Waarskuwings deur Christus aan sy Kerk

Johan Malan, Mosselbaai (Maart 2015)
Die Here Jesus gee deur sy briewe aan die sewe gemeentes in Klein Asië onderrig aan die universele kerk op aarde oor hoe om op die evangeliese weg van die suiwer Christelike leer te volhard (Op. 2 & 3). In sy boodskappe waarsku Hy teen die talle afdraaipaaie wat deur subtiele én openlike misleiding aan gelowiges gebied word, asook die meedoënlose vervolging van die waarheid waarmee die kerk deur die eeue heen te kampe gehad het. Hy wil ons leer om vas te staan en nie van koers af gedwing te word nie, sodat ons die einde van die reis as oorwinnaars kan bereik. Uit die kort en kragtige briewe is dit duidelik dat net ʼn minderheid van die gelowiges onder die oorwinnaars tel, en dit beklemtoon die belangrikheid van die waarskuwings teen ernstige dwalings van binne én buite die kerk, sowel as teëstand deur ʼn vyandige wêreld wat in die mag van die Bose lê. Die volgende is die belangrikste waarskuwings in die sewe briewe:

Éfese: Humanistiese vormgodsdiens wat sy eie ondergang bewerk



Die gemeente in Éfese het onder die leiding van Paulus ʼn goeie begin gemaak, en is deur die liefde van Christus gedring om hulle harte vir Hom te gee en lede van ʼn Christelike gemeente te word. Die suiwer Christelike leer is hier verkondig, soos blyk uit Paulus se sendbrief aan die Efésiërs, en alles wat daarvan afgewyk het is verwerp. Die kandelaar met sy olie stel die Heilige Gees voor wat helder geskyn en die gemeente in die hele waarheid gelei het.
Mettertyd het vormgodsdiens egter ingetree wat meegebring het dat daar net verstandelike instemming met die kerk se goeie leerstellings en belydenisse was, sonder ʼn ware ontmoeting met die Here Jesus deur die Heilige Gees. As gevolg hiervan het getuienisse oor wedergeboorte en vervulling met die Heilige Gees al hoe minder geraak, en lidmate was slegs navolgers van die kerk en die prediker wat hulle salig gespreek het. Hulle het nog steeds die Naam van die Here Jesus gebruik, maar Hy was nie ʼn werklikheid in hulle lewens nie. Hulle het ook nog steeds valse leerstellings verwerp, maar slegs omdat dit in stryd met dié van hulle eie kerk was. Liefde vir Christus het verdwyn om plek te maak vir liefde vir die kerk, terwyl die vrug van die Heilige Gees plek gemaak het vir menslike werke wat uit eie inisiatief gedoen is, en hoofsaaklik ook net in die belang van hulle eie gemeente. Hulle was steeds aktiewe lidmate, selfs te midde van vervolging, maar het net lippediens aan Christus bewys (vgl. Matt. 15:8-9).
In sy brief prys die Here Jesus hulle vir dit was goed en reg is, maar wys daarop dat die gemeente besig was om sy geestelike fondament heeltemal te verloor: “Ek ken jou werke en jou arbeid en jou lydsaamheid, en dat jy slegte mense nie kan verdra nie; en dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het; en dat jy verdra het en lydsaamheid besit, en ter wille van my Naam gearbei en nie moeg geword het nie. Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Op. 2:2-5).
Christus het ʼn vreemdeling in hierdie “modelgemeente” geword. Die liefde wat die mens vir ander mense en vir sy kerk het, kan nooit vergoed vir die gebrek aan God se agape-liefde wat deur die Heilige Gees in jou hart uitgestort word nie (Rom. 5:5). Wanneer jy nie meer daarin gewortel en gegrond is nie, het jy nie ʼn verhouding met Jesus Christus nie, al bely jy ook sy Naam met jou lippe. Wanneer ʼn Christelike gemeente sy geestelikheid verloor en in ʼn humanistiese vormgodsdiens verval, roep die Here hom uit hierdie vervalle toestand tot bekering op. As hy nie hierop reageer nie, verloor hy sy kandelaar en dan tree daar nog groter geestelike duisternis in. Dit het met die gemeente in Éfese gebeur en dit het uiteindelik doodgeloop en die kerk se deure is gesluit.
Smirna: Hewige stryd teen ʼn bose en vyandige wêreld

In hierdie brief waarsku die Here Jesus dat daar nie koninkrykstoestande in die kerkbedeling heers nie, maar dat ons in ʼn wêreld leef wat in die mag van die Bose lê. Die duiwel is die groot vyand van Christus en sy kerk, en dit verg van die lidmate ʼn hoë mate van geestelike weerbaarheid. Satan is egter in Christus ʼn oorwonne vyand en selfs al moet gelowiges ʼn marteldood sterf, bly hulle ewige toekoms seker en gewis. Jesus sê in sy brief: “Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee” (Op. 2:10).
Die tien dae verwys na die bewindstermyne van tien opeenvolgende Romeinse keisers wat almal die Christendom hewig vervolg en probeer uitwis het. Hulle was handlangers van die duiwel. Die vervolging van Christene het egter nie met die val van die Romeinse Ryk opgehou nie, maar is voortgesit deur die Roomse Kerk, asook heidense volke onder die beheer van valse godsdienste. Tye van hewige vervolging het gekom en gegaan, maar nooit heeltemal opgehou nie. In die komende verdrukking sal dit weer tot hoë hoogtes opvlam. Johannes verwys in Openbaring 6:9-11 na die eindtydse martelare in die groot verdrukking.
Selfs in lande waar daar nie fisiese verdrukking en vervolging van Christene is nie, het alle gelowiges nog steeds ʼn hewige stryd teen die duiwel en sy versoekings. Om hierdie rede het ons ʼn opdrag om die volle wapenrusting van God op te neem sodat ons kan staande bly teen die liste van die duiwel (Ef. 6:10-12; 2 Kor. 10:3-5). Evangeliese Christene word dikwels in die samelewing vermy en as persona non grata beskou, daarom weet hulle dat almal wat godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, vervolg sal word (2 Tim. 3:12). In die brief aan Smirna moedig die Here Jesus ons aan om getrou te bly te midde van al die verdrukking en vervolging – selfs tot die dood toe.
Pérgamus: Kompromie met valse gelowe en wêreldse wysheid

In die gemeente in hierdie stad was ʼn klein groepie getroue dissipels wat vas gestaan het vir die waarheid van Christus en sy evangelie. Pérgamus word genoem “die plek waar die troon van Satan is” (Op. 2:13). Die stad het ʼn groot aantal heidense tempels gehad, asook een vir die verering van keiser Augustus. Die situasie hier bied verdere bewyse van die groot mate van beheer wat sataniese magte tydens die kerkbedeling oor die verdorwe wêreld het. Om hierdie doel te bereik, verander die duiwel homself van gedaante en doen hom meesal as ʼn engel van die lig voor wat mense mislei om niks verkeerd te sien met die nie-Christelike gelowe nie en hulle ten volle te erken.
ʼn Heidense filosofie het ook die basis van die stad se opvoedkundige stelsel gevorm. Daar was ʼn universiteit met 200 000 boeke, waarin ʼn baie sterk inslag van die Griekse wysbegeerte was. Politeïsme (ʼn heidense veelgodedom) is verkondig, asook Plato se metafisika wat gelei het na geloof in ongedefinieerde bonatuurlike magte, insluitende towery en heksery. Hierdie drogredes het die filosofiese grondslag gelê vir die geestelike verduistering van die Donker Middeleeue, en onder andere daartoe gelei dat daar vir eeue lank ’n sterk geloof in heksery in Europa was. Duisende vermeende hekse is op brandstapels tereggestel.
Die Christelike kerk in Pérgamus was onder groot druk om kompromie met die nie-Christelike gelowe aan te gaan en selfs met hulle te assosieer. Jesus noem intergeloofsamewerking van hierdie aard die leer van Bíleam: “Maar Ek het enkele dinge teen jou: dat jy daar mense het wat vashou aan die leer van Bíleam wat Balak geleer het om ʼn struikelblok voor die kinders van Israel te werp, naamlik om afgodsoffers te eet en te hoereer. So het jy ook mense wat vashou aan die leer van die Nikolaïete, wat Ek haat. Bekeer jou; anders kom Ek gou na jou toe en sal teen hulle oorlog voer met die swaard van my mond” (Op. 2:14-16).
Volgens Númeri 22 tot 24 is Bíleam deur Balak, die koning van die Moabiete, gehuur om Israel te vervloek. Bíleam het dit egter nie gedoen nie en vir Balak oorgehaal om, in plaas van vervloeking en militêre konfrontasie, eerder vir Israel oor te haal om geestelike kompromie met vreemde gode te maak deur ʼn Baälfees by te woon. Dit is in moderne tye ook duidelik dat die Satan deur ʼn strategie van kompromie ʼn groot slag onder Christene slaan. Volgens Petrus is dit kenmerkend van die valse leraars van die eindtyd, wat van die weg van die waarheid afvallig geraak het: “Hulle het die regte pad verlaat en verdwaal, en die weg gevolg van Bíleam ... wat die loon van ongeregtigheid liefgehad het” (2 Pet. 2:15).
Indien hierdie mense hulle nie van hulle multigodsdienstige denke en kompromie met die wêreld bekeer nie, sal die Here teen hulle oorlog voer met die swaard van sy mond – dit is sy Woord. Die Bybel verbied sulke assosiasies ten sterkste: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? ... Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem” (2 Kor. 6:14-17). Slegs misleide naamchristene wat nie meer in die uniekheid van Jesus en die volle betekenis van sy kruisevangelie glo nie (vgl.1 Joh. 2:22), kan ʼn bondgenootskap met die nie-Christelike gelowe sluit. Vir Christene is daar net een weg tot redding (Joh. 14:6; Ef. 1:7).
Thiatíre: Die verderflike invloed van valse profete in die kerk

Hierdie gemeente was ook ʼn mengsel van getroue en ontroue lidmate waarvan laasgenoemde groep ernstig begin dwaal het. Jesus sê: “Ek het enkele dinge teen jou, dat jy die vrou Isébel, wat haarself ʼn profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei...” (Op. 2:20). Valse profete en profetesse was nog altyd – sedert die tyd van Israel in die Ou Testament tot vandag toe – die oorsaak van grootskaalse dwalings. Sulke profete maak gewoonlik aanspraak op ’n sogenaamde unieke bron van kennis wat die Here net aan hulle geopenbaar het deur middel van drome, visioene, stemme wat met hulle praat, kristalballe, of deur engele wat boodskappe aflewer. Hulle voeg verdere inligting by by dit wat in die Bybel staan deur spesifieke gebeure te profeteer wat op ʼn sekere tyd sal gebeur (bv. oorlog of herlewing in ʼn sekere land), of hulle ontken ook soms sekere Bybelse aansprake, bv. dat daar ʼn verdrukking, ʼn Antichris of die slag van Armagéddon sal plaasvind.
Valse profete is ook vir dispensasionele verwarring bekend deurdat sommige van hulle daartoe neig om die vorige bedeling van die wet voort te sit, terwyl die grootste groep van hulle profesieë neem wat vir die toekomstige koninkryksbedeling tydens Christus se vrederyk bestem is, en dit op die kerkbedeling toepas. Hulle bevorder ʼn koninkrykstransformasie tydens die kerkbedeling, gepaard met Christelike heerskappy, tekens en wonders, wat in stryd met die Bybel is. Valse profete is ook vir verskillende onbybelse definisies van die begrip “Israel” verantwoordelik, deurdat sekere kerke of verskeie ander groepe mense (bv. Brits-Israelisme) as “Israel” beskou word. Hulle Godsbegrip is dikwels ook vals, en wissel vanaf die ontkenning van die Drie-eenheidsleer en die Godheid van Jesus tot by die universele God van alle gelowe.
Die profetes in Thiatíre het ʼn intergeloofsbenadering bevorder deur gelowiges te probeer oorreed om saam met lede van heidense gelowe fees te vier en so hulle “gemeenskaplike God” te vereer. Hierdie ekumeniese leerstelling word steeds deur talle valse profete verkondig, en hulle doel is om godsdienseenheid in die wêreld te skep as voorbereiding vir die verskyning van die valse messias van alle gelowe, wat deur die hele wêreld aanbid sal word (Op. 13:3-4). Die Here se oordele rus op valse profete, en die laaste waarskuwing in die Bybel het op hulle betrekking. Jesus sê as iemand iets uit sy Woord weglaat, sal daardie persoon se naam weggeneem word uit die boek van die lewe; en as iemand iets byvoeg by dit wat God gesê het, sal al die plae wat in Openbaring beskryf word, vir hom bygevoeg word (Op. 22:18-19).
Aan diegene wat teen al die dwalings en verdraaide weergawes van die valse profete oorwin, belowe die Here dat hulle mede-erfgename van sy ewige hemelse koninkryk sal wees: “En ek sê vir julle en die ander wat in Thiatíre is, almal wat hierdie leer [van die valse profetes] nie het nie, en die wat die dieptes van die Satan, soos hulle dit noem, nie leer ken het nie: Ek sal op julle geen ander las lê nie. Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ʼn ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het. En Ek sal hom die môrester gee” (Op. 2:24-28).
Almal wat kragtig stry vir die waarheid en daarby bly, het Jesus Christus in hulle harte. Hy is die weg, die waarheid en die lewe, en as die blink Môrester is Hy self die belofte van ʼn helder nuwe dag wat oor hierdie donker wêreld sal aanbreek. Almal wat ten spyte van al die teëstand en vervolging getrou aan Hom bly, sal saam met Hom in sy vrederyk oor die nasies regeer. Almal wat Hom verloën, sal saam met sy vyande in ʼn plek van ewige smarte wees.
Sardis: Kerke wat geestelik doodgaan

Die geestelik gestagneerde gemeente in Sardis kry kans om dit wat in hulle godsdienstige lewe verkeerd gegaan het, reg te stel en weer in die waarheid bevestig te word soos hulle dit aan die begin gehoor het: “En skryf aan die engel van die gemeente in Sardis: Dít sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het: Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef, en jy is dood. Wees wakker en versterk die wat oorbly, wat op die punt staan om te sterwe, want Ek het jou werke nie volkome voor God gevind nie. Onthou dan hoe jy dit ontvang en gehoor het, en bewaar dit en bekeer jou; as jy dan nie wakker word nie, sal Ek op jou afkom soos ʼn dief, en jy sal nie weet in watter uur Ek op jou afkom nie” (Op. 3:1-3).
Hierdie gemeente het geestelik heeltemal aan die slaap geraak, en uiteindelik was hulle nog net nominale Christene wat geen getuienis van ʼn wandel met die Here gehad het nie. Hulle het die naam gehad dat hulle lewe maar, soos die verlore seun, het hulle ver weggedwaal van hulle Vader se huis en kontak met Hom verloor (Luk. 15:32). Die kerkgangers in Sardis het opgehou om hulleself uit die fontein van lewende water te voed. Dit het hulle geestelike lewe laat wegkwyn en uiteindelik het baie van hulle innerlik gesterf. Hulle word opgeroep om dringend tot die besef te kom van hulle sorgwekkende toestand van leweloosheid en wakker te skrik: “Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn” (Ef. 5:14). Wanneer hulle sou terugkeer tot die evangelie soos hulle dit aanvanklik gehoor het, sou hulle weer geestelik ontwaak. Dan sou hulle ook uitreik na die menigtes rondom hulle wat op die punt gestaan het om te sterwe en nog nie hulle saak met die Here reggemaak het nie.
Daar was ʼn klein kerngroepie in die gemeente wat nie van die Here af weggedryf het en in hierdie passiewe toestand verval het nie. Hulle sal eendag skynende ligte in Christus se geopenbaarde koninkryk wees. Hy sê vir hulle: “Maar jy het enkele persone ook in Sardis wat hulle klere nie besoedel het nie, en hulle sal saam met My in wit klere wandel, omdat hulle dit waardig is” (Op. 3:4). Hulle het nie in die Gees begin en in die vlees geëindig nie (vgl. Gal. 3:3).
Filadelfia: Die stryd teen misleiding en verwerping kán oorwin word

Filadelfia was ʼn ware evangeliese gemeente wat die Here gevrees en sy Woord eerbiedig het. As gevolg van hulle streng morele en geestelike beginsels was hulle nie gewild in die breër gemeenskap nie, en het gevolglik nie baie lidmate en ʼn hoë inkomste gehad nie. Dit het daartoe gelei dat hulle min invloed gehad het en die Here moes vertrou vir die geleenthede en middele om sy Woord te kon verkondig. Christus gee egter aan hulle die versekering dat Hy hulle sal bekragtig om sy werk te doen omdat Hy die een is wat deure oop- en toemaak: “Dít sê die Heilige, die Waaragtige, wat die sleutel van Dawid het, wat oopmaak en niemand sluit nie, en Hy sluit en niemand maak oop nie: Ek ken jou werke. Kyk, Ek het voor jou ʼn geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie, want jy het min krag en jy het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie” (Op. 3:7-8).
Die grondliggende rede waarom hierdie gemeente die seën van die Here geniet het, was omdat hulle sy Woord bewaar en sy Naam nie verloën het nie. Baie van die afvalliges in daardie tyd, soos ook vandag, het nie meer volle eerbied vir die Woord van die Here gehad soos wat hulle  dit aanvanklik gehoor en aangeneem het nie. Teen die jaar 95 n.C. was die meeste van die boeke en sendbriewe van die Nuwe Testament reeds onder die verskillende gemeentes in omloop. Johannes se geskrif oor Openbaring was die finale toevoeging tot God se openbarings deur sy Woord. Ten spyte van al die kennis was daar toe al verskeie gelowiges wat van hierdie voorskrifte en leerstellings afgewyk het – onder andere ook van die duidelike leerstelling oor Jesus se Godheid. Evangeliese gemeentes wat nie van die Christelike leer afgewyk het nie, was ver in die minderheid en weens hulle hoë standaarde ook glad nie gewild nie.
Ons leef in ʼn soortgelyke tyd. Evangeliese gemeentes is relatief klein met min krag en min invloed in die samelewing. Baie mense glo nie meer in die Bybel as die letterlik geïnspireerde en foutlose Woord van God nie, ook nie in die maagdelike geboorte en Godheid van Jesus nie, en verklaar sy opstanding uit die dood, asook sy hemelvaart, metafories. As gevolg hiervan verbeur hulle die seëninge wat die Here vir die ware gelowiges voorberei. Die getroues kry egter die volgende belofte: “Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in [letterlik ‘uit’; Grieks ‘ek’] die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel. Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie. Wie oorwin, Ek sal hom ʼn pilaar in die tempel van my God maak” (Op. 3:10-12).
Die getroues wat op die regte weg volhard en sorg dat hulle nie geestelik mislei en beroof word nie, ontvang die wonderlike belofte dat hulle nie vir die eindtydse verdrukking bestem is nie, maar deur middel van die wegraping daarvan bewaar sal word. Die Afrikaanse vertaling dat die Here ons “in” die uur van beproewing sal bewaar, is foutief. In die New King James Version staan daar: “I also will keep you ‘from’ the hour of trial which shall come upon the whole world.” Selfs in ʼn moderne Engelse vertaling soos die New International Version word die ontvlugting ook bevestig. Die getroues sal in die heerlike teenwoordigheid van die Here wees wanneer die verdrukking op aarde plaasvind, omdat hulle nie vir sy oordele bestem is nie.
Laodicéa: Menslike selfregverdiging wat nie in Christus vertrou nie

Die laaste van die sewe briewe wat in Openbaring aan Christelike gemeentes gerig word, spreek ʼn uiters sorgwekkende situasie aan waarin die gemeente reeds heeltemal van Christus as Verlosser vervreemd geraak het. Hy staan buitekant die kerkdeur en klop om mense se aandag te kry, sodat misleide kerkgangers ʼn persoonlike ontmoeting met Hom kan hê, en daarmee saam regverdigmaking wat net Hy aan hulle kan bied. Jesus het ʼn oplossing vir die mees gevorderde vorms van geestelike verval, en sê aan die gemeente:
“Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie. Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien. Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou” (Op. 3:15-19).
Hierdie gemeente was nie totaal afsydig van die Here en sy Woord nie, maar hulle geloof was nie in die waarheid veranker nie omdat dit op die menslike rede en hulle eie verwronge vertolking van die Bybel gebaseer was. Die gevolg hiervan was dat hulle nie die basiese beginsels van die evangelie van verlossing eerbiedig het nie. Dit is duidelik dat lidmate van die gemeente salig gespreek is op grond van kerklike rituele soos die doop en aanneming. Hulle populariteit in die samelewing, hulle groot kerk en aansienlike rykdom was vir hulle ʼn aanduiding dat die Here hulle geseën het, en juis dit het hulle so aanmatigend gemaak. Hierdie mense het geroem op dit wat hulle bereik het: “Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie.” Hulle het by hierdie valse skyn van sukses berus en glad nie na geestelike ervarings soos ʼn persoonlike ontmoeting met Jesus Christus gesoek nie, ook nie na wedergeboorte en heiligmaking nie.
Die afwesigheid van Jesus in die gemeente kom dus van twee kante af: die gemeente het nie in Christus gebly en Hom werklik nagevolg nie, maar slegs lippediens aan Hom bewys. Hulle het dus van Hom afgedwaal. Van Jesus se kant af het Hy ook die gemeente wat Hom en sy boodskap van verlossing deur hulle optrede verwerp het, uit sy mond gespuug. Hy distansieer Homself van ʼn dooie vormgodsdiens en wandel nie in sulke mense se midde om hulle dwalings en geestelike louheid te kondoneer nie. Hy het nie gekom om kompromie met sonde te maak nie, maar om sondaars te red en van hulle ongeregtigheid en valse vormgodsdiens te verlos.
Die Here Jesus se groot liefde vir alle mense – selfs vir die mees gevalle sondaars en die verlore skape wat baie ver van die kudde af weggedwaal het – beweeg Hom om hulle almal opnuut tot bekering op te roep. Hy staan buitekant die kerkdeur en klop omdat daar in die gemeentelike aktiwiteite geen werklike geestelike band meer met Hom in stand gehou word nie. As gevolg hiervan het Hy Homself van hulle onttrek. Sy appèl word aan individuele lidmate in die kerk gerig om die deur van hulle harte vir Hom oop te maak sodat Hy kan inkom om hulle lewens deur sy teenwoordigheid en genadewerk te verander.
Dit is presies wat vandag ook besig is om te gebeur – sekere individue in vervalle kerke reageer op die roepstem van die Here Jesus om gered te word, en gaan dan onder die vormgodsdienstiges uit. Die vervalle kerke as sodanig kom nie tot inkeer om geestelik herstel te word nie. Hulle groot mag, invloed en rykdom motiveer hulle om voort te gaan met hulle humanistiese Christendom, wat ʼn vorm van menslike selfverheffing teen die evangeliese Christendom is. Die eensydige en verwronge weergawe van Jesus in hulle gemeentes gaan uiteindelik daartoe lei dat hulle die slagoffers van ʼn “ander Jesus” word, wat in die Bybel “die Antichris” genoem word (1 Joh. 2:18).
ʼn Persoonlike beoordeling
Ons moet onsself voor die Here se aangesig ondersoek (2 Kor. 13:5). Die groot vraag is: waar staan jy persoonlik in jou geloofslewe? Dwaal jy saam met die meerderheid wat steeds besig is om geestelike standaarde afwaarts aan te pas en die deur vir dwalings oop te maak, of bevind jy jou onder die evangeliese minderheid wat erns met die Here se opdrag maak om hulle aardse wedloop as oorwinnaars te voltooi? Die Here Jesus stel ons in staat om teen alle aanslae van die vyand, alle morele sondes en alle teologiese dwalings te kan oorwin. Die waarheid van die evangelie het ʼn vrymakende krag wat van ons meer as oorwinnaars in Christus Jesus kan maak (Joh. 8:32).
Aan die einde van die kerkbedeling sal ons deur die geklank van die basuin opgeroep word om in die teenwoordigheid van die hemelse Bruidegom te wees. Die skielike afwesigheid van die evangeliese kerk, alhoewel relatief klein, sal terdeë op aarde gevoel word. Die ware kerk is die liggaam van Christus en die tempel van die Heilige Gees, en op grond daarvan die lig van ʼn donker wêreld en die sout van ʼn bedorwe aarde. Hulle teenwoordigheid op aarde weerhou die Antichris daarvan om geopenbaar te word (2 Thess. 2:6-8). Wanneer hulle weg is (Luk. 21:36; 1 Thess. 4:16-18), sal die meeste van die misleides navolgers van die valse christus word wat homself sal openbaar nadat sy teëhouer deur die Here weggevoer is. In hierdie laat uur van die kerkdispensasie het ons net beperkte geleentheid om dit wat in ons lewens verkeerd gegaan het, reg te stel.
Wanneer die kerkbedeling verby is, sal die tyd van rekenskap aanbreek – nie net vir die gelowiges in die hemel voor die regterstoel van Christus nie (2 Kor. 5:10), maar ook vir die ongelowiges en vormgodsdienstiges op aarde wat aan die oordele van die dag van die Here onderwerp sal word (Jes. 13:9; Op. 6:15-17). In hierdie donkerste tydperk van die wêreldgeskiedenis sal Jode én nie-Jode wat die valse messias verwerp en Christus as Verlosser aanneem, steeds gered kan word (Matt. 24:21-22; Op. 7:4-17). Hulle sal egter ʼn duur prys van verwerping en vervolging betaal omdat hulle nie gedurende die kerkbedeling op Christus se vermanings en waarskuwings ag geslaan het om die regte weg te bewandel nie (Op. 6:9-11).


Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.