Kyk met ander oë na broodjies

Deur Riana Ehlers

Kinders het toebroodjies nodig vir die dag.  ‘n Mens kan nie die dag deurgaan op ‘n leë maag nie.  Daarom is daar talle ouers wat elke oggend vroeg opstaan om broodjies vir hulle gesin te maak.  Elkeen se broodjies word volgens sy behoeftes gemaak en in ‘n blikkie gepak met sy naam op.

So staan die Heilige Gees ook elke oggend gereed met ons elkeen se broodjies (Die Woord) vir die dag, gepak in jou blikkie (Die Bybel) om aan jou behoeftes te voldoen.  Hy wag om te sien of jy die broodjies gaan oopmaak.  Hy wil sien hoe jy dit geniet en hoe dit jou sterk maak.

As onderwyseres was dit die lekkerste lekker om te sien hoe party outjies met entoesiasme in daardie kosblikke induik.  Hulle het vinnig gekyk wat is die verrassing vir die dag en dan selfvoldaan rondgekyk of daar nog iemand is wat so gelukkig was soos hulle.  Daar was ook die outjies wat die kosblik net eenkant toe geskuif het en besluit het hulle het beter dinge om te doen.

Dis die kinders wie se broodjies onoopgemaak teruggaan huis toe.   Die kinders wat kosbare voedingstowwe vir hulle liggame gemis het.  Soms kry ‘n mamma talle kosblikke onder in die tas vol gemufte broodjies en dan is sy vies oor die vermorsing van kos en sy wonder of sy ooit weer ‘n kosblik moet pak vir skool.

Doen ek en jy nie dieselfde met die Heilige Gees se vars brood vir elke dag nie?  Ons is net te besig, ons het beter dinge om te doen.  Daar is nie tyd vir broodjies nie en voor ons ons kan kry, is die dag verby en het die broodjies (met respek gesê) pap en sleg geword.  Dit het betekenis verloor, want dit was vir vandag met sy probleme en uitdagings bedoel.

Hoeveel gemufte toebroodjies het die Heilige Gees al uit jou tas moes haal omdat jy net te besig was?

Kom ons maak tyd en eet elke dag ons vars broodjie wat die Heilige Gees met liefde vir ons voorberei het, sodat ons kan groei en sterk word in Christus.


Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.