beskryf baie duidelik ‘n wêreldvloed.

As die Vloed plaaslik was, waarom moes Noag ‘n reusagtige Ark bou?

Hy kon bloot na die ander kant van die berge gegaan het en so ontsnap het! Waarom voëls aan boord neem? Hulle kon weggevlieg het.

Jesus het geglo dat, benewens Noag en sy familie, die sondvloed almal laat omkom het (Mat 24:37–39). As die Vloed plaaslik was, sou mense wat buite die area gewoon het nie getref gewees het nie. Hulle sou God se oordeel oor sonde vrygespring het.

Verder, Christus het die komende oordeel oor die wêreld vergelyk met die oordeel van alle mense in die dae van Noag (Mat 24:37–39). Petrus het ook (2 Pet 3). ‘n Plaaslike vloed in Noag se tyd sou ‘n gedeeltelike komende oordeel beteken het.

Hoe kon “al die hoë berge onder die ganse hemel bedek” (Gen 7:19) en die Vloed plaaslik gewees het? Water vloei na die laagste vlak. Die Bybel se sondvloed het die hele wêreld bedek.

God het die reënboog in die wolke gegee as teken dat Hy nooit weer die aarde met water sou vernietig nie. Daar was al ontsaglike ‘plaaslike’ vloede (byvoorbeeld in Bangladesj) – maar nog nooit weer ‘n wêreldvloed wat alle lewe op land vernietig het nie. As die sondvloed plaaslik was, sou God Sy plegtige belofte al herhaaldelik gebreek het.

Waar het al die water vandaan gekom?

Op daardie dag ‘is al die fonteine van die groot watervloed oopgebreek, en die sluise van die hemel is geopen en die stortreën was op die aarde veertig dae en veertig nagte lank.’ (Gen 7:11-12).

Die Bybel beskryf twee bronne van die water – reën van ‘die sluise van die hemel’ en ‘die fonteine van die groot watervloed’. Dat hierdie fonteine eerste genoem word kon miskien gewees het dat dit die belangrikste bron van die water vir die Vloed gewees het. Dit verwys waarskynlik na die enorme ondergrondse waterbronne. Die ‘oopgebreek’ impliseer grootskaalse vulkaniese- en aarbewing-aktiwiteite.

Geoloë het ontdek dat die rotse in die diep onderaardse mantel steeds water in oorvloed bevat. Hulle glo dat in die verlede sommige van die water in die mantel van die aarde uitgekom het. Daar is nog genoeg water diep onder die aarde om die oseane sowat twintig keer weer vol te maak!

Die berge en landmassas was anders voor die Vloed gewees. Sommige skeppingleerder-wetenskaplikes glo dat die opbreek van ‘n enkele kontinent deel was van die meganisme wat die Vloed veroorsaak het.

Hoe kon die Ark behoue bly in die Vloed?

Koreaanse skeepsboukundiges het bevind dat die Ark, soos in die Bybel gespesifiseer, een van die stabielste vorms is om groot golwe in ‘n onstuimige oseaan te behartig. Dit sou regop gebly het onder die ongunstigste toestande.

Anders as die seilskepe van die Middeleeue, was dit in elk geval nie vir die Ark nodig om te vaar nie. Dit moes slegs kon dryf. Effens geronde voor- en agterstewe kon die hantering van die Ark in groot golwe verbeter het, en sou die waarksynlikheid verminder dat dit sywaarts teen die golwe sou draai. Maar die Bybel is hieroor nie dudelik nie; en dit is moontlik dat die Ark die eenvoudige vorm van ‘n kis gehad het, wat die maksimum bergruimte sou voorsien, en struktureel sterk sou gewees het.

Kritici het al gesê ‘n vaartuig van hierdie grootte van hout gemaak kan nie sterk genoeg gewees het nie, maar dis nie waar nie. Die strafste spanning sou voorgekom het wanneer die afstand tussen golwe omtrent dieselfde as die Ark se lengte was. Met gepaste ontwerp van die struktuurraamwerk en huid-plankwerk, sal dit prakties uitvoerbaar wees om ‘n struktuur met Bybelse afmetinge te bou wat die spanning sal kan behartig.

Hoe kon Noag vir al daardie diere sorg?

En jy, neem vir jou van al die voedsel wat geëet word, en versamel dit by jou, dat dit vir jou en hulle as voedsel kan dien. (Gen 6:21).

Dit was vir Noag nodig om die diere warm en skoon te hou en genoeg voedsel en water te bêre vir 370 dae. Volgens Woodmorappe sou voedsel vir 16 000 diere slegs omtrent 15% van die Ark se totale volume opgeneem het; en drinkwater omtrent 10%. Dit sou verminder kon word deur die berging van gedroogde en saamgepersde eetgoed en reënwater te versamel.

Woodmorappe skat dat 8 mense 16 000 diere kon versorg sonder spesiale middele. ‘n Diep laag saagsel, houtskaafsels en moerasturf kan vir baie maande goed bly; en sou nattigheid en slegte reuk absorbeer. Party hokke kon skuins- of belatte-vloere gehad het, sodat die mis kon val en weggespoel word.

Dit is moontlik dat Noag stelsels gehad het wat water en kos outomaties aan die diere kon verskaf en die ontlasting kon verwyder. Vandag kan ‘n klein groepie boere duisene stuks vee en ander diere in ‘n betreklik klein spasie grootmaak. Ons sou waarskynlik verbaas wees oor die vindingryke stelsels aan boord van die Ark om die diere te voer en te versorg.

Wat sou sodanige toestelle aangedryf het? Miskien was dit deur swaartekrag, of wind of die bewegings van die Ark. Daar is baie moontlikhede.

Meeste diere reageer op natuurrampe op wyses wat ontwerp is om hulle te help oorleef. Dis moontlik dat baie van hulle in ‘n winterslaap gegaan het terwyl hulle op die Ark was.

Het die Vloed alle lewe vernietig?

Niemand in ons tyd het al ‘n orkaan, aardbewing of reënstorm beleef wat so verwoestend was as die Vloed in Noag se tyd nie. Die ergste natuurrampe wat in onlangse eeue opgeteken is – ofskoon verwoesting aangerig is aan lewe en land – is nog klein in vergelyking met die wêreldwye katastrofe wat die aarde vernietig het in Noag se tyd.

Die Bybel praat van ‘die fonteine van die groot watervloed’ wat oopgebreek is. Met ander woorde, aardbewings, vulkane, suile gesmelte lawa en skroeiende warm water het onder uit die aardkors in die lug geblaas in ‘n hewige, dolle opstoting. Hierdie fonteine het nie opgehou spuit totdat 150 dae van die Vloed verloop het nie.

En alle vlees wat op die aarde beweeg, het weggesterwe: die voëls en die vee en die wilde diere en al die gediertes wat op die aarde wemel, en al die mense. Alles wat die asem van die lewensgees in sy neusgate gehad het, alles wat op die droë grond was, het doodgegaan. (Gen 7:21-22).

Met ander woorde, elke persoon en landdier wat nie aan boord van die Ark was nie het omgekom soos wat die vloedwater meedoënloos aangehou het om te styg totdat daar nêrens meer ‘n plek was om heen te vlug vir veiligheid nie. Dit het natuurlik nie visse en ander seediere ingesluit nie, alhoewel baie van hulle ook in die hewige oorstroming sou omgekom het.

In Desember 2001 het ‘n aardbewing naby Indonesië ‘n tsoenami (seismiese [see] golf) veroorsaak wat baie lande rondom die Indiese Oseaan verwoes het. Net ‘n enkele tsoenami het hele stede binne ‘n paar minute uitgewis. Nadat die water teruggestroom het na die see, was die wêreld geskok oor die verwoesting. Iets in die 200 000 mense het omgekom. Dink net wat sal gebeur as die tsoenami’s net aanhou kom, een na die ander, dag vir dag vir vyf maande, totdat die hoogste berge bedek was.

Waarheen het al die water gegaan?

Daar word na ons planeet as die blou planeet verwys omdat dit hoofsaaklik met water bedek is. Die oseane beslaan ongeveer 70% van die aarde se oppervlakte, en dit is waarheen die vloedwater gegaan het.

As die wêreld se berge glad afgewerk en die oseaan se valleie opgestoot sou word om die hele oppervlakte gelyk te maak, dan sou water die aarde bedek tot ‘n diepte van ongeveer drie kilometer. Die Vloed in Noag se tyd het massiewe aardverskuiwings veroorsaak. Ons sien baie voorbeelde waar bergreekse kromgetrek en gebuig is terwyl die neerslag nog sag was. Teen die einde van die Vloed was hulle opgestoot soos wat die aarde se kors beweeg het. Party teoloë glo dat Psalm 104:7-8 dit beskryf waar dit praat van berge wat opgerys, laagtes wat weggesak en grense waar die water nie oor mag gaan nie.


Bron : Die Genesis Vloed - Feit of Fiksie deur Tas Walker
Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.