Keuses Wat Elkeen in sy Lewe Moet Maak

Artikel deur Professor Johan Malan

Die Here het die mens as ʼn intelligente wese met ʼn vrye wil geskape. In die bepaling van die koers wat sy lewe inslaan, tree hy dus nie instinktief op nie omdat hy nie ʼn robot is wat vooraf geprogrammeer is om net op een vasgestelde manier in ʼn gegewe situasie te reageer nie. Sekere logies verstaanbare feite word aan hom voorgehou oor wat reg en verkeerd is, sodat hy tussen goed en kwaad kan onderskei en self kan besluit watter geloofsoortuigings en morele beginsels hy wil navolg. Hoewel sy besluite vry en ongedwonge is, is die mens nie vry van die gevolge van sy besluite nie, daarom dui die Here vir hom in sy Woord duidelik aan wat die uiteinde is van die geloof en lewenswyse wat hy gekies het. Die Here wil hê dat die mens ingeligte keuses sal maak sodat hy nie eendag wanneer dit té laat is, spyt sal wees oor wat hy besluit, geglo en gedoen het nie.

Die mees basiese keuse wat alle mense op aarde oor hulle lewensweg maak, is tussen die Here se pad van geregtigheid en die duiwel se pad van sonde. In die paradys het die Here vir Adam en Eva sekere opdragte gegee oor wat hulle mag en nie mag doen nie. Hulle was reg aan die begin van hierdie reis, en dit was lewensbelangrik dat hulle die Here sou volg en nie die duiwel nie. Verbode dinge wat buite die wil van die Here is, word “sonde” genoem, en as mense dít doen, dan beweeg hulle weg van die Here af op die pad van sonde. Ons moet goed verstaan wat hierdie belangrike keuse behels, want dit bepaal die koers en eindbestemming van ons lewe.

Die duiwel het homself egter vermom en na Eva gekom met ʼn storie wat teenstrydig was met dit wat die Here haar en haar man beveel het. Satan het God se opdragte verkeerd probeer bewys en vir Eva op ʼn listige wyse oorreed om met sonde te eksperimenteer. Hy het gesê: “Julle sal sekerlik nie sterwe nie, maar soos God wees” (Gen. 3:4-5). Dit is presies wat Lucifer self ook gedoen het voordat hy uit die hemel gewerp is en daarna “Satan” geword het – die “Teëstander” van God. Hy het homself verhef om soos God te probeer wees, en sodoende die oppergesag van die ware God geminag en verwerp. Hierdie rebelse daad het tot sy val aanleiding gegee, en daarna probeer hy om die eerste twee mense ook in sonde te laat val en sodoende van God vervreemd te laat raak. Satan het in sy goddelose doel geslaag, want sy slagoffers het nie die gevolge van sy bose raad behoorlik oorweeg nie. Die stamvader en stammoeder van die mensdom het nie ʼn verantwoordelike besluit geneem nie, maar naïef en op die ingewing van die oomblik gereageer. Sodoende het hulle ʼn noodlottige fout gemaak deur ongehoorsaam te wees aan die opdragte van Hom wat die bron van alle waarheid en lewe is.

Adam en Eva was ongehoorsaam aan God en het na ʼn ander god, die duiwel, geluister. Hulle het as gevolg hiervan nie net geestelik gesterf nie maar ook fisies sterflike mense geword. Hierdie eienskappe is deur hulle nageslag geërf, daarom verwys ons na die sondige natuur waarmee alle mense gebore word as hulle erfsonde. Paulus sê: “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het” (Rom. 5:12).

Daar is net een manier om van jou erfsonde en geestelike doodsheid verlos te word, en dit is om deur Jesus Christus vergewe en wederbaar te word sodat jy die ewige lewe deelagtig kan word. “Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word” (1 Kor. 15:22). Deur die eerste Adam het ons almal gesterwe maar deur die laaste Adam, Jesus Christus, verkry ons die ewige lewe (1 Kor. 15:45). Elke sondaar moet egter ʼn besluit hieroor neem en Christus as Saligmaker aanneem, want dan eers word hy ʼn kind van God wat die ewige lewe ontvang: “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo” (Joh. 1:12).

Die vraag is: hoe het verlossing dan in Ou-Testamentiese tye plaasgevind voor die menswording en soendood van Christus om verlore sondaars te red? Die Here het aan Adam en Eva gesê dat hulle wel, geestelik gesproke, toegang tot die boom van die lewe sou hê. Hulle kon deur middel van gebede en offers tot die Here se genadetroon nader en deur Hom vergewe en gered word. Die herhalende offers was egter onvoldoende om sonde weg te was, “want die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem” (Heb. 10:4). Die skaduagtige offers onder die ou verbond moes vervul word deur die eenmalige offer van Christus wat as die Lam van God aan die kruis gesterf het. Volgens Hebreërs 11:13 het Ou-Testamentiese gelowiges gesterwe sonder om die belofte oor die Messias te verkry, “maar hulle het dit in die verte gesien en geglo en begroet”. Christus se kruisdood is dus ook terugwerkend van krag om versoening te doen vir die sondes van alle gelowiges sedert Adam.

Alle mense van alle tye moet hulle tot die Here bekeer as hulle gered wil word. Dit gaan gepaard met die belydenis van die sondige toestand waarin hulle sedert geboorte is, asook die spesifieke sondes waarvan die Heilige Gees hulle oortuig. ʼn Keuse moet dus gemaak word téén die sonde en vír die geregtigheid van God. Hierdie verpligting om te kies hou nie ná ʼn persoon se bekering op nie – inteendeel, dit gaan lewenslank voort.

Solank as wat jy ʼn sterflike liggaam het, bestaan die moontlikheid dat jy versoek en verlei kan word. Die duiwel is altyd daarop uit om Christene te beroof en van die pad af te kry deur hulle te laat sondig. Soos in die geval van Eva, kom hy op ʼn verbloemde manier sodat jy nie moet besef dat jy met hom te doen het nie. Hy probeer dan om jou op ʼn sluwe wyse te oorreed om met sonde te eksperimenteer, omdat dit oënskynlik tot jou voordeel mag wees. Dalk het jy finansiële probleme, dan sal hy dié situasie uitbuit om jou te wys hoe jy op ʼn oneerlike manier geld kan maak. Soms haal hy selfs tekste of voorbeelde uit die Bybel aan om sonde te regverdig, bv.: “As koning Dawid ʼn ander vrou begeer het, waarom kan jy dit nie ook doen nie? Jy is tog nie beter as hy nie en ons is almal maar net mense.” Of ook: “As koning Salomo met ander godsdienste geëksperimenteer en voor vreemde gode neergebuig het, wat is fout daarmee as jy ook aan multigodsdienstige aktiwiteite soos Oosterse meditasie deelneem?”

Die verskillende maniere waarop mense versoek word om te sondig, is eindeloos. Dit is dus belangrik dat ons van hierdie moontlikheid bewus sal wees en ook die nodige voorsorg sal tref om nie voor versoekings te swig en te sondig nie. Paulus sê: “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel” (Ef. 6:10-11). Jakobus sê: “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug” (Jak. 4:7). Petrus sê: “Die duiwel loop rond soos ʼn brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof” (1 Pet. 5:8-9). Moenie die geestelike stryd onderskat en sonder enige teëstand swig voor die eerste versoeking nie. Ons moet ten bloede toe, selfs tot die dood toe, weerstand bied in ons stryd teen die sonde (Heb. 12:4).

Die plig om sonde die stryd aan te sê, rus op alle gelowiges van alle tye. Kain het nie sy bose neigings weerstaan nie, maar daaraan toegegee en as gevolg daarvan bose karaktertrekke ontwikkel, ʼn slegte houding geopenbaar en uiteindelik verkeerde dinge gedoen. Die Here het vir hom gesê: “Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang? Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie – die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers” (Gen. 4:6-7). Kain het duidelik die verkeerde keuses gemaak en ʼn duur prys daarvoor betaal.

Ons is in presies dieselfde situasie: die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na ons, maar ons moet daaroor heers. Ons moet duidelike besluite neem wanneer ons deur sonde gekonfronteer word: “Hou geen gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis, maar bestraf dit liewer” (Ef. 5:11). Is jy besig om die stryd teen sonde en versoekings te wen, of is dit ʼn verloorstryd in jou lewe?

In die Nuwe Testament word dit duidelik gestel dat die vlees, of ou natuur, ʼn skuilplek en basis vir sonde in jou lewe bied, selfs al het jy die Here Jesus as Saligmaker aangeneem. Paulus sê vir die gelowiges in Éfese dat hulle die oue mens wat na die sonde neig, moet aflê en hulle met die nuwe mens beklee, dan sal hulle oorwinning oor sonde kry (Ef. 4:22-24). Wanneer ons hierdie oorgawe maak, gee ons aan die Heilige Gees volle beheer oor ons lewe, en Hy sal ons in staat stel om nie deur die vlees te lewe nie, maar deur die Gees: “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Gal. 5:16). Die oorwinnende lewe is tot elkeen van ons se beskikking, maar daarvoor moet ons ook ʼn duidelike keuse maak.

Selfs Christene wat met die Heilige Gees vervul is, kan nog steeds verkeerde besluite neem en as gevolg daarvan sondig. Wanneer hulle dit doen, dan tree hulle nie in die Gees op nie maar in die vlees. Dit is die groot tragedie van ons tyd dat Christene nie ernstig oor ʼn saak bid en nadink nie, en dan impulsiewe besluite neem wat baie duidelik nie in die belang van die Here se koninkryk is nie. Die Here het aan ons deur sy Heilige Gees verligte oë van die verstand gegee, dit is, ʼn Bybelse oordeelsvermoë, om reg van verkeerd te kan onderskei (Ef. 1:17-18). Dit is net in uitsonderlike gevalle dat Hy sal tussenbeide tree om aan ons duidelike antwoorde te gee en deure op ons pad oop of toe te maak. Hy verkies dat ons deur sy Heilige Gees so in voeling met Hom en sy Woord sal wees, dat ons in keusesituasies self die regte besluite sal neem.

In elk geval is die Heilige Gees altyd ons skeidsregter wanneer ons besluite neem. As ons die regte besluite neem wat in belang van die Here se koninkryk is, sal ons die vrede van God in ons harte hê dat ons beplande optrede volgens sy wil is. Indien ons nie hierdie vrede het nie, moet ons nie met ons idees voortgaan nie. Sommige Christene tree egter onversetlik teenoor ander Christene op en dwing hulle eie, subjektiewe wil op ʼn situasie af. Hulle tree dan in die vlees op, volgens die begeertes van die eie-ek, en bedroef die Heilige Gees. Paulus waarsku hierteen: “Gee aan die duiwel geen plek nie. ... En bedroef nie die Heilige Gees nie” (Ef. 4:27, 30). Is jy besig om die saak van die Here te bevorder deur die besluite wat jy neem?

Dit bring ons by die onderwerp van geestelike misleiding. Op hierdie terrein is daar verskeie belangrike keuses wat kinders van die Here moet maak, want dit raak die aard van hulle verhouding met die Here ten nouste. Die aanvaarding van verkeerde leerstellings oor Jesus Christus, oor die Drie-eenheid, oor die Heilige Gees, en ook oor enige aspek van ons geestelike lewe, kan tot veragtering in die genade lei en in uiterste gevalle selfs tot geloofsverval. Net soos wat die duiwel vir Eva in die Tuin van Eden verlei het om verkeerde aannames oor die woorde van die Here te maak, probeer hy vandag nog steeds om die geloof van miljoene Christene aan te val, te verswak en selfs te vernietig. Paulus sê:
“Want ek is jaloers oor julle met ʼn goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ʼn reine maagd aan Christus voor te stel. Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ʼn ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ʼn ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ʼn ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Kor. 11:2-4).

Hierdie Christene het nagelaat om alle leerstellings te ondersoek en net die goeie te behou. Weens onkunde en naïwiteit het hulle hulself oopgestel vir valse dogmas oor Jesus Christus, oor die Heilige Gees én oor die evangelie. ʼn Valse en onskriftuurlike beeld is van Jesus geskep; die Heilige Gees is eensydig net in verband met tekens en sekere gawes aangehang; en in die evangelieverkondiging is die sondebegrip heeltemal afgewater terwyl die leer oor heiligmaking verswyg is. Paulus het hierdie gemeente telkens daaraan herinner dat hulle liggame ʼn tempel van die Heilige Gees is en dat hulle heilig moes leef (1 Kor. 3:16; 6:19).

Die Here Jesus waarsku dat misleiding van hierdie aard in die eindtyd sterk sal toeneem, en wys daarop dat valse aannames oor wie Hy regtig is, verkondig word sodat mense oorreed kan word om ʼn ander Jesus, die Antichris, in sy plek te aanvaar en te aanbid: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! En hulle sal baie mense mislei” (Matt. 24:4-5). Onder die leiding van ʼn misleidende gees van die duiwel sal daar ook ʼn valse evangelie verkondig word en valse tekens en wonders gedoen word: “En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. ... Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei” (Matt. 24:11, 24). Verkeerde leerstellings sal na verkeerde besluite en oortuigings lei, en dit sal rampspoedige gevolge vir die misleides hê.

Waarom is daar so baie uiteenlopende kerke en geloofsbelydenisse in die wêreld? Omdat Christene nie genoeg kennis van die Bybel het nie, en gevolglik deur elke wind van lering op sleeptou geneem word (Ef. 4:14). Ons sal werklik erns daarmee moet maak om toe te neem in die genade en kennis van Christus, sodat ons ingeligte besluite oor ons geloofslewe kan neem. Moenie sommer maklik ʼn leerstelling aanvaar voordat jy dit grondig ondersoek het nie. Onkunde is die teelaarde vir misleiding. Israel het in Ou-Testamentiese tye ten gronde gegaan weens ʼn gebrek aan kennis. Salomo sê: “Daar is ʼn weg wat vir ʼn mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spr. 16:25). Ondersoek alle aansprake eers deeglik, want nie alles wat reg lyk of goed klink is noodwendig die waarheid nie.

Valse profete buit dikwels mense se begeerte na goeie nuus uit om hulle te mislei. Hierdie soort misleiding het algemeen is Israel voorgekom. Die Here sê van hierdie valse profete: “Hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: Vrede, vrede! – terwyl daar geen vrede is nie” (Jer. 6:14). Hoe kan ons voorkom dat ons verkeerde besluite neem en mislei word? Deur meer kennis van die waarheid van God se Woord op te doen: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh. 8:32). Die waarheid het ʼn vrymakende krag wat ons van alle leuens bevry, maar dan sal ons veel meer Bybelstudie moet doen sodat ons stewig in die waarheid gegrond kan wees.

Die Heilige Gees lei ons in die hele waarheid en oortuig ons ook van sonde en verkeerde dinge in ons lewe. Hy praat egter nie met ons deur ʼn hoorbare stem nie, maar lei ons deur middel van die Woord. Indien ons ʼn gebrekkige kennis van die Woord het, dan beperk ons die Heilige Gees in die mate waartoe Hy sekere tekste en Bybelse uitsprake onder ons aandag kan bring. Die Psalmis sê: “Ek het u Woord in my hart gebêre dat ek teen U nie sal sondig nie” (Ps. 119:11). Indien die Woord van Christus ryklik in ons harte woon (Kol. 3:16), sal die Heilige Gees ons verstand en denke meer uitdruklik op die waarhede van die Bybel kan instel.

Slegs dan sal ons in staat wees om elke gedagte gevange te kan neem tot gehoorsaamheid aan Christus. Wanneer daar ʼn verkeerde gedagte by ons opkom, of wanneer iemand anders ʼn oneerbare voorstel aan ons maak, kan ons dit dadelik verwerp omdat die Here ons daarteen waarsku in sy Woord. Ek moet nogtans die finale besluit neem: sal ek die sondige gedagte weerstaan of daaraan toegee? As ek sonder behoorlike oorweging aan ʼn sondige gedagte toegee, en dalk glad nie besef dat dit verkeerd is nie, dan is dit soos daardie pad wat aan die begin reg en aanvaarbaar lyk, maar dit eindig in ʼn web van sonde.

Ons moet dus in ons besluitneming sondige begeerlikhede weerstaan, want dit kan ons lewens vernietig indien dit die geleentheid kry om hulleself te laat geld. Jakobus sê: “Elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikhede weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle verwerkliking gekom het, bring dit die dood voort” (Jak. 1:14-15). Dit is hier waar geestelike oorlogvoering inkom om die proses van sonde te weerstaan en volkome te oorwin. Die wapens van ons geestelike stryd is “kragtig deur God om vestings [van sonde] neer te werp, terwyl ons planne verbreek [m.a.w. bose voornemens] en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van die waarheid [dit is onbybelse argumente om sonde te regverdig] en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus [dit is om die geregtigheid van God uitdruklik bo enige sondige gedagtes te verkies]” (2 Kor. 10:4-5).

Omdat ons weet dat die mens ʼn vrye wil het, moet ons ʼn oorgawe aan die Here maak en bid dat nie ons eie, selfsugtige en vleeslike wil in ons lewe sal geskied nie, maar net sy wil. Paulus bid die Kolossense toe: “... dat julle vervul mag word in die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig, sodat julle waardig voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei” (Kol. 1:9-10). Wanneer ons die wil van die Here goed ken, vergemaklik dit ons taak van besluitneming aansienlik, en dan sal ons deur die Heilige Gees die innerlike oortuiging hê dat ons nog op die regte pad is. Die lig van sy Goddelike teenwoordigheid sal ons waarsku teen enige afdraaipaaie en verskuilde agendas wat ons dalk mag nastreef.

Wanneer ons uitgaan om die evangelie van Christus aan ʼn verloregaande wêreld te verkondig, moet ons besef dat die boodskap op ʼn verstaanbare en oorredende manier oorgedra moet word, sodat die Heilige Gees die hoorders van hulle eie sondigheid kan oortuig, en ook van hulle behoefte aan die reddende genade van die Here Jesus. Nie een van die hoorders is vir die hemel of die hel voorbestem nie, daarom is elkeen van hulle vry om hierdie boodskap te aanvaar of te verwerp. Die Here het die hele wêreld lief en wil nie hê dat een siel verlore moet gaan nie, maar dat almal gered sal word (2 Pet. 3:9).

In die praktyk word egter net ʼn klein minderheid van die mensdom gered, omdat die meeste mense steeds die sonde en bandelose lewe van die breë pad bo die geregtigheid van die smal pad verkies. Tydens die bediening van Christus op aarde was dit ook so: “En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos. Want elkeen wat die kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie” (Joh. 3:19-20). Baie mense weier om kerk toe te kom of geestelike gesprekke te voer, want hulle wil nie hoor dat hulle sondige lewe verkeerd is en hulle onder die oordele van God stel nie.

Ons kan niks daaraan doen as mense die boodskap van redding verwerp nie, want hulle het almal ʼn vrye wil en kan self hieroor besluit. As ons aanhou om vir hulle te bid, sal die Here nog meer met hulle bemoeienis maak en hard aan die deur van hulle harte klop, maar hulle moet nog steeds besluit of hulle die deur van binne af sal oopmaak of nie. Sommige mense is baie hardkoppig en onwillig om te reageer wanneer die Verlosser hulle uit die duisternis roep tot sy wonderbare lig. Die Here Jesus het vir Jerusalem gesê: “... hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak ... en julle wou nie!” (Matt. 23:37). Hulle wou nie vir Jesus as Messias aanvaar nie, ten spyte daarvan dat hulle lede van die uitverkore volk was. Dit gaan dus nie oor uitverkorenheid of verworpenheid nie, maar oor hoe elke individu self op die boodskap reageer dat Jesus die Messias en Verlosser van die wêreld is.

Josua het dieselfde situasie van geestelike verhardheid by Israel aangetref, ten spyte daarvan dat hy ʼn gesiene leier was wat ʼn voortreflike voorbeeld van geloof in God aan die volk gestel het. Hy het vir hulle gesê: “Kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: òf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, òf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die HERE dien” (Jos. 24:15). Josua kon hulle nie keer om die verkeerde pad te kies en te bewandel nie – hy kon hulle net waarsku en aanhou om self op die reguit pad van die Here te volhard sonder om links of regs daarvan af te wyk.

Hierdie selfde aanbod tot redding aan elkeen wat wil, word tot in die heel laaste hoofstuk van die Bybel herhaal: “En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet” (Op. 22:17). Sondaars sal net ʼn dors na die ewige lewe ontwikkel as hulle in jou lewe kan sien dat dit regtig uitwerk. Ons moet ʼn praktiese demonstrasie van die Here se reddende genade wees, sodat andere onteenseglik kan sien dat die ou dinge verby kan gaan en dat alles nuut kan word. Wat ʼn voorreg om van die lig van Christus se verlossing en sy teenwoordigheid in jou lewe te kan getuig!

As iemand die Verlosser van die mensdom nie liefhet nie, verwerp hy die nuwe lewe wat God aan ons bied. Só ʼn persoon word deur die duiwel as ʼn struikelblok in die lewens van ander mense gebruik, om hulle ook van ʼn ware geloof te weerhou. Sulke ongelowiges is vyande van die kruis: “As iemand die Here Jesus Christus nie liefhet nie, laat hom ʼn vervloeking wees! Maranata!” (1 Kor. 16:22). Moet dus nie so ʼn persoon in sy ongeloof en agnostisisme navolg nie, al is hy ook moreel ʼn “goeie” mens in terme van humanistiese waardes. Alle mense staan voor die lewensbelangrike keuse of hulle Jesus Christus sal aanvaar of verwerp.

Nadat ons gered is, moet ons as Christene aanhou om die regte keuses volgens die Here se Woord te maak en op dié manier daagliks deur die Gees te wandel. Waak daarteen om in twyfel en wanhoop te verval en sodoende die Gees te bedroef. Hou vas aan die beloftes oor die Here Jesus se wederkoms, en besef dat hierdie aardse lewe met sy verdrukkinge, teleurstellings en stryd teen bose magte weldra verby sal wees. Ons het die hoop op die wederkoms as ʼn anker van die siel wat veilig en vas is.

Ons is vasgeanker aan Jesus Christus self. Hy is die rots waarop ons lewens gebou is. Alles wat ons doen, doen ons in die geloof en met die vaste vertroue dat sy woorde wat ons verkondig, nie leeg na Hom sal terugkeer nie. Dit sal werksaam wees in die harte en lewens van diegene aan wie ons dit verkondig, terwyl ons vertrou dat hulle op die regte tyd ook ʼn positiewe besluit sal neem oor die wonderlike saligheid wat die Here aan elkeen van ons bied. Dit is ʼn uiters belangrike saak, want “hoe sal ons [die oordele van God] ontvlug as ons so ʼn groot saligheid veronagsaam”? (Heb. 2:3). Om na te laat om uitdruklik vir Jesus as Verlosser “ja” te sê, kom effektief daarop neer dat Hy en sy reddende genade nie aanvaar word nie. Hierdie keuse kan dus nie ontwyk word nie.
Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.