Die Toekoms: Wat Kan Ons Verwag?

 Prof. Johan Malan, Mosselbaai

Daar is twee uiteenlopende benaderings tot die verklaring van Bybelse profesieë, naamlik die vergeestelikte en die letterlike verklarings. Dit lei na totaal verskillende en selfs botsende toekomsverwagtings, daarom is dit noodsaaklik dat elke Christen groter duidelikheid hieroor sal verkry. Ons moet beslis weet wat op ons wag as ons daarvoor gereed wil wees.



Valse verwagtings oor die toekoms lei na ontnugtering, verwarring en ook twyfel oor hoe ons die Bybel moet verstaan. Om geen duidelike verwagting te hê nie, lei na geestelike louheid en onbetrokkenheid by die Here se profetiese program. Net ’n regte, Bybelse toekomsverwagting help ons om waaksaam te bly en die tekens van die tye reg te vertolk (Luk. 12:54-56).

Die vergeesteliking van profesieë


Hierdie benadering tot Bybelse profesieë is subjektief, verwarrend en heeltemal onsistematies. Dit is totaal uit voeling met belangrike profetiese temas soos die herstel van die volk Israel, die opkoms van ’n antichristelike nuwe wêreldorde en die vestiging van ’n letterlike, duisendjarige vrederyk van Christus op aarde. Die vergeesteliking en wegverklaring van ’n vrederyk ná die wederkoms word amillennialisme of antichiliasme genoem (chilios is die Griekse term vir ’n duisend, en mille die Latynse term). Ondersteuners hiervan spreek hulleself uit teen die belofte van ’n letterlike millennium as ’n laaste bedeling in die mens se heilsgeskiedenis.
 
Hoewel antichiliaste die idee van ’n letterlike duisendjarige vrederyk van Christus ná sy wederkoms verwerp, beteken dit nie dat hulle die openbaring van God se koninkryk op aarde in beginsel verwerp nie. Hulle dwaling kom daarby in dat hulle die koninkryksdispensasie verkeerd vertolk deur dit met die kerkbedeling gelyk te stel. Hulle erken nie die chronologiese orde in die ontvouing van God se profetiese plan nie, en sien gevolglik nie die sistematiese, dispensasionele opeenvolging in die vervulling van Bybelse profesieë raak nie. As gevolg van hulle vooropgestelde dogmatiese oriëntasie maak hulle foutiewe aannames oor wanneer en hoe sekere profesieë vervul gaan word.
 
Hierdie oordeelsfout lei na ’n baie groot dilemma, want niks wil reg uitwerk wanneer die konsep van God se koninkryk – en spesifiek die fisiese openbaring daarvan – verkeerd vertolk word nie. Die grootste probleme waarmee antichiliaste in hulle eskatologiese beskouings te kampe het, is die volgende:
 
  • Die toekomstige koninkryksbedeling sal volgens Openbaring 20:4 en 6 ’n duisend jaar lank duur, maar die kerkbedeling waarmee hulle die koninkryk gelykstel, is nou al byna tweeduisend jaar aan die gang. Op watter punt begin en eindig die millennium dan? 

  • Christus sal tydens die koninkryksbedeling op die troon van Dawid uit Jerusalem regeer (Luk. 1:32; Hand. 15:16-17; Jes. 9:6), maar hierdie troon is steeds vervalle met niemand wat daarop regeer nie. Antichiliaste neem nie die feit in ag dat die fisiese openbaring van God se koninkryk op aarde slegs kan geskied in assosiasie met ’n ten volle herstelde Israel in die Heilige Land nie. Israel moet dus eers vir Jesus as Messias en Koning aanvaar voordat hulle eie koninkryk én die Messias se koninkryk geopenbaar kan word.

  • Jerusalem sal tydens die koninkryksbedeling die godsdienstige politieke hoofstad van die wêreld wees, en die Here sal daar deur die nasies geraadpleeg en gedien word (Jes. 2:2-3; Jer. 3:17; Sag. 8:22). In skrille kontras met hierdie situasie was Jerusalem tydens die kerkbedeling bestem om deur die nasies vertrap te word (Luk. 21:24), en kon dit nie in enige opsig die hoofsetel van die Messias se koninkryk gewees het nie.
 
  • Die fisies én geestelik herstelde Israel sal in die vrederyk die Here se spesiale getuies op aarde wees en almal van hulle sal Hom dien (Jes. 27:6; Jer. 31:34; Sag. 8:23). Tans verwerp die groot meerderheid Jode nog steeds vir Jesus as Messias, en sal hulle eers die knie voor Hom moet buig voordat hulle volkome sy volk sal word wat Hom ook geestelik van harte sal dien (Sag. 12:10; 13:9).

  • Die kerkbedeling eindig nie met groot herlewings as ’n manifestasie van God se koninkryk op aarde nie, maar met groot geestelike misleiding en ’n groot verdrukking onder die beheer van die Antichris (Matt. 24:21, 29-30; 2 Thess. 2:3-4). Die slag van Armagéddon sal die einde van die verdrukking meebring, wanneer Christus sy vyande sal verdelg (Op. 16:16; 19:19-21). Daar is geen Bybelse aanduiding van groot herlewings reg aan die einde van die kerkbedeling nie.

  • In die koninkryksbedeling sal die duiwel gebind en in ’n put verseël wees sodat hy die nasies nie kan verlei nie. Die name van die afgode sal uitgeroei word (Sag. 13:2), die nasies sal almal in vrede leef en geen oorloë voer nie (Jes. 2:4; Jer. 3:17), die kennis van die Here sal die hele aarde oordek (Jes. 11:9) en Jerusalem sal ’n lof op aarde wees (Jes. 62:6-7). Dit is totaal onrealistiese en onbybels om te verwag dat toestande van hierdie aard gedurende die kerkbedeling op aarde sal heers.
 
Wat doen antichiliaste om die onmoontlikheid van hulle eie profetiese scenario te probeer regverdig, en wat doen hulle om die talle teenstrydighede daarin te verklaar? Hulle wend hulle tot vergeesteliking en allegorisering, sodat hulle van die letterlike implikasies van ’n groot aantal profesieë kan wegkom. Wanneer hulle nie hierin kan slaag nie, verskuif hulle sekere eindtydse profesieë na die verre verlede en sê dat dit eeue gelede (bv. in die tyd van Nero) finaal vervul is. Die volgende misleidende standpunte word onder andere deur antichiliaste ingeneem in ’n poging om hulle onsistematiese eskatologie te probeer regverdig:
 
  • Hulle aanvaar nie dat Christus se vrederyk ’n duisend jaar lank sal duur nie, ten spyte van die feit dat die lengte van die vrederyk ses keer in Openbaring 20 as ’n duisend jaar aangedui word. Volgens hulle is “duisend” ’n simboliese begrip wat bloot as ’n “lang tyd” vertolk moet word. Geld dit vir alle getalle in die Bybel, soos bv. ook vir die 70 jaar van die Babiloniese ballingskap? (Jer. 25:11).

  • Die belofte dat Christus die troon van Dawid sal herstel en die wêreld van dié troon af sal regeer, word ook nie letterlik aanvaar nie. Daar word geredeneer dat Christus nou uit die hemel oor sy koninkryk regeer. Van wanneer af is die troon van Dawid in die hemel (Luk. 1:32), en hoe kan die nasies nou na die Koning in Jerusalem optrek om deur Hom onderrig te word? (Jes. 2:2-3; Sag. 8:22).

  • Die belofte dat al die heiliges opgewek sal word en vir ’n duisend jaar lank saam met Christus in sy koninkryk sal regeer (Op. 5:9-10; 20:6), word ook vergeestelik. Daar word beweer dat die ontslape heiliges nou in die hemel saam met Christus regeer. Hoe vervul mense hierdie funksie as hulle nog nie eers ’n opstandingsliggaam het nie? In Openbaring 20:4 sê Johannes die martelare van die verdrukking “het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.”

  • Die honderde beloftes oor die herstel van die volk Israel in hulle land (vgl. Eseg. 36:22-28; 37:21; Jes. 11:11-12; Rom. 11:25-26), word vergeestelik en op die kerk toegepas. Na watter land toe word Christene in die eindtyd herstel? Die Here sê tog duidelik net ten opsigte van Israel: “Ek sal julle bymekaarmaak uit al die volke en julle versamel uit die lande waarin julle verstrooi is, en Ek sal aan julle die land Israel gee” (Eseg. 11:17). Dit is totaal uit pas met die bedoeling van die Bybel om beloftes soos dié op die kerk toe te pas. Net so ook word profesieë oor die tyd van benoudheid vir Jakob, wat na Israel se ervarings in die komende verdrukking verwys (Jer. 30:7), vergeestelik of histories verklaar.
 
  • Antichiliaste beweer dat ons nou in die koninkryksbedeling leef en dat die duiwel tans gebind is “sodat hy die nasies nie kan verlei nie” (Op. 20:1-3). Hierdie profesie sal eers vervul word nadat Christus teruggekom, die Antichris en die valse profeet verdoem en hulle misleide volgelinge geoordeel het (Op. 19:11-21). Die duiwel sal tydens die hele duur van die vrederyk gebind bly, en dié tydperk het nog nie eers begin nie. Wat die huidige situasie betref, sê die Bybel dat die hele wêreld in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19) en dat ons die volle wapenrusting van God moet aantrek om staande te kan bly teen die liste van die duiwel (Ef. 6:11-12). Hy word as “die owerste van hierdie wêreld” beskryf (Joh. 14:30), asook “die god van hierdie wêreld” (2 Kor. 4:4). Dit is die rede waarom Christene tydens die kerkbedeling in ’n oorwegend goddelose wêreld leef waarin hulle verdruk word (Joh. 6:33), en juis daarom ’n geestelike oorlog teen boosheid moet voer. Ons leef duidelik nie in die vrederyk nie en ervaar daagliks dat die duiwel nie gebind en van die wêreld uitgesluit is nie.

  • Antichiliaste glo glad nie dat die kerkbedeling in ’n tyd van ongekende geestelike en morele afvalligheid sal eindig as ’n voorspel tot die groot verdrukking nie. Hulle aanvaar ook nie die letterlike vervulling van profesieë oor ’n persoonlike Antichris wat tydens die verdrukking oor die wêreld sal regeer nie. As gevolg van hierdie siening glo hulle ook nie in die belofte van ’n wegraping net voor die Antichris se verskyning nie, want volgens hulle gaan daar nie ’n Antichris op die toneel verskyn nie. Hulle beweer dat al die donker profesieë oor die verdrukking in die eerste eeu tydens die bewind van die Romeinse diktator Nero vervul is. Hy was na bewering die Antichris. Wat dan van al die profesieë wat dit duidelik stel dat die Antichris ’n lewende persoon op aarde sal wees wanneer Christus kom? (2 Thess. 2:6-12; Op. 19:19-20). Wie is sy teëhouer wat weggeneem moet word sodat hy geopenbaar kan word? Daar is tog duidelik ’n “ontvlugting” vir gelowiges voor die uitstorting van Goddelike toorn op die aarde, en hulle moet waak en bid om hiervoor waardig te wees (Luk. 21:36).
 
  • As gevolg van hulle besondere koninkryksbeskouing kan antichiliaste nie aanvaar dat die kerkbedeling in ’n Laodicése toestand van mislukking en afvalligheid sal eindig nie (Op. 3:15-17), gevolg deur die openbaring van die Antichris en sy wêreldregering (Op.13:3-7). Vir hulle is dit meer aanvaarbaar dat daar nou groot herlewings sal uitbreek, waardeur ’n wêreldwye Christelike transformasieproses aan die gang gesit kan word. Dit is die visie wat hulle huldig, en baie van hulle is selfs bereid om ekumeniese bande met ander gelowe aan te knoop sodat hulle vredesplanne verder uitgebrei en wêreldwyd toegepas kan word.

Transformasie
 
Dit is duidelik dat antichiliaste ’n mensgemaakte, ekumeniese koninkryk najaag waarin die volgende Bybelse eienskappe van die toekomstig geopenbaarde koninkryk van Christus ontbreek: die volk Israel speel geen rol daarin nie; die stad Jerusalem was nooit gedurende die kerkbedeling eers naastenby ’n wêreldhoofstad nie; die troon van Dawid waarop Christus as Koning moet regeer, is steeds vervalle; die duiwel is allesbehalwe gebind en loop steeds rond soos ’n brullende leeu om te kyk wie hy kan verslind (1 Pet. 5:8); die nasies leef nie in vrede nie en het nog nie begin om van hulle swaarde pikke te smee nie; hulle eer ook nie die volk Israel as God se spesiale gesante nie (Sag. 8:23; Jes. 60:10-12), maar vervolg en benadeel hulle op alle moontlike maniere.
 
Ten spyte van al die verskille tussen die mensgemaakte koninkryk van die hemel en die werklike koninkryk van die hemel, gaan antichiliaste voort met hulle pogings om die hele wêreld in ’n Christelike koninkryk te probeer omskep. Die feit dat hulle dit op ’n onbybelse, ekumeniese manier probeer doen, is ’n klinkklare bewys dat hulle nie in hulle doel sal slaag nie. Hulle gaan egter voort met hulle planne, waaronder ook transformasiebyeenkomste wat jaarliks in verskeie lande gehou word.
 
Die volgende is een van die tekste wat hulle graag by transformasiebyeenkomste gebruik: “As my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ek uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees” (2 Kron. 7:14). Hierdie belofte is aan Israel gegee – die volk oor wie die Naam van die Here uitgeroep is. Hulle was egter die meeste van die tyd ongehoorsaam aan die Here en het as gevolg daarvan sy seën verbeur. In Nuwe Testamentiese tye is hulle uit hulle land verdryf omdat hulle geestelik blind was en nie die gunstige tyd toe God hulle deur die Messias besoek het, opgemerk het nie (Luk. 19:41-44).
 
Is daar vandag volke oor wie die Naam van die Here Jesus uitgeroep is, wat die Drie-enige God in hulle grondwette erken, parlementsittings deur gebed open, Christelike onderwys aan die jong geslag bied, Christelike moraliteit handhaaf en gepaste Bybelse strawwe vir ernstige misdadigers oplê? Daar is nie sulke lande nie, en juis daarom sê die Bybel dat die hele wêreld in die mag van die Bose lê.
 
Dit is altyd goed en reg om mense tot bekering op te roep, maar dit moet primêr gedoen word met die oog op die redding van siele – nie in nietige pogings om hele volke te probeer red nie. Die getalle wat positief op die oproep tot bekering reageer, sal nooit so hoog wees dat dit die geestelike karakter van die hele samelewing dramaties sal verander nie. Die Here Jesus het gewaarsku dat net ’n minderheid mense onder evangeliese prediking tot bekering sal kom. Die breë weg sal steeds die drukste verkeer dra, ongeag hoe graag ons die situasie ook sou wou verander (Matt. 7:13-14; Luk. 13:23-24).
 
Dit help nie om onrealistiese verwagtings te koester dat hele stede en selfs hele lande hulle in sak en as tot God sal bekeer en sodoende ’n totale transformasie na Christelike standaarde sal ondergaan nie. Strategiese geestelike oorlogvoering en die gepoogde neerwerp van bose vestings in die lug is onbybels, onuitvoerbaar en skep net valse verwagtings. Ons moet eerder aanvaar dat daar in die eindtyd swaar tye oor die aarde sal kom (2 Tim. 3:1), en uiteindelik ’n groot verdrukking soos wat daar van die begin van die wêreld af nog nooit was nie (Matt. 24:21). Hierdie scenario is op die punt om vervul te word.
 
Die Bybel berei ons duidelik voor op grootskaalse verval in die eindtyd: “Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word. En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees” (Op. 22:11-12).
 
Mense moet nou teen die naderende oordele gewaarsku word, sodat hulle waaksaam kan wees en toesien dat hulle nie saam met die sterker wordende stroom van geestelike en morele verval afdryf nie. Ongereddes moet soos brandhout uit die vuur geruk word. Dit sal nie help om nou ’n hele goddelose land soos Suid-Afrika te probeer salig spreek in die hoop dat almal van hulle van harte tot bekering sal kom nie. Al wat hulle wel van harte en in eensgesindheid ná die wegraping sal doen, is om die Antichris na te volg en te aanbid: “En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan ... en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer? ... En aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Op. 13:3-4, 7).
 
Tot watter nut is dit om nou ’n nasionale transformasie as ideaal voor te hou, terwyl die hele land, hele gemeenskappe en selfs groot kerke met hulle kweekskole op die sand van geestelike misleiding, profetiese onkunde en morele opportunisme gebou is? Valse hoop kan nie die rampspoed wat aan die kom is, afweer nie. Gelowiges moet eerder geleer word om te waak en te bid sodat hulle waardig sal wees om die komende oordele en verdrukking te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan (Luk. 21:36).
 
In plaas van transformasiebyeenkomste moet basiese evangelisasie gedoen en groot klem op die vervulling van Bybelse profesieë gelê word. Daar moet vir alle ongereddes gebid word, asook in die besonder vir die volk Israel, in die hoop dat sommige van gered sal word. Baie van hulle sal egter steeds die verkeerde besluite neem, soos in die eerste eeu toe die Here Jesus gesê het: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ’n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43).
 
Mense verwerp nog steeds die ware Christus en sy Woord, en maak daardeur van hulleself kandidate om die komende Antichris te aanvaar, na te volg en te aanbid. Een van sy ideologieë waarteen mense nou gewaarsku moet word, is dié van globalisme. Op grond daarvan word daar na wêreldeenheid op drie terreine gestreef: ’n wêreldregering, ’n alliansie van wêreldgodsdienste waarin alle misleide gelowe die valse Christus sal aanbid, en ’n wêreldekonomie wat aan die Antichris die geleentheid sal bied om alle mense ten volle te kan beheer.
 
Antichiliaste se foutiewe vertolking van Bybelse profesieë veroorsaak egter dat hulle nie oor hierdie gevare ingelig is nie en gevolglik ook nie andere kan waarsku teen die moeilike tye wat aan die kom is nie. Hulle verkeerde koninkryksbeskouing is juis die groot rede waarom hulle onwetend besig is om deur middel van ’n moderne toring van Babel aan die Antichris se eindtydse wêreldryk te bou.
 
Hoe en wanneer kan profesieë vergeestelik word?
 
Daar is beslis beeldspraak in die Bybel, maar dit word altyd deur die Bybel self verklaar. Dit moet egter uit die konteks en beeldende taal self baie duidelik wees dat ’n letterlike vertolking onvanpas is. Indien ’n stelling logies is, moet dit altyd letterlik vertolk word: “If the plain sense of the word makes common sense, then seek no other sense.” Wanneer die Bybel bv. van Israel en Jerusalem praat, asook die 144 000 geredde Jode van Openbaring 7, moet hierdie begrippe nie vergeestelik en op die kerk toegepas word nie. Dieselfde geld vir getalle en tydperke soos ’n duisend jaar, sewe jaar, 42 maande en 1260 dae.
 
Wanneer daar wel duidelik van beeldspraak gebruik gemaak word, word dit gewoonlik gedoen met die oog op die beklemtoning van sekere kenmerke van ’n persoon of ’n groep mense. Die beeld het dus nie slegs ’n abstrakte, allegoriese betekenis wat ver van die fisieke werklikheid af verwyderd is nie, maar het in die meeste gevalle ’n letterlike teëbeeld. Die Lam van God dui bv. op Christus, die slang en draak op die duiwel (Op. 12:3, 15) die sterre wat Satan tydens sy val uit die hemel saamgesleep het, verwys na gevalle engele, terwyl die dier met die sewe koppe ’n beskrywing van die Antichris is (Op. 13:1-2). Net so ook moet die Antichris se toekomstige wêreldekonomie waarin koop- en verkooptransaksies deur ’n nommerstelsel beheer sal word, letterlik opgeneem word (Op. 13:16-18).
 
Die slag van Armagéddon as ’n groot wêreldoorlog wat tydens die wederkoms van Christus gevoer sal word, word as ’n letterlike, fisiese konfrontasie beskryf en nie bloot as ’n geestelike oorlog iewers in die lug nie (Op. 16:13-16; 19:19-21; Sag. 14:1-13). Selfs ’n abstrakte, geestelike begrip soos “die verborgenheid van die ongeregtigheid” word aan ’n persoon gekoppel, nl. die Antichris of “die mens van sonde”, en hy sal in die eindtyd, kort voor die wederkoms van Christus, sigbaar op aarde geopenbaar word (2 Thess. 2:3-8). Net so ook moet daar nie slegs na die duiwel as ’n metafoor van boosheid verwys word nie. Hy is ’n bose god wat ná die wederkoms van Christus in ’n put gebind en daarna geoordeel sal word oor al die bose dade wat hy gepleeg het (Op. 20:1-3, 10).
 
Met die oog op al hierdie duidelike profetiese feite moet ons aanvaar dat ons in ’n bose wêreld leef en nie nou in die geopenbaarde koninkryk van God is nie. Die Here Jesus het na die aarde gekom “sodat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose wêreld” (Gal. 1:4). Wanneer Hy weer kom, kom Hy om sy diensknegte te beloon, die sondaars te straf en die demoniese driemanskap – die duiwel, die Antichris en die valse profeet – te oordeel (Op. 11:18). Hoe gouer ons die wesenlike betekenis van die Bybel aanvaar, hoe beter sal ons op die toekoms voorbereid wees.
 
Ons wag vir ’n koninkryk wat nou nog nie geopenbaar is nie, want die Koning van die konings het nog nie gekom om die vestings van boosheid te vernietig nie. Wanneer Hy gekom het, sal die tyd van ons vreemdelingskap in ’n bose wêreld verby wees, en sal ons saam met Hom as konings op aarde regeer (Rom. 8:17; 2 Tim. 2:12; Op. 5:9-10).
 
’n Finale waarskuwing
 
Die integriteit van die profetiese woord in die Bybel moet ten alle tye eerbiedig word. In die heel laaste hoofstuk van die Bybel word ons gewaarsku om niks daarvan weg te neem of enigiets daarby te voeg nie (Op. 22:18-19). Mense wat hulleself hieraan skuldig maak, het geen plek in die koninkryk van die hemel nie.
 
Daar is in die eindtyd talle selfaangestelde profete en profetesse wat daarop aanspraak maak dat die Here deur middel van drome, visioene en ander maniere profetiese inligting oor die toekoms aan hulle bekend gemaak het, wat aanvullend is tot dit wat in die Bybel staan. Sulke profesieë is vals! Hierdeur word ’n regstreekse aanval op Bybelse openbarings gemaak, as sou dit nie volledig en genoegsaam wees vir ons onderrig nie. Profetiese bylaes moet dus volgens moderne sieners aan die einde van Bybel ná Openbaring bygevoeg word. Al hierdie addisionele profesieë word egter met die verloop van tyd as vals geopenbaar, vandaar die Here se streng waarskuwing teen die aanmatigende persone wat hulleself hieraan skuldig maak.
 
Aan die ander kant word Bybelse profesieë ook ondermyn deur dele daarvan weg te neem. Dit kan gedoen word deur sekere profetiese uitsprake te ontken, bv. dat daar ’n persoonlike duiwel is wat saam met die sondaars in die hel gegooi sal word, dat daar ’n eerste opstanding vir die regverdiges sal wees, ens. Die mees algemene metode van die wegneem van Bybelse beloftes en waarskuwings, is om dit deur middel van vergeesteliking weg te redeneer en totaal buite hulle konteks te verklaar. Hierdie aanmatigende houding het reeds daartoe gelei dat baie mense die eindtydse vervulling van Bybelse profesieë oor die volgende sake ontken: die groot afval in die laaste dae, die opkoms van ’n antichristelike nuwe wêreldorde, die herstel van Israel in hulle land, die wegraping, die verskyning van ’n persoonlike Antichris, die verdrukking van sewe jaar onder sy tweemanregering saam met die valse profeet, die slag van Armagéddon en ’n letterlike duisendjarige vrederyk daarna.
 
Persone wat die profetiese woord deur vergeesteliking en allegorisering van sy grondbetekenis ontneem, gaan gewoonlik verder om ook ander konkrete stellings in die Bybel te ontken of deur vergeesteliking van hulle betekenis te beroof. As gevolg hiervan glo baie van hulle nie meer in die maagdelike geboorte van Christus, die Goddelike inspirasie en foutloosheid van die Bybel, die opstanding en hemelvaart van Jesus Christus, en in baie gevalle ook nie meer in die heilsbetekenis van sy kruisdood nie. Daardeur diskwalifiseer hulle hulself om enige deel te hê aan die Bybelse Jesus en aan die opstanding, ewige lewe en hemelse koninkryk wat Hy aan sy ware dissipels belowe het. Hoe sal hulle ontvlug as hulle so ’n groot saligheid verontagsaam? (Heb. 2:1-4).

Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.